{jathumbnail off}
Ek het nou ‘n hele paar artikels gelees rakende die 20ste viering van die gewraakte vrylating van 2 Februarie 1990.
Vele braak gal oor die aangeleentheid, en ander is “ontnugter”. Dan is daar diegene wat dit besing.
‘n Mens kan nie help om te wonder wie was die begunstigdes nie. Die blanke oor die algemeen voel hy is verontreg. Baie Afrikane voel ook dat hulle verontreg is, en met reg.
Talle stamme het waarskynlik meer lede gehad as die terreurgedrewe ANC.
‘n Wyse man sou mos geweet het dat die weg na vrede behoorlike heinings tussen bure is.
Dink nou as jy ‘n kompleks het met geen heinings nie, en almal hou honde aan, en die kinders kan speel waar hulle wil. Ek gaan nou nie baie ingenome wees met die buurman se hond wat voor my deur ‘n bol kom maak nie.
‘n Wyse man sou dus errder wou onderhandel oor die posisie van die heinings, en wie hoeveel daarvan betaal.
Die stelsel van ‘n groot heining om die kompleks en net een wat ‘n hond mag aanhou en hy dinges net waar hy wil is tog ook nie die antwoord nie.
Wie het namens wie se belange onderhandel by Kemptonpark?
De Klerk en sy oorgawespan het immers nie vir ons onderhandel nie. Hulle almal het mos nou al gebieg daaroor. So het die ANC ook nie vir die swart publiek onderhandel nie.
Hulle sal almal doodstil wees oor die antwoorde, maar vir ons om die werklike probleem te kan sien moet ons by die antwoord uitkom. Na die lees van baie artikels en opsommings kan mens n paar maatstawwe gebruik om die vrae te stel.
1. Wie was die borge van die voorafgaande onderhandelings sedert die middel tagtigs?
2. Wie was die befondsers van die ANC terwyl hulle internationaal as teroriste beskou was?
3. Wie het voordeel getrek of trek nou nog voordeel uit die chaos wat heers?
In die res van Afrika weet ons dat die mynwese in Angola gedy het tydens die oorlog, en dit ‘n finansiele voordeel was om “bloeddiamante”uit die markte te hou.
Ons weet ook dat die Angolese se oliekontrakte baie met die oorlog te doen gehad het.
As ons nou na Mosambiek kyk, dan sien ons weer dat groot plantasies nou aangeplant word op spotgoedkoop grond, duisende hektare word onder suikeriet gesit.
So kan ons aangaan en sien wie trek werklik voordeel uit die situasies wat rampspoedig geëindig het.
Heelwat Joodsbeheerde maatskappye het bydraes gelewer tot die voorafgaande onderhandelinge. Dit laat mens wonder wie verteenwoordig was met die onderhandelinge?
As de Klerk werklik in vrede belang gestel het, sou hy eerder met alle partye gesels het, soos met die verskeie tradisionele leiers en aan die ANC alleen ‘n aandeel in die onderhandelinge gegee het as ‘n gelyke van ander belangegroepe. Die verskeie stamkapteins sou vir hulle eie mense se voordele onderhandel het.
So het dit gekom dat daar nie direkte verteenwoordiging was vir die grootste finansiele rolspelers nie. Wie sou dan namens hulle onderhandel het? Of sou hulle enige iets aanvaar het?
Nee, hulle sou sekerlik nie enige iets aanvaar het nie, veral nie as hulle die borge van vele onderhandelings was nie.
Dit laat my dink dat niemand by die onderhandelingstafels teenwoordig was om hul eie mense se belange te beskerm nie, maar wel die van die borge.
As mens nou verder gaan kyk na die hoeveelheid maatskappye wat bevoordeel is deur die vervreeming van staatsbates, die hoeveelheid myngroepe en groot industrieë wat hulle hoofkantore verskuif het na Britanje en elders. Of die klein winsies wat hierdie maatskappye toon ten spyte van verbeterde werksmetodes ens.
Die invloed van die Suid-Afrikaanse myne, en maatskappye op die beurse in die buiteland, laat ‘n mens wonder wat regtig gebeur het tydens die onderhandelings?
Dit help ook nie mens vra die wat betrokke was nie, want hulle weet werklik nie, elkeen het maar sy geheime opdrag uitgevoer, sommige met ‘n belofte van ‘n direkteurskap iewers, ander internationale glorie en ander ‘n suigstokkie.
Kan iemand dalk lig werp op die begunstigdes?
‘n Aantal jare gelede het ‘n Suid-Afrikaanse minister die opmerking gemaak dat huisbrake in Australië meer algemeen voorkom as in Suid-Afrika.
Niemand het hom ernstig opgeneem nie.
Die minister se statistieke is waarskynlik gebaseer op dié van Nation Master, wat Australië inderdaad bo-aan die lys plaas met Suid-Afrika in die 10de plek. Hierdie tabel druk egter huisbrake per 1 000 van die bevolking uit, waar die SAPD se syfers dit in huisbraak per 100 000 van die bevolking uitdruk. Word die SAPD se eie syfers gebruik en omgewerk na dieselfde norm as dié Nation Master, klop dit hoegenaamd nie en is dit duidelik dat die twee instellings nie dieselfde syfers as grondslag gebruik nie.
Selfs al sou dit statisties die waarheid wees, is dit in Suid-Afrika so dat die totale lengte van duiwelsvurkomheining waarskynlik langer as die Chinese se Groot Muur is. Dit is afgesien daarvan dat versekeraars diefwering vereis wat aan tronktralies herinner, alarms en dikwels gewapende reaksie. Voeg hierby die groot, kwaai honde en ‘n gemiddelde voorstedelike huis in Suid-Afrika herinner goed aan Fort Knox.
Ten spyte hiervan beleef Suid-Afrika jaarliks ongeveer ‘n kwart miljoen gerapporteerde huisbrake. Omdat dit so moeilik gemaak word om in te breek word eenvoudig gekyk waar die swak skakel is, en dit is wanneer die mense tuis is, met die gevolglike skerp toename in huisrooftogte. Dit beloop nou reeds sowat 20 000 gerapporteerde gevalle per jaar, dubbel soveel as 5 jaar gelede.
Voeg hierby die moorde en verkragtings tuis wat in ander kategorieë opgeneem word, en dit is skrikwekkend, om die minste te sê.
Die afgelope week het verskeie voorvalle van moord- en roof in veiligheidskomplekse voorgekom, met die jongste die verkragting van die vrou van ‘n gospelsanger terwyl die sanger vasgebind was.
Intussen duur plaasaanvalle ongestoord voort, waar die landbouers ook intensiewe voorsorg tref, waaronder intelligensiestelsels en eie reaksiemagte.
Plaasmoorde in Suid-Afrika is statisties die hoogste voorkoms van moord onder enige identifiseerbare groep ter wêreld – selfs hoër as bruin mans in die Wes-Kaap wat tradisioneel as die hoogste ter wêreld gereken is en met bendebedrywighede verband hou.
Die regering se reaksie is om die burgery te ontwapen. Uiteindelik wil die polisie sien dat net die polisie wapens het – ‘n skrikwekkende gedagte as in gedagte gehou word hoeveel wapens die polisie jaarliks verloor. Skrikwekkend as die omvang van wapensmokkel oor die land se grense in gedagte gehou word. In die proses is dit nie die wetsgehoorsames wat bewapen word nie, maar die misdadigers.
Die regering swyg dawerend oor plaasmoorde.
Navorsers het ‘n patroon ontdek in hoe ‘n mate lande, of in die geval van die VSA se deelstate, skielik strenger oor vuurwapens in privaatbesit word namate groot Fifa-byeenkomste daar aangebied gaan word.
Volgens mediese navorsers in Australië sal varke se longe binne die volgende dekade in mense oorgeplant kan word.
Varkorgane is tot dusver as nie geskik beskou nie aangesien dit ophou funksioneer sodra dit met menslike bloed in aanraking kom.
Navorsers by die Alfred-hospitaal in Melbourne kon egter daarin slaag om dié probleem te oorkom met die hulp van ‘n tweede groep navorsers by die St. Vincent hospitaal.
Dié groep het genetiese manipulasie gebruik om die sleutel-versperrings wat verantwoordelik is vir die varkorgane se verwerping van menslike bloed, te verwyder.
“Dokters by die Alfred Hospitaal het dit reggekry dat dié varklonge vir ‘n bepaalde tydperk menslike bloedselle met suurstof verbind.
“Bloed het by die long ingegaan sonder suurstof, en aan die anderkant met suurstof uitgekom,” het Dr.Glenn Westall van die Alfred-hospitaal gesê.
“Dit is inderdaad die long se primêre funksie.”
Kliniese toetse sal egter nog vyf tot tien jaar neem voordat dié deurbraak mense met terminale longkwale se lewens kan red.
Google gaan die sosiale netwerk Facebook die stryd aansê. Facebook en Twitter se gebruiksvriendelike kommunikasie gaan deur Google nageaap word.
Die soekenjinreus gaan sy Gmail-gebruikers in staat stel om status-boodskappe en ander items op hul Gmail blaaie te plaas.
Google het onlangs hul soekfunksie verbeter om aan internetgebruikers makliker toegang tot sosiale netwerke te kan gee.
Gmail-gebruikers sal binnekort Facebook-tipe boodskappe kan laai en dan gebruikers laat weet as hulle iets op ander Google blaaie, soos YouTube of Picasa, plaas.
Google voel dat geïntegreerde internetdienste beter werk as losstaande dienste.
Volgens die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC) is ‘n nuwe verkiesing die enigste oplossing vir Zimbabwe.
Austin Moyo, MDC-voorsitter in Suid-Afrika, het Dinsdag die media toegespreek in Braamfontein, Johannesburg en gesê dat die SAOG die nuwe verkiesing so gou moontlik moet organiseer.
Die toespraak is gehou aangesien Suid-Afrikaanse onderhandelaars terug sou gaan na Harare in ‘n poging om oplossings vir die probleme in die koalisieregering te vind.
“‘n Nuwe grondwet en verkiesingswet moet dit [die verkiesing] voorafgaan,” het Moyo gesê.
Volgens Moyo het plaasaanvalle in Zimbabwe toegeneem en Zanu-PF probeer om mag vanaf premier Morgan Tsvangirai weg te neem.
Die koalisie-ooreenkoms, wat Donderdag ‘n jaar oud sal wees, het gesê dat ‘n nuwe grondwet in plek moet wees voordat ‘n nuwe verkiesing mag plaasvind.
Dié ooreenkoms het gestipuleer dat die grondwet binne 18 maande gefinaliseer moet word. Maar Moyo voer aan Zanu-PF vertraag die finalisering hiervan.
Die rede hiervoor, volgens Moyo, is omdat die huidige grondwet in Zanu-PF se guns tel.
Moyo wil hê dat die Suid-Afrikaanse delegasie moet aandring op die finalisering van die nuwe grondwet.
Inwoners van die Siyathembalokasie by Balfour in Mpumalangs het Dinsdag weer die strate ingevaar vir die derde agtereenvolgende dag om motoriste onder klippe te steek en brande te stig.
Die oproer spruit voort uit ontevredenheid met dienslewering en beloftes van werksgeleenthede by ‘n myn in die omgewing.
Die polisie moes van rubberkoeëls gebruik maakom die opstandige inwoners uitmekaar te jaag.
‘n Biblioteek is ook Dinsdag afgebrand
Brande woed steeds in die Suid-Kaap en Franschhoek ten spyte van hulp van 179 brandweermanne van KwaZulu-Natal en die Vrystaat, het owerhede Dinsdag gesê.
“Die brand in Haarlem naby Uniondale het tot in die Tsitsikamma-berge versprei en daar is vrese dat dié brand oornag na Keurbooms sal versprei,” het Annelize Lamprecht, brandweerhoof van die Suid-Kaap, gesê.
Die brand naby Plettenbergbaai is in beheer gebring terwyl die een in Knysna na plase versprei.
Weerstoestande in die gebied maak dit moeilik om die brand te beheer.
Ses Working on Fire-spanne van Tulbagh en Stellenbosch help CapeNature, die Kaapse Wynlanddistrik se munisipaliteit en verskeie privaatkontrakteurs om die brand te blus.
Maandag het ‘n saagmeul, ‘n kelder en ander strukture in die slag gebly toe vlamme deur sterk wind aangeblaas is.
‘n Rampsentrum is in George opgerig.
Nooddienste, insluitend ambulanse en die polisie, is op ‘n hoë gereedheidsvlak.
Grassmereweg, suid van Johannesburg, was Woensdagoggend in beide rigtings gesluit na ‘n ongeluk, het die metropolisie in Johannesburg gesê.
Volgens supt. Wayne Minnaar, polisiewoordvoerder, het twee taxi’s kort voor sewe teen mekaar gebots.
“Verskeie mense kan beseer of dood wees, ons weet nog nie,” het Minnaar gesê.
Die pad sal vir minstens ‘n uur en ‘n half gesluit wees en motoriste word aangeraai om eerder die Ou Vereenigingpad of die Goue Hoofweg te gebruik.

Met die bekendstelling van VW se sesdegenerasie -Golf was baie mense verbaas dat die nuweling eintlik maar net ’n Golf 5 met ’n aandpak aan is. Die motor lyk nie vreeslik anders as die Golf 5 nie en ry ook nie vreeslik anders nie. Die enigste ooglopende “ groot” verskil was die nuwegenerasie-enjins. Toe die splinternuwe GTi losgelaat word, het almal gesug en gedink nou hoeveel anders kan hy nou regtig wees, as die res van die reeks maar effe gewoon lyk…?
Wel, as jy nou ’n Volkswagen aanhanger is, sal jy onmiddellik die GTi raak sien met sy kenmerkende sierwiele. Die wiele is so eiesoortig dat dit moeilik is om die motor mis te kyk al is die res van sy aandpak effens verlede jaar.
Die mees opvallende kenmerk van die nuwe GTi, behalwe nou die vyfgatsierwiele is die drukvlerk bo die agtervenster en die twee onheilspellende uitlaatpype in die hoeke van die agterste stamper. Ons toetsmodel was pikswart met die egte rooi GTi-strepies om die heuningkoek-sierrooster. In Europa is die GTi in ‘n driedeurbakvorm beskikbaar wat hom onmiddellik herkenbaar maak, terwyl hier by ons moet jy regtig mooi kyk of die vinnige Golf wat by jou verby skiet, rooi strepies het. Baie mense koop groot wiele vir hulle gewone Golfs, wat dit moeilik maak om die GTi te eien. Daar is natuurlik vyf deure wat die GTi prakties sowel as sportief maak.

Soos ons gewoond geraak het aan die legendariese kwaliteitafwerking van die Duitsers en veral VW, is die GTi se binnekant net so mooi afgerond soos die buitekant. Dis net hier waar jy nog een van die grootste verskille tussen die gewone Golf en die GTi aantref. Sportsitplekke wat met swart leer oorgetrek is en tot hoog in jou nek strek met GTi-kentekens in die kopstutte. Hoë systeun vir die voorste twee sitplekke en ’n stuurwiel wat soos die Audi R8 s’n aan die onderkant bo jou knieë meer plat as rond is. Daar is ook allerhande kontroles vir klank- en togbeheer asook die telefoon wat op die stuurwiel aangebring is. Klimaatbeheer en voorste sitplekke wat verhit, asook ’n ordentlike voorlaaiklankstelsel is alles standaardtoerusting hier. Die uitleg van die instrumentepaneel is in egte VW-tradisie maklik en alles is net waar dit in ’n blitsbuks moet wees. Beenruimte voor en agter is goed en selfs ek met my lang bene kon gemaklik agter in die GTi inpas. Die GTi kort net daardie iets binne en buite wat sê: kyk vir my, ek is ’n GTi, dis net asof hy te beskeie is oor wat hy regtig is. Alles is so gewoon! Ja, daar is alliminiuminsetsels in die deure en die kort ratkierie lyk sportief en die sitplekke hou jou stewig waar jy hoort, maar dit is nou nie ’n ST- of M.P.S.-binnekant dié nie.
Met die vorigegenerasie-GTi wat 147 KW ontwikkel het, was hy nie regtig aardskuddend vinnig of in egte GTi-tradisie ’n GTi nie, maar Golf 6 GTi is ‘n ander storie. VW het die 2-liter-laedrukturbo-enjin bietjie getoor om nou 155 KW se krag te lewer. Dit klink nie na ‘n groot sprong van die vorige enjin af nie, maar boeta, gaan ry hom! Ons toetsmodel was toegerus met die befaamde DSG-ratkas. Ek het laas in die “Superboss” van weleer so skop-in-die-rug gekry. Die motor is nie so brutaal soos die Opel was nie, maar selfs my 9-jarige dogter wat al in baie duurder en vinniger motors gery het, het van plesier gekraai as ek my regtervoet te vinnig laat sak. Die kraglewering is net ongelooflik vir wat hierdie motor is. Die ratskakel is sekuur en onmiddellik en klink ongelooflik, veral in die “S”-modus. DSG is die afkorting vir “Direct Shift Gearbox”. Nou kyk, dié ding is seker die beste outomatiese ratkas – as jy hom so kan noem – wat jy kry. Hy werk soos volg. Daar is twee handratkaste met twee koppelaars, alles in een omhulsel. Koppelaar een hanteer al die ongelyke ratte (1,3,5 en trurat); koppelaar twee hanteer al die gelyke ratte (2,4,6). Die ratkas se tegnologie verseker dat daar geen onderbreking in krag tussen ratskakelings is nie; dit is gewoonlik die probleem met ander outomatiese ratkaste. Hier is die krag wat deur die ratkas gaan konstant. Die tegnologie is so betroubaar dat VW selfs hierdie einste tegnologie in die 406km/u-Bugatti Veyron gebruik, waar die ratkas 1350 Nm se wringkrag moet hanteer. Die eintlike gevolg van die DSG-ratkas is soomlose ratoorskakelings wat in honderdste van sekondes gebeur, baie vinniger as wat jy dit self met ‘n ratkierie kan doen. Daar is nie net werkverrigtingsvoordele met die DSG-ratkas nie, maar ook tot ‘n 20%-besparing in brandstof bo normale outomatiese ratkaste.

Wel, die GTi is ’n blitsbuks en hy gedra hom soos ’n regte windalie veral as dit by kort afstande kom. Die versnellingstyd van rus tot by 100km/u is 6,9 sekondes en sy asem raak by 238km/u eers op. Die manier hoe die GTi daar kom, is eintlik die lekker van hierdie tipe motors. Die ding klink soos ‘n 3-liter-sessilinder as jy hom opwen en hy skop soos ’n tydrenmotor deur sy ratte, ongelooflik vinnig en die balans en gewigsverspreiding tussen voor en agter is ook van die beste wat ek nog in ’n alledaagse motor beleef het. As jy die leerstuurwiel draai, gaan die GTi waar jy wil hê hy moet. As jy skielik wil wegtrek en draai, werk alles baie mooi saam; hy soek nie ratte nie en lewer onmiddellik die regte rat met die regte hoeveelheid krag in die regte rigting. VW het beslis ’n wenner hier.

Teen R331 800 is die Golf 6 GTi DSG nie goedkoop nie. Ons toetsmodel was toegerus met die opsionele “Park Distance Control” wat jou R4520 ekstra gaan kos. Nou praat ons van byna R340 000 vir ’n Golf wat nie veel anders as die gewone Golf 6 lyk nie. Kyk ’n mens na sy mededingers, Honda Civic Type R (R315 000), Mazda 3 M.P.S. (R322 000), Ford Focus ST (R315 000), Opel Astra OPC (R335 660)en Volvo C30 T5 (R320 500) is almal nie net goedkoper nie, maar lyk ook soos regte blitsbukse, anders as hulle makker stalmaats.
Ek sou eerder van die begin af die R9000 meer betaal en die VW Scirocco 2.0 TSi met DSG koop. Dan het jy die identiese enjin en werkverrigting van die GTI, plus jy het ’n blitsbuks wat nie na enige iets anders op die pad lyk nie. Jy kry darem 5 jaar/ 90 000 km-diensplan vir jou geld en natuurlik die legendariese “GTI”-kenteken op die stert.
VWSA moet egter óf die motor meer uitspattig en anders as die res van die reeks maak óf die prys aanpas wat na ons mening heeltemal te naby aan dié van die VW Scirocco 2.0 TSI DSG is.
VW Golf GTi DSG
Lengte: 4213 mm
Breedte: 1779 mm
Hoogte: 1501 mm
Enjin: 4 sil/2.0 liter Turbo
Verplasing: 1984 cc
Krag: 155KW@5300 o/min
Wringkrag: 280 NM@ 1700 o/min
Ratkas: 6-Spoed DSG
Brandstofverbruik: 7,4 l/100km
0-100km/h: 6,9 sekondes
Topsnelheid: 238 km/h
Prys: R336 320