Gigaba breek sy beloftes oor Medupi

Die minister van Openbare Ondernemings Malusi Gigaba, word daarvan beskuldig dat hy nie beslissend opgetree het om te verseker dat die Medupi-kragstasie volgens plan betyds krag sal kan lewer nie.

Gigaba se besluit om senior amptenare na Frankryk te stuur, is as ‘n “sagte benadering” gekritiseer.

Die Franse maatskappy, Alstom, is betrokke by die bou van die belangrike kragaanleg.

Gigaba het nie by sy onderneming gehou om Medupi teen die einde van die jaar in bedryf te stel nie, en ook nie dat die betrokkenes afgedank sal word indien die werk nie betyds afgehandel word nie.

Medupi word as van kritieke belang beskou om Suid-Afrika se kragkrisis te verlig.

Eskom het Suid-Afrikaners intussen probeer paai en gesê dat daar nie ‘n herhaling van die beurtkrag in 2008 sal wees as gevolg van die uitdagings rakende die Medupi-kragaanleg nie.

“Vir die laaste vyf jaar…het ons die ligte aangehou. Suid-Afrika het sedert 2008 nie weer beurtkrag gesien nie,” het Eskom se uitvoerende hoof, Brian Dames, Woensdag tydens ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê.

Dames het gesê Eskom sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat daar nie kragonderbrekings is nie.

Polisie word nie in SA vertrou nie

‘n Nuwe meningspeiling toon dat 83% van Suid-Afrikaners die Polisiediens as korrup beskou.

Die peiling deur Transparency International, het vasgestel dat Suid-Afrika een van 36 lande is waar gewone mense nie die polisie vertrou nie. Volgens RSG se redaksie in Johannesburg het 36% van die 1000 Suid-Afrikaners wat deelgeneem het, erken dat hulle al ‘n polisielid omgekoop het.

‘n Direkteur van die organisasie, Corruption Watch, David Lewis, sê die bevindings bevestig dat die toename in korrupsie nie bloot net ‘n opvatting is nie. Hy sê die organisasie het meer as 4000 klagtes oor korrupsie en verwante sake ontvang sedert sy ontstaan in Januarie 2012.

Bykans die helfte daarvan het gehandel oor die misbruik van openbare mag en hulpbronne deur die privaat- en die openbare sektor.

Wêreldwyd het die opname getoon dat 27% van die respondente in die laaste 12 maande omkoopgeld betaal het waar hulle toegang wou hê tot openbare dienste. Die opname is onder 114 000 mense in 107 lande gedoen.

Byna twee-derdes (64 persent) van die mense regoor die wêreld het gedink dat persoonlike kontak belangriker is om dinge gedoen te kry in die openbare sektor.

Dit het tot 80 persent in Israel, Italië, Libanon, Malawi, Marokko, en Rusland gestyg.

Dr Willem Cruywagen oorlede

Die gewese administrateur van Transvaal, dr. Willem Cruywagen is gisteraand by sy huis in Pretoria oorlede. Hy was 92 jaar oud.

Die oudadministrateur was die afgelope paar weke siek en het ondermeer las van ‘n maagseer gehad.

Hy was lid van verskeie kultuur- en erfenisorganisasies en ook beskermheer van Die Voortrekkers. Een van Cruywagen se merkwaardigste prestasies was dat hy op 83-jarige leeftyd ‘n doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Noordwes behaal het.

Hy het ook in die vorige bedeling in die kabinet gedien en was minister van onderwys voor hy administrateur van Transvaal geword het.

Dr. Cruywagen word oorleef deur sy vrou, Snow, twee seuns en vier kleinkinders en een agterkleinkind.

‘n Gedenkdiens vir dr Cruywagen sal waarskynlik aanstaande week in Pretoria gehou word. Besonderhede sal later bekendgemaak word.

SAID-bedrogspul: Werknemer gevonnis

‘n Kaapse vrou is Dinsdag tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uit meer as R6 miljoen bedrieg het.

Neil (39) en Bronwyn Goldman (35), ‘n voormalige werknemer van die SAID, het verlede week in die Bellville-streekhof op byna 400 aanklagte van bedrog verskyn. Hulle het ‘n pleit­ooreenkoms met die staat gesluit waarin hulle skuld op die misdrywe beken.

Bronwyn is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar voorwaardelik vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is.

Haar man is tot effektief agt jaar tronkstraf gevonnis, wat opgeskort is vir vyf jaar. Neil sal ook 36 maande onder korrektiewe toesig wees.

Die hof het hul bereidwilligheid om te pleit en hul vier klein kinders in ag geneem.

Bronwyn Goldman het as ‘n groepleier in die oudit-afdeling van die SAID gewerk.

Sy het die stelsel gemanipuleer en ‘n totaal van sowat R6,08 miljoen in haar man se bankrekening betaal as BTW-terugbetalings vir sy duikklop-onderneming.

Die SAID kon slegs R1,947 miljoen van die gesteelde geld terugkry, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag gesê.

Die hof het gehoor dat die paartjie hul huis verkoop het om die SAID terugbetaal en dat die balju van die hof die duikklop-onderneming verkoop het.

Blankes se kanse 6 keer meer om vermoor te word

Vanaf 1994 met die aanbreek van “demokrasie” in Suid-Afrika tot op hede, is daar reeds 200 000 moorde in die land gepleeg en blankes is ses keer meer aan die ontvangkant daarvan as enige ander ras.

Geweld het merkbaar toegeneem na Nelson Mandela se vrylating, wat die sogenaamde “ikoon” se status as vredemaker erg onder verdenking plaas.

Ten minste een derde, naamlik 67 000, van die moorde is op die klein minderheid blankegemeenskap gepleeg. Dus pro-rata per ras, word daar bykans 6 keer meer blankes as swartes in SA vermoor. Of anders gestel: ‘n Blanke se kans om in SA vermoor te word is 6 keer groter as die van ‘n swarte.

Die TLU SA sê indien die geweld op wit boere in die tweede helfte van 2013 voortduur soos wat vir die eerste ses maande aangeteken is, kan meer as 200 aanvalle weer ‘n werklikheid word. Meer as 200 plaasaanvalle per jaar is in 2002 in Suid-Afrika aangeteken.

Altesaam 104 aanvalle en 29 moorde het vanjaar al op die land se plase voorgekom. In 2002 is 229 aanvalle aangeteken. Sedertdien was die meeste aanvalle 184, wat in 2008 voorgekom het.

In een van die mees onlangse voorvalle is ‘n wildboer van Piet Retief in Mpumalanga aangeval en geskiet op die plaas Varkpan. Die 72-jarige mnr. Vic Möhle is erg aangerand en hy is twee keer in sy een been geskiet. Hy is vasgebind aan die hek van sy een wildkamp gevind.

Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die TLU SA, sê dit was die derde aanval op ‘n plaas in dié omgewing hierdie jaar.

Toyota met Kurt Darren se lugsakke het nie ontplooi

Die voorste lugsakke in die Toyota Fortuner waarin die sanger Kurt Darren en twee vriende in ‘n ongeluk oor die naweek betrokke was, het nie gedurende die botsing ontplooi nie, berig Beeld vandag.

Slegs die lugsak in die linker- voorste deur, waar die sanger gesit het, het tydens die botsing ontplooi. Beeld publiseer ‘n foto van die wrak, wat toon dat die voorste twee lugsakke nie gewerk het nie.

Darren se familie sê hulle vermoed dat dit die rede was waarom hy ‘n stamp teen die kop gekry het, wat moontlik sy optiese senuwee beskadig het, aangesien hy sedert die ongeluk aanmekaar dubbel sien.

Darren het agt ribbes in die ongeluk gebreek en sterk intussen in die Milparkhospitaal in Johannesburg aan.

‘n Woordvoerder vir Toyota, Leo Kok, sê dat sy maatskappy nog nooit ‘n voertuig gehad het waarvan die lugsakke nie ontplooi het toe dit nodig was nie.

“Vir die ontplooiing van ‘n lugsak tydens ‘n botsing, is daar verskeie vereistes. Die krag en die hoek van die slag van die voertuig sal bepaal watter lugsakke, indien enige, ontplooi. Sonder om die voertuig self te ontleed, is dit onmoontlik om te bepaal watter faktore ‘n rol gespeel het.”

DA vry na daggakop Xhosa-koning

Die Oos-Kaapse DA sal die abaThembu-koning Buyelekhaya Zwelibanzi Vrydag ontmoet.

Die Demokratiese Alliansie se provinsiale leier Athol Trollip het aan die koerant The Star gesê hy is baie opgewonde oor die komende ontmoeting en is nie gepla deur die negatiewe publisiteit wat verband hou met die koning se daggagebruik nie.

“Ek wil nie die kar voor die perd span nie, maar ek is geskeduleer om hom te ontmoet op 12 Julie,” het Trollip gesê.

Volgens die koerant sal Trollip en die koning grondwetlikheid, die DA se grondwet en sy waardes bespreek.

“Ons sal praat oor sy lidmaatskap en die rol wat hy kan speel in die toekoms van die DA.”

Verlede maand het koning Dalindyebo die ANC en president Jacob Zuma as “korrupte lieplappers” in Qunu in die Oos-Kaap beskryf, tydens ‘n gebeddiens vir voormalige president Nelson Mandela.

Dalindyebo het glo gesê die ANC het die anti-apartheid-ikoon se nalatenskap verdraai en hulle is arrogant.

Dalinyebo het gesê hy wil ophou dagga rook die dag as Zuma ophou om korrup te wees.

Hy het ook gesê hy sal by die DA aansluit as ‘n verjaarsdaggeskenk aan Mandela.

Vermoede bestaan dat diensverskaffers Medupi melk deur vertragings

‘n Woordvoerder van die vakbond NUMSA, Steve Nhlapo, sê die verlenging van die spertyd vir die voltooiing van die Medupi-kragstasie sal tot voordeel van sommige van Eskom se kontrakbestuurders werk.

Nhlapo sê daar word vermoed dat die proses doelbewus vertraag word sodat diensverskaffers meer geld daaruit kan maak.

Die vakbond het gevra vir ‘n ondersoek na Eskom se besluit om die spertyd vir die voltooiing van sy eerste eenheid by die multimiljardrandse Medupi-kragstasie op Lephalale in Limpopo uit te stel.

Die spertyd is van die einde van die jaar verskuif na die middel van aanstaande jaar. Die kragverskaffer sê dit is gedeeltelik oor die voortslepende arbeidsonrus. 

Die president van die Lephalale Kamer van Koophandel, Wayne Derksen, het intussen gesê hulle is tevrede met die uitstel.

Venezuela sê ja vir Snowden

Die Amerikaanse fluitjieblaser Edward Snowden het Venezuela se aanbod van asie aanvaar, het ‘n Russiese parlementslid Dinsdag gesê.

“Soos verwag is, het Snowden [Venezuela se president Nicolas] Maduro se aanbod om asiel aanvaar,” het Alexei Pushkov, hoof van die parlement se komitee vir internasionale betrekkinge, op sy Twitter-profiel gesê.

Snowden, ‘n voormalige regeringskontrakteur vir die Amerikaanse National Security Agency (NSA) wat besonderhede oor ‘n intelligensie-program onthul het , het op 23 Junie in Moskou geland.

Hy woon volgens die jongste berigte steeds in die transitogebied van ‘n lughawe in Moskou.

VSA, VN weier om staatsgreep in Egipte te erken

Die Verenigde Nasies is huiwerig om die afsetting van die Egiptiese President, Mohamed Morsi as ‘n staatsgreep te beskryf.

Die VN Woordvoerder, Martin Nesirky sê dat die militêre ingryping onwenslik is en dat daar so gou moontlik na ‘n burgerlike regeringsvorm beweeg moet word, maar hy wil dit nie ‘n staatsgreep noem nie.

Suid-Afrika het vroeër ‘n besluit deur die Afrika-unie ondersteun om Egipte uit die organisasie te skors weens sy oortreding van die unie se wetgewing wat ‘n ongrondwetlike verandering van regering verbied.

Amerika het gesê hy sal voortgaan om hulp ten bedrae van $1,3 biljoen per jaar aan die Egiptiese weermag te verleen. 

Dié aankondiging kom ten spyte van die weermag se rol in die ontseteling van die demokratiese verkose president, Mohamed Morsi, en soldate se volgehoue geweld teen betogers.

Meer as 50 van Morsi se ondersteuners is Maandag in Kaïro dood toe soldate op hulle losgebrand het.

“Dit sal nie in die beste belang van Amerika wees om onmiddelik ons hulpprogram aan Egipte te verander nie,” het ‘n woordvoerder vir die Withuis, Jay Carney, Dinsdag gesê.

Kragtens wetgewing is die VSA verplig om alle hulp aan Egipte op te skort indien die demokraties verkose regering deur ‘n staatsgreep omvergewerp word.