SAID-bedrogspul: Werknemer gevonnis

‘n Kaapse vrou is Dinsdag tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uit meer as R6 miljoen bedrieg het.

Neil (39) en Bronwyn Goldman (35), ‘n voormalige werknemer van die SAID, het verlede week in die Bellville-streekhof op byna 400 aanklagte van bedrog verskyn. Hulle het ‘n pleit­ooreenkoms met die staat gesluit waarin hulle skuld op die misdrywe beken.

Bronwyn is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan drie jaar voorwaardelik vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is.

Haar man is tot effektief agt jaar tronkstraf gevonnis, wat opgeskort is vir vyf jaar. Neil sal ook 36 maande onder korrektiewe toesig wees.

Die hof het hul bereidwilligheid om te pleit en hul vier klein kinders in ag geneem.

Bronwyn Goldman het as ‘n groepleier in die oudit-afdeling van die SAID gewerk.

Sy het die stelsel gemanipuleer en ‘n totaal van sowat R6,08 miljoen in haar man se bankrekening betaal as BTW-terugbetalings vir sy duikklop-onderneming.

Die SAID kon slegs R1,947 miljoen van die gesteelde geld terugkry, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag gesê.

Die hof het gehoor dat die paartjie hul huis verkoop het om die SAID terugbetaal en dat die balju van die hof die duikklop-onderneming verkoop het.

Maak 'n opvolg-bydrae