Die gewese administrateur van Transvaal, dr. Willem Cruywagen is gisteraand by sy huis in Pretoria oorlede. Hy was 92 jaar oud.
Die oudadministrateur was die afgelope paar weke siek en het ondermeer las van ‘n maagseer gehad.
Hy was lid van verskeie kultuur- en erfenisorganisasies en ook beskermheer van Die Voortrekkers. Een van Cruywagen se merkwaardigste prestasies was dat hy op 83-jarige leeftyd ‘n doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Noordwes behaal het.
Hy het ook in die vorige bedeling in die kabinet gedien en was minister van onderwys voor hy administrateur van Transvaal geword het.
Dr. Cruywagen word oorleef deur sy vrou, Snow, twee seuns en vier kleinkinders en een agterkleinkind.
‘n Gedenkdiens vir dr Cruywagen sal waarskynlik aanstaande week in Pretoria gehou word. Besonderhede sal later bekendgemaak word.
