‘n Nuwe meningspeiling toon dat 83% van Suid-Afrikaners die Polisiediens as korrup beskou.
Die peiling deur Transparency International, het vasgestel dat Suid-Afrika een van 36 lande is waar gewone mense nie die polisie vertrou nie. Volgens RSG se redaksie in Johannesburg het 36% van die 1000 Suid-Afrikaners wat deelgeneem het, erken dat hulle al ‘n polisielid omgekoop het.
‘n Direkteur van die organisasie, Corruption Watch, David Lewis, sê die bevindings bevestig dat die toename in korrupsie nie bloot net ‘n opvatting is nie. Hy sê die organisasie het meer as 4000 klagtes oor korrupsie en verwante sake ontvang sedert sy ontstaan in Januarie 2012.
Bykans die helfte daarvan het gehandel oor die misbruik van openbare mag en hulpbronne deur die privaat- en die openbare sektor.
Wêreldwyd het die opname getoon dat 27% van die respondente in die laaste 12 maande omkoopgeld betaal het waar hulle toegang wou hê tot openbare dienste. Die opname is onder 114 000 mense in 107 lande gedoen.
Byna twee-derdes (64 persent) van die mense regoor die wêreld het gedink dat persoonlike kontak belangriker is om dinge gedoen te kry in die openbare sektor.
Dit het tot 80 persent in Israel, Italië, Libanon, Malawi, Marokko, en Rusland gestyg.
