Die Verenigde Nasies is huiwerig om die afsetting van die Egiptiese President, Mohamed Morsi as ‘n staatsgreep te beskryf.
Die VN Woordvoerder, Martin Nesirky sê dat die militêre ingryping onwenslik is en dat daar so gou moontlik na ‘n burgerlike regeringsvorm beweeg moet word, maar hy wil dit nie ‘n staatsgreep noem nie.
Suid-Afrika het vroeër ‘n besluit deur die Afrika-unie ondersteun om Egipte uit die organisasie te skors weens sy oortreding van die unie se wetgewing wat ‘n ongrondwetlike verandering van regering verbied.
Amerika het gesê hy sal voortgaan om hulp ten bedrae van $1,3 biljoen per jaar aan die Egiptiese weermag te verleen.
Dié aankondiging kom ten spyte van die weermag se rol in die ontseteling van die demokratiese verkose president, Mohamed Morsi, en soldate se volgehoue geweld teen betogers.
Meer as 50 van Morsi se ondersteuners is Maandag in Kaïro dood toe soldate op hulle losgebrand het.
“Dit sal nie in die beste belang van Amerika wees om onmiddelik ons hulpprogram aan Egipte te verander nie,” het ‘n woordvoerder vir die Withuis, Jay Carney, Dinsdag gesê.
Kragtens wetgewing is die VSA verplig om alle hulp aan Egipte op te skort indien die demokraties verkose regering deur ‘n staatsgreep omvergewerp word.
