Mandela se toestand verbeter ‘dramaties’

Nelson Mandela het “dramatiese vordering” gemaak en mag “binnekort” by die huis wees sê sy dogter Zindzi op die vooraand van sy 95ste verjaardag.

“Ek het hom gister besoek en hy was besig om televisie te kyk met oorfone,” het Zindzi Mandela in ‘n onderhoud met Brittanje se Sky TV gesê. “Hy het vir ons ‘n groot geglimlag en sy hand gelig… Hy reageer met sy oë en sy hande.”

Mandela is besig om “energie en krag” te skep sê sy dogter. “Ek meen hy sal binnekort huis toe gaan.”

Die nuutste beskrywing deur Zindzi – wat een van Mandela se dogters by sy tweede vrou, Winnie Madikizela-Mandela is – toon ‘n aansienlike verbetering van die beskrywing in hofdokumente ingedien deur die familie vroeër hierdie maand. Daarin is aangedui dat hy was op lewensondersteuning is en naby die dood.

Mandela is in ‘n Pretoriase hospitaal opgeneem op 8 Junie en amptenare sê sy toestand is kritiek, maar stabiel.

Die nuus van die verbetering in Mandela se gesondheid sal sy ondersteuners in Suid-Afrika en regoor die wêreld met sy 95ste verjaarsdag Donderdag ‘n hupstoot gee. Dié dag is deur die Verenigde Nasies afgekondig as ‘n manier om die Nobelpryswenner se bydrae tot versoening te erken.

Belangstelling in Nelson Mandela Internasionale Dag het as gevolg van die voormalige Suid-Afrikaanse president se hospitalisasie in Pretoria vlam gevat.

President Jacob Zuma sal Mandela se verjaardag vier deur die skenking van huise aan arm wit gesinne in die Pretoria-gebied, om saam te val met sy Kabinet se tema hierdie jaar wat fokus op voedselsekuriteit, skuiling en geletterdheid.

In Kaapstad, sal arbeidaktiviste by die St George-katedraal byeenkom “ter nagedagtenis van Mandela se diens aan die gemeenskap” en om mense aan te moedig om kos te skenk aan liefdadigheid.

Gewigsverlies goud werd in Doebai

Inwoners wat gewig in Doebai verloor, gaan in goud beloon word as deel van ‘n nuwe inisiatief deur die munisipaliteit om vetsug te bekamp, het ‘n plaaslike koerant Woensdag berig.

“Jou gewig in goud” is die titel van die veldtog wat beloof om een gram goud vir elke kilogram wat afgeskud word te betaal, op voorwaarde dat ‘n deelnemer teen 16 Augustus twee kilogram verloor het.

Die veldtog val saam met die heilige maand van Ramadaan, wat net voor die middel van Augustus eindig.

Deelnemers moet skale in openbare parke gebruik en sal riglyne van dieetkundiges ontvang.

Vetsug is besig om al hoe meer onder mense in die Golf-state toe te neem.

ANC verwelkom Modimolle-monster se vonnis

Die regering het die nuus verwelkom dat Johan Kotzé, die sogenaamde Modimolle-monster, twee lewenslange vonnisse in die Pretoriase hooggeregshof opgelê is.

Dié naam Modimolle-monster is aan Kotzé gegee deur Beeld wat die nuus van die wit wreedaard deurentyd breedvoerig op die hoofblad gedra het.

“Hierdie wrede dade is vernederend, minagtend en het Ina Bonnette se regte geskend,” het Nebo Legoabe, waarnemende hoof van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel, Woensdag in ‘n verklaring gesê.

“Dit stuur ‘n sterk boodskap dat die regering onwrikbaar is in sy verbintenis om seksuele geweld te beveg.”

Kotzé en sy mede-beskuldigde, Andries Sithole, is Woensdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die 19-jarige Conrad Bonnette.

Conrad was Kotzé se gewese vrou, Ina Bonnette, se seun.

Albei is ook 10 jaar gevangenisstraf opgelê vir ontvoering.

Legoabe het gesê dié strawwe is ‘n duidelike aanwysing dat die mense wat hulle skuldig maak aan geweld teenoor vroue en kinders, vervolg sal word.

Nuwe tussentydse regering in Egipte

‘n Nuwe tussentydse regering in Egipte is ingesweer te midde van hernude geweld tussen veiligheidsmagte en ondersteuners van die afgesette president Mohammed Morsi.

Sewe mense is in die jongste geweld dood en meer as 400 betogers is in die hoofstad Kairo in hegtenis geneem.

Die tussentydse regering staar ‘n reuse uitdaging in die gesig om die land weer onder burgerlike heerskappy te bring en om die ekonomie te red.

Die regering bestaan uit 33 hoofsaaklik liberale en tegnokratiese lede, terwyl nie een van die belangrikste Islamitiese groepe verteenwoordig is nie.

SAOG, VSA bekommerd oor Zim-verkiesing

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se waarnemer-sending in Zimbabwe het dié land gemaan om omstrede kwessies voor die verkiesing op die 31ste van die maand op te los, eerder as om daarmee te wag tot ná die verkiesing.

Daar is reeds probleme ervaar toe die polisie en militêre personeel gestem het en talle is nie toegelaat om Sondag en Maandag te stem nie.

Die voorsitter van die SAOG se waarnemer-sending, Bernard Membe sê rolspelers moet toesien dat landsburgers toegang tot stembusse het en ongehinderd kan stem.

Die VSA is ook bekommerd oor ‘n gebrek aan deursigtigheid in die aanloop tot die Zimbabwiese verkiesing wat op die 31e van die maand gehou word.

‘n Beroep is opnuut op die regering gedoen om te verseker dat die verkiesings vreedsaam, regverdig en geloofwaardig gehou sal word.

‘n Woordvoerder van die Amerikaanse regering – Patrick Ventrell – het daarop gesinspeel dat die VSA sy sanksies teen Zimbabwe kan behou, of verskerp, indien die verkiesing deur geweld en onreëlmatighede gekenmerk word.

Waarnemers sê die aanloop sover is swak beplan met te min geld wat beskikbaar gestel is. Dit is ook deurspek van ongerymdhede. Dit laat vrese ontstaan dat dieselfde tipe geweld van die 2008 verkiesings kan kop-uitsteek.

Xhosakoning glo woedend oor te min geld

Twee Xhosamans wat skuldig bevind is aan sameswering om provinsiale ANC-leiers te vermoor, word vandag in die Oos-Kaapse hooggeregshof in Mthatha gevonnis.

Thembinkosi Mapeyi en Thembile Ceba is twee jaar gelede in hegtenis geneem na ‘n geheime ondersoek deur die polisie.

Hulle het saamgesweer om die LUR vir plaaslike regering, Mlibo Qoboshiyane en die provinsiale sekretaris van die ANC, Oscar Mabuyane en andere om die lewe te bring.

Dit is nie bekend of die beplande moorde verband hou met die oortuigings van die omstrede koning Dalindyebo nie, maar gerugte wil hê dat hy daaragter sit.

Intussen het die werklike redes vir die omstrede AbaThembu-koning se besluit om by die DA aan te sluit, rugbaar geraak: Die besluit om die ANC te verlaat gaan oor geld.

Die Xhosakoning is glo geregtig op ‘n lang en duur lys van voordele van die Oos-Kaapse provinsiale regering. Maar dit is nie gelyk aan die voordele wat deur die AmaZulu-koning, koning Goodwill Zwelithini, ‘n boorling van President Jacob Zuma se tuisprovinsie, ontvang word nie.

Koning Dalindyebo verdien ‘n maandelikse salaris van meer as R80 000, het twee voertuie tot sy beskikking en ‘n staatspysenieringbegroting van meer as R96 000 per jaar. Maar dit is niks in vergelyking met die R35-miljoen in totaal wat die KwaZulu-Natalse regering bestee op Zwelithini se paleise, vroue en algemene instandhouding nie.

Dalindyebo se aanvalle teen president Zuma, en die regerende ANC het dus weinig met politiek te make.

Dokumente wat uit die Oos-Kaapse regering bekom is, toon dat die vergoeding van die konings bepaal word deur die president. Maar die bykomende voordele word bepaal deur elke provinsie.

SANW ontken berigte dat SA-soldate in DRK-gevegte betrokke is

Die Weermag ontken berigte dat Suid-Afrikaanse soldate betrokke was by gevegte teen die rebelle in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Volgens mediaberigte was soldate wat deel is van die VN-mag betrokke in skermuntselings naby die dorp Goma.

Intussen het dit egter aan die lig gekom dat die VN-mag nog nie aktief is in die gebied nie.

Die woordvoerder van die weermag, Siphiwe Dlamini sê die media moet ophou “bespiegel” oor wat in die ooste van die DRK gebeur en by die feite hou.

Hy sê die weermag het deurgaans gesê dat soldate nie in konflik met die rebellemagte in die DRK betrokke was nie.

Kurt moontlik dié week ontslaan

Die sanger Kurt Darren kan moontlik vandeesweek uit die hospitaal ontslaan word, het sy broer Darryn van Heerden Maandag aan Looklocal gesê.

“Kurt is steeds in baie pyn in die hospitaal maar dit gaan goed met hom,” het Darryn gesê.

Volgens Darryn is die gerugte dat Kurt Vrydagaand ʼn terugslag beleef het, onwaar.

“Kurt het Vrydagaand en Saterdagoggend net baie pyn gehad. Nié ‘n terugslag nie. Hy maak inteendeel baie goeie vordering.”

Darryn het gesê Kurt kan moontlik teen die einde van die week uit die hospitaal ontslaan word.

“Die kans is goed dat hy teen die einde van die week ontslaan kan word maar ons is nie presies seker wanneer dit gaan gebeur nie.”

Dunay is steeds aan Kurt se sy waar hy in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg aansterk.

“Kurt se gesondheid het beslis verbeter vandat Dunay hier aangekom het.”

Dunay en Kurt het Sondag die negende herdenking van hul kennismaking in die hospitaal gevier.

“Dunay het gister ‘n groot ballon met die nommer 9 voorop in Kurt se kamer kom hang. Sy en Kurt was gister baie opgewek gewees.”

Dunay het Sondag getwiet:

“Vandag is ek 9jaar saam die liefde van my lewe @KurtOfficial , dankie Heer dat U my so geseën het met ń wonderlike vriend en lewensmaat!!!”

Kurt en twee vriende, Marnus Bisschoff en Nadia van Rensburg, was verlede week Sondagoggend in Pretoria-Noord in ʼn motorongeluk.

Darren is met ‘n helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gebring. Hy het kopbeserings opgedoen en elf ribbes gebreek.

Marnus en Nadia is Vrydag glo reeds uit die hospitaal ontslaan.

Nóg ‘n blouligkonvooi-ongeluk in Johannesburg

‘n Voertuig in ‘n blouligkonvooi was betrokke in ‘n ongeluk in die Johannesburgse sakekern, na bewering nadat dit oor ‘n rooi verkeerslig Dinsdagmiddag gejaag het.

Getuies by die kruising van De Korte en Berthastrate in Braamfontein het gesê hulle het die swart BMW sien jaag deur ‘n rooi verkeerslig.

Die BMW is getref deur ‘n wit Toyota Corolla van die Departement van Arbeid.

Ooggetuies het gesê die BMW het daarna getol en teen ‘n verkeerslig gebots voordat dit in die middel van Berthastraat tot stilstand gekom het.

Die bestuurders van beide voertuie is na die hospitaal geneem. Hul toestand is nie bekend nie.

Petroljoggies van die vulstasie aan die oorkant het gesê dit is niks ongewoon om dié konvooie te sien jaag deur kruising van Berthastraat nie.

Die BMW het ook veroorsaak dat ‘n trollie vol papier vir herwinning getref is. Die trollie-eienaar was ongedeerd, maar het van die toneel gevlug.

Dit alles gebeur het net na 15:00. Ooggetuies het gesê daar was tussen vyf en 10 voertuie in die konvooi en dat hulle verby die ongelukstoneel gejaag het sonder om te stop.

Dit is blykbaar sekuriteitsprotokol vir konvooie om nie te stop by die toneel van ‘n ongeluk nie.

Die metropolisie-woordvoerder Wayne Minnaar, het die ongeluk bevestig, maar kon nie sê wie in die konvooi was nie.

“Die oorsaak sal ondersoek word,” het hy gesê.

Kort ná die ongeluk, was metropolisie en die SAPD egter op die toneel.

Toe ‘n fotograaf begin foto’s neem het van die BMW, is die nommerplaat dadelik verwyder.

Die mees berugte bloulig-ongeluk in Johannesburg is die van skoolseun Thomas Ferreira, wat ernstige kopbeserings opgedoen het toe ‘n BMW hom getref het nadat die motor ‘n rooi lig verontagsaam het.

Varkgriep eis 2 in SA

Twee mense is onlangs in Pretoria en Durban oorlede aan varkgriep, sê die Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

Nios het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulle teen die H1N1-griepvirus, wat as varkgriep bekendstaan, in te ent.

Die Netcare-groep het bevestig dat ‘n vroulike pasiënt positief vir die virus getoets het, maar Netcare sê die virus is nie die oorsaak van die pasiënt se dood nie.

Die vrou het volgens wat die SABC berig, aan ‘n ander toestand gely wat haar immuunstelsel aangetas het.

Die H1N1-virus het vir die eerste keer in 2009 kop uitgesteek.

Die openbare uitsaaier berig meer as 5 000 gevalle is in Suid-Afrika aangemeld. Die virus het die lewe van 40 mense in die land geëis.