Die sanger Kurt Darren kan moontlik vandeesweek uit die hospitaal ontslaan word, het sy broer Darryn van Heerden Maandag aan Looklocal gesê.
“Kurt is steeds in baie pyn in die hospitaal maar dit gaan goed met hom,” het Darryn gesê.
Volgens Darryn is die gerugte dat Kurt Vrydagaand ʼn terugslag beleef het, onwaar.
“Kurt het Vrydagaand en Saterdagoggend net baie pyn gehad. Nié ‘n terugslag nie. Hy maak inteendeel baie goeie vordering.”
Darryn het gesê Kurt kan moontlik teen die einde van die week uit die hospitaal ontslaan word.
“Die kans is goed dat hy teen die einde van die week ontslaan kan word maar ons is nie presies seker wanneer dit gaan gebeur nie.”
Dunay is steeds aan Kurt se sy waar hy in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg aansterk.
“Kurt se gesondheid het beslis verbeter vandat Dunay hier aangekom het.”
Dunay en Kurt het Sondag die negende herdenking van hul kennismaking in die hospitaal gevier.
“Dunay het gister ‘n groot ballon met die nommer 9 voorop in Kurt se kamer kom hang. Sy en Kurt was gister baie opgewek gewees.”
Dunay het Sondag getwiet:
“Vandag is ek 9jaar saam die liefde van my lewe @KurtOfficial , dankie Heer dat U my so geseën het met ń wonderlike vriend en lewensmaat!!!”
Kurt en twee vriende, Marnus Bisschoff en Nadia van Rensburg, was verlede week Sondagoggend in Pretoria-Noord in ʼn motorongeluk.
Darren is met ‘n helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gebring. Hy het kopbeserings opgedoen en elf ribbes gebreek.
Marnus en Nadia is Vrydag glo reeds uit die hospitaal ontslaan.
