Twee Xhosamans wat skuldig bevind is aan sameswering om provinsiale ANC-leiers te vermoor, word vandag in die Oos-Kaapse hooggeregshof in Mthatha gevonnis.
Thembinkosi Mapeyi en Thembile Ceba is twee jaar gelede in hegtenis geneem na ‘n geheime ondersoek deur die polisie.
Hulle het saamgesweer om die LUR vir plaaslike regering, Mlibo Qoboshiyane en die provinsiale sekretaris van die ANC, Oscar Mabuyane en andere om die lewe te bring.
Dit is nie bekend of die beplande moorde verband hou met die oortuigings van die omstrede koning Dalindyebo nie, maar gerugte wil hê dat hy daaragter sit.
Intussen het die werklike redes vir die omstrede AbaThembu-koning se besluit om by die DA aan te sluit, rugbaar geraak: Die besluit om die ANC te verlaat gaan oor geld.
Die Xhosakoning is glo geregtig op ‘n lang en duur lys van voordele van die Oos-Kaapse provinsiale regering. Maar dit is nie gelyk aan die voordele wat deur die AmaZulu-koning, koning Goodwill Zwelithini, ‘n boorling van President Jacob Zuma se tuisprovinsie, ontvang word nie.
Koning Dalindyebo verdien ‘n maandelikse salaris van meer as R80 000, het twee voertuie tot sy beskikking en ‘n staatspysenieringbegroting van meer as R96 000 per jaar. Maar dit is niks in vergelyking met die R35-miljoen in totaal wat die KwaZulu-Natalse regering bestee op Zwelithini se paleise, vroue en algemene instandhouding nie.
Dalindyebo se aanvalle teen president Zuma, en die regerende ANC het dus weinig met politiek te make.
Dokumente wat uit die Oos-Kaapse regering bekom is, toon dat die vergoeding van die konings bepaal word deur die president. Maar die bykomende voordele word bepaal deur elke provinsie.
