Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se waarnemer-sending in Zimbabwe het dié land gemaan om omstrede kwessies voor die verkiesing op die 31ste van die maand op te los, eerder as om daarmee te wag tot ná die verkiesing.
Daar is reeds probleme ervaar toe die polisie en militêre personeel gestem het en talle is nie toegelaat om Sondag en Maandag te stem nie.
Die voorsitter van die SAOG se waarnemer-sending, Bernard Membe sê rolspelers moet toesien dat landsburgers toegang tot stembusse het en ongehinderd kan stem.
Die VSA is ook bekommerd oor ‘n gebrek aan deursigtigheid in die aanloop tot die Zimbabwiese verkiesing wat op die 31e van die maand gehou word.
‘n Beroep is opnuut op die regering gedoen om te verseker dat die verkiesings vreedsaam, regverdig en geloofwaardig gehou sal word.
‘n Woordvoerder van die Amerikaanse regering – Patrick Ventrell – het daarop gesinspeel dat die VSA sy sanksies teen Zimbabwe kan behou, of verskerp, indien die verkiesing deur geweld en onreëlmatighede gekenmerk word.
Waarnemers sê die aanloop sover is swak beplan met te min geld wat beskikbaar gestel is. Dit is ook deurspek van ongerymdhede. Dit laat vrese ontstaan dat dieselfde tipe geweld van die 2008 verkiesings kan kop-uitsteek.
