Skrywer: Dan Roodt
Ivoorkus ignoreer wapenembargo
Gbagbo se regering ontken die verslag as ‘n “leuen” en sekere VN-diplomate het gesê die bewering bly onbevestig. Die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, wie se kantoor aanvanklik die aanklag gemaak het, het dit later versag in kommentaar aan verslaggewers.
‘n VN-woordvoerder het aangedui dat die beskuldiging spruit uit die verslae wat ontvang is van VN-kenners gemoeid met die monitering van die embargo.
Die bewering volg ‘n week sedert magte lojaal aan Gbagbo en ondersteuners van Alassane Ouattara – wat byna universeel erken word as wenner van die November 28-verkiesing – geweervuur uitruil.
Die verwarring beteken moontlik die wêreld se top kakaoprodusent staan op die vooraand van ‘n volskaalse burgeroorlog. Kakaopryse het Maandag ‘n hoogtepunt bereik soos vrese dat oorlog kan uitbreek, toegeneem het.
‘n Woordvoerder van Ban het oornag ‘n verklaring uitgereik en gesê: “Die sekretaris-generaal het met groot besorgdheid kennis geneem van drie aanvalshelikopters en verwante materiaal uit Belarus gelewer aan Yamoussoukro [die hoofstad] vir mnr Gbagbo se magte.”
“Dit is ‘n ernstige skending van die embargo teen die Ivoorkus wat in plek is sedert 2004,” het hy bygevoeg.
Die buitelandse ministerie van Belarus ontken enige skending van die embargo, volgens Rusland se Interfax-nuusagentskap. Gbagbo se regeringswoordvoerder Ahoua Don Mello het gesê: “Geen wapens is in die Ivoorkus ontvang wat ‘n skending van die embargo is nie.”
Rubriekskrywer afgedank oor bruin opmerkings
Nomakula (Kuli) Roberts se rubriek in Sunday World is binne enkele ure gestaak nadat sy Sondag die een en ander oor bruin vroue kwytgeraak het.
‘n Storm het oor die naweek op die sosiale netwerk Twitter losgebars oor die omstrede stellings. Die joernalis en TV-aanbieder is daarna gevra om dadelik te loop.
Denver Keytle skryf :”Hulle moet Kuli Roberts in die middel van Mitchells Plain aflaai met niks anders as ‘n waterbottel nie en sien hoe lank sy hou.”
In haar gewraakte rubriek, Jou ma se kinders, wat in die Sondagkoerant verskyn het, gee Roberts haar mening oor Kaapse bruin vroue.
”Kleurlinge is gek” omdat “hulle skree en borde gooi, hulle het geen voortande nie en eet vis asof hulle die see gaan uitput [en] hulle hou daarvan om in die openbaar te baklei en die meeste is baie gewelddadig “.
Roberts skryf bruines is die toekoms, want “jy sal nooit sonder sigarette opeindig [wanneer jy saam met hulle is nie].”
“Jy sal altyd verseker wees van ‘n groot gesin; baie van die meisies teel asof Allan Boesak hulle gestuur het om die bruin ras aan te vul.”
”Natuurlik, ek mis Kaapse bruinmense. Watter ander ras weet jy van wat so ‘n obsessie met naaimasjiene het? O ja, en ek bedoel nie ‘sewing machines’ nie,” skryf Roberts.
“Hulle hoef ook nie duisende rande vir hul hare uit te haal nie; baie van hulle het lang gladde hare…”
Die Menseregtekommissie het ‘n formele klagte teen Roberts ontvang en hulle het aangedui dat haar uitlatings ondersoek sal word.
”Alhoewel ek die reg van rubriekskrywers erken om hul menings uit te spreek sonder vrees of guns, behoort dit nie op vooroordeel te berus nie,” het Sunday World se redakteur Wally Mbhele gister gesê.
”Ons sal eers bepaal of daar ‘n prima facie-skending van menseregte is,” sê kommissiewoordvoerder Vincent Moaga.
Shaik en Derby-Lewis: Dubbele standaarde
Hierdie dubbele standaarde tas die geloofwaardigheid van die Departement van Korrektiewe Dienste asook die van die betrokke ANC-ministers baie ernstig aan. Parool is nie ‘n vryskelding van ‘n persoon se misdaad nie, maar afslag van vonnis volgens vaste reëls en regulasies.
Shaik is twee jaar gelede op parool vrygelaat omdat hy as “terminaal siek” gediagnoseer is. Hy het so “herstel” dat hy kan gholf speel en na bewering genoeg verdere energie het om ‘n fotograaf te kon aanrand.
Clive Derby Lewis is tans 75 en sy lewensverwagting is minder as 24 maande as die kanker nie effektief deur chemoterapie bestry kan word nie. Hy kwalifiseer volgens alle riglyne vir mediese- en normale parool. Hy moes reeds in Oktober 2008 parool gekry het op grond van sy ouderdom en volgens aanbevelings van die paroolraad. Die proses is telkens deur politici gekelder. Dit wil voorkom asof sy nuwe aansoek om mediese parool ook berekend vertraag word.
Die VF Plus gaan vra dat ‘n ondersoek na mnr. Shaik se paroolvoorwaardes gedoen word in die lig van die gholf voorval asook na die vertragings in Clive Derby-Lewis se aansoek.
R1,2 miljard aan NYDA onverantwoordelik
“Die feit dat daar talle bewerings van ongerymdhede rakende die Wêreld-jeugfees bestaan en die feit dat die NYDA tot op datum nie daadwerklike uitvoering aan hul mandaat gegee het nie, maak die toekenning van so ‘n groot bedrag aan die agentskap onaanvaarbaar en die Ouditeur-Generaal (OG) sal dit moet ondersoek. Hierdie nuwe fondse gaan moontlik weereens deur die agentskap vermors word. Die agentskap betaal R188 miljoen per jaar vanuit hul begroting van R386 miljoen net aan salarisse. Dit is ‘n bewys dat hierdie agentskap belastingbetalers se geld op die salarisse van ANC Jeugliga-leiers mors en nie voldoende jeugontwikkeling of werkskepping bevorder nie,” het Wouter Wessels, woordvoerder van die VF Plus-jeug gesê.
Die VF Plus-jeug het op 17 Januarie ‘n klagte rakende die beweerde ongerymdhede, onder andere die vervoer van die Kubaanse afvaardiging na die Wêreldfees by die Openbare Beskermer (OB) ingedien. Die OB het tot op datum slegs ontvangs van die klagte erken.
Die VF Plus-jeug sal klagtes by die kantoor van die OG asook by die Openbare Dienskommissie (PSC) indien. Die VF Plus eis dat daar ondersoek ingestel word na alle beweerde ongerymdhede met betrekking tot die NYDA en dat die toekenning van die nuwe begroting ook ten volle ondersoek moet word.
Umalusi nog nie duidelik nie
Die belangrikste kwessies wat, onder andere, nie deur die verslag verklaar word nie is as volg:
1. Op ‘n makrovlak, die rede waarom 2010 se matrieks so ‘n hoë slaagsyfer het wat duidelik nie korreleer met die vorige jare s’n nie. Umalusi het aangedui dat hulle nie aanpassings op ‘n globale skaal maak nie, maar wel per vak op ‘n nasionale vlak. Hoe die per-vak-aanpassings gesamentlik tot ‘n hoër slaagsyfer gelei het is nie deur Umalusi ondersoek of verduidelik nie en bly ‘n raaisel.
2. Op ‘n mikrovlak, waarom sekere skole in dieselfde area ‘n geweldige styging in slaagsyfers getoon het terwyl andere staties gebly of gesak het. Hierdie kwessie het rasselyne waar ‘swart’ skole se slaagsyfer statistiese uitskieters blyk te wees. Daar kan weliswaar ander redes vir die fenomeen wees, maar die verslag verklaar dit nie.
Die verslag en mediakonferensie van Umalusi het wel die volgende insigte verskaf:
1. Die vak Engels Huistaal is opwaarts aangepas om te kompenseer vir die feit dat leerlinge, wat nie Afrikaans of Engels as huistaal het nie en wat inskakel by vorige model C-skole wat Afrikaans is, gewoonlik dan Engels Huistaal as vak neem. Aangesien Engels nie in werklikheid die leerlinge se huistaal is nie, maar eerder ‘n ander inheemse taal, doen die leerlinge nie juis goed in die vak nie. Hierdie situasie dui egter aan dat die departement van basiese onderwys nie genoeg skole beskikbaar stel waarin moedertaalonderrig kan geskied nie. Dit is skreiend dat Afrikaanse skole deur die departement, soms met regstappe, gedwing word om anderstalige leerlinge in te neem en dan hulle te onderrig in Engels wat nie eens die leerlinge se moedertaal is nie. Dit is diskriminerend teen beide die Afrikaanssprekende en die anderstalige leerlinge en die departement moet sy beleid hieroor dringend hersien.
2. Umalusi het aangedui dat die departement van basiese onderwys ook punte-aanpassings aanbring nadat Umalusi sy proses voltooi het. Die aanpassings blyk aangebring te word aan taalvakke. Die VF Plus het alreeds ‘n parlementêre vraag hieroor ingedien om vas te stel watter vakke in werklikheid hierdeur geraak is, hoeveel die verstellings in elke vak was en wat die grondslag van die aanpassings was. Moontlik kan hierdie intervensie deur die departement verduidelikings verskaf vir die hoër slaagsyfer van 2010.
3. Umalusi het erken dat die departement van basiese onderwys nog baie werk het om die standaard van Suid-Afrikaanse skole en vakke te verhoog. Die VF Plus is dit hier eens met Umalusi.
Die VF Plus doen verder ‘n beroep op alle bekommerde onderwysers en skoolhoofde om die Umalusi-verslag te bestudeer en self te peil of die inligting hulle insigte bied oor die verskeie anomalieë wat hulle op grondvlak ervaar het. Die VF Plus is bereid om verdere parlementêre vrae aan die minister van basiese onderwys te stel om enige dwingende kwessies aan te spreek.
Die verslag kan by die volgende webadres gevind word: www.umalusi.org.za.
Landboudebat vra feite
“Veralgemenings wat maak asof die verhoudinge tussen kommersiële boere en hulle werkers sleg is, is totaal verkeerd en op sulke propaganda-aannames gegrond. ‘n Wetenskaplike navorsingsondersoek wat deur die bekende navorser professor Lawrie Schlemmer uitgevoer is, het bevind dat die verhoudinge tussen boere en hulle plaaswerkers oorweldigend positief en harmonieus is. Dit is ook my persoonlike ervaring die afgelope twee jaar as adjunkminister waar ek baie plase besoek het,” het dr. Mulder gesê.
“Netso is plaasmoorde nie die gevolg van swak verhoudinge tussen kommersiële boere en hulle plaaswerkers nie. Die ondersoek na plaasaanvalle wat in 2003 gepubliseer is, het 2600 gevalle van plaasmoorde bestudeer. Slegs 1,6% van hierdie gevalle het met arbeidsgeskille op plase verband gehou. ‘n Swak verhouding tussen ‘n fabriekseienaar en sy werkers, of ‘n kommersiële boer en sy werkers, kan in elk geval nooit ‘n moord regverdig nie,” volgens Mulder.
Dr. Mulder het ook na die Groenskrif op grondhervorming verwys. “Die feit dat die Groenskrif nog nie gepubliseer is nie, dui daarop dat daar nog steeds gesprekke en debatte agter die skerms plaasvind. Boere en georganiseerde landbou moet aktief elke moontlike geleentheid om insette hieroor te maak, benut. Dit geld ook die nuut beoogde wet op Verblyfsekerheid,” het hy gesê.
Die Slag van Vegkop
Mzilikazi het in 1836 vir die trekkers ‘n groot bedreiging geraak. Hendrik Potgieter het einde Augustus van Tregardt af terugkeer en die verwoesting in die laers aanskou wat die Matebele op 23 Augustus aangeval het. Dit was by Liebenbergkoppie waar byna almal uitgemoor is en later die dag by Kopjeskraal, waar die trekkers hulle met welslae verdedig het. Albei hierdie plekke is geleë in die Vredefort-koepelgebied. (Volgens die nuutste navorsing was die aanvalle op 23 Augustus, en nie die 24ste nie, soos genoem in die stukkie Trekkers binne en trekkers buite die laer.)
Potgieter het opdrag gegee dat die trekkers na die suide terugval. ‘n Groep het onder leiding van Potgieter en Sarel Cilliers in Oktober 1836 laer getrek by ‘n langwerpige rant tussen die Renoster- en Valsrivier, later bekend as Vegkop naby die huidige Heilbron. Volgens die meeste historici was Potgieter die aanvoerder tydens die slag, hoewel ook Cilliers ’n belangrike rol gespeel het. Daar is verskil van mening oor die datum van die slag, maar dis waarskynlik 19 Oktober 1836.
Die laer was in twee kringe opgestel. In die buitenste kring was veertig waens met doringtakke tussen die wiele en die openings tussen die waens. In ‘n kleiner kring, bedek met beesvelle bo-op en aan die kante, was die skuiling van dié kinders en vroue wat nie geweers hoef te gehelp laai het nie. Tussen die twee kringe was daar plek vir die perde, en daar was ook ‘n opening waardeur die mans met perde kon uitjaag, en wat vinnig met twee waens toegemaak kon word. Die mans hét ook uitgejaag toe die mag van Mzilikazi in die middel van Oktober 1836 aanval.
Sowat vyftig tree van die Matebele het die trekkers stilgehou en ‘n bruin man wat die Matebeles se taal kon praat, gestuur om te vra watter kwaad hulle dan gedoen het dat hulle nou aangeval word. Hulle het net dreigend gemompel; “Mzilikazi alleen die woord.” Terugdraai wou hulle nie. Toe die Matebele storm, het die trekkers skiet-skiet na die laer terug getrek. Verbouereerd kon ‘n paar nie weer die opening in die wamuur kry nie, en het weggejaag.
Die wat veilig terug was, het saam met Sarel Cilliers, een van die geestelike leiers van die trek, gekniel en saam met die vroue en kinders die Allerhoogste se hulp afgesmeek. Teen dié tyd was die Matebele besig om beeste buite die laer dood te steek en die vleis rou te verslind. Daarna het hulle om die laer gewag en hul asgaaie op klippe geslyp.
Ná ‘n tyd van byna ondraaglike spanning het die aanval met ‘n oorverdowende geskree begin. Die trekkers het die aanvallers tot so dertig treë van die laer laat naderkom en gelyktydig gevuur. Elkeen het twee of meer voorlaaiers gehad, en terwyl die man skiet, het sy vrou of kind kruit en lopers of koeëls in die loop van die ander geweer laat afgly; die jong Paul Kruger was een so ‘n kind. Party aanvallers het onder die waens probeer deurkruip, maar van die vroue het met byle gekap na dié wat ingekom het.
Uiteindelik het die aanvallers teruggeval. Piet Botha en Potgieter se jongste broer, Nicolaas, het gesneuwel, en veertien is gewond, ook Sarel Cilliers. Hy het egter dadelik ‘n dankdiens gehou om die eer van die oorwinning aan God te gee. Rondom die laer was daar 430 lyke, en 1137 asgaaie is opgetel. Cilliers se watent is deur 72 steke stukkend geskeur. Die aanvallers het 5 000 beeste, 50 000 skape en honderd perde weggevoer. Van die vermoënde Potgieter is 5 000 skape, 100 trekosse en 300 ander beeste gesteel. Hulpeloos moes die trek wag tot kos en osse opgedaag het om hulle suide toe te neem.
Dink mooi voor jy emigreer
‘n Rukkie gelede het ‘n skrywer aan PRAAG vertel van sy emigrasiewedervaring na die VSA. Hoewel hy enkele pyne genoem het, het hy in die geheel lof vir die projek gehad. Om die waarheid te sê, het ek oorwegend gevoel dat hy dit baie aangenamer laat voorkom het as wat baie ander emigrante moet deurmaak. Dit is ook presies die probleem, nl. dat slegs diegene wat suksesverhale het dit met die res van ons deel. Die ouens wat sukkel, bly oorwegend stil. Immers is ons kultuur so suksesgedrewe dat enigiets minder as dit as mislukking gesien word en dit verdien skaamte.
Nouja, hoewel te veel van ons aan die suksesmoraal onderworpe is, moet die ander kant van die verhaal ook vertel word. Niemand behoort sleg te voel as enigiets in die lewe nie vir hulle uitwerk nie en hulle moet die vryheid hê om sonder veroordeling openlik daaroor te praat as hulle so voel. Ná drie jaar kon ek nog nie besluit of emigrasie vir my ‘n “sukses” of “mislukking” is nie. Wat ek wel kan sê, is dat dit baie pynlik is en dat ek al met vele ander immigrante in gesprek getree het wat dit dieselfde ervaar. In my nagraadse studies waarmee ek tans besig is, het ek selfs ‘n paar stukke daaroor ingelewer.
My gevolgtrekking is dat mense baie mooi moet besin voordat hulle hierdie skuif maak. Dit is gewis nie maklik nie. Baie verwagte en onverwagte probleme lê vir die voornemende emigrant voor. Ten eerste is daar die afskeid en verlange na die vaderland. Dit sluit in velange na familie, vriende, kultuur, taal, klimaat en amper elke ander aspek van die bekende wat positief ervaar word. Die verlies en trauma is soos om ‘n geliefde te verloor. Vir sommiges is dit selfs erger, want elke dag se ervaring van die nuwe land herinner hulle aan alles wat anders is en dus aan dít wat verlore gegaan het.
Vele emigrante is in hul vroeë tot middel-middeljare. Meeste van hulle sal voortaan op hul vingers kan tel hoeveel keer hulle nog hul ouers sal sien. Ja, Skype help, maar dis nie dieselfde nie. Heelwat navorsing is deur ‘n plaaslike akademikus gedoen oor die verlies en verlange na Afrikaans onder Afrikaners hier in Nieu-Seeland. Deurgaans word dit traumaties beleef. Geen mens kan dink watter impak dit het wanneer jou taal geen waarde meer het nie, alvorens jy dit beleef het nie. Dan eers besef jy hoe intens jou taal deel van jou wese is. Om in ‘n ander man se taal te leef, is om net ten dele te leef.
Baie Afrikaners dink hulle sal goed regkom want “in die NSA doen ons in elk geval al ons besigheid in Engels”. Wat hulle nie besef nie, is dat die Engels wat in SA gebesig word van so ‘n swak gehalte is en dat die idioom en aksent so dramaties verskil met dié van Angelsaksiese lande dat dit ‘n geheel ander kommunikasie-ervaring verteenwoordig. Suid-Afrikaners besef nie hoe verdraagsaam selfs die Suid-Afrikaanse Engelssprekendes teenoor die swak Engels is wat in SA gepraat word nie. Aangesien by verre die meeste Tweedetaalengelsprekendes is, is die ganse Suid-Afrika baie verdraagsaam teenoor die geradbraakte wergawe wat daar gepraat word. Kom jy egter hier, is daar geen begrip vir jou aksent, jou Suid-Afrikanismes of die spoed waarteen jy praat nie. Jy moet maar vinnig aanpas en soos met meeste tweedetaalsprekers sal jy vind dat sodra jy onder druk verkeer, verswak jou Engelse taalvaardigheid en dan neem jou gashere se irritasievlakke toe. Aanvaar maar dat met daardie kantoorgeskilletjies, wat mens somtyds ervaar, gaan jy beslis tweede kom. Dis nou as jy as immigrant gelukkig genoeg is om ‘n witboordjiepos te kry, want jou SA ervaring gaan nie hier tel nie. Jy moet Kiwi-, of Aussie-ervaring hê. Behalwe as jy ‘n Pom is, want sien, hulle loop mos op water. Neem ook maar aan dat wanneer jy wel jou plaaslike ervaring begin opdoen het, jy as Suid-Afrikaner saam met die Indiers en Chinese agter in die ry vir geleenthede gaan staan. Die goeie poste is bykans altyd gereseveer vir Kiwi’s, Aussies en Pommies. Ek neem aan in Amerika en Kanada mag daar ‘n plaaslike weergawe van dieselfde logika geld.
Dis ‘n algemene sêding onder Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland, dat jy as nuwe immigrant vir die eerste drie jaar liewer net moet stilbly. Sien, hierdie Kiewiete is so sensitief dat amper enigiets wat jy s^, verkeerd opgeneem kan word. Selfs die Aussies, wat maar self aan die sensitiewe kant is, beskou die Kiwi’s as sensitief. ‘n Australiër sê nou die dag vir my: “The Kiwis are so sensitive, you have to speak to them in riddles.” Hiermee bedoel hy dat enigiets wat direk gesê word as ‘n aanval beskou sal word. Dis juis hieroor dat hulle ons Suid-Afrikaners as ongelooflik aggressief beskou. Die term “arrogant South African” is algemeen bekend hier.
Basies het die plaaslikes nie ‘n goeie siening van Suid-Afrikaners nie. Afrikaners se beeld is nóg swakker. Immers word ons gekontamineer met die “demoniese” apartheid. Wat hulle betref, is ons by verstek rassiste. Jy gaan altyd hard moet werk om daardie etiket te oorkom.
Jou kinders gaan onmiddellik hulle Afrikanerskap begin afstaan ten gunste van die nuwe kultuur. Die deugde van die “nuwe” kultuur is maar yl, want dissipline en struktuur ontbreek erg en jy sal dit opmerk wanneer die kleingoed vriende begin huis toe bring.
Ja, Nieu-Seeland is veiliger as Suid Afrika, en terwyl ons ou land se staatsinstellings onder transformasie begin faal, werk alles wel hier. Nogtans, moenie die fout maak om te dink omdat die blankes die meerderheid hier is dat jy die menswaardigheid wat jy onder ‘n swart regering verloor het hier gaan herwin nie. Die plaaslikes sal jou altyd daaraan herinner dat jy ‘n buitestaander is. Jy sal nooit dieselfde geleenthede as die plaaslike mense gegun word nie. Immers is dit hulle land. Om dinge erger te maak, as jy eers die moeite en kostes aangegaan het om tot hier te kom, is dit baie moeilik om terug te gaan SA toe.
Daar is vele meer wat ek oor emigrasie kan sê, maar dit sal ‘n hele boek in beslag neem. Dus, genoeg vir nou.
Afrikaners se keuses is dus of ons bywoners in ons eie land of bywoners in iemand anders se land wil wees. Ek dink PRAAG het ‘n blink idee om ‘n Afrikanervesting noordoos van Pretoria te wil ontwikkel. Net so dink ek dat Orania ook op die regte pad is. Die NSA is ‘n falende staat en dus gaan daar ‘n toenemende magsvakuum ontwikkel. Ons moet bloot volhard om ons volkstaat na te streef en onvermydelik sal dit verwesenlik word.

