‘n Rukkie gelede het ‘n skrywer aan PRAAG vertel van sy emigrasiewedervaring na die VSA. Hoewel hy enkele pyne genoem het, het hy in die geheel lof vir die projek gehad. Om die waarheid te sê, het ek oorwegend gevoel dat hy dit baie aangenamer laat voorkom het as wat baie ander emigrante moet deurmaak. Dit is ook presies die probleem, nl. dat slegs diegene wat suksesverhale het dit met die res van ons deel. Die ouens wat sukkel, bly oorwegend stil. Immers is ons kultuur so suksesgedrewe dat enigiets minder as dit as mislukking gesien word en dit verdien skaamte.
Nouja, hoewel te veel van ons aan die suksesmoraal onderworpe is, moet die ander kant van die verhaal ook vertel word. Niemand behoort sleg te voel as enigiets in die lewe nie vir hulle uitwerk nie en hulle moet die vryheid hê om sonder veroordeling openlik daaroor te praat as hulle so voel. Ná drie jaar kon ek nog nie besluit of emigrasie vir my ‘n “sukses” of “mislukking” is nie. Wat ek wel kan sê, is dat dit baie pynlik is en dat ek al met vele ander immigrante in gesprek getree het wat dit dieselfde ervaar. In my nagraadse studies waarmee ek tans besig is, het ek selfs ‘n paar stukke daaroor ingelewer.
My gevolgtrekking is dat mense baie mooi moet besin voordat hulle hierdie skuif maak. Dit is gewis nie maklik nie. Baie verwagte en onverwagte probleme lê vir die voornemende emigrant voor. Ten eerste is daar die afskeid en verlange na die vaderland. Dit sluit in velange na familie, vriende, kultuur, taal, klimaat en amper elke ander aspek van die bekende wat positief ervaar word. Die verlies en trauma is soos om ‘n geliefde te verloor. Vir sommiges is dit selfs erger, want elke dag se ervaring van die nuwe land herinner hulle aan alles wat anders is en dus aan dít wat verlore gegaan het.
Vele emigrante is in hul vroeë tot middel-middeljare. Meeste van hulle sal voortaan op hul vingers kan tel hoeveel keer hulle nog hul ouers sal sien. Ja, Skype help, maar dis nie dieselfde nie. Heelwat navorsing is deur ‘n plaaslike akademikus gedoen oor die verlies en verlange na Afrikaans onder Afrikaners hier in Nieu-Seeland. Deurgaans word dit traumaties beleef. Geen mens kan dink watter impak dit het wanneer jou taal geen waarde meer het nie, alvorens jy dit beleef het nie. Dan eers besef jy hoe intens jou taal deel van jou wese is. Om in ‘n ander man se taal te leef, is om net ten dele te leef.
Baie Afrikaners dink hulle sal goed regkom want “in die NSA doen ons in elk geval al ons besigheid in Engels”. Wat hulle nie besef nie, is dat die Engels wat in SA gebesig word van so ‘n swak gehalte is en dat die idioom en aksent so dramaties verskil met dié van Angelsaksiese lande dat dit ‘n geheel ander kommunikasie-ervaring verteenwoordig. Suid-Afrikaners besef nie hoe verdraagsaam selfs die Suid-Afrikaanse Engelssprekendes teenoor die swak Engels is wat in SA gepraat word nie. Aangesien by verre die meeste Tweedetaalengelsprekendes is, is die ganse Suid-Afrika baie verdraagsaam teenoor die geradbraakte wergawe wat daar gepraat word. Kom jy egter hier, is daar geen begrip vir jou aksent, jou Suid-Afrikanismes of die spoed waarteen jy praat nie. Jy moet maar vinnig aanpas en soos met meeste tweedetaalsprekers sal jy vind dat sodra jy onder druk verkeer, verswak jou Engelse taalvaardigheid en dan neem jou gashere se irritasievlakke toe. Aanvaar maar dat met daardie kantoorgeskilletjies, wat mens somtyds ervaar, gaan jy beslis tweede kom. Dis nou as jy as immigrant gelukkig genoeg is om ‘n witboordjiepos te kry, want jou SA ervaring gaan nie hier tel nie. Jy moet Kiwi-, of Aussie-ervaring hê. Behalwe as jy ‘n Pom is, want sien, hulle loop mos op water. Neem ook maar aan dat wanneer jy wel jou plaaslike ervaring begin opdoen het, jy as Suid-Afrikaner saam met die Indiers en Chinese agter in die ry vir geleenthede gaan staan. Die goeie poste is bykans altyd gereseveer vir Kiwi’s, Aussies en Pommies. Ek neem aan in Amerika en Kanada mag daar ‘n plaaslike weergawe van dieselfde logika geld.
Dis ‘n algemene sêding onder Suid-Afrikaners in Nieu-Seeland, dat jy as nuwe immigrant vir die eerste drie jaar liewer net moet stilbly. Sien, hierdie Kiewiete is so sensitief dat amper enigiets wat jy s^, verkeerd opgeneem kan word. Selfs die Aussies, wat maar self aan die sensitiewe kant is, beskou die Kiwi’s as sensitief. ‘n Australiër sê nou die dag vir my: “The Kiwis are so sensitive, you have to speak to them in riddles.” Hiermee bedoel hy dat enigiets wat direk gesê word as ‘n aanval beskou sal word. Dis juis hieroor dat hulle ons Suid-Afrikaners as ongelooflik aggressief beskou. Die term “arrogant South African” is algemeen bekend hier.
Basies het die plaaslikes nie ‘n goeie siening van Suid-Afrikaners nie. Afrikaners se beeld is nóg swakker. Immers word ons gekontamineer met die “demoniese” apartheid. Wat hulle betref, is ons by verstek rassiste. Jy gaan altyd hard moet werk om daardie etiket te oorkom.
Jou kinders gaan onmiddellik hulle Afrikanerskap begin afstaan ten gunste van die nuwe kultuur. Die deugde van die “nuwe” kultuur is maar yl, want dissipline en struktuur ontbreek erg en jy sal dit opmerk wanneer die kleingoed vriende begin huis toe bring.
Ja, Nieu-Seeland is veiliger as Suid Afrika, en terwyl ons ou land se staatsinstellings onder transformasie begin faal, werk alles wel hier. Nogtans, moenie die fout maak om te dink omdat die blankes die meerderheid hier is dat jy die menswaardigheid wat jy onder ‘n swart regering verloor het hier gaan herwin nie. Die plaaslikes sal jou altyd daaraan herinner dat jy ‘n buitestaander is. Jy sal nooit dieselfde geleenthede as die plaaslike mense gegun word nie. Immers is dit hulle land. Om dinge erger te maak, as jy eers die moeite en kostes aangegaan het om tot hier te kom, is dit baie moeilik om terug te gaan SA toe.
Daar is vele meer wat ek oor emigrasie kan sê, maar dit sal ‘n hele boek in beslag neem. Dus, genoeg vir nou.
Afrikaners se keuses is dus of ons bywoners in ons eie land of bywoners in iemand anders se land wil wees. Ek dink PRAAG het ‘n blink idee om ‘n Afrikanervesting noordoos van Pretoria te wil ontwikkel. Net so dink ek dat Orania ook op die regte pad is. Die NSA is ‘n falende staat en dus gaan daar ‘n toenemende magsvakuum ontwikkel. Ons moet bloot volhard om ons volkstaat na te streef en onvermydelik sal dit verwesenlik word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.