“Die feit dat daar talle bewerings van ongerymdhede rakende die Wêreld-jeugfees bestaan en die feit dat die NYDA tot op datum nie daadwerklike uitvoering aan hul mandaat gegee het nie, maak die toekenning van so ‘n groot bedrag aan die agentskap onaanvaarbaar en die Ouditeur-Generaal (OG) sal dit moet ondersoek. Hierdie nuwe fondse gaan moontlik weereens deur die agentskap vermors word. Die agentskap betaal R188 miljoen per jaar vanuit hul begroting van R386 miljoen net aan salarisse. Dit is ‘n bewys dat hierdie agentskap belastingbetalers se geld op die salarisse van ANC Jeugliga-leiers mors en nie voldoende jeugontwikkeling of werkskepping bevorder nie,” het Wouter Wessels, woordvoerder van die VF Plus-jeug gesê.
Die VF Plus-jeug het op 17 Januarie ‘n klagte rakende die beweerde ongerymdhede, onder andere die vervoer van die Kubaanse afvaardiging na die Wêreldfees by die Openbare Beskermer (OB) ingedien. Die OB het tot op datum slegs ontvangs van die klagte erken.
Die VF Plus-jeug sal klagtes by die kantoor van die OG asook by die Openbare Dienskommissie (PSC) indien. Die VF Plus eis dat daar ondersoek ingestel word na alle beweerde ongerymdhede met betrekking tot die NYDA en dat die toekenning van die nuwe begroting ook ten volle ondersoek moet word.
