Die belangrikste kwessies wat, onder andere, nie deur die verslag verklaar word nie is as volg:
1. Op ‘n makrovlak, die rede waarom 2010 se matrieks so ‘n hoë slaagsyfer het wat duidelik nie korreleer met die vorige jare s’n nie. Umalusi het aangedui dat hulle nie aanpassings op ‘n globale skaal maak nie, maar wel per vak op ‘n nasionale vlak. Hoe die per-vak-aanpassings gesamentlik tot ‘n hoër slaagsyfer gelei het is nie deur Umalusi ondersoek of verduidelik nie en bly ‘n raaisel.
2. Op ‘n mikrovlak, waarom sekere skole in dieselfde area ‘n geweldige styging in slaagsyfers getoon het terwyl andere staties gebly of gesak het. Hierdie kwessie het rasselyne waar ‘swart’ skole se slaagsyfer statistiese uitskieters blyk te wees. Daar kan weliswaar ander redes vir die fenomeen wees, maar die verslag verklaar dit nie.
Die verslag en mediakonferensie van Umalusi het wel die volgende insigte verskaf:
1. Die vak Engels Huistaal is opwaarts aangepas om te kompenseer vir die feit dat leerlinge, wat nie Afrikaans of Engels as huistaal het nie en wat inskakel by vorige model C-skole wat Afrikaans is, gewoonlik dan Engels Huistaal as vak neem. Aangesien Engels nie in werklikheid die leerlinge se huistaal is nie, maar eerder ‘n ander inheemse taal, doen die leerlinge nie juis goed in die vak nie. Hierdie situasie dui egter aan dat die departement van basiese onderwys nie genoeg skole beskikbaar stel waarin moedertaalonderrig kan geskied nie. Dit is skreiend dat Afrikaanse skole deur die departement, soms met regstappe, gedwing word om anderstalige leerlinge in te neem en dan hulle te onderrig in Engels wat nie eens die leerlinge se moedertaal is nie. Dit is diskriminerend teen beide die Afrikaanssprekende en die anderstalige leerlinge en die departement moet sy beleid hieroor dringend hersien.
2. Umalusi het aangedui dat die departement van basiese onderwys ook punte-aanpassings aanbring nadat Umalusi sy proses voltooi het. Die aanpassings blyk aangebring te word aan taalvakke. Die VF Plus het alreeds ‘n parlementêre vraag hieroor ingedien om vas te stel watter vakke in werklikheid hierdeur geraak is, hoeveel die verstellings in elke vak was en wat die grondslag van die aanpassings was. Moontlik kan hierdie intervensie deur die departement verduidelikings verskaf vir die hoër slaagsyfer van 2010.
3. Umalusi het erken dat die departement van basiese onderwys nog baie werk het om die standaard van Suid-Afrikaanse skole en vakke te verhoog. Die VF Plus is dit hier eens met Umalusi.
Die VF Plus doen verder ‘n beroep op alle bekommerde onderwysers en skoolhoofde om die Umalusi-verslag te bestudeer en self te peil of die inligting hulle insigte bied oor die verskeie anomalieë wat hulle op grondvlak ervaar het. Die VF Plus is bereid om verdere parlementêre vrae aan die minister van basiese onderwys te stel om enige dwingende kwessies aan te spreek.
Die verslag kan by die volgende webadres gevind word: www.umalusi.org.za.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.