Nomakula (Kuli) Roberts se rubriek in Sunday World is binne enkele ure gestaak nadat sy Sondag die een en ander oor bruin vroue kwytgeraak het.
‘n Storm het oor die naweek op die sosiale netwerk Twitter losgebars oor die omstrede stellings. Die joernalis en TV-aanbieder is daarna gevra om dadelik te loop.
Denver Keytle skryf :”Hulle moet Kuli Roberts in die middel van Mitchells Plain aflaai met niks anders as ‘n waterbottel nie en sien hoe lank sy hou.”
In haar gewraakte rubriek, Jou ma se kinders, wat in die Sondagkoerant verskyn het, gee Roberts haar mening oor Kaapse bruin vroue.
”Kleurlinge is gek” omdat “hulle skree en borde gooi, hulle het geen voortande nie en eet vis asof hulle die see gaan uitput [en] hulle hou daarvan om in die openbaar te baklei en die meeste is baie gewelddadig “.
Roberts skryf bruines is die toekoms, want “jy sal nooit sonder sigarette opeindig [wanneer jy saam met hulle is nie].”
“Jy sal altyd verseker wees van ‘n groot gesin; baie van die meisies teel asof Allan Boesak hulle gestuur het om die bruin ras aan te vul.”
”Natuurlik, ek mis Kaapse bruinmense. Watter ander ras weet jy van wat so ‘n obsessie met naaimasjiene het? O ja, en ek bedoel nie ‘sewing machines’ nie,” skryf Roberts.
“Hulle hoef ook nie duisende rande vir hul hare uit te haal nie; baie van hulle het lang gladde hare…”
Die Menseregtekommissie het ‘n formele klagte teen Roberts ontvang en hulle het aangedui dat haar uitlatings ondersoek sal word.
”Alhoewel ek die reg van rubriekskrywers erken om hul menings uit te spreek sonder vrees of guns, behoort dit nie op vooroordeel te berus nie,” het Sunday World se redakteur Wally Mbhele gister gesê.
”Ons sal eers bepaal of daar ‘n prima facie-skending van menseregte is,” sê kommissiewoordvoerder Vincent Moaga.
