Min tale ter wêreld kan hul ontstaan na een enkele datum herlei. In dié opsig is ons gelukkig om so ’n dag te hê wat die opkoms van Afrikaans, die “wondertaal”, in herinnering roep.
Nadat twee Hollanders van geboorte, Arnoldus Pannevis en C.P. Hoogenhout, die weg voorberei het met hul uitsprake ten gunste van die Kaapse spreektaal, het die volgende persone op 14 Augustus 1875 in die Paarl byeengekom om die G.R.A. te stig: S.J. du Toit, Gideon Malherbe, D.F. du Toit (Dokter), D.F. du Toit (oom Lokomotief), C.P. Hoogenhout, P.J. Malherbe, A. Ahrbeck en S.G. du Toit.
Pannevis, wat sterk ten gunste van ’n Bybelvertaling in Afrikaans was, veral “voor het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land”, het nie die vergadering bygewoon nie en sommige vermoed dat hy teleurgesteld was omdat sy tydgenote by die G.R.A. nie onmiddellik die idee van ’n Bybelvertaling gesteun het nie. Maar hy het tog later by die vereniging aangesluit en het daarin gedien totdat hy dit in 1877 om gesondheidsredes moes verlaat.
C.P. Hoogenhout was insgelyks ten gunste van ’n Bybelvertaling in Afrikaans, maar nie bloot weens die “geestelike heil van die gekleurde bevolking” nie. Op 12 April 1873 skryf hy in De Zuid-Afrikaan dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word, “nie alleen ver die bruin mense nie, maar ook ver banja blankes, want daar is ook regte banja blankes wat die Hollandse taal nie half verstaan nie”.
In aanloop tot die stigting van die G.R.A. het C.P. Hoogenhout en S.J. du Toit tydens 1874 ’n briewewisseling in De Zuid-Afrikaan onder die skuilname “Klaas Waarzegger jr.” en “Ware Afrikaander” gevoer. Hoogenhout was Klaas Waarzegger en Du Toit het die alias Ware Afrikaander aangeneem. Hierdie briewewisseling het die eerste saadjie vir samewerking geplant en het regstreeks aanleiding gegee tot die uiteindelike stigting van die G.R.A.
S.J. du Toit het reeds as Ware Afrikaander een van die eerste taalreëls in Afrikaans geformuleer: “Ons skryf soos ons praat.” Hierdie pretensielose benadering sou later lei tot Afrikaans se wonderlike fonetiese spelling en nugtere, konsekwente taalreëls wat van die wêreld se groot kultuurtale soos Engels, Frans of Duits in die skadu sou stel. Vandag is Afrikaans een van die mees gestandardiseerde tale ter wêreld. Anders as Noors, Engels, Frans of baie ander tale, beskik dit maar oor één standaardvorm en ’n enkele spelwyse wat vir elke skoolkind toeganklik is. In die jargon van rekenaarhandleidings en programmatuur, was Afrikaans van meet af aan “gebruiksvriendelik”.
Maar die oprigting van die G.R.A. op 14 Augustus 1875 het oor veel meer as taalkunde gegaan. Dit verteenwoordig ook die ontwaking van die Afrikaner as nasionale groep en as volk. Die G.R.A. het ten doel gehad, nie net die bevordering van Afrikaans nie, maar ook die nasionale belange van die Afrikaner. In artikel II van die “Algemene Bepalings” van die genootskap word dit as doelwit gestel “om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land”.
Reeds ’n maand voor 14 Augustus 1875 het die groep ’n “Afrikaanse Volkslied” op 7 Julie in De Zuid-Afrikaan gepubliseer waaruit hul patriotiese ingesteldheid blyk. Ook hul “Manifes” het die groep hul beroemde uitspraak gelewer dat daar drie soorte Afrikaners was: “Daar is Afrikaanders met Engelse harte. En daar is Afrikaanders met Hollanse harte. En dan is daar Afrikaanders met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaanders, en die veral roep ons op om aan ons kant te kom staan.”
Vanaf 15 Januarie 1876, het die genootskap sy eie koerant uitgegee met die naam “Die Afrikaanse Patriot”. Aanvanklik is dit ’n maandblad, maar as die gewildheid van die koerantjie toeneem, word dit ’n weekblad. Vanaf slegs vierhondernd intekenare in 1876 styg dit tot oor die drieduisend in die tagtigerjare en word so die grootste Afrikaanse koerant in die land. Waarom was Die Patriot so gewild? Vanweë die taalmedium, sekerlik, maar ook omdat die koerant duidelik standpunt ingeneem het téén die anneksasie van die Transvaal deur Engeland in 1877 en ook die kandidatuur van Paul Kruger vir die Transvaalse presidentskap gesteun het.
Vanuit die Patriot-stal word ook verskeie boekpublikasies uitgegee soos Eerste beginsels van die Afrikaanse taal, asook ’n Afrikaanse Almanak wat vanaf 1877 verskyn.
’n Mens kan jou vandag nouliks voorstel watter durf daardie klein groepie Afrikanerintellektuele destyds aan die dag moes gelê het. Aanvanklik is hulle deur die Kaapse establishment, sowel Hollands as Engels, doodgeswyg. Maar soos wat die beweging momentum verkry het, is hulle toenemend verguis. In ’n toespraak het die Kaapse hoofregter, lord J.H. de Villiers, dit duidelik gemaak dat Engels die toekomstige taal van Suid-Afrika sou wees. Aan die kant van Nederlandsgesindes, is Afrikaans as ’n minderwaardige taaltjie sonder ’n letterkunde beskou wat die saak van ’n Dietse kultuur in Suid-Afrika net sou bederf.
S.J. du Toit het reeds in 1885 met ’n Afrikaanse vertaling van Die Bybel begin, maar die Vrystaatse en Kaapse sinodes het hulself teen ’n Afrikaanse Bybel verklaar en daarom vind sy gepubliseerde vertalings van enkele Bybelboeke soos Genesis, Mattéus, Openbaring en die Psalme nooit werklik inslag by die breë publiek nie. Eers in 1933 sou die volwaardige Afrikaanse vertaling van Die Bybel die lig sien en deur die kerke aanvaar word.
Feit is egter dat die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 die vonk was wat die hele Afrikaanse beweging aan die gang gesit het. Nie net het Afrikaans tot volwaardige kultuurtaal met ’n uitgebreide letterkunde, tegniese en wetenskaplike woordeskat ontwikkel nie, maar die Afrikaner kon ook na die Tweede Vryheidsoorlog uit die as opstaan en vir hom ’n plek oopbeur in ’n vyandige, Engelstalige Suid-Afrika waarin hy maar 8% van die ekonomie – hoofsaaklik landbou – beheer het.
Al staan die Afrikaner vandag weer onder vreemde oorheersing met ’n nuwe golf van taalverdrukking en verengelsing wat sy kultuur, identiteit en voortbestaan bedreig, veg hy tans vanaf ’n hegte basis in die gedaante van sy geskiedenis en opgestapelde kulturele prestasies uit die verlede.
Ook die slagspreuk van die G.R.A. van destyds is nog ewe geldig. Mens kan dit moontlik net effe wysig om te lui: “Daar is Afrikaners met Engelse harte. En daar is Afrikaners met Australiese harte. En dan is daar Afrikaners met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaners, en dié veral roep ons op om aan ons kant te kom staan.”
Bron: J.C. Kannemeyer. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 1. Kaapstad: Human & Rousseau, 1978.
