Leon Lemmer: Michael le Cordeur se ‘Halala Suid-Afrika’

Michael le Cordeur
Deel op

Daniel Hugo se verdienstelike boek, Halala Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2009, 175p), het onlangs ‘n stiefbroer bygekry: Michael le Cordeur se Halala Suid-Afrika: 25 jaar se groeipyne van ‘n jong demokrasie (Naledi, 2019, 441p, R247). Die onderwerp is breër en die bladsye meer as in Hugo se boek. Hoewel die voorwoord en die verso van die titelbladsy Julie 2019 as datum het, is die boek eers sedert Maart in die boekwinkels beskikbaar. Die hooftitel is ontleen aan Johannes Kerkorrel se liedjie (p vi, 362). Die frase “jong demokrasie” in die newetitel berei die leser voor op die kwistige gebruik van modewoorde en -frases in die teks, wat uitdrukking aan die outeur se onverbloemde aanhang van die ANC gee. Dat Le Cordeur ‘n ANC-kornuit is, kan nie betwyfel word nie. Oor “ons eerste demokratiese verkiesing” op 27 April 1994 skryf Le Cordeur: “Die daglig kon nie gou genoeg kom nie; in my drome het ek al gesien hoe ek my kruisie sou trek agter die naam wat vir ons almal die verpersoonliking was van die struggle, die simbool van bevryding, die metafoor vir die toekoms” (255).

Heel aan die begin is daar ‘n Edmund Burke-aanhaling waarvolgens goeie mense nie moet stilbly nie. Hulle het ‘n plig om die kwaad te bestry (v, xi). In die res van die boek word dit by die leser tuisgebring dat Le Cordeur by uitnemendheid een van hierdie goeie mense is. Nie net hy nie, maar al die Le Cordeurs van die oupa af, via sy pa en ma en natuurlik sy “vroulief” en sy skoonheidskoninginsuster, tot by sy twee kinders met die onafrikaanse name van Mischke en Estéve. Nérens in al die derduisende boeke wat ek gelees het, het ek so ‘n oormaat van selfverheerliking teëgekom nie.

Ek het in vorige rubrieke dikwels na die Le Cordeur-verskynsel verwys, bv in my resensie van Le Cordeur en sy vriend, Wannie Carstens, se Adam Small-huldigingsbundel, Ons kom van vêr (2016 – Praag 2.04.2017). Die keuring van die artikels vir daardie bundel is so streng deur Le Cordeur gedoen dat daar vir slegs vier van sy artikels plek ingeruim kon word. Wat in daardie artikels staan, word in sy jongste boek herhaal. Dit is veral Naspers/Media24-publikasies wat oorgewillig is om te publiseer wat Le Cordeur skryf. Dit maak blykbaar nie saak hoeveel keer hy herhaal wat hy voorheen geskryf het nie.

“Hierdie bundel bevat ‘n keur van my beste artikels die afgelope 25 jaar. In hierdie tyd het ek 218 artikels gepubliseer … Toevallig val dit saam met my sestigste verjaardag; gevolglik het ek besluit om die 60 beste artikels weer af te stof en aan te bied” (xi). “Die publikasie van hierdie bundel val ook saam met die 25ste herdenking van Suid-Afrika se demokrasie” (xii). Le Cordeur as skrywer en die ANC as regime is dus as ‘t ware ewe oud en albei probeer om ons “jong demokrasie te laat werk.” Ons is mos “eintlik een groot familie” (xii). Vandaar is dit ‘n maklike treetjie na wêreldburgerskap in die wêrelddorp (102), waar almal Engels praat en dieselfde kultuur het.

Een van die groot euwels is rassisme, waaraan bv Annelie Botes haar glo skuldig gemaak het met die opmerking: “Ek hou nie van swart mense nie” (1). Daar is ook “gekleurde [swart] rassiste” (volgens Allan Boesak), maar nie bruin rassiste nie (volgens Franklin Sonn): “Bruin mense het hulle nog altyd geroem op nie-rassigheid” (3). Die voorbeeldige Elna Boesak word soos volg aangehaal: “Dit is ‘n feit soos ‘n koei dat die stammoeders van die bekendste Afrikanerfamilies [swart] slavinne was” (3). Dit bied ‘n springplank aan Le Cordeur: “Dis tyd dat die Afrikaner ‘n Afrikaan word” (3). Hoe? Deur hibridisering, soos wat Wannie Carstens vir sowel die Afrikaner as Afrikaans bepleit (Praag 4.05.2019). Le Cordeur sluit sy proloog soos volg af; “Ek is in die eerste plek ‘n Suid-Afrikaner met ‘n bruin vel wat Afrikaans as moedertaal het … ek is ook ‘n Afrikaan” (4).

Le Cordeur het homself beskou as “‘n kind uit ‘n benadeelde en baie arm gesin” (15). Wat het hom benadeel? Apartheid. Wie het hom benadeel? Die blankes, veral die Afrikaners. Maar reeds op 16-jarige ouderdom het hy Europa besoek. Hy het ‘n beurs vir voltydse studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) van die Departement Kleurlingsake ontvang (115). Maar hy kla steen en been omdat hy soggens om 6-uur ‘n trein uit Wellington na die UWK-kampus moes haal (135). Toe was treinritte veilig. Aan die UWK het hy, soos op skool, saam met mede-bruines in Afrikaans studeer. Hy wek doelbewus die valse indruk (ook in van sy ander artikels) dat die UWK-kampus in 1977, toe hy daar begin studeer het, uit opslaangeboue bestaan het. “Die eerstejaars was ingeprop in die tydelike houtstrukture net oorkant die Kêf [kafeteria]. Goedkoop akkommodasie, eksklusief vir bruin mense” (383). “Van die moderne kampus wat nou [2012] op die UWK pryk, was daar nog nie sprake nie” (373).

Die UWK het in 1960 met die aanbieding van klasse begin. Daar is dadelik ‘n aanvang met die oprigting van moderne geboue gemaak. Teen 1976 het die UWK ‘n pragtige ontwikkelde kampus met nuwe, moderne geboue gehad. In 1976 was daar net twee tydelike opslaangeboue, een by die fakulteit handel en een by lettere. Albei is deur die studente, waarvoor Le Cordeur die grootste lof het, afgebrand. As Le Cordeur in 1977 in ‘n tydelike houtstruktuur klasse bygewoon het, het dit al ooit by hom opgekom dat daardie gebou opgerig is omdat sy studentehelde die vorige jaar houtgeboue afgebrand het? Het daardie helde die moraliteit, bv integriteit, gehad om die staat te vergoed vir die skade wat hulle aangerig het? Nee, sover bekend is geen sodanige poging deur enigeen van die saboteurs aangewend nie; selfs nie deur diegene wat later weens transformasie in topposte aangestel is en buitensporige salarisse ontvang het nie. Hulle het eerder voortgegaan om, soos Le Cordeur, die “apartheidsregime”, wat hulle akademiese vorming moontlik gemaak het, te kritiseer. (In die jare sewentig was ek agt jaar lank op die UWK-kampus, insluitende 1976 en 1977, sodat ek weet waarvan ek praat. Le Cordeur se wanvoorstelling van die destydse UWK is gewoon ‘n skande.)

Sedert 1994 word die voorreg om saam met jou etniese of kultuurgroep in Afrikaans te studeer, al hoe meer aan skoliere en studente ontsê. Dít is die soort “vryheid” wat volgens Le Cordeur “duur gekoop” is (19). Hy opper geen beswaar teen “vryheid” wat wesenlik verpligte rasse-integrasie is nie. Hy onderskryf eerder die ANC se retoriek van pluraliteit, diversiteit, inklusiwiteit, multikulturaliteit, demokrasie, transformasie, menseregte, versoening en nasiebou. Onderliggend is daar egter die ANC se ideaal van gedwonge eendersmaking; dat net Afrika-/swart kultuur en die koloniale taal, Engels, geduld behoort te word. Suid-Afrika het glo ‘n “tragiese verlede” (18), maar is die hede nie baie erger nie?

In Le Cordeur se matriekjaar, 1976, is die grootste deel van sy skool weens brandstigting in puin gelê. Hy vertel dit oor en oor, maar hy, wat veronderstel is om ‘n opvoedkundige te wees (163), verseg om hierdie sabotasie te veroordeel. Ná universitêre studie was Le Cordeur een van die “onderwysers wat diep betrokke … in die stryd teen apartheid” was (41). Hy haal Mcebisi Jonas, ‘n voormalige adjunkminister van finansies, goedkeurend aan: “Onderwys was veronderstel om sentraal in ons anti-apartheidstruggle te staan” (46), asof onderrig/opvoeding, wat ‘n beskaafde onderneming is, versoenbaar met geweld en terrorisme is, wat die uitdrukking van onbeskaafdheid is.

“Primêr gaan skole gebuk onder geweld weens die gebrek aan reg en orde in ‘n ongedissiplineerde [onbeskaafde?] samelewing … Dit is geen geheim dat Suid-Afrika in ‘n gewelddadige land verander [getransformeer] het nie” (44). “Ek [het] nog nooit soveel geweld soos nou [2018] in Suid-Afrikaanse skole gesien nie” (84). “‘n Skool [is] slegs ‘n mikrokosmos van die samelewing” (45). “Die gehoorsame kind het plek gemaak vir die gehoorsame ouer” (60). Waarom het Suid-Afrika so ‘n uiters gewelddadige land geword? Le Cordeur gaan soek die rede hiervoor by bv enkelouergesinne en oorvol klasse. Myns insiens is die voorbeeld wat die ANC met sy terrorisme gestel het, die primêre rede vir die gewelddadige nuwe Suid-Afrika. Die ANC het getoon dat ‘n mens kan kry wat jy begeer as jy geweld gebruik. Dit is waarom bv Nelson Mandela nooit geweld afgesweer het nie. Geweld het ‘n bewese middel tot ‘n doel geword.

Soos in sy vorige boek word die lesers weer ingelig dat Le Cordeur deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) as ‘n navorser gegradeer is of erken word (430). Hy herinner ons tot vervelens toe aan sy navorsing (bv in artikel 15). Sy dogter word genoem as sy assistent (iv) in hierdie grootse onderneming. “Dit is skokkend hoe min Suid-Afrikaners van hul eie geskiedenis weet” (68). Op die daaropvolgende bladsy staan: “Cecil John Rhodes wat reeds in 1902 in Rhodesië (Zimbabwe) oorlede is” (69). Rhodes is in Muizenberg oorlede en in Rhodesië begrawe. Dit is skokkend dat Le Cordeur dit nie weet nie.

Hoe betroubaar haal hierdie NNS-gegradeerde navorser aan? Met verwysing na Christo van Rensburg se boek, So kry ons Afrikaans (2012 – Praag 15.12.2018), skryf Le Cordeur: “In die voorwoord skryf ek: Die boek toon die ‘veelfasettige afkoms van Afrikaans. Dit beklemtoon dat die taal uit baie variëteite bestaan. Hopelik sal dit die gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, in die kiem smoor'” (299). In Van Rensburg se boek staan egter: “Met hierdie werk wil die ATR [Afrikaanse Taalraad] opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor” (p 10). Vóór hierdie aanhaling is daar die volgende sin: “‘n Taal soos Afrikaans bestaan ook uit talle variëteite” (10). Vergelyk ook die deurmekaarspul met wat Le Cordeur en Franklin Sonn onderskeidelik na bewering skryf (Le Cordeur se 2019-boek, p 393) met wat agterop Carstens en Le Cordeur se 2016-boek staan.

‘n Universiteit soos Stellenbosch en ‘n hoërskool soos Ermelo het doeltreffend en in rus en vrede en gelukkig as blanke Afrikaanse instansies bestaan. Sedert 1994 word rasse-integrasie en verengelsing egter deur die ANC-regime aan hulle opgedring. Le Cordeur dink dat wat hy as omgangsskoolinspekteur – hy noem dit “kringbestuurder” (“circuit inspector”) – voorgestel het, die probleem in Ermelo in ‘n japtrap sal oplos. Sy riglyn is “die grondwetlike beginsels van regstelling, billikheid en praktiese uitvoerbaarheid” (73). By die Laerskool AF Louw in Stellenbosch het hy “‘n wen-wen oplossing” voorgestel: dat hierdie blanke Afrikaanse skool in die eerste jaar in Graad R 40 swart Engelse skoliere uit Kayamandi inneem en dat hierdie skoliere dan elke jaar ‘n graad opskuif terwyl nog 40 swartes van onder af inskuif. “Die skool en sy beheerliggaam het grootmoedigheid aan die dag gelê en die idee gekoop” (74). In die praktyk kom dit neer op ‘n slinkse metode om ‘n blanke Afrikaanse skool geleidelik in ‘n (hoofsaaklik) Engelse skool vir swartes te transformeer.

In 2009 het Le Cordeur gespog: “Die leerdertal het gestyg van 250 Afrikaanse leerders na 500 meertalige kinders. Afrikaanse leerders se Engels het drasties verbeter. En 250 Xhosa-kinders en hul ouers [!] is nou Afrikaans magtig … danksy die visionêre leierskap van die beheerliggaam en die skoolhoof is ‘n slag geslaan vir Suid-Afrika; meer nog vir Afrikaans. Deur konstruktief saam te werk met die owerhede is Afrikaanse onderrig aan AF Louw verseker” (75) – ongelukkig net so min as aan die Universiteit Stellenbosch. Die taalverdeling sal nie 50/50% bly nie. Nie eens die naam van die skool sal meer lank dieselfde bly nie. Maar Le Cordeur beweer met sy (briljante) plan kan almal aan die Hoërskool Ermelo ook tevrede en gelukkig gemaak word (76). Ons moet hande vat (83), aan beweeg en die groter prentjie sien (78). Die werklikheid van verswelging is deel van daardie groter prentjie. Dit is die ou-ou ANC-tyding: Almal moet toegang hê. Niemand moet uitgesluit voel nie (106). Hoofsaaklik of heeltemal swart skole, universiteite, ens, is heeltemal in orde. Wat nie geduld word nie, is blanke enklawes (106). Enige uitsluitlik of selfs oorwegend blanke of Afrikaanse instansie word vertolk as die voortsetting van apartheid. Enige eksklusief swart instansie word egter as ‘n lofwaardige voorbeeld van solidariteit voorgestel.

Waarmee Le Cordeur as ANC-kornuit hier besig is, is sy kruisvaart teen apartheid (en blankes/Afrikaners). Die volgende sin spreek boekdele oor sy gesindheid: “Nie alle leerlinge in Suid-Afrika is so bevoorreg om in hul moedertaal skool te gaan nie. Daardie voorreg is slegs gereserveer vir Afrikaans en Engels, ‘n oorblyfsel van apartheid [!] toe Engels en Afrikaans die enigste amptelike tale van Suid-Afrika was” (98-99). Le Cordeur se navorsing kan gerus die boeke van Hermann Giliomee insluit. Dan sal hy weet dat die twee amptelike tale lank voor 1948 se apartheid, in 1925 hulle beslag gekry het.* Ook dat dit apartheidsbeleid was om swartes se kultuur, insluitende hulle moedertale, te bevorder. In die NP-regering se staats(laer)skole vir swartes is onderrig by voorkeur in die betrokke swart moedertaal aangebied. Dit is in die skole van die Engelse kerkgenootskappe dat swart skoliere van hulle kultuur vervreem is. Engels as taal is aan hulle opgedring, asook pogings om hulle in ander opsigte Anglo-Saksies te maak. Verder is dit swart ouers wat self daarop aandring dat onderrig in Engels pleks van in hulle swart moedertaal moet geskied. Kortom, die NP-regering en Afrikaners het aan swartes gegun wat hulle aan hulle self gegun het, dus ‘n eie kultuur, insluitende moedertaalonderrig. Dít is wat deesdae deur die ANC-kamerade aan hulle mede-swartes en aan Afrikaners misgun word.

[* Le Cordeur is die kluts heeltemal kwyt wanneer hy skryf: “In 1925 … toe ons swart tale hul amptelike status verloor het” (366). Vóór 1994 het die swart tale nooit amptelike status in Suid-Afrika gehad nie.]

“Met die aanbreek van ‘n demokratiese bestel was dit noodsaaklik om die hoër onderwysstelsel te transformeer. Taal is ongetwyfeld een van die vernaamste hindernisse wat in die pad staan van die akademiese sukses van die meerderheid studente aan tersiêre instellings … Dis kommerwekkend dat talle studente akademies onsuksesvol is; nie weens ‘n gebrek aan intelligensie nie, maar omdat die studente nie hulself behoorlik in die dominante taal van die universiteit kan uitdruk nie” (108). Omdat Le Cordeur ‘n ANC-kornuit is, kies hy kant vir demokrasie en transformasie. In werklikheid was transformasie, ten minste wat onderrigtaal betref, glad nie aan die tradisioneel Afrikaanse universiteite nodig nie. In 1994 was die meerderheid plaaslike universiteite swart en Engels. Wat nodig vir beter prestasie deur swart studente is, is bystand in hulle moedertaal. In daardie sin was dit nodig om slegs die Engelstalige universiteite te transformeer.

‘n Universiteit is ‘n plek wat veronderstel is om net die room van die samelewing as studente en dosente toe te laat. Die ANC maak hom aan ernstige dwaling skuldig deur te redeneer dat universiteite vir almal toeganklik moet wees. Om in sy dwase doel te slaag, word al hoe laer akademiese vereistes vir universiteitstoelating gestel. Die punt is bereik waar veral swart studente by universiteite inskryf primêr om kos en huisvesting te kry eerder as om ‘n kwalifikasie te verwerf. As daardie kandidate teen universitêre studie besluit, sou werkloosheid en krepering in die meeste gevalle hulle voorland wees. Die ironie en skande is dat bv die instansie waaraan Le Cordeur verbonde is, die Universiteit Stellenbosch (US), tot in Limpopo sulke akademies twyfelagtige kandidate werf en van studiebeurse voorsien terwyl akademies voortreflike blanke kandidate in sy natuurlike opvanggebied, die Wes-Kaap, nie net studiebeurse geweier word nie, maar ook toegang tot die US. Hierdie wantoestand word voorgestel as iets voortrefliks, as die aanbieding van “gelyke geleenthede”. Die US het hom daartoe verbind om so gou moontlik so swart en Engels moontlik te word. Hierdie visie word om politieke (dus ANC-gedienstige, nie-akademiese) redes nagestreef.

My standpunt is dat ‘n akademikus as akademikus nie sodanige beleid kan onderskryf nie. Maar Le Cordeur, as ANC-kornuit, doen dit. “Die nalatenskap van apartheid [het] die gebruik van Afrikaans by histories Afrikaanse universiteite negatief geraak” (109). Hy aanvaar die ANC se verderflike redenasie dat Afrikaans ‘n meganisme vir uitsluiting is; dus dat (veral) swartes, soos by skole, by tradisioneel Afrikaanse universiteite op die onderrigtaal van hul keuse, naamlik Engels, kan aandring (109). “Die onus rus op universiteite om te bewys dat Afrikaans nie as meganisme dien om teen studente te diskrimineer op grond van taal nie” (110). Le Cordeur verskaf voorbeelde van eentalige universiteite in ander meertalige lande, soos Finland en België (111), maar as ANC-kornuit gun hy sodanige opset nie vir Afrikaanse universiteite en studente nie. Hy onderskryf eerder Wim de Villiers se verengelsingsbeleid aan die US.

“Die ekonomiese en kulturele bemagtiging van die [swart] Afrikaan word toenemend gesien as ‘n kombinasie van erkenning aan die [swart] Afrikataal plus die gebruik van Engels” (111). Vir Afrikaanssprekendes is daar nie ‘n soortgelyke erkenning van kulturele regte nie en Le Cordeur versuim om hom ten gunste van so iets uit te spreek. Le Cordeur kom eerder met die volgende drogredenasie vorendag: “My navorsing dui daarop dat Afrikaans steeds ‘n [afgeskaalde/geringe] plek het as onderrigtaal en wetenskapstaal, maar nie aan ‘n uitsluitlik Afrikaanse universiteit nie … Die strewe is juis na universiteite waarvan die identiteit en institusionele kultuur nóg swart, nóg wit, nóg Afrikaans, nóg Engels sal wees, maar onbeskaamd Suid-Afrikaans” (112; ook 344). Le Cordeur probeer hier om sy lesers opsetlik te mislei. Hy weet dat die ANC-regime geen beswaar teen oorwegend of selfs uitsluitlik swart Engelse universiteite het nie. Die tradisioneel swart universiteite is steeds Engels en feitlik uitsluitlik swart en geen daadwerklike poging is al ooit aangewend om hulle in hierdie opsigte te transformeer nie. Dit is teen die tradisioneel blanke Afrikaanse universiteite wat die ANC-regime sy mes in het. Le Cordeur verroer nie ‘n vinger om selfs nie eens die Afrikaansheid van daardie universiteite te beskerm nie.

Le Cordeur verwys na die taalbeleid wat die US aan die einde van 2014 aanvaar het: “In die praktyk beteken dit dat studente wat nie Afrikaans magtig is nie, ten volle in Engels ondersteun sal word. Dit sal uiteraard die gebruik van Engels op die kampus verhoog sonder om afbreuk te doen aan die Afrikaanse aanbod [!]. Die vertrekpunt moet altyd wees dat taal nooit ‘n meganisme van uitsluiting mag wees nie” (112). Maar Afrikaanssprekende studente word dan juis van Afrikaansmediumonderrig uitgesluit, want Afrikaanse klasse, anders as Engelse klasse, sal slegs aangebied word as daar (afdoende) aanvraag voor is en dit prakties moontlik is. Daar word van die valse veronderstelling uitgegaan dat Afrikaanssprekendes Engels verstaan, maar dat swartes nie Afrikaans (wil) verstaan nie – ‘n nalatenskap van die Soweto-opstand in 1976. Volgens navorsing wat MarkData in 2001 gedoen het, begryp net 26% van die Afrikaanssprekendes boodskappe wat in Engels meegedeel word (245).

As ‘n student aan ‘n Duitse universiteit wil studeer, moet hy Duits leer. Die Suid-Afrikaanse swartes wat in Kuba medies studeer, moet Spaans leer. Plaaslike swartes behoort verplig te word om Afrikaans te leer as hulle aan ‘n Afrikaanse universiteit wil studeer. Afrikaans is plaaslik van veel groter nut as Spaans. Weens drogredenasies het die US ‘n oorwegend Engelse universiteit geword. Die US verkrag Jan Marais se stigtingsvoorwaarde waarvolgens Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels mag beklee nie. Hierdie elementêre waarheid is nog nooit openlik en amptelik deur Wim de Villiers en sy mede-ANC-kruipers erken nie. Ook nie deur Le Cordeur nie, vir wie dit ‘n selfs groter skande behoort te wees omdat hy ‘n trustee van Het Jan Marais Nationale Fonds is. Hy kan gerus besef dat daar twee here is wat nie gelyktydig gedien kan word nie: Jan Marais en Wim de Villiers.

Let op hoe verwater Le Cordeur sy beweerde lojaliteit jeens Afrikaans: “Vir Afrikaanssprekendes is dit van die uiterste belang dat ‘n konstruktiewe [!] balans gevind moet word: Terwyl ons steeds verbind bly om Afrikaans (en ander inheense tale) te bevorder, moet ons realisties en sensitief wees vir inklusiewe kommunikasie op die kampus en die rol wat Engels kan speel om gelyke [!] geleenthede te skep op ‘n baie ongelyke speelveld” (112). Dit is klaarblyklik vir swartes wat die speelveld steeds ongelyk is al het Afrikaanssprekende US-studente reeds buitensporige opofferings gemaak.

Adam Small… was ten gunste van slegs Engelse universiteite in Suid-Afrika

Dit herinner aan ‘n vorige UWK-rektor, Brian O’Connell, ‘n anti-apartheidstryder (41), se uitspraak dat die swart Engelssprekende UWK-studente dit glo vreeslik waardeer dat die Afrikaanssprekende UWK-studente so gaaf was om onderrig in Afrikaans op te offer sodat swart studente (lekker) daar kan studeer. Ek dink Le Cordeur sal ook nie werklik beswaar hê as die Afrikaanssprekende US-studente hulle dieselfde opoffering in al hoe groter mate laat welgeval nie. Sy mentor, Adam Small, het hom immers ten gunste van ‘n eentalig Engelse Universiteit Stellenbosch én Universiteit Pretoria uitgespreek, om van die UWK nie te praat nie. Dan sal die US, soos die UWK, ‘n eentalige Engelse universiteit wees, wat groot guns in ANC-geledere sal vind. Le Cordeur borduur voort: “Baie werk is nog nodig voordat alle studente tuis sal voel in ‘n ubuntu van meertaligheid [al is die praktyk al hoe meer eentalig Engels] – iets wat slegs kan geskied binne die raamwerk van ‘n inklusiewe [bv rasgeïntegreerde] institusionele kultuur” (113).

Le Cordeur beweer dat hy reeds “meer as 200 artikels oor Afrikaans en my liefde vir die taal” gepubliseer het (115-116). Hoe hy hom rakende Afrikaans situeer, is een van my kernprobleme met hom. Le Cordeur skryf van “my geliefde taal” (73), dat Afrikaans “met jaloesie bewaar en bevorder moet word” (94) en “ek het my twee kinders in Afrikaans grootgemaak” (101); ook: “Vandag is ek een van slegs ‘n handjievol Stellenbosse akademici wat nog skryf en publiseer in Afrikaans – tot my nadeel” (116). Maar wanneer hy tussen ANC-politiek en die heil van Afrikaans moet kies, weeg ANC-gedienstigheid altyd swaarder. Dan skryf hy: “Laat die taal vry” (97), wat by veral die bruin elite beteken dat jy maar met Afrikaans (en die Afrikaner) soveel kan mors soos jy wil; dat jy die Afrkaner maar kan uittart met bv geradbraakte Afrikaans. Le Cordeur toon dat hy Standaardafrikaans kan skryf, maar geradbraakte Afrikaans gaan nie teen sy grein in soos by Afrikaners nie. Daarom gebruik hy dikwels onnodige Engelse woorde in sy boek; selfs samestellings uit albei tale.

“Afrikaans het hom nou lank genoeg (dood) gewurg in sy stywe Sondagklere” (97). Sy beswaar teen Standaardafrikaans is dat dit ‘n produk van blanke arbeid is. Maar dit is die geval met omtrent enigiets rakende Afrikaans. Waar hy fouteer, is wanneer hy Afrikaans as die erflating van die armsalige slawe en Khoi-San pleks van die Boere probeer staanmaak. Hy glo aan die kombuistaalhipotese: “Op hierdie manier het Afrikaans as moedertaal sy beslag gekry” (182; ook 185). Die algemeen erkende taalkundige waarheid is egter dat die elite, die opperklas en nie die laer klasse nie, beslag aan die erkende standaardtale gegee het. Die waarheid hiervan blyk uit die oormaat Nederlandse en Duitse invloed wat in Standaardafrikaans sigbaar is, terwyl daar bitter min woorde van slawe- en Khoi-San-oorsprong is. Moedswillig teen die feite in skryf Le Cordeur egter: “‘n Deel van Afrikaans het wel oor die see gekom, maar die grootste deel is hiervandaan” (363).

Mense soos Le Cordeur, wat nie werklik omgee vir die gehalte, spesifiek die wesenlik nie-Engelsheid, van Afrikaans nie, kom, soos sy mede-bruin elite, dikwels met stellings soos: “Afrikaans se toekoms het lank laas so seker gelyk as nou [1993]” (115) terwyl Afrikaans sienderoë op alle terreine en vlakke agteruitboer. Dit is ook die bruin elite, soos Adam Small, Jonathan Jansen, Hein Willemse en Le Cordeur, wat vir Afrikaans geen onheil sien in die verengelsing van al die histories Afrikaanse universiteite nie. Wat ons hier mee te make het, is Afrikaansdislojaliteit, gerugsteun deur hulle ANC-lojaliteit. Eintlik wil hulle “niks te doene … hê met die ‘boere’ nie” (118). Gesien deur die politieke bril van ANC-gesindes, was Afrikaans “die taal van die onderdrukker” en later “die taal van bevryding”; bv die MK-opgeleide terroris, Basil Kivedo, wat daarop roem dat hy bomme in Afrikaans geplant het (391). “Voeg hierby die Afrikanernasionaliste wat talle onregte teenoor hul bruin familie [!] gepleeg het, en Afrikaans as hul alleenbesit [!] beskou al het bruin mense net soveel [!] tot die ontwikkeling van Afrikaans bygedra” (119). Hierdie laaste sin toon duidelik hoe skeef Le Cordeur se siening is. Eintlik erken hy sy en die bruin elite se dislojaliteit jeens Afrikaans: “Dit is te verstane dat bruin mense hierdie skielike toenadering met agterdog sal bejeën en op enkele uitsonderings na nooit dieselfde oor Afrikaans sal voel as hul wit landgenote nie” (119).

Wannie Carstens. Benewens die hibridisering van Afrikaans, hou hy van kortmouhemde.

Die toenadering waarna Le Cordeur verwys, neem meer as een vorm aan. Daar is die uiterste geval van Wannie Carstens (een van Willie Esterhuyse se skuldige Afrikaners), wat polities so verlig geword het dat hy die hibridisering van Afrikaans en sommer ook van Afrikaners bepleit. Dan is daar die blanke pleitsbesorgers vir Afrikaans as onderrigtaal aan bv die Universiteit Stellenbosch, wat die noodsaaklikheid vir onderrig in Afrikaans alewig ten behoewe van bruin studente bepleit. Wat hulle eerder behoort te doen, is om op Afrikaans vir blanke studente aan te dring omdat Afrikaners baie meer Afrikaanslojaal as bruin mense is. Carstens en Le Cordeur, soos hulle sogenaamde Afrikaanse Taalraad, kies by voorkeur kant teen Afrikaners en Standaardafrikaans en oorbeklemtoon om opportunistiese politieke redes die rol van nie-blankes asook die brouseltaal Kaaps.

Met hierdie benadering kastreer hulle hulleself om iets vir ordentlike, suiwer(der) Afrikaans te doen. Hierdie selfgefabriseerde Afrikaansmagteloosheid blyk uit die volgende woorde van Le Cordeur: “Terwyl ons as Afrikaanssprekendes moet voortgaan om Afrikaans te bevorder, moet ons nie blind en onsensitief wees vir die gelykmakende [!] rol wat Engels en veral ons inheemse tale kan speel op ‘n baie ongelyke speelveld nie” (121). Daarenteen is my standpunt: Veg vir Afrikaans en nie vir alle inheemse tale nie, én: Veg vir Afrikaners en nie vir alle minderheidsgroepe nie. Ons ywer moet so duidelik moontlik gefokus wees. Le Cordeur beveel telkens aan dat nie-swart Suid-Afrikaners ‘n swart taal moet leer. “‘n Gesertifiseerde opleiding in ‘n [swart] Afrikataal behoort ‘n vereiste te wees vir ‘n pos in die staatsdiens” (246). Maar Le Cordeur vereis nooit dat enigeen Afrikaans moet leer nie (bv US-studente); allermins diegene in die oorverswarte staatsdiens. Meer as ooit is ek daarvan oortuig dat Le Cordeur ‘n valse profeet vir Afrikaans is. Maar dan beskou hy hom waaragtig as deel van “die Wie-is-Wie van Afrikaans” (277), dus een van die top Afrikaanssprekendes of -yweraars. Vir my as blanke is dit veel meer sinvol om eerder ‘n Europese as ‘n swart taal te leer. By ‘n Europese taal vind ek kultureel aanklank terwyl ek kultureel geen baat by ‘n swart taal sal vind nie. Vergelykenderswys sou ‘n swart taal vir my as ‘t ware ‘n hut oopmaak, terwyl Duits, Frans of Spaans vir my ‘n hele wêreld toeganklik maak.

Le Cordeur se benadering tot Afrikaans is ANC-deurdrenk. Daarom kan hy ‘n artikel skryf met die opskrif: “Madiba het Afrikaans óók bevry” (122). Die benaming “Madiba” probeer verseker dat ons daardie mens eerder met vrede en versoening as met geweld en terrorisme assosieer. Le Cordeur, soos sy ANC-meelopers, fokus op die Mandela van 1994 en daarna; nie op die onrusstoker en bomplanter van vóór 1994 nie. Mandela het glo ‘n groot liefde vir Afrikaans gehad en uitgereik na Afrikaners (122). Hoekom het hy dit gedoen? Om Afrikaners te probeer sus nadat hulle sonder hulle instemming op ‘n verraderlike manier van hulle politieke mag ontneem is.

Tydens sy eerste staatsrede het Mandela, waarskynlik op aanbeveling van Jakes Gerwel, Ingrid Jonker se gedig, “Die Kind”, voorgedra. Le Cordeur beweer Mandela het daarmee “die pertinente teken van versoening uitgestuur … na die Afrikanergemeenskap” (125). Maar die gedig handel oor (die) slegte blankes wat glo ‘n swart kind deur die kop geskiet het. Lees gerus die volledige gedig, wat op die internet beskikbaar is. Die slinkse Mandela vestig daarmee die aandag op die blankes as “moordenaars” terwyl hy die aandag aflei van die dood en verwoesting van baie groter omvang wat deur veral die ANC/UDF/SAKP gesaai is. Maar Le Cordeur se vetolking is: “Mandela [wou] ‘n sein uitstuur dat Afrikaans en die totale Afrikaanse [Afrikaner?] gemeenskap ‘n plek [as die moordenaars van swartes?] in ‘n demokratiese Suid-Afrika verdien” (125). Dan volg nog ANC-geïnspireerde sousies: “Mandela het nie net ‘sy mense’ na vryheid gelei nie. Ook Afrikaans – eens gestigmatiseer as Taal van die Onderdrukker – is bevry van sy gekontamineerde verlede” (126). Mandela het glo “Afrikaans se plek in die Grondwet … verseker” (126). Soos aan die Universiteit Stellenbosch behoort ‘n mens te vra: Hoedanig is daardie plek?

Heel aan die begin verwys Le Cordeur na “Afrikaans en Kaaps” (xii) en later dat hulle (heeltemal) verskillende tale (“‘n ander ‘taal'” – 327) is. Afrikaans en Kaaps is twee tale wat in aard verskil. Afrikaans is ‘n nie-Engelse taal uit eie reg terwyl Kaaps ‘n brousel- of mengeltaal is wat naas eie elemente ‘n sameflansing van Afrikaans en Engels is. “Volgens [Adam] Small is Kaaps … ‘n volwaardige, selfstandige taal” (131); iets wat Kaaps egter klaarblyklik nie is nie omdat hy uitermate op sowel Afrikaans as Engels parasiteer. Kaaps verryk glo Afrikaans (132), wat aanvaarbaar kan wees as dit uit die relatief klein taaleie-komponent van Kaaps kom. Wat heeltemal onaanvaarbaar is, is as Afrikaanssprekendes hulle taal besoedel met onnodige Engelse woorde en segswyses in navolging van die (bedenklike) voorbeeld wat Kaapssprekers stel. Op die lange duur kan dit die ondergang van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg meebring.

Le Cordeur is ten gunste van taalvermenging (en sekerlik ook rasvermenging): Ons behoort glo “ons taal op ‘n inklusiewer wyse te bestuur, sodat alle leerders sal tuisvoel in ‘n ubuntu van taal” (134). Dit gaan om integrasie/vermenging/potpourriing op alle terreine. “As daar so min vroue op Jan [van Riebeeck] se drie skepies was, hoe het die Suid-Afrikaanse volk aan die Kaap ontstaan?” (181). Wel, die Afrikanervolk dank sy bestaan hoofsaaklik aan mans en vroue wat later per skip uit Europa gekom het. Volgens Le Cordeur, egter, moet die eie die almal word. Anders as Afrikaners het bruin mense ‘n identiteitsprobleem. Die bruin elite gee voor dat hulle dit dus makliker vind om by ‘n verswelgende swart meerderheid in te skakel, al toon die daaglikse ervaring van die laer klasse bruines dat dit glad nie die geval is nie.

As ‘n mens Afrikaanslojaal is, ‘n aanvoeling vir die idioom van Afrikaans het, kan jy nie ‘n ondersteuner van erg geradbraakte “Afrikaans”, soos Kaaps, wees nie. Maar Le Cordeur probeer weer om twee here te dien, dus op twee stoele te sit. Hy beskryf Kaaps as “‘n belangrike variëteit van Afrikaans” (128). Standaardafrikaans is glo nie “‘n meer korrekte (‘suiwer’) vorm van Afrikaans … nie. Net so is Kaaps nie ‘swak Afrikaans’ nie” (129). Let op hoe slinks gaan Le Cordeur te werk: “Teen 1808 was Kaapse Afrikaans die huistaal van die meeste Kapenaars” (129). Daardie Kaapse Afrikaans of Kaaps-Hollands was iets anders as die hedendaagse Kaaps. Dit was bv vry van Engels omdat Engelssprekendes toe pas begin het om hulle aan die Kaap te vestig. Dieselfde valsheid kleef aan die stelling dat Kaaps, in die sin van Engelsbesoedelde “Afrikaans”, die oudste Afrikaansvariëteit is (271).

Le Cordeur is vatbaar vir enige propaganda, veral as dit anti-blank of pro-bruin is. Byvoorbeeld: “Was dit regverdig om die grond van die Eerste Nasie [die Khoi-San, deesdae die bruines] op ‘n slinkse wyse te bekom? Nee” (143). Dit is glo deel van die “onregverdighede van die verlede” (144). Le Cordeur is betrokke by Rachel’s Angels [‘n lekker Engelse naam], “‘n bemagtigings-inisiatief van Media24 … om belowende jong mense die geleentheid te bied om ‘n teriêre loopbaan te volg” (63). “Die projek het ten doel om die kapasiteit van belowende studente uit benadeelde gemeenskappe te verbeter” (148). Wat hy doelbewus verswyg, is dat Rachel’s Angels op ‘n rassistiese grondslag – dikwels eufemisties “regstelling” genoem – funksioneer. Daarvolgens kan ‘n blanke nie so ‘n engel wees nie. Dit maak nie saak hoe belowend, behoeftig en benadeeld ‘n blanke is nie, hy word op grond van ras van bevoordeling uitgesluit. Dít is in ooreenstemming met Le Cordeur en die ANC se sin vir geregtigheid.

Vir oorweging by die toekenning die “prestigeryke” Thuthuka-beurse (197) mag jy ook nie blank wees nie. Dieselfde rassediskriminasie teen blankes kom by Naspers en MultiChoice se Phuthuma Nathi-aandeleskema voor. “Die aandele mag egter steeds net deur swart individue en groepe … gekoop of verkoop word … Hierdie reëling verseker dat MultiChoice sy verpligtinge van sy uitsaai-lisensie ten opsigte van swart aandeelhouding nakom” (150). Met ander woorde, die rassistiese ANC-regime het die toekenning van ‘n uitsaai-lisensie onderhewig aan swart bevoordeling en blanke benadeling gemaak. Hierteen opper Le Cordeur geen beswaar nie.

Fatima Allie

As dosent neem Le Cordeur sy US-studente op uitstappies, maar telkens na plekke wat sy ANC-politiek en ander oriëntasies (bv pro-bruin en pro-Kaaps) pas. Fatima Allie, ‘n Moslem, is uitgesproke daaroor dat sy, soos Jonathan Jansen, Engels as haar eerste taal beskou; nie Afrikaans nie. Dit het die Afrikaanse Taalraad nie verhoed om haar sy ondervoorsitter te maak nie. Sy is ook by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans betrokke. As jy nie-blank is, hoef jy nie Afrikaanslojaal te wees om in leidende poste by sogenaamde Afrikaansinstansies “nader getrek” te word nie. Dit is Allie wat Le Cordeur se studente oor die slawegeskiedenis en die Bo-Kaap as die beweerde ontstaansplek van Afrikaans inlig (152). ‘n Klipharde historiese feit word deur hierdie elemente geïgnoreer: Die Bo-Kaap het eers dekades ná die vrystelling van die slawe (1834/1838) ‘n (oorwegend) Moslem-woonbuurt geword. Eintlik erken Le Cordeur dit wanneer hy skryf: “Die slawe [het] hulle ná die afskaffing van slawerny hier gevestig” (268-269). Ek hoop Le Cordeur se (veral blanke) studente het die vermoë om sterk weerstand teen sy deurlopende ideologiese breinspoeling te bied.

Daar is ‘n eienaardige evaluering van persone. Desmond Tutu van WVK-faam word ‘n “onpartydige fasiliteerder” genoem (249). Adam Small word tot ‘n reus verklaar (170) en beskryf as “een van ons grootste woordkunstenaars” (323). “Myns insiens moet die naam van Adam Small in dieselfde asem genoem word as Van Wyk Louw … en DJ Opperman. Hy was inderdaad een van die ‘drie grotes’ in die Afrikaanse kanon” (380). Nelson Mandela word tot ‘n “grootse staatsman” (219) en “die vader van ons nasie” (224) verhef. Mandela se leuen, “I have fought against black domination” (233), word asof dit evangelie is weer in ons kele afgedruk. Een van Le Cordeur se voorstelle om “almal” tevrede te stel, is om die Kaapstadse lughawe na die alkoholis Eva/Krotoa, een van ons jong demokrasie se “Eerste Mense”, te vernoem (236). “Sy was inderdaad die eerste vroulike Renaissance-figuur in Suid-Afrika” (240). Geen wonder dat ons nie meer van Thabo Mbeki se Afrika-Renaissance hoor nie. By die keuse van die lughawenaam is Krotoa se sterkste mededinger, volgens Le Cordeur se insig, Winnie Mandela (236). Dit gaan glo om die titel: “Moeder van ons nasie” (241). “Die Eerste Nasie kan tereg voel dat hulle die stiefkinders van SA is” (240) – te meer as Krotoa nie vernoem word nie. Die Strand moet dalk eerder na nog ‘n Renaissance-Khoi-Khoin, Autshumato/Harry die Strandlopper, vernoem word. Dit is seker nie genoeg erkenning as ‘n rekenaargebaseerde vertalingsprojek Autshumato se naam dra nie. Wás Suid-Afrika ‘n abnormale samelewing of het hy eers van 1994 af al hoe meer abnormaal geword?

Daar is nog baie wat ek oor bv die aanbieding, verwerking, taalgebruik, proeflesing en ook die inhoud van hierdie bundel kan skryf; ook die indeks wat hoogs onvolledig is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.