Leon Lemmer: Christo van Rensburg oor die geskiedenis van Afrikaans

Die taalkundige, Christo van Rensburg (1938-2018), het in die huidige dekade twee boeke gepubliseer wat polities byderwets die rol van nie-blankes in veral die ontstaan van Afrikaans oorbeklemtoon. Dit het meegebring dat hy ‘n gewilde spreker was by byeenkomste van Afrikaansinstansie wat deesdae oorgraag die geskiedenis van Afrikaans wil herskryf/”regstel” deur die rol van blankes, veral Hollanders en Afrikaners, af te skaal. Waarna gemik word, is ‘n onderskrywing van die Nederlandse taalkundige, Hans den Besten, se oordrewe 1987-stelling: “Was dit nie vir die agentskap van die inheemse Khoekhoen (Khoi-Khoin) en ingevoerde Afrika- en Asiër-slawe-arbeid nie, sou daar geen Afrikaans gewees het nie” (Aangehaal deur Danny Titus in WAM Carstens & Michael le Cordeur, reds, Ons kom van vêr, Tygervallei: Naledi, 2016, p 195). Die onderliggende byderwetse politieke motivering hiervoor is voor die hand liggend.

So kry ons Afrikaans

Die eerste boek van Christo van Rensburg wat hier ter sake is, is So kry ons Afrikaans (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012, 159p, R165). Die voorwoord is deur Michael le Cordeur, in sy hoedanigheid as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), geskryf. Ingevolge die ATR se oriëntasie was “dit nodig dat die verhaal oor die ontstaan van Afrikaans opnuut nagevors word sodat die volle (gedeelde) geskiedenis van Afrikaans en die mense wat Afrikaans praat, vertel kon word. Op hierdie wyse probeer ons wegbeweeg van die geskiedenis wat ons as Afrikaanse gemeenskap verdeel het … Die doelwit was om eens en vir altyd die misverstande oor waar Afrikaans vandaan kom, finaal by te lê” (p 9). Die politieke motivering vir die herskryf van Afrikaans se geskiedenis blyk dus duidelik. “Met hierdie werk wil die ATR opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor; omdat ons hier die navorsing aanbied wat bewys dat Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat” (10).

Le Cordeur verwys hier na CJ Langenhoven (1873-1932) se stelling oor Afrikaans: “Hij is die enigste witmanstaal wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (JC Kannemeyer, Langenhoven, ‘n lewe, Kaapstad: Tafelberg, 1995, p 269). Dit is duidelik dat Langenhoven Afrikaans met Engels gekontrasteer het. Hy het hiermee erken dat Afrikaans ook plaaslike wortels het. Langenhoven beweer nie dat Afrikaans uitsluitlik die taal van blankes is nie. Le Cordeur se frase, “Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat,” klink na ANC-retoriek, soos dat die land aan almal behoort en blankes se eiendom dus sonder vergoeding onteien mag word. Le Cordeur se dislojaliteit jeens Afrikaans het duidelik geblyk toe hy hom ongekwalifiseerd ten gunste van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) uitgespeek het. Dít het terselfdertyd die ATR gekarakteriseer omdat die ATR hom nie van Le Cordeur gedistansieer het nie.

Van Rensburg stel die inheemse perspektief voorop. Hy begin sy eerste hoofstuk deur te vertel hoe die Khoi-Khoin die verbyvarende skepe waargeneem het. Getrou aan sy opdraggewer (die ATR) se standpunt, skryf hy: “‘n Taal soos Afrikaans bestaan uit al sy variëteite” (p 11). Maar hy wend geen poging aan om te besin oor die mate waarin die mengteltaal Kaaps Afrikaans is nie. Kaaps is ‘n brousel van hoofsaaklik Afrikaans en Engels. Dit behoort as ‘n tussentaal eerder as ‘n variant van Afrikaans beskou te word. Die Académie française bevorder Standaardfrans en nie enige variant daarvan nie. Die Académie verskans Frans ook aktief teen veral verengelsing (Wikipedia). Al word die voortbestaan van Frans nie bedreig nie, is dit ‘n gesonde benadering. Dit spreek van etniese en taaltrots.

Anders as by Frans word die voortbestaan van Afrikaans bedreig. Desnieteenstaande gaan Afrikaansinstansies, veral die ATR en die ATKV, voort om Afrikaansvariëteite en by voorkeur Kaaps te bevorder. Pleks van taaleenheid met Standaardafrikaans as grondslag aan te moedig, word taalverdeeldheid bevorder terwyl daar juis in eenheid krag is. Standaardafrikaans is die enigste vorm waarin Afrikaans agbaar kan oorleef. Dit is immers saamgestel uit die Afrikaansvariëteite, insluitende Kaaps in soverre dit nie Engels is nie. Taalsuiwerheid word egter deur geen Afrikaansinstansie aktief bevorder nie. Geradbraakte Afrikaans, veral weens verengelsing, neem toe en niks word gedoen om hierdie verwording van Afrikaans teen te werk nie.

Kaaps word voorgestel as ‘n aanvaarbare vorm van Afrikaans, gevolglik neig al hoe meer nie-Kaapssprekers ook om ‘n mengsel van Afrikaans en Engels te praat. As Afrikaans net in geradbraakte vorm oorleef, is dit nie die moeite werd om vir die voortbestaan daarvan te veg nie. Eerbare Afrikaans is ‘n taal uit eie reg wat duidelik van Engels onderskei kan word. Polities oorverligtes beweer Afrikaans floreer steeds en hulle vestig dan die aandag op die aanwesigheid daarvan op radio en televisie, in liedjies en in opvoerings by bv kunstefeeste. Maar op die gehalte van daardie Afrikaans word nie ag geslaan nie. Kaapssprekers het al dikwels erken dat hulle hulle brouseltaal gebruik om Afrikaners te tart. Polities korrek word hierdie laakbare gedrag nie deur Afrikaansinstansie gekritiseer nie. Dit dui op die gebrek aan sowel selftrots as etniese trots, insluitende taaltrots, by baie blanke Afrikaanssprekendes.

Van Rensburg vertel hoe sommige Khoi-Khoin Aanleerdershollands gepraat het as gevolg van kontak met matrose op Hollandse skepe. Maar daardie matrose was nie noodwendig Hollanders nie. Die groot stede aan die Noord- en Baltiese See, bekend as die Hanse-liga, het voor en tydens Van Riebeeck se tyd eeue lank die handel in daardie gebied oorheers. Naas Hollands is bv Duits en Skandinawiese tale sekerlik deur baie van die matrose gepraat. Dit geld ook vir die vroeë koloniste aan die Kaap: “Die meeste immigrante in daardie tyd was Duitsers” (34). Van Rensburg beweer dat Hollands “stadigaan ook onder die Khoi-Khoin ‘n moedertaal geword het” (18). Hy noem dit Khoi-Afrikaans (20). Dit hinder my dat Van Rensburg van Nederlands in Van Riebeeck se tyd praat terwyl Holland eers in 1814 Nederland geword het. Ook dat hy van die begin af van Afrikaans in die Khoi-Khoin-konteks praat en nie van bv proto- (eerste, oer-) Afrikaans nie.

Hy spreek by implikasie ook sy seën oor die ATR-benadering uit deur te skryf: “Die naam ‘Kaaps’ vir die voortsetting van hierdie Khoi-Afrikaans is al dikwels daarvoor gebruik” (20). Oor die Kaapse hawegebied skryf Van Rensburg: “Die Afrikaans van die eerste [oorgelewerde] teks is daar gepraat. Dié Afrikaans word Kaaps genoem” (36). Sodanige stellings voed die gewilde hedendaagse stommiteit dat Afrikaans deur die Khoi-Khoin en van 1658 af deur die slawe in bv kombuise aan die Kaap geskep is en daarna deur die blankes oorgeneem of gesteel is. Naas Khoi-Afrikaans praat Van Rensburg van Slawe-Afrikaans (27). Dit was seker net enkele Khoi-Khoin wat verstaanbaar met taal (eerder as gebare) met die matrose kon onderhandel: “Die Khoi-Khoin het nie in groot getalle met die Nederlanders [Hollanders] kontak gemaak nie. Die meeste Khoi-Khoin het in die binneland gewoon” (18). Van Rensburg se Khoi-Afrikaans was geen groot volksbeweging wat Hollands gou aan die Kaap laat verkrummel het nie.

In die 17de eeu het daar nie net Hollandse skepe om die Kaap gevaar nie, maar ook bv Engelse skepe, waarvan die matrose nie noodwendige almal Engelse was nie. Maar die Khoi-Khoin het daar op ‘n manier soortgelyk aan Aanleerdershollands seker ook Aanleerdersengels leer praat. Volgens Van Rensburg het Afrikaans in 1495 ontstaan (148) – volgens sy 2018-boek moet dit 1595 wees (17) – dus meer as ‘n halfeeu voor die koms van Jan van Riebeeck vanweë enkele Khoi-Khoin wat met matrose Hollands probeer praat het (148). Ek wag nog op ‘n oorverligte taalkundige wat beweer dat Kaaps in sy Engelsbesoedelde vorm lank vóór 1652 deur die Khoi-Khoin aan die Kaap gepraat is.

Die Engelsbesoedeling van Kaaps dateer egter eers van 1795 of veral 1806 af, dus van die eerste of tweede Engelse besetting van die Kaap. Van Rensburg erken by implikasie dat sy hipotese dat Afrikaans vyftig jaar voor Jan van Riebeeck se koms deur die Khoi-Khoin gepraat is, “nie in opgetekende vorm oorgelewer [is] nie” (20); dus dat sy stelling nie op gedokumenteerde inligting berus nie; dus bronlose spekulasie of verligte wensdenkery is. Die skaarste aan betroubare inligtingsbronne (bv “Besonderhede oor hoe die slawe gepraat het, is maar skraps” – 55) bied ruimte vir vertolkings in pas met wat tans om etniese en ideologiese redes in polities korrekte geledere verlang word. Dit kan op miteskepping neerkom (92).

Van Rensburg verwys na vryburgerboere (29) terwyl baie vryburgers nie geboer het nie maar op ander maniere, bv deur die beoefening van ambagte, hulle brood verdien het. “Omtrent die helfte van die vryburgers was boere” (30) (in sy 2018-boek, hier onder, word dit ‘n derde – 50). Die eerste burgers is in 1657 vrygestel. “Nuwe taalenergie kom los. Dit het met Afrikaans gou ná die koloniste se aankoms gebeur” (29). Daar kon kwalik so vroeg sprake van Afrikaans gewees het. Die geografiese isolasie van die Kaap weens die groot afstand en die swak verbindings met Holland en die res van Europa sou mettertyd noodwendig plaaslik veranderinge, bv vereenvoudiging, in die Hollandse spreektaal en nog later die skryftaal meebring, maar hiervoor is nie-blanke beïnvloeding nie noodsaaklik nie.

Taalveranderinge en -aanvullings was nodig om doeltreffender uitdrukking aan die plaaslike omstandighede, wat aansienlik van dié in Europa verskil, te gee. In ander Hollandse oorsese gebiede, bv wat tans as Indonesië en Suriname bekend staan, het dieselfde gebeur. Dit lyk dus oordrewe om soos Den Besten te beweer dat daar geen Afrikaans sonder die invloed van die Khoi-Khoin en die slawe kon wees nie. Afrikaans was wesenlik ‘n aanpassing of dialek van Hollands/Nederlands wat mettertyd danksy die aanvaarding daarvan deur baie blankes tot ‘n taal uit eie reg ontwikkel het. Dit is moontlik gemaak danksy die arbeid van feitlik uitsluitlik blanke taalkundiges, bv die skrywers van grammatika-handleidings en die opstellers van woordeboeke. “Die Nederlandse aandeel aan Afrikaans kon nog altyd erken word, soos vandag ook” (66).

Miteskepping vind tans algemeen in die herskrywing van Suid-Afrika se geskiedenis plaas. Jan van Riebeeck het oor die Kaapmans/Khoi-Khoin geskryf dat hulle “pretenderen’ dat hulle “dit Caepse lant van allen eeuwen” besit (151). Dít is die oorsprong van die titel van Hermann Giliomee se boek oor die bruin mense: Nog altyd hier gewees (2007). Dat nie-blankes ‘n (geringe) rol in die ontstaan van Afrikaans gespeel het, word reeds baie lank erken. Byvoorbeeld, hierdie feit vind sedert 1975 sigbare uitdrukking en erkenning in die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl (94). “Ná ‘n eeu was daar min verskille tussen Khoi-Grensafrikaans en Veeboer-Grensafrikaans” (47), maar “die [blanke] veeboere se Afrikaans [het] nie ‘n Khoi-onderbou gehad … nie” (48). Oor hierdie twee soorte Grensafrikaans skryf Van Rensburg: “Dit was nie maklik om die … twee uitmekaar te hou nie” (54). “Ná ‘n eeu was daar baie min verskille tussen Khoi-Grensafrikaans en Veeboer-Grensafrikaans” (47). “Baie van die kenmerkende taalpatrone van Khoi-Grensafrikaans is gedeel met die veeboere se Afrikaans en het lateraan Standaardafrikaans geword” (48). Daar word beweer dat “die bakermat van Afrikaans juis dáár in die binneland lê” (55), waarmee die aandeel van blankes erken word. Dít klink meer aanvaarbaar as die hedendaagse gewoonte om die Bo-Kaap in Kaapstad tot die bakermat van Afrikaans te verhef, soos bv Anne-Marie Beukes, in haar hoedanigheid as voorsitster van die ATR, gedoen het; dus om uitsluitlik of by voorkeur die aandeel van bruin mense te erken.

Van Rensburg tref ‘n onderskeid tussen Moslemafrikaans (of Bo-Kaaps – 86) en die taal van ander sprekers van Kaaps (87). Daar word verskeie kere verwys na die dislojaliteit wat baie bruin mense teenoor Afrikaans openbaar. Achmat Effendi het bv verkies om sy verkiesingsveldtog vir ‘n setel in die Kaapse parlement in Engels te voer (87). Nadat die Kaap in 1795 en weer in 1806 ‘n Engelse kolonie geword het, het die sprekers van Kaaps al hoe meer verengels. “Kaaps het nou ook ‘n duidelike invloed getoon van die Engels wat die hooftaal van Kaapstad geword het” (88). “Engelse invloed [was] al van vroeg af deel van Kaaps” (115-116).

Die geskiedenis word deesdae in verskeie opsigte herhaal. Byvoorbeeld, tydens die Bataafse bewind (1803-1806) het Jan Willem Janssens tydens sy besoek aan die grensgebied agtergekom dat die inwoners self vir orde en hulle veiligheid gesorg het. “Die regerings … het nie werklik in hulle sake belang gestel nie” (66). In die nuwe Suid-Afrika doen ‘n soortgelyke situasie hom voor.

In 1822 het Charles Somerset met sy verengelsingsbeleid begin (87). “Die plattelandse gebiede, Stellenbosch, Paarl en Franschhoek, het dieselfde patroon van verengelsing as in die sentrale Kaapse gebied gevolg. Dit het gebeur ten koste van Afrikaans. Buite die Kaap was die tempo van verengelsing net stadiger” (88). Die onderrigtaal van die Universiteit Kaapstad en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) is deesdae uitsluitlik Engels. Die Universiteit Stellenbosch (US) verengels al hoe meer ten koste van Afrikaans. Al verskil is dat dit aan die US stadiger as aan die UWK geskied.

Sedert 1902 het Alfred Milner se verengelsingsbeleid veroorsaak dat mense teen wil en dank Engels in bv winkels moes praat (112). Deesdae is dit dieselfde storie. Anders as voorheen verstaan die assistente in bv die plaaslike Woolworth-winkel nie eens Afrikaans nie, wat nog te sê van dit praat. Vanoggend het dieselfde met my in die plaaslike poskantoor gebeur. “Daar [is] ook te maklik met die verengelsingsbeleid van Milner saamgewerk” (112). Dieselfde kan aan bv die US van die ANC se voorkeur vir Engels gesê word. Van Rensburg verwys na “die onsensitiewe afdwing van Engels deur nuwe bewindhebbers” (137).

Wat vir Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika van wesenlike belang is, is nie hoe hy ontstaan het nie. Die vraag is veel eerder hoe hy kan oorleef. Deel van dié oorlewingstrategie moet wees om die kankers wat Afrikaans kan vernietig, te identifiseer en hulle uit te roei. Dit moet nie net gaan om die erkenning van soveel sprekers moontlik wat “Afrikaans in al sy variëteite” praat nie. Die gehalte van Afrikaans is van deurslaggewende belang. “Die beeld van ‘n taal verander positief as prestasies van gehalte daaraan gekopppel word” (111). “Kwaliteitswerk in Afrikaans het gehelp om Afrikaans sy sprekers se voorkeurtaal te maak” (112).

Van Kaapse Moslemafrikaans word gesê: “Soms kan kenmerke van hulle Afrikaans ook in hulle Engels gehoor word” (127). Andersom is dit natuurlik nie ‘n kwessie nie. Daardie “Afrikaans” is deurspek met Engels. “Kaaps is ook glad nie meer net ‘n praattaal nie” (128). Byvoorbeeld, Rapport en LitNet staan deesdae oorgraag ruimte aan geskrewe Kaaps af. “Engels was eintlik die taal waarmee hulle [Moslems/bruin mense] aan die Kaapse gemeenskapslewe deelgeneem het, en is die voorkeur as skryftaal en kultuurtaal” (127). Piet Uithaalder/Abdullah Abdurahman se “Kaaps illustreer daardie variëteit se lang kontak met Engels” (129).

“Dit is interessant om die keuse van Kaaps [in Adam Small se] literêre werk te sien as ‘n protes teen die gebruik van gestandaardiseerde Afrikaans” (30). Die linkse Antjie Krog het al erken dat haar doelbewuste gebruik van geradbraakte Afrikaans dieselfde doel dien. Van Rensburg verwys na tale wat heeltemal deurmekaargeklits word (54). In soverre Kaaps ‘n mengeltaal van sowel Afrikaans as Engels is, behoort dit onomwonde as ‘n hedendaagse euwel geïdentifiseer, veroordeel en bestry te word omdat dit Afrikaans in sy oorlewingstryd ondermyn. In hierdie opsig behoort Afrikaansinstansie soos die ATR en ATKV hulle beheptheid met politieke korrektheid af te skud. By hulle behoort dit om suiwere taaloorwegings te gaan.

In laaste instansie berus die toekoms van Afrikaans myns insiens by die taalgetroues, die lojales, dus by diegene wat ‘n passie vir veral Standaardafrikaans het, trots daarop is en dit uitleef. Van Rensburg verwys na “geborgenheid in Afrikaans” (142). “Taalintegriteit [moet] nie ingeboet word nie” (138). “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte bestaan” (117). Ek hou van hierdie polities nie-korrekte hiërargie. “‘n Bodialektiese standaardtaal … dwing dialekte … na die standaardtaal” (125). Dit is waarom dit so belangrik is dat die massa-inligtingsmedia (pers, rolprent, radio, televisie en internet) Standaardafrikaans kompromisloos moet uitdra. In die praktyk is dit egter glad nie die geval nie.

Daar moet nie toegelaat word dat Afrikaans (op groot skaal) deur Engels vermurwe word nie. “In variëteite waar die remmende invloed van Standaardafrikaans nie so sterk gevoel word nie, kan Engelse invloed die maklikste gesien word. In Kaaps, waar Engelse invloed die langste geskiedenis het, het dit al deel van die eie taaltradisie geword” (139). Watter etniese groepe by die ontstaan van Afrikaans betrokke was, is deesdae van mindere belang. Die vervloë vermoë om Hollands skeef en krom te praat, was nie ‘n uitsonderlike kreatiewe prestasie van nie-blankes nie. Aan wie veel eerder afdoende erkenning gegee moet word, is aan diegene wat Afrikaans ontwikkel, gestandaardiseer en uitgebou het; dus Afrikaners.

Daar is bv die rol wat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gespeel het, asook diegene wat vertaalwerk (bv die Bybel in Afrikaans) gedoen, spelreëls opgestel, asook grammatikaboeke, woordeboeke en skoolhandboeke saamgestel en gepubliseer het. Van Rensburg verwys hierna en ook na skrywers wat romans, gedigte, verhoogstukke en liedjies (ook die Psalms en Gesange) in Afrikaans geskryf het. Dan is daar ook die Afrikaanse koerante, populêre en vaktydskrifte, rolprente, radio- en televisie-uitsendings. Die rol wat dosente en navorsers in die Afrikaanse letter- en taalkunde gespeel het, is nog nie na behore erken nie. In baie gevalle kan hulle “taalidealiste” genoem word (120). ‘n Nie-politiek-korrekte feit wat Van Rensburg nalaat om te noem, is dat dit hoofsaaklik blankes (en veral mans) is wat hierdie arbeid so voortreflik verrig het.

Van Afrikaans gepraat

Die volgende boek van Christo van Rensburg is onlangs gepubliseer: Van Afrikaans gepraat (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2018, 155p, R250). ‘n Engelse weergawe, Finding Afrikaans, het terselfdertyd verskyn. Die teks is ‘n verwerking en aanvulling van sy 2012-boek. Hy herhaal bv sy gewilde stommiteit: “Khoi-Afrikaans dateer van 1595 af” (17).

Die klem val steeds op wat nie-blankes tot Afrikaans bygedra het. Terselfdertyd word die bydrae van Afrikaners onderbeklemtoon. Die ontstaan van Afrikaans word ingeklee as die wisselwerking van ‘n mengelmoes van tale en etnisiteite. “Al hoe meer mense het steeds by die Kaap aangedoen, en al hoe meer tale is hier gehoor” (20). “Werk in die Ooste [bv in wat tans as Indonesië bekend staan] was ‘n uitkoms vir Europeërs wat van heinde en verre bymekaargeraap is” (24). Van Rensburg verwys na “die transtaligheid en die multikulturele lewenswyse” aan die destydse Kaap (44). Maar dit is die bydrae tot Afrikaans van die Khoi-Khoin en die slawe wat beklemtoon word. Byvoorbeeld oor die Maleise slawe: “Hulle het baie [?] ander woorde en taalverskynsels ook in die Kaap laat wortel skiet” (27). In die onderlinge kontak het “daar naas die bestaande Khoi-Afrikaans ook ‘n Verversingsposafrikaans aan die Kaap tot stand gekom” (44).

In taalsake, soos in baie ander opsigte, neem die elite die leiding. Die Nederlandse taalkundige, GG Kloeke, het in 1950 van die standpunt uitgegaan dat “Afrikaans deur die hoë sosiale klasse aan die Kaap gevorm” is (45). Van Rensburg, daarenteen, soek en vind die oorsprong van Afrikaans by die laagste sosiale klasse. Waaraan hy nie genoeg aandag skenk nie, is dat Afrikaans nooit tot ‘n taal uit eie reg, met algemene en amptelike erkenning, sou ontwikkel het as die nageslagte van die vroeë blanke sprekers (Hollanders en ander Europeërs, bv Duitsers en later Franse, bv die Hugenote van 1688 af) nie beslag aan die plaaslike omvorming of aanpassing, bv vereenvoudiging, van Hollands gegee het nie.

Oral ter wêreld lê die elite se taalgebruik die grondslag van die standaardtaal. Dít is nie (nog) ‘n benadeling wat plaaslik deur die blankes ten koste van die nie-blankes uitgedink en toegepas is nie. Van Rensburg neem egter standpunt teen Standaardafrikaans ten gunste van Kaaps in: “Gestandaardiseerde Afrikaans was die medium waardeur die landsregeerders so veel regte van die mense wat Kaaps praat, aangetas het” (77). Sy ongedurigheid met Standaardafrikaans strek verder: “Standaardafrikaans is niemand se moedertaal nie. Dit is ‘n kode vir gebruik in besondere gevalle. Niemand praat presies so nie. Daarteenoor is dialekte natuurlike tale” (118). Maar die verbrokkeling van Afrikaans in dialekte het nie die krag van die eenheid wat noodsaaklik vir die oorlewing van Afrikaans is nie. Hoe meer die meerderheid Afrikaanssprekendes die Standaardtaal navolg en verengelsing teenstaan, hoe gunstiger sal Afrikaans se toekoms word.

Afrikaans se fundamentele verwantskap met Europese tale, soos Hollands/Nederlands en Duits, word deur Van Rensburg grootliks agterweë gelaat. “Hollands [was] nooit die algemene spreektaal aan die Kaap … nie” (19). Selfs die invloed van die Hollandse skryftaal word afgeskaal: “Die veeboere se leesvaardigheid was uiters beperk, wat Bybelinvloed sou beperk het” (65). Polities korrek gaan dit vir hom om inklusiwiteit, diversiteit en verinheemsing. Dieselfde klein groepie erkende Afrikaanse woorde word telkens herhaal om die invloed van bv die Khoi-Khoin en die slawe te illustreer. “Wanneer ondersoekers soek na die antwoord op die knaende vraag waarom alle mense nie hulle taal eenders gebruik nie, kom hulle by die hart van Afrikaans uit” (p 9). Afrikaans word voorgestel asof dit in groter mate as ander tale onder ‘n swetterjoel variëteite gebuk gaan terwyl met die oog op oorlewing taaleenheid in die vorm van Standaardafrikaans eerder bevorder moet word.

Dat Oosterse (dus nie-blanke) eerder as Westerse (dus blanke) invloed op Afrikaans begeer of gesoek word, blyk uit Van Rensburg se bespreking van die woord baie. “Die Afrikaanse woord baie het duidelike Oosterse wortels” (36). Dit word teruggevoer na die Maleise woord bannyak of banjak. “Die gebruik van die variante van baie deur sprekers van al Afrikaans se variëteite wys hoe wyd vroeë Maleise invloed versprei het” (37). Van Rensburg noem darem: “Daar moet gerus ook na die Platduitse woord bannig gekyk word, is al gesuggereer … [Daar] is data beskikbaar oor die voorkoms van bannig in Duitsland, maar daarin is niks te vind wat naastenby met baie of sy variante ooreenkom nie” (36). Van Rensburg gee gevolglik voorkeur aan die Maleise herkoms van baie. In Gerhard van Huyssteen se rubriek is onlangs egter uitgewys dat die Platduitse herkoms meer waarskynlik kan wees. Ook dat die Franse woord bien aan die Latynse woord bene ontleen is en goed, mooi of ‘n klomp beteken (Netwerk24, 28.09.2018).

Politieke korrektheid is aan die orde van die dag. Van Rensburg verwys na Francisco d’Almeida wat in 1510 in Tafelbaai aan land gegaan het. “In ‘n skermutseling met die Khoi-Khoin het hy en byna 100 lede van sy geselskap die lewe gelaat” (15). Hulle was nie die eerste of laaste blankes wat in Suidelike Afrika deur inboorlinge om die lewe gebring is nie. “Vir die seevaarders uit Portugal was dit ‘n aanduiding om die Kaap te vermy, hulle het aangedikte [!] verhale oor die wreedheid van die Kapenaars onder die seevaartgemeenskap versprei, en self uit die Kaap weggebly” (15). Later word dit “die Portugese seevaarders se bangmaakstories” genoem (17). Maar daar word ook vertel hoe die Khoi-Khoin die vryburgers se beeste gesteel en gesaaides verniel het (52). Inheemse steel- en moordsug ten koste van Europeërs het reeds vóór 1652 hulle opwagting gemaak en is steeds met ons.

Van Rensburg probeer om Hollandse invloed op die taalsituasie aan die Kaap af te skaal en by implikasie die aandeel van blankes in veral die vroeë of voorgeskiedenis van Afrikaans. “Die seelui het ‘n ander soort Hollands as die administrasieamptenare gepraat, en die groot aantal soldate ook … Daar was nie geleenthede dat hulle invloed op die soldate en matrose se taalgebruik kon uitgeoefen het nie” (48). Hier het standverskille en verskillende Europese tale ‘n rol gespeel. Die beweerde invloedloosheid van die taal van die plaaslike Vereenighde Oostindische Compagnie- (VOC-) bewind moet egter bevraagteken word. Hollands was van 1652 tot 1795 en van 1803 tot 1806 die enigste amptelike geskrewe taal aan die Kaap. Owerhede kan taalgewys hoogs invloedryk wees. Dink aan die vooruitgang wat Afrikaans sedert 1948 tydens die Nasionale Party-bewind gemaak het en die ingrypend nadelige invloed wat die ANC-regering sedert 1994 op Afrikaans het.

Van Rensburg verwys na “die vermeende Europese herkoms van Afrikaans” (140). Die wesenlik Hollandse/Nederlandse aard van Afrikaans, word deur Van Rensburg die “herkomsmite” genoem. Daarmee word glo beweer: “Afrikaans kom uit die buiteland” (109). Die waarheid is: Afrikaans kan nie sonder meer ‘n Europese of ‘n Afrika-taal genoem word nie. Dit is deels ‘n Europese en deels ‘n taal wat plaaslik deur veral blankes ontwikkel is. Diegene wat dít doen, word egter deur Van Rensburg daarvan beskuldig dat hulle “verdelend oor Afrikaans … oordeel” (109). Inklusiwiteit geniet by hom voorrang; onder meer die goedkeurende insluiting van Kaaps by Afrikaans, wat die dood in die pot vir ons moedertaal gaan wees of dalk reeds is, as ‘n mens met kommer waarneem hoe geradbraak omgangs-“Afrikaans” geword het.

“Verbygangers wat opmerkings oor die vryburgerboere se taal gemaak het, het vertel van hulle swak Nederlands [Hollands]. Maar hoe kon dit anders? Onder die vryburgers van die eerste dekades was daar een Pool, een Italianer, een Skot, twaalf Engelse, ‘n paar Dene en Noorweërs en sowat 40 Swede. ‘n Aantal vrygestelde slawe uit Afrika en die Ooste was ook vryburgers. Hulle almal moes ‘n kommunikasietaal tweedehands aanleer … Sowat 175 Franse Hugenote het in 1688 hier as ‘n groep aangekom. Hulle het Nederlands [Hollands] maar swak gepraat, soos aanleerders … Die meeste vroeë immigrante was Duitsers” (52-53). Van Rensburg gee hoog op oor die rol wat die Khoi-Khoin se aanleerderstaal (Afrikaans of seker eerder Hollands) in die geskiedenis van Afrikaans gespeel het. Maar uit wat in hierdie paragraaf staan, kan afgelei word dat die aanleerderstaal van die blanke koloniste insgelyks invloedryk kon/moes gewees het. Die groot aantal Duitsers en Skandinawiërs bevestig die invloed van die Hanse-liga, waarna hier bo verwys is.

Karel Schoeman het in ‘n 2014-publikasie beweer sommige van die eerste vryburgers was “half opgewerkte mans” nadat hulle enkele jare vir die VOC aan die Kaap gewerk het (49). “In 1658 het die eerste slawe in die Kaap aangekom om die onwillige [lui?], oorwerkte [!] en skaars arbeiders aan die Kaap te vervang … Slawe-eienaars sonder inisiatief [?] het ‘n permanente stempel op die kolonie afgedruk en sosiale verhoudings het ook ‘n durende knou gekry” (28). Dwarsdeur die boek word die identifisering van mense as blank of nie-blank vermy. By die Khoi-Khoin was daar ‘n tradisie van nie-werk of leeglê, wat aanleiding tot die invoer van slawe gegee het.* In hierdie sin kan nie-blankes eerder as die blankes die skuld vir die destydse slawerny aan die Kaap gegee word. Hou ook in gedagte dat daar nie-blanke slawe-eienaars was* waarop die karakterisering van “sonder inisiatief” (ook) van toepassing gemaak kan word.

[* In sy boek, Kaap van slawe (Tokai: Historical Media, 2012, 204p, R267), noem Marthinus van Bart dat die Koina/Khoi-Khoin “vanweë hul eeue-oue nomadiese veeherderskultuur nie swaar hande-arbeid wou verrig en pal op een plek wou woon nie” (p 115); ook dat “heelparty” Asiate en vryswartes slawebesitters was (106; ook 108). Ek noem vervolgens enkele ander interessanthede in Van Bart se boek.

“In 1663 is ‘n openbare kerkskool [aan die Kaap] gestig waar wit, bruin en swart slawekinders saam godsdiensonderrig ontvang het. Die wit kinders wie se ouers dit kon bekostig, moes skoolgeld betaal, maar die bruin en swart kinders het gratis onderrig (pro Deo) ontvang” (13). Hierdie einste soort rassediskriminasie ten koste van blankes is steeds met ons.

ANC-kruipsug bring mee dat die plaaslike geskiedenis deesdae wan voorgestel word. Die Iziko-Slawemuseum in Kaapstad “beeld ‘n weersinwekkende verhaal van die ‘Dutch’ se slawevergrype dramaties uit. Die Britte word as die bevryders van die slawe geskets” (17) terwyl die Britte die grootste slawehandelaars was. Nick Merriman skryf: “England, and later Great Britain, got fat on the backs of slaves, becoming the biggest slave-trading nation of earth” (70). “Gedurende die Eerste Britse Bewind [1795-1803] het Britse slawehandelaars die monopolie van die slawehandel op die Kaapse seeroete gehandhaaf. In die sewe-en-‘n-half jaar van dié bewind aan die Kaap is meer slawe hierheen ingevoer as in enige ander tydperk van dieselfde lengte” (85). Hier bo dien “Dutch” as kode vir Afrikaners/Boere. Slawerny word deur die Iziko-Slawemuseum uitgebeeld as gelykstaande aan “the apartheid of the Nats” (184). Die Britte het selfs slawehandel in blankes bedryf: “Van 1600 tot 1699 is meer Iere as Afrikane in slawerny gedwing en in die Amerikas verkoop” (57). Sowat 1 300 Britse en Ierse weeskinders en jeugmisdadigers is teen 1837 aan die Kaap as wit slawe verkoop (91, 143).]

Soos in sy vorige boek wek Van Rensburg weer die (valse) indruk dat nie-blankes Afrikaans geskep het. Hierdie vroegste Afrikaans word uiters verwarrend Kaaps genoem en in die middel van die 17de eeu (dus in Van Riebeeck se tyd) gesitueer en in die konteks van die Moslems, dus slawe, vermeld. Die eerste slawe het in 1658 in die Kaap aangekom. ‘n Mens kan die afleiding maak dat die Moslemslawe, volgens Van Rensburg, dadelik begin meehelp het om Afrikaans te skep; blykbaar met ‘n hupstootjie van die klein getal Khoi-Khoin wat met verbyvarende matrose en die pas aangekome setlaars taalkontak gehad het. “Die slawe het ‘n trotse literêre skryftradisie hier voortgesit” (38).

“Kaapse Afrikaans het gou nóg so ‘n taal geword wat met Arabiese tekens geskryf is, vandaar die naam Arabiese Afrikaans wat ook daarvoor gebruik word (naas Moesliemafrikaans). ‘n Vernugtig aangepaste Arabiese skryfstelsel is van 1815 af gebruik om godsdiensgeskrifte in Kaaps te skryf … Die gebruik om Afrikaans in Arabiese skrif te skryf, het vir nog meer as ‘n eeu aangehou, tot in 1945” (39). “Dit is opvallend dat die oudste teks in [samehangende] Afrikaans [1673] in Khoi-Afrikaans opgeteken is, en die eerste boek in Afrikaans [1856] is ook in ‘n Kaapse [Moslem]dialek geskryf” (41; ook 25, 40, 76). “Teen 1838 is die meeste van die slawe aan die Kaap in die Skiereiland gebore en moedertaalsprekers van die gevestigde dialek van Afrikaans, Kaaps” (42).

Van Rensburg “onderskei tussen die [hedendaagse] Kaaps van Moesliemsprekers en dié van ander sprekers van [hedendaagse] Kaaps” (41). “Kaaps, waarin beide Khoi-Afrikaans en Slaweafrikaans, asook ander tale [bv Maleis en Portugees] geïntegreer is, speel ‘n baie belangrike rol in Afrikaans se geskiedenis. In ‘n veeltalige kontaksituasie het Kaaps gefloreer. Hierdie dinamiek kan raakgesien word in die manier waarop Kaaps steeds gepraat word” (43). Die mooi klinkende woord “dinamiek” sluit die afkeurenswaardig oordrewe gebruik van Engelse woorde in. Maar Van Rensburg hou blykbaar hiervan. Eenogig het hy waardering vir die “keurige Afrikaans” wat bv sportmense deesdae praat (131) terwyl ek my dikwels daarvoor skaam.

“Letterkunde van ‘n besonder hoë kwaliteit is later in Kaaps geskryf. Die bekroonde Adam Small [1936-2016] was die baanbreker. Sy Kaaps het deur die hele land bekend geword, en ongelukkig [!] het baie lesers, ook skoolkinders, verby die verset daarin gelees. Sy verse en dramas tel onder die beste wat Afrikaans kon opgelewer” (77). Dit is oordrewe lof, soortgelyk aan dié van Wim de Villiers wat Small onlangs “one of our greatest thinkers” genoem het (LitNet 26.11.2018). Small het meerdere kere beurse vir studie in die wysbegeerte in sowel Londen as Oxford ontvang, maar kon nooit ‘n doktorale proefskrif suksesvol voltooi nie. Wat opval, is dat Van Rensburg (en natuurlik ook De Villiers) nêrens soortgelyke lof vir werklike groot Afrikanergeeste, soos NP van Wyk Louw, uitspreek nie.

“Beïnvloeding deur ander tale is die eerste teken van die aanslag op trekgemeenskappe se taal” (94). Dit is wat gebeur wanneer Afrikaners immigreer. Byvoorbeeld, in Engelstalige lande word Afrikaners se moedertaal binne enkele geslagte deur Engels verswelg. Maar Afrikaanssprekendes wat in Suid-Afrika aanbly, kan hulle moedertaal suksesvol teen sodanige verswelging verskans deur Afrikaans so suiwer moontlik te gebruik en veral Kaaps te bestry in soverre dit Engels is. Diegene wat emigreer, redeneer: “Oorlewing is belangriker as identiteit” (94). Afrikaners wat verkies om in Suid-Afrika te bly woon, behoort sowel oorlewing as die behoud van hulle identiteit/kultuur na te jaag. Een van die (onfeilbare) maniere om dit te doen, is selfbeskikking, verkieslik in ‘n eie etniese tuisland.

Van Rensburg se politieke transformasie blyk duidelik uit die volgende: “Afrikaans was die sleutelwoord om die Afrikanerdom se geïdealiseerde en verlore glorie [na die Anglo-Boere-oorlog] te herstel [veral van 1948 af]. Hierdie ywer het ekstreme afmetings aangeneem. Daar kon moeilik van nasionalisme gepraat word sonder om ook van Afrikaans te praat. Die gevolg daarvan? ‘n Merk wat nie maklik uitgewis word nie” (128). “Van die begin van daardie [20ste] eeu af het nasionalisme groot aantrekkingskrag vir Afrikaanssprekendes [eerder: Afrikaners] gehad, en die nasionale gedagte het Afrikaans op sy beurt vir hom toegeëien. In die tweede helfte van die twintigste eeu het dit toenemend ‘n remskoen geword. Afrikaans moes van toe af wys dat hy die taal van Suid-Afrikaners is, wat dit erns met hulle taal bedoel” (130-131). “Betrokkenheid by Afrikaans moet betrokkenheid by Suid-Afrikaners word” (130).

Hiermee word die net myns insiens te wyd gespan en die prys word te hoog. Dit is ‘n wanvoorstelling om te beweer dat Afrikaners Afrikaans as uitsluitlik die eiendom van blankes beskou het. Wat wel waar is, is dat suiwer of ordentlike Afrikaans as die kern van die Afrikanerdom beskou kan word en dat Afrikaners ongetwyfeld die leeue-aandeel in die ontwikkeling van Afrikaans gehad het. Om die plaaslike geskiedenis van vóór 1994 as fundamenteel boos voor te stel – “‘n Merk wat nie maklik uitgewis word nie” – is kenmerkend van diegene wie se pro-Afrikanergesindheid (-gees, insluitende rasionaliteit) deur transformasiepropaganda verpulp is. Kultureel is Afrikaners fundamenteel eerder Afrikaners as Suid-Afrikaners. Dit is slegs in burgerlike opsig, dus as inwoners, bv as belastingbetalers, dat Afrikaners voortgaan om Suid-Afrikaners te wees. Diegene wat die Afrikaner by voorkeur in breër kontekste, bv as Suid-Afrikaner of Afrikaan, plaas, doen dit in ‘n poging om die identiteit van die Afrikanerdom te verwater.

Hoe buitensporig Van Rensburg getransformeer is, blyk verder duidelik uit ‘n bedenklike opmerking soos die volgende: “Dit was vir die apartheidsregering baie maklik om Afrikaans as ‘n apartheidstaal te stigmatiseer” (137). “Apartheidsregering” en “apartheidstaal” is albei hoogs oordrewe, propagandistiese begrippe. Sowel die blanke regering van destyds as Afrikaans het in oorweldigend baie opsigte kenmerke en funksies wat niks met die politiek te make het nie. “Die wêreld van Afrikaans van voor 1994 het ingrypend verander. Afrikaanse taalregte het voorregte geword” (147). Van Rensburg skryf dit sonder om beswaar te opper. Afrikaans het daarvolgens net nog ‘n onverdiende voorreg van (voorheen) bevoorregte blankes geword; dus nie iets onontbeerliks wat met toewyding en opoffering daargestel is nie; asof menseregte nie taalregte insluit nie.

Hy sal nooit daartoe instem dat Kaapssprekers tereg gewys word oor hulle buitensporige en onnodige gebruik van Engels nie. “Party van die opvolgers van Afrikaans se vroeë taalaktiviste het ongelukkig die rol van ‘n waghondbrigade met vermanings van ‘moenie so skryf nie’ en ‘moenie so praat nie’ begin speel” (133). Van Rensburg verkies eerder taalanargie. Let op hierdie tipiese verligte maar dwase opmerking van Van Rensburg: “Maar hoekom moet ‘n stryd met Engels aangeknoop word? Afrikaanssprekendes ken saamleef met ander groot tale … Die tyd van regte opeis teen Engels behoort lankal verby te wees” (145). Volgens hom moet Afrikaners dus nie vir groter taalsuiwerheid en die voortbestaan van Afrikaans stry nie; dus nie taalbulle wees nie, al is “Engels goed geposisioneer … om Afrikaans te beïnvloed” (145) en selfs te verswelg.

Dít is Van Rensburg se houding terwyl hy weet dat morsige Afrikaans al hoe meer voorkom: “In Gespreksafrikaans, dwarsoor die Afrikaanse gebruikerspektrum, by alle sprekers, op alle terreine, kan Engelse invloed uitgewys word. Dit neem nog steeds toe … Engels verryk ook, bedreig nie net nie. Verryking kan waardeer word, solank taalintegriteit nie ingeboet word nie. Taalintegriteit het te make met ruimte vir die ontwikkeling van die eie. En selfvertroue om die eie taal te gebruik waar dit nodig is. En selfs om trots te wees op wat die Afrikaanse taalinstrument kan vermag. Maar so iets kan nooit afgedwing word nie!” (146). Deur ruimskoots uit Engels oor te neem, boet Kaaps (en omgangs-Afrikaans) ongetwyfeld taalintegriteit in en ontmoedig dit eie taalkreatiwiteit. Die slegte voorbeeld wat Kaapssprekers in hierdie opsig stel, word al hoe meer deur nie-Kaapssprekers, insluitende blankes, nagevolg, gevolglik word die taaltrots van Afrikaanssprekendes ondermyn.

Van Rensburg verkondig “dat al Afrikaans se variëteite gelyk is” (137). In watter sin? In die sin dat hulle almal (in meerdere of mindere mate) bestaan. Maar hulle kan nie gelyk in invloed of belangrikheid wees nie, want party het bv baie en ander het min sprekers. Wat van deurslaggewende belang is, is dat bv Kaaps nie die oorlewing van suiwer of ordentlike Afrikaans in dieselfde mate as Standaardafrikaans kan verseker nie. Eintlik kan die brouseltaal Kaaps eerbare Afrikaans glad nie in sy stryd om naas Engels te oorleef, help nie, juis omdat Kaaps reeds eeue lank Engelsbesoedel is en al hoe meer só word. Van Rensburg skryf dat Khoi-Afrikaans, wat hy uitermate vertroetel, “steeds deel van Kaaps” is (17). Daarom sal hy Kaaps nie verwerp nie; selfs nie bloot in die groot mate wat Kaaps Engels is nie. Hieroor en om talle ander redes, wat ek hier bo probeer aantoon het, is dit my oortuiging dat Afrikaans deur die publikasie van hierdie boek eerder benadeel as bevoordeel word. Dít is allermins ‘n gunstige getuigskrif vir ‘n Afrikaanstaalkundige.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.