Leon Lemmer: Hermann Giliomee: Ou wyn in nuwe bottels

Deel op

Hermann Giliomee (gebore in 1938) is ‘n gerespekteerde historikus. Hy beywer hom vir die heil van Afrikaans in groter mate as enige lid van die huidige geslag Afrikaanstaalkundiges en -letterkundiges. Veral in hierdie opsig wek hy die indruk van ‘n behoudende Afrikaner. Hy is sekerlik nie ‘n verloopte Afrikaner nie. Maar Giliomee was in ‘n leidende hoedanigheid by die stigting van Die Suid-Afrikaan (1984-1994) betrokke. Hierdie “progressiewe” kwartaallikse tydskrif “het ‘n onderhandelde skikking en ‘n Suid-Afrika vry van diskriminasie … bepleit” (Hermann Giliomee, Die Afrikaners: ‘n Biografie (Kaapstad: Tafelberg, 2004, p 573). FW de Klerk & kie het ‘n kolossale gemors van die onderhandelinge gemaak. Sedert 1994 bestaan daar ook geensins ‘n Suid-Afrika wat vry van rassediskriminasie is nie.

Die Suid-Afrikaan het naas André du Toit redaksielede soos Welma Odendaal, Chris Louw, Riaan de Villiers, Antjie Krog en Pierre de Vos gehad (Hermann Giliomee: Historikus; ‘n Outobiografie, Kaapstad: Tafelberg, 2016, p 149 – Praag 18.03.2017). Santie Grosskopf, die ma van ‘n ANC-terroris, en Rykie van Reenen (“een van die beste joernaliste wat Suid-Afrika nog opgelewer het” – 152) het bydraes gelewer (150); ook André P Brink, Karel Schoeman, JM Coetzee (151), Richard van der Ross (152), Neville Alexander, Albert Grundlingh (154) en Jakes Gerwel (155). Verder is ‘n onderhoud met Beyers Naudé gepubliseer (152). Al hierdie mense was polities linksgesind. In ‘n 1984-hoofartikel staan: “Ons kies kant vir ‘n oop samelewing, gelykberegtiging en ‘n vreedsame skikking in Suid-Afrika” (150). Van al drie hierdie ideale het dadels gekom. Byvoorbeeld, die tydperk van 1990 tot 1994, toe Nelson Mandela op die land losgelaat is, was die gewelddadigste in Suid-Afrika se geskiedenis. “Mandela contrasted the exclusive ‘Boer republic’ with a ‘democratic republic where all South Africans will enjoy human rights without the slightest [!] discrimination” (Giliomee, 2020-bron hier onder, p 257). Enige objektiewe waarnemer weet teen hierdie tyd dat Mandela gelieg het; dat daar sedert 1994 gewetenloos in oortreffende mate op grond van ras teen blankes gediskrimineer word.

“‘n Inklusiewe Afrikanerskap” is deur Die Suid-Afrikaan voorgestaan (Giliomee, Outobiografie, p 150), maw Afrikaner-etnisiteit is verwater en verloopte Afrikaners is nie uitgesluit nie. Let op die voorkeur vir die term Afrikaan pleks van Afrikaner. Dit is soortgelyk aan die Naspers/Media24-manie dat van Afrikaanses gepraat moet word. Naas Engelse sakemanne het linkse blanke Afrikaanssprekendes, soos Albert Wessels, Anton Rupert en Willem Pretorius, gehelp dat advertensies van hulle maatskappye die tydskrif laat oorleef (150). “Daar was selde harmonie in die redaksie” (149). Die redaksie “was dit eens in ons verwerping van apartheid, maar daar was geen eensgesindheid oor wat ná apartheid moes kom nie. Die meeste was ten gunste van ‘n individu-gebaseerde meerderheidsregering, gekoppel aan verskanste menseregte” (158) – presies die onverkwiklike situasie waarmee ons sedert 1994 sit. In 1990 het Giliomee hom “vrywillig aan Die Suid-Afrikaan onttrek” (157). “Ek wou ‘n party wat oorwegend op minderhede steun, deel maak van ‘n nuwe stelsel gebou op magsdeling met ‘n formasie gelei deur die ANC” (158). Dit toon ‘n ernstige wanbegrip, want die ANC is ‘n magshonger tereurgroep wat letterlik ten alle koste die land in sy geheel wou inpalm, sodat die leiers veral hulle eiebelang kon bevorder.

Waar Giliomee polities was, blyk uit die feit dat hy een van die 61 Suid-Afrikaners was, hoofsaaklik Afrikaanssprekendes, wat in 1987 ANC-lede in Dakar, Senegal, ontmoet het. Hierdie byeenkoms is deur George Soros gefinansier (162). Wat ek probeer aantoon, is dat Giliomee geneig is om verkeerde vriende te hê en hy daarby te veel vertroue in hulle stel. Byvoorbeeld, in 2006 het die Vlottenburg-beraad oor die situasie van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) plaasgevind. Die twee hoofvernietigers van Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), Jakes Gerwel en Jaap Durand, was lede van hierdie groep; ook Neville Alexander, wat ‘n valse profeet vir Afrikaans was (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 148). Wat Gerwel en Durand, twee militante ANC-kornuite, gedoen het, is om die historiese verantwoordelikheid van die UWK vir Afrikaanssprekende bruin studente op die US af te skuif. In sy jongste boek bedank Giliomee vir “Albert [Grundlingh] for exchanging ideas on history and university life” (2020-boek hier onder, p 2), maar Grundlingh het eintlik nog nooit pro-Afrikaans- of selfs pro-Afrikaner-geluide aan die nuwe US gemaak nie, terwyl hy wel vir Russel Botman gehelp het om ‘n skewe pro-bruin voorstelling van die Slag van Andringa-straat die wêreld in te stuur (Praag 13.09.2015).

Soos baie eens verligte Afrikaners is Giliomee ontgogel deur die ANC-bewind. Hy was aanvanklik ‘n US-dosent, maar van 1983 tot 2002 was hy ‘n dosent aan die Universiteit Kaapstad (UK). Sy progressiewe of oorverligte era hang saam met minstens die eerste dekade van sy UK-dienstyd. Verlede jaar het Giliomee ‘n bundel opstelle gepubliseer, The rise and demise of the Afrikaners, (Cape Town: Tafelberg, 2019, 360p, R350; Amazon Kindle $25,30). Die teks bestaan uit reproduksies van 15 artikels wat van 1983 tot 2018 gepubliseer is, plus ‘n enkele ongepubliseerde voordrag. Dertien hiervan is in die oorspronklike Engels. Geen poging is aangewend om hierdie bundel, soos sommige van Giliomee se vorige boeke, in Afrikaans te publiseer nie.

Ek het ‘n omvattende bespreking van laasgenoemde boek geskryf (Praag 16.02.2019). Van die opmerkings wat ek toe gemaak het, is ook op sy jongste boek van toepassing: “Giliomee is een van die bekendste vegters vir Afrikaans. Dat hy dit nodig vind om deesdae hoofsaaklik in Engels te publiseer, toon hoe Afrikaans sedert 1994 as akademiese taal agteruitgegaan het.” Die aandag word gevestig op “Giliomee se geneigdheid om te herhaal, selfs woordeliks, wat hy in sy vorige boeke gepubliseer het … Dit is ‘n geval van herhaling binne hierdie bundel en ook herhaling van wat reeds in sy ander boeke staan.” “Vir ‘n behoorlike waardering van Giliomee se werk is dit noodsaaklik dat die tyd waarin elkeen van die opstelle geskryf is, in ag geneem word.” Die ergste vergryp waaraan Giliomee hom in sy 2019-boek skuldig maak, is om die boek af te sluit met ‘n sin wat op ‘n Tim du Plessis-dwaasheid gebaseer is: “The future of Afrikaans is literally in coloured hands, and so is the future of the Afrikaners.” As dit waar sou wees, is sowel Afrikaans as die Afrikanerdom tot ondergang gedoem.

Giliomee se jongste boek is Maverick Africans: The shaping of the Afrikaners (Cape Town: Tafelberg, 2020, 326p, R350; Amazon Kindle $25,30). In die hooftitel word daar weereens voorkeur aan die benaming Afrikaan bo Afrikaner gegee. Laasgenoemde term kom eers in die newetitel voor. Histories was Afrikaners aan Suid-Afrika gebonde, asook in ‘n beperkte mate aan ander lande in Suidelike Afrika, maar nooit aan (swart) Afrika as sodanig nie. Myns insiens kan Afrikaners in ‘n tuisland buite Afrika as Afrikaners floreer. Plaaslik word so ‘n tuisland nie net al hoe meer onwaarskynlik nie, maar ook ongewens weens die verval in die land as ‘n geheel en Afrika se voortgesette tradisie van ellende.

Hierdie keer dateer die artikels uit 1981 tot 2010. Drie van die 10 hoofstukke (4, 8 en 10) is nie voorheen gepubliseer nie maar is nie vry van herhaling van wat reeds voorheen deur Giliomee geskryf is nie. Die inhoud is in twee dele verdeel. Vir elk van die dele het Giliomee ‘n inleiding geskryf. In die voorwoord gee hy ‘n voorsmakie van wat volg: “Until 1994 a stable and professional [government] service supervised by the Public Service Commission was one of the country’s strengths” (p 1). Maar hy het reeds uitgebreid hieroor in sy 2019-boek, hoofstuk 4, geskryf. Die teks van al die hoofstukke bestaan net in Engels. Daar is klaarblyklik weer geen sprake van ‘n Afrikaanse uitgawe van die boek nie.

Diegene wat Giliomee se vorige boeke gelees het, kan verneuk voel omdat sy jongste boek te min inligting bevat waarvan hulle nie reeds kennis dra nie. Hopelik is Giliomee se voorraad artikels, wat herpubliseerbaar is, nou uitgeput en sal hy volgende keer met nuwe skryfwerk, wat nuwe inligting bevat, vorendag kom. Ek gaan die boek nie hoofstuk vir hoofstuk bespreek nie. Ek volstaan met fragmentariese opmerkings.

Ooreenkomstig die nuwe mode gebruik Giliomee die benaming “the South African War” (bv 41, 42, 44, 73). Dit is om erkenning te gee aan die rol wat nieblanke groepe (hoofsaaklik aan die kant van die Britte), naas die Britte en die Boere, in die oorlog gespeel het. Die term Boer, waarop ek baie trots is maar deesdae dikwels gediskrediteer word, word sodoende vermy. In die indeks kom die eienaardigheid voor dat daar ‘n inskrywing, “Anglo-Boer War (South African War)”, is (318) maar geen inskrywing vir “South African War” nie. Laasgenoemde is die benaming wat by voorkeur in die teks gebruik word.

Soms slaan Giliomee se (historiese) linksheid steurend deur, bv “Important was the extent to which the indigenous Bantu-speaking African society, as distinct from the Khoisan people, survived the impact of European colonisation, withstanding not only their firepower but also European diseases and alcohol as means of conquest” (74). Giliomee wek die indruk dat die blankes, ten einde die nieblankes te onderwerp, doelbewus siektes en drank onder hulle versprei het.

Toe John Vorster die staatshoof was (1966-1979), het hy graag gesê Suid-Afrika is ‘n klein land of ‘n klein nasie; dat ons onbeduidend in wêreldperspektief is. Die Tsjeggiese skrywer, Milan Kundera (gebore in 1929), het ‘n soortgelyke aanvoeling. In die epigraaf word hy soos volg uit sy essay, Testaments betrayed (1993), aangehaal: “Small nations. The concept is not quantitative; it points to a condition; small nations lack that felicitous sense of an eternal past and future; at a given moment in their history, they all passed through the antechambers of death. In constant confrontation with the arrogance and ignorance of the mighty, they see their existence as perpetually threatened or with a question mark hovering over it; for their very existence is the question” (v, 217-218). Geen wonder dat Kundera hom mettertyd eerder as ‘n Fransman beskou het nie. Watter opsie, indien enige, het Afrikaners? Vir my is dit aangewese om ‘n bittereinder-Afrikaner te bly.

Kwantitatief het die situasie van die plaaslike blankes ernstig verswak, om van die politieke opset nie te praat nie. “In 1910 Africans in South Africa numbered just over 4 million and formed about two-thirds of the total population of 6 million, while there were 1,2 million whites, representing about one-fifth of the country’s population. The African population would grow to 12,6 million by 1951 and to 45 million by 2018, when they formed nearly four-fifths of the country’s population” (9). Gedagtig aan bv al die (onwettige) inkommers, is dit waarskynlik ‘n onderskatting van die getal swartes.

“On the eastern frontier government attempts at enforcing territorial separation between the colonists and Xhosa were undermined because so many farmers insisted on retaining the services of their Xhosa herdsmen and on trading with the Xhosa beyond the colonial boundary” (10). Die skuld vir die destydse probleme aan die Oosgrens (bv Groot-Visriver) word hiermee eensydig op die blankes geplaas. Die Xhosas het die grens dikwels oorgesteek vir bv weiding en moord- en rooftogte. Weens die Nobel-bekroonde staatmanskap van FW de Klerk het die swartes die land sedert 1994 tot in die Parlement in Kaapstad binnegedring.

“It was not Calvinism or racism that was decisive in the formation of Afrikaner nationalism but the Westminster-styl electoral system, which favoured the largest ethnic group in the electorate” (13). “The Westminster system encourages politicians representing a large ethnic community or a powerful corporate group in the electorate to join together by excluding any marginal community that holds the balance of power” (222). De Klerk & kie sou van die Westminster-stelsel ontslae geraak het, maar soos in feitlik iedere ander opsig is aan die eise van die terroristiese ANC toegegee, gevolglik sit ons sedert 1994 met verswelgende swart meerderheidsregering. Apartheid/rassesegregasie was/is ‘n noodsaaklikheid vir blanke oorlewing. Dit was dié manier waarop geregtigheid ten minste aan die blankes verseker kon word. Deesdae word die klem uitsluitlik op geregtigheid vir die nieblankes geplaas.

“In the year 1929 … the word ‘apartheid’ appeared in print for the first time” (15; ook 143, 225). Ton Vosloo noem egter dat Jan Smuts hierdie woord reeds in 1919 in ‘n toespraak gebruik het (Praag 31.08.2018). Vosloo beweer dit seker op grond van dokumentasie. Hoe anders sou hy dit weet?

Om polities byderwetse redes word deesdae op ‘n oordrewe manier voorgegee dat verbastering destyds op groot skaal onder blankes voorgekom het. Dit was klaarblyklik nie die geval nie. “In 1807 only five per cent of a sample of 1 063 children baptised in that year in the Reformed and Lutheran churches had a grandparent classified by genealogists as ‘non-European’ (invariably a female)” (28). “JA Heese, a genealogical researcher, has estimated that seven per cent of modern-day Afrikaner families have a non-European stammoeder or progenitress” (22). Breyten Breytenbach (‘n Seisoen in die Paradys, 1976, p 121) oordryf dus as hy beweer: “Afrikaners were a ‘bastard people’ with a ‘bastard language’ whose destiny was ‘to decompose’ in order to come together in new forms” (Giliomee, 2019-boek, p 77). Giliomee noem dat bv die Du Plessis-, Esterhuyse- en Carstens-families reeds vroeg verbaster het (2020-boek, p 23). Sou dit die gedrag van sommige lede van die nageslag verduidelik?

By die geboorte van ‘n blanke boer se kind in die binneland kon dit gebeur dat sy vrou “have no assistance other than that of a Hottentot woman, without being able to understand one another” (25). Ter wille van die oorbeklemtoning van nieblanke invloed op Afrikaans gee bv Christo van Rensburg en Wannie Carstens egter (valslik) voor dat die Khoi-Khoin en die blankes destyds dieselfde (of ten minste ‘n soortgelyke) variant van Hollands gepraat het.

“Developments on the eastern frontier produced a fury among white frontier women against British rule” (53). “A British settler on the frontier wrote while the trek was getting under way: ‘They fancy they are under a divine impulse’, adding that ‘the women seem more bent on it than the men'” (34). Later, in Natal, was dit Voortrekkervroue (bv Susanna Smit) wat hulle heftig teen Britse oorheersing verset het. “Dislike of English rule was particularly strong among the women” (34). Tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) “women urged their menfolk to actively resist the British authorities” (35). Tydens die Anglo-Boereoorlog het Afrikanervroue baie gely. Desnieteenstaande is daar (redelike) eenstemmigheid dat dit veral hierdie vroue is wat tot die bittereinde wou voortveg; toe baie van die Boerekrygers eerder wou oorgee. “Most insisted that their husbands and sons had to continue fighting, even to the death … A British officer noted after two months of farm burning that, without exception, the woman said that they would not give in” (36). “The women are the fiercest advocates of war to the bitter end … There is no doubt the women are keeping up the war and are far more bitter than the men” (37).

Maar waar is die Afrikanervroue wat hulle deesdae teen die ANC-regime verset? Dit is linkse ANC-kruipende vroue wat die toneel oorheers; gevalle soos Christi van der Westhuizen, Amanda Gouws, Lizette Rabe, Ena Jansen, Antjie Krog, Ruda Landman, Willemien Brümmer, Elmien du Plessis en die liggewig Azille Coetzee. Ná die Rebellie (1914-1915) “some 4 000 women marched to the Union Buildings, where they presented a petition to Lord Buxton, the governor-general. After the rebellion [JBM] Hertzog declared: ‘Perhaps they were the greatest rebels'” (39). Deesdae is hierdie blanke optog feitlik vergete. Wat ons deesdae jaarliks tydens Vrouedag moet aanhoor, is hoe hoofsaaklik swart vroue in 1956 na die Uniegebou opgeruk het omdat hulle hardegat oor die dra van passe was.

In 1853 het die Britte verteenwoordigende regering aan die Kaap ingestel. Minder as ‘n kwart van die kiesers was Brits (92). Aanvanklik was daar by Afrikaners min belangstelling in die politiek. “Although Dutch-Afrikaners accounted for roughly 70 per cent of the Cape’s white population, the proportion of Dutch-Afrikaner representatives in Parliament ranged from only 32 to 36 per cent between 1850 and 1870. At the constituency level great apathy reigned. In 1869 a canvasser found that nine-tenths of young farmers under the age of 26 in his area had not troubled to register as voters … Many of the constituencies were not even contested, with nearly half going unopposed in the 1869 election” (96-97). “The Dutch-Afrikaners were ‘the ideal prefabricated collaborators’ in helping to secure British power and influence” (98). In 1990/94 het dit baie erger daaraan toe gegaan toe ‘n groepie Afrikaanssprekende blankes dit waaragtig reggekry het om mandaatloos ‘n swart meerderheidsregering aan die bewind te plaas. Sedert 1994 lyk dit asof die politieke apatie van die middel-dekades van die 19de eeu weer in Afrikanergeledere toegeslaan het.

“The [Cape] government in 1865 abolished Dutch as a medium of instruction in government schools and imposed English as the sole medium” (98). Hierteen het Afrikaners destyds glad nie genoeg geprotesteer nie. Verengelsing het bv groot steun in die geledere van die NG Kerk geniet (109). “Dutch-Afrikaner society was losing some of its brightest minds through the steady process of anglicisation” (106). In 1874 het die regering opgehou om predikante se salarisse te betaal. “In the early 1880s the [DR] church suddenly became prominent in the agitation for the recognition of Dutch as an official language. In growing numbers ministers of religion and teachers … asserted a close link between language and nationality” (119).

In die tweede helfte van die 20ste eeu wou die NP-regering swart skoliere in hulle eie belang optimaal vir die arbeidsmark voorberei. Daar is gevolglik probeer om die onderrig in swart skole in sowel Engels as Afrikaans aan te bied. Hoewel dit sekerlik nie die enigste rede is waarom die Soweto-onluste in 1976 uitgebreek het nie, word die gebeure deesdae by voorkeur aan “gedwonge” Afrikaansonderrig toegeskryf. Die dood en verwoesting wat gesaai is, word jaarliks feestelik op Jeugdag herdenk. Herhaaldelik word beweer dat Afrikaans nooit weer aan enigeen opgedring mag word nie. Sedert 1994 is die ANC-regime besig om Engels op alle gebiede en vlakke aan almal op te dring, maar in hierdie geval word daar nie beswaar geopper en “nooit weer” gesê nie. Dit is Afrikaans wat vir verguising uitgesonder word.

Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), wat in 1875 in die Paarl gestig is, word “the first Afrikaner [nationalist] political movement” genoem (41). Dit verduidelik waarom die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, wat deesdae (oorwegend) in die beheer van bruin mense en die ANC-regime is (Praag 15.02.2020), so onwillig is om die deurslaggewende rol van die GRA in die geskiedenis van Afrikaans te erken. Een van die GRA-stigters, CP Hoogenhout, “saw the potential of Afrikaans as the basis of a cultural ethnic awareness to oppose English hegemony” (108). Die GRA-voorsitter, SJ du Toit, was van mening “that no nationality could de formed without its own language” (109). Die GRA het gesorg vir die begin van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging (112).

Die Britse anneksasie van die Transvaal (1877), die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881), die Jameson-inval (1895-1896), die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) en die Rebellie (1914) het Afrikanernasionalisme verder gestimuleer. “It was … in the aftermath of the Rebellion that the most powerful of the churches, the DRC, really began to rally behind the [Afrikaner] ethnic movement and ideology” (131). Afrikaners in die Vrystaatse Republiek “wanted this nationality to be like a wall around them to protect them against foreign intrusion” (126). President MT Steyn het toe ‘n groot waarheid kwytgeraak: “The language is the people and if we neglect our language we would have to expect the gradual atrophy of our national existence” (126). Is dit nie presies wat sedert 1994 sienderoë gebeur nie?

In die geval van die Xhosa (soos by die ander inheemse swartes) “land was controlled by the community rather than by the individual” (45). “The Afrikaners introduced the concept of individually owned land” (46). “The ANC slogan Mayibuye iAfrika is a demand for a return of the land of Africa to its indigenous inhabitants” (205). Met die beleid van onteiening sonder vergoeding van blankes se grond (en ander besittings, bv die verbeterings wat op plase aangebring is), beoog die ANC om terug te keer na die era voor Westerse beskawing plaaslik neerslag gevind het. Die onteiende eiendom word boonop staatsbesit, wat neerkom op die uitlewing van die ANC se marxisme.

“Toward the end of the Transvaal Republic, the government was both unwilling and unable to use effective measures to compel Africans to work or to redistribute African labour, and the small farmers began complaining vociferously that they were forced to work themselves and to ‘use their children as [Africans] in order to hold their own'” (79). Maar besitoorname van alle plase in blanke besit, of hulle met of sonder nieblanke arbeid in stand gehou word, is in die ANC-regime se visier. Die Britse koloniale regering het bv in Kenia ‘n hutbelasting ingestel om swartes te verplig om te werk en geld te verdien sodat hulle die hutbelasting kon betaal. Sedert onafhanklikheid in 1963 het alles wat die blankes in Kenia tot stand gebring het, met of sonder die hulp van hierdie (onwillige) swart werkers, in die skoot van die swart regering geval. Dit word geregtigheid (“justice”) genoem.

Die ANC-regering beskerm plakkers op blanke plase sover moontlik. Dit is ‘n probleem wat reeds geruime tyd bestaan. “One farmer … had to accommodate 40 families and provide pasture for their 400 cattle, but could only draw on the labour of three young Africans for the full year and an additional twenty for two months per year” (79). As ‘n nieblanke eens op ‘n plaas gewerk of geplak het, het hy deesdae skynbaar die onvervreembare mensereg om op daardie plaas begrawe te word. Dit impliseer ook die reg van sy (uitgebreide) familie en vriende om tydig of ontydig op die plaas te kom om die graf te besoek. Die familie van ‘n (blanke) neef van my wou hom begrawe op die plaas waarop hy grootgeword en jare lank geboer het. Die nuwe (blanke) eienaars van die plaas het egter toestemming geweier. Die familie was verplig om hom in die dorp se begraafplaas ter ruste te lê. As ‘n blanke boer sou weier dat ‘n swarte op sy plaas begrawe word, sou daar ‘n helse bohaai wees. Ons het hier met dubbele standaarde ter benadeling van blankes se belange te make.

Oor die blanke Coenraad de Buys en sy (verbasterde) volgelinge skryf Giliomee: “A loss of European identity occurred, as these whites lacked the numbers and institutions to withstand the pressures of a vigorous indigenous culture” (46). Deesdae doen die massa-inligtingsmedia, bv Netwerk24/Media24, alles in hulle vermoë om Afrikaners se identiteit af te breek en hulle aan swart verswelging uit te lewer. Byvoorbeeld, aan rasgemengde en selfdegeslaghuwelike word baie en deurgaans gunstige publisiteit verleen. Suiwerder Afrikaans word nooit bepleit nie. Kaaps word verheerlik pleks van dit as ‘n brouseltaal te verdoem.

“In order to maximise profits, the Dutch East India Company kept its complement at the Cape as small as possible. In the 1790s, the last years of Company rule, there was a garrison of only a thousand men stationed at Cape Town” (57). “The government was unable to provide services and afford protection to the pioneering frontier, and the pioneers had to rely on themselves for political and military action” (58). “Afrikaners on the frontier had little to bind them together politically except the commandos” (59). Daarna, tydens die Britse bewind, het dit nie veel beter gegaan nie. Die Britte het op groot skaal van nie-blanke soldate/pandoers gebruik gemaak, wat vir die Boere onaanvaarbaar was.

Wat ek verwerplik vind, is dat historici nie genoegsaam aandag vestig op die mate waarin die Boere (en selfs die 1820-Britse setlaars en hulle nageslag) aan hulle lot oorgelaat is nie. Die destydse toestande aan die Kaap en in bv Algerië word nie vergelyk nie. In Algerië, anders as aan die Kaap, kon die blankes op uitstekende militêre beskerming staatmaak (Praag 16.11.2019). Hoekom word hierdie verskil nie uitgewys nie? Seker omdat dit die destydse plaaslike blankes in ‘n beter lig sou stel. Om dieselfde rede word die uitmuntende prestasie van blankes oor eeue, ver van Europa in Suidelike Afrika, nie genoeg beklemtoon nie. Om in so ‘n eens moeilik bereikbare geografiese gebied – en daarby in Afrika – Westerse beskawing/kultuur/waardes te vestig, was en is ‘n ongelooflike prestasie. Dit is waarom sommige blankes se verbittering en wanhoop oor die eskalerende agteruitgang sedert 1994 maklik verstaanbaar is. Maar daar is baie verloopte Afrikaners wat voorgee dat die situasie sedert 1994 verbeter het. “That whites would always stick together was not a foregone conclusion” (60).

“How far the class cleavages within Transvaal and Free State white society had developed became starkly clear when more than a fifth of the Afrikaners in the field came to fight on the side of the British by the end of the South African War. Of the roughly 5 000 ‘joiners’, the vast majority had been bywoners. In some sense this act of treason was a rebellion against class exploitation. A recent study cites evidence of serious pre-war bywoner discontent. In the 1880s and 1890s they had to go on commando against Africans without any recompense to defend the property of landholders, while their families were destitute. The ‘joiners’ of the Boer War clearly hoped that the British would offer them a better dispensation” (81; ook 94). Sedert 1994 is die situasie die omgekeerde. Dit is die elite onder die blanke Afrikaanssprekendes (bv dosente, politici en joernaliste) wat skaamteloos en gewetenloos ‘joiners’ van die ANC-regime geword het. Afrikaan-Afrikaanssprekendes, dus verloopte Afrikaners, het (deels) die plek van Anglo-Afrikaners ingeneem.

Rasseskeiding het lank voor 1948-apartheid bestaan. “The [Dutch] Reformed Church showed no enthusiasm for admitting large numbers of non-white converts into the local congregations” (138). “A trend, starting in the 1830s, to segregate Coloured members of the Dutch Reformed Church found expression in the establishment of separate Coloured congregations and culminated in the founding of the Dutch Reformed Mission Church in 1881. Schools were racially segregated [in the Cape] in 1893” (110). “By 1920 education in South Africa was fully segregated” (142). “By the second half of the 1930s the United Party government was moving towards segregated suburbs for people who were not white” (154). Die volgende voorstel van Andrew Murray sr (1794-1866), vader van die bekender Andrew Murray jr (1828-1917), is in1857 tydens ‘n NGK-sinode aanvaar: “In cases where ‘the weakness of some’ hindred the spreading of the Gospel, the synod agreed that people might practice their Christian faith in a separate building” (139).

ANC-aktiviste, soos Allan Boesak, het groot genot uit die wanvoorstelling van hierdie besluit geput. “It was important that Coloured Christians should understand their place in the status hierarchy and should not challenge the social order” (138) – iets waartoe Boesak nie in staat is nie. “The church had no intention of drawing a rigid colour line. Indeed, the same synod decided to accept the St Stephen’s parish of ex-slaves as a full member of the DRC” (140). Dit is tot op hede die geval. “The funds for mission work [and the Mission Church] were overwhelmingly from the white church” (141). “The DRC was the only large church in the country that had to rely exclusively on local funding for missionary work” (143). Dit is dus te betreur dat die NG Moederkerk soveel ondankbare kritiek van die NG Sendingkerk en sedert 1994 van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) moet verduur. “In 1982 the Coloured and African ‘sister’ DRC churches, particularly the Sendingkerk [Boesak], wielded sufficient influence to have the (white) DRC suspended from the World Alliance of Reformed Churches” (163) – ‘n klassieke voorbeeld van stank vir dank.

Giliomee, bekend vir sy oorverligtheid jeens bruin mense, skryf waaragtig: “No one at this stage [1881] could anticipate that the DRC would later be so miserly and authoritarian in its control of the Mission Church that the relationships in the DRC ‘family’ would be severely strained” (141-142). Dit is ‘n hoogs problematiese en eensydige siening. Dit is die VGK wat halstarrig weier om gesprek met die NGK te voer. Die VGK se ononderhandelbare voorwaarde vir gesprekvoering oor kerkhereniging is dat die NGK eers die Belhar-belydenis ongekwalifiseerd moet aanvaar. Die VGK munt sedert sy ontstaan in 1994 uit in liefdeloosheid jeens die NGK. Die VGK openbaar ook geen voorliefde vir Afrikaans nie. Die ver- of hereniging van die NGK en die VGK sou die doodsklok vir Afrikaans as kerktaal lui.

Hoewel ‘n mens ‘n meer genuanseerde standpunt van ‘n historikus verwag, distansieer Giliomee hom sonder meer van apartheid. “Segregation and apartheid were indefensible” (182). Twak! Die oorlewing van blankes en blanke beheer oor die land was noodsaaklik. Die instrument wat daarvoor gebruik is, is rassesegregasie/apartheid. Dit het (oënskynlik) eerder om praktiese as morele oorwegings gegaan, maar almal kon in groter mate by so ‘n opset baat as by ongebreidelde, immorele swart oorheersing, dus ‘n beter ekonomiese én morele situasie as tans. “By 1994 the country was the most developed in Africa … the best infrastructure in Africa, the lowest electricity prices and a better-housed urban population (of all races) than in any other African country. The ANC inherited the richest and best-run state in Africa … In 25 years they [the ANC regime] turned 3,7 million unemployed into 10 million” (182).

NP van Wyk Louw, ‘n lid van die Afrikaner-Broederbond, het in 1958 met die frase “voortbestaan in geregtigheid” as riglyn vir die plaaslike blankes, veral die Afrikaners, vorendag gekom (230). “[He] insisted that national death might be preferable to a form of ethnic survival based on injustice” (277; ook 278). Vir die blankes was dit egter noodsaaklik om groter waarde aan oorlewing as aan moraliteit te heg. In elk geval: Het geregtigheid sedert 1994 die plek van apartheid ingeneem, of eerder meer en groter ongeregtigheid? Daar is nou nuwe ongeregtighede en ook ‘n voortsetting van vorige ongeregtighede, bv rassediskriminasie; hierdie keer ten koste van veral die blankes. Byvoorbeeld, Piet Cillié het uitgewys dat dit vir die blankes primêr om oorlewing gegaan het en nie (altyd) om moraliteit nie (216). Apartheid “was an attempt to secure the Afrikaner’s self-determination” (239; ook 244). “Without a privileged position the Afrikaners could not survive as a separate people; without safeguarding the racial separateness of the people a privileged position could not be maintained” (247). Soos John Vorster dit gestel het: “Apartheid was simply not a goal in itself but an instrument in the service of stability and security” (260). Die waarheid van hierdie stelling blyk uit die chaos waarin die land sedert die afskaffing van apartheid verval het.

Grondliggend is daar die noodsaaklikheid dat verskille by mense erken moet word. DF Malan “refers to the fundamental difference between two groups, white and black … ‘The difference in colour is merely the physical manifestation of the contrast between two irreconcilable ways of life [ie cultural differences] … [and] between overwhelming numerical odds on the one hand and insignificant numbers on the other'” (315). Dit is waarskynlik Piet Cillié wat geskryf het: “We can find in all of Africa not a shred of evidence that black nationalists would be prepared to pull together in a single yoke with white volksgroepe [communities]. Nothing that has happened since the introduction of the policy of partnership in the Federation of Rhodesia and Nyasaland offers any evidence that the black man would accept partnership except perhaps as a transition phase in the march to black baasskap” (228). Selfs die kortstondige Regering van Nasionale Eenheid in Suid-Afrika (1994-1997) was vir die ANC/SAKP onaanvaarbaar tensy hierdie kamerade onbetwisbare baasskap geniet.

John Vorster het tereg gesê: “For us Afrikaners there won’t be a second chance if we lost power” (237). Weens die ruggraatloosheid, ens, van FW de Klerk & kie, is dit presies wat gebeur het. Donald Horowitz verskaf die volgende perspektief: “The problem is not democracy ‘but ascriptive majority rule with skin colour the determinative factor. It kills democracy by turning elections into “censuses” in which the election result reflects the population mix rather than any policy preferences. It entrenches the largest ethnic or racial group in power, locking minorities out'” (240). Die nuwe Suid-Afrika is ‘n toonbeeld hiervan.

“There can hardly be any doubt that religion and nationalism were the main ideological forces that impacted on the Afrikaners during the twentieth century. The two were interrelated. Without nationalism it is unlikely that the DRC would have remained as ridigly segregated as it was until the final decades of the [20th] century, and without the DRC’s endorsement of the policy of apartheid, it would never have assumed its extreme form” (146). Giliomee gaan darem nie sover soos Leopold Scholtz deur apartheid herhaaldelik “verfoeilik” te noem nie. Giliomee toon goeie insig wanneer hy skryf: “Much of the talk about a peaceful transfer op power in South Africa misses the fundamental point: that Afrikaners and the larger white nation consider their sovereignty as precious. It is not something to be bartered away” (201), maar dit is presies van De Klerk & kie mandaadloos gedoen het.

Giliomee kom ook met ‘n raak karakterisering van die ANC vorendag: “The ANC insists on the forced unification of ethnic groups in a homogeneous nation” (207). Hieruit volg dat die voortbestaan van die Afrikerdom en Afrikaans volgens die ANC ongewens is. Giliomee het in 1989 geskryf: “Whites and blacks have no option but to find a way of living with one another that meets the crucial need for identity, dignity and security of all” (209). Vir blankes faal die huidige opset in al drie hierdie opsigte skouspelagtig.

Verder kom Giliomee darem tot die volgende gevolgtrekking: “There are no convincing historical grounds for the later widely held belief that they [Afrikaners] tended to consider themselves as a uniquely chosen people who had a covenant with God” (90). Byvoorbeeld, “DF Malan rejected the idea that the Afrikaners considered themselves as a uniquely chosen people” (150). Daar is die verband van “the Tower of Babel to God’s plan to settle different nations in different regions. Although theologically a liberal, DF Malan also clung to this outdated [?] interpretation of the Tower of Babel” (152). “As late as 1974 the Dutch Reformed Church synod reaffirmed the stale [?] story of Babel as a parable of God’s creation of distinct peoples” (165).

“The DRC finally broke with apartheid at its 1986 and 1990 synods … The church had made a major about-turn, but for some critics this was insufficient: they wanted the church to state that it had acted out of malign and sinful intent in helping to design apartheid in the 1930s and 1940s” (165). Daarna loop die gebeure die geykte ANC/SAKP-pad: Apartheid is ongekwalifiseerd tot sonde verklaar en die NGK kon nog nooit genoeg verskoning vir sy sondigheid vra nie.

Die onstilbare rassisme van die ANC-regime word seker deur geen ander verskynsel beter geïllustreer as die transformasie (en gevolglik korrupte ondoeltreffendheid) van die staatsdiens nie. “Afrikaners did not insist that the top levels of the civil service had to reflect the ratio of Afrikaners to English in the country. It was only in the early 1960s [mid-1960s – 184] more than 50 years after Union in 1910, that the upper half of the central state’s civil service reflected the make-up of the white population. After the regime change of 1994 it took only thirteen years to reflect the white-black ratio at these levels” (175). “The Afrikanerisation of the public sector was in fact a gradual process instead of a sudden take-over” (190). “The NP never had a policy to transform the civil service in such a way that it became demographically representative of the white population in its upper levels” (191). Die rassistiese ANC-regime het blankes op groot skaal uit hulle staatsdiensposte gewerk. In hierdie proses is onbeskryflike onreg teen derduisende blankes gepleeg, maar hieroor word selde ‘n woord gerep. ‘n Nuwe generasie armblankes is geskep, maar feitlik geen publisiteit word hieraan gegee nie. Die NP-regering het op ‘n tweetalige (Afrikaans en Engels) staatsdiens aangedring (198), terwyl die ANC-regime dit in ‘n eentalige Engelse “diens” getransformeer het.

Sedert 1994 word daar ook druk op die private sektor uitgeoefen om op ‘n rassistiese grondslag te transformeer, bv in personeelsamestelling en aandeelhouding. Dit is iets wat nie tydens die blanke bewind gedoen is nie. Maar dan is dit die blankes wat voortdurend van rassisme beskuldig word. Ná 1910 “no obligation was imposed on the English-speaking business community to ’empower’ the Afrikaners or any other group … South Africa was unique in the sense that there never was any serious threat of nationalisation, despite the fact that by 1939 English-speakers controlled 80 to 90 per cent of the economy, apart from agriculture” (176). Histories het Afrikaners veral twee sektore oorheers, te wete die landbou en onderwys. Sedert 1994 word plase onteien terwyl veediefstaf en plaasmoorde floreer. In die onderwys word transformasie as verskoning gebruik om by voorkeur nieblanke, veral swart, dosente aan te stel, al kan dit in baie gevalle nie akademies geregverdig word nie. “RW Johnson argues that since 1994 the African National Congress has failed to provide South Africa with a new ruling class capable of developing the country” (181).

Oor die 1955-Vryheidsmanifes skryf Giliomee: “The Charter’s use of the term ‘national’ is ambiguous. One of the key phrases reads, ‘All national groups shall have equal rights’, which, some of the Charter’s critics claim, suggest the creation of four nations – Africans, Coloureds, Indians and whites. Another clause states: ‘The national wealth of our country, the heritage of all South Africans, shall be restored to the people.’ Charter suppporters argue that the word ‘national’ refers to all South Africans, but the word ‘restore’ may suggest that it has primarily Africans in mind. And then, of course, there is the Charter’s ringing opening phrase: ‘South Africa belongs to all who live in it, black and white, and … no government can justly claim authority unless it is based on the will of the people.’ This again suggests a liberal-democratic approach to self-determination” (202). Wat duidelik is, is dat die bedoeling met die opstel van die manifes en die vertolking en toepassing daarvan die bevoordeling van swartes en die benadeling van blankes is. Die ANC se “primary task is the ‘national liberation of the largest and most oppressed group – the African people'” (207).

Beyers Naudé (1915-2004) staan bekend as een van die mees verloopte Afrikaners. Hy het selfs die ANC se terrorisme met woord en daad ondersteun. Hy het in die teenoorgestelde van sy pa ontaard. “Only one of the delegates of the bittereinders at the Vereeniging assembly of May 1902 proposed the Dutch language as the basis for future survival. He was Jozua François Naudé [1873-1948], a 29-year-old Transvaal teacher, later a co-founder of the Afrikaner Broederbond. Naudé reminded delegates that one of the conditions set by the bittereinders in the field was to have the right of the Dutch language guaranteed. Dutch ‘was of great significance to the volk, forming a channel through which the volk could again become volk.’ He refused to sign the peace treaty … Naudé … argued that without a language as the symbol of their national identity the Afrikaners would not survive as a people” (219). Dit is wat ek ook bepleit. Standaardafrikaans, oftewel ordentlike Afrikaans, dus nie Kaaps nie, is skering en inslag vir die voortbestaan van die Afrikanerdom. Jozua Naudé was sekerlik ‘n regte of ware Afrikaner. Sy nagedagtenis word nie genoeg gehuldig nie. Pleks daarvan word die verlooptheid van Beyers Naudé dikwels verheerlik.

Onder lewendes is Wim de Villiers (gebore in 1959) ongetwyfeld een van die mees verloopte Afrikaners. Soos Beyers Naudé het hy in die teenoorgestelde van sy pa, die Broederbonder AB de Villiers, ontaard. Voordat Wim op 1 April 2015 diens as rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) aanvaar het, het hy aan die aanstellingskomitee die versekering gegee dat die posisie van Afrikaans aan die US “ononderhandelbaar” is. Op 12 November 2015 het Wim, met die ondersteuning van sy bestuurspan, egter op die US-webwerf aangekondig dat hy Engels met ingang 2016 “die primêre taal van kommunikasie en administrasie” aan die US wil maak (Praag 28.11.2015). Wat hierdie aankondiging nog meer skandalig maak, is dat die US juis in 2015 doelbewus versuim het om Jan Marais ‘n eeu na sy dood te huldig. “Stellenbosch University turned itself into an English-medium university in 2017” (Giliomee, 2020-boek, p 280), strydig met die stigtingsvoorwaarde van die skenker, Johannes Henoch (Jan) Marais (1850-1915), dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere pleks as Engels mag beklee nie. Tot op hede het Wim nog nie eksplisiet erken dat die US onder sy leiding hierdie stigtingsvoorwaarde minag nie. Tydens die US-eeufees in 2018 is hierdie feit deurgaans verswyg. Giliomee skryf: “Nowhere had I seen a university so blatantly misleading the public” (282). “What is so heart-breaking about the demise of Afrikaans at Stellenbosch University is the leading role of Afrikaners (or, to use the more neutral term, white Afrikaans people) in the downgrading and marginalisation of Afrikaans” (283). Die etiek-kolos, Anton van Niekerk, wat hom graag oor alles en nog wat uitlaat, veral as hy houe teen Afrikaners en Afrikaans kan inkry, swyg soos die graf oor die nie-nakoming van Jan Marais se US-stigtingsvoorwaarde.

Maar ek wil iets oor Wim se voorgeslag uitwys wat blykbaar nog nooit eksplisiet openbaar gemaak is nie: Wim is ‘n (direkte) afstammeling van Jan Marais en GWA van der Lingen (1829-1869), twee van die voortreflikste yweraars vir Hollands/Afrikaans. Pieter Kapp skryf: “Prof AB de Villiers [Wim se pa], die seun van Louis Henri de Villiers (30.3.1879-29.8.1945), ‘n broer van Elizabeth [Johanna Hendrika, gebore De Villiers] Marais [1867-1953, Jan Marais se vrou], [het] van 1977 tot sy dood in 1992 as trustee [van Het Jan Marais Nationale Fonds] gedien” (Nalatenskap sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais broers, Stellenbosch: Het Jan Marais Nationale Fonds, 2015, p 186). Elizabeth, wat in 1905 met Jan getrou het, “was die dogter van die bekende AB de Villiers van die Paarl en sy en haar broers het ‘n groot rol gespeel in die Marais-De Villiers-Neethling-kombinasie wat so ‘n belangrike plek in die Afrikaanse volkslewe sou inneem. Haar moeder was Théophilé Antonia van der Lingen, die dogter van die beroemde Paarlse kampvegter vir Afrikaans, ds GWA van der Lingen” (21).

Giliomee skryf: “Tussen 1830 tot 1870 was ds GWA van der Lingen van die Paarl feitlik die enigste mens wat daadwerklik teen die Britse evangelie van vooruitgang en verengelsing teenstand gebied het” (Die Afrikaners, p 160). “Een van sy … teikens was die ou koloniste. Hulle verwaarloos die taal [Hollands] en gebruike van hul voorvaders. Hulle praat ‘n vreemde taal [Engels] krom en skeef en hulle laat hul kinders in ‘n vreemde taal onderrig” (162). Van der Lingen het in 1857 die Gimnasium in die Paarl as ‘n Hollandse skool gestig (165). Van der Lingen was ‘n/dié direkte voorloper van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Die GRA-stigtingsvergadering, op 14 Augustus 1875, het in die huis van Gideon Malherbe in die Paarl plaasgevind; tans die Afrikaanse Taalmuseum. Malherbe was die skoonseun van Van der Lingen (178). Wat Afrikaans en die Afrikanerdom betref, sou mense soos Van der Lingen, Jan Marais en AB de Villiers (Wim se pa) hulle ongetwyfeld sover moontlik van Wim distansieer. Wim, die laksman van Afrikaans aan die US, is myns insiens die skadelikste persoon ooit in die geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch. In ruil vir sy dade ontvang hy as US-rektor sowat R5 miljoen per jaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.