Leon Lemmer: Om die Taalmonument van Afrikaners te ontneem

Deel op

Michael le Cordeur is ‘n dosent in opvoedkunde aan die diep getransformeerde Universiteit Stellenbosch (US). Hy was die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), ‘n raadslid van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en ‘n direksielid van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Hy is steeds ‘n trustee van Het Jan Marais Nationale Fonds, al is hy ten gunste van die verengelsing van die US. Hierdie poste wek verkeerdelik die indruk dat hy pro-Afrikaans is. Dié indruk word versterk omdat hy dikwels oor Afrikaans praat en skryf. In werklikheid is hy ‘n ANC-aktivis en voorstander van die brouseltaal Kaaps; ‘n taal wat tussen Afrikaans en Engels geposisioneer is en op ‘n geil manier woorde aan albei ontleen. Volgens Le Cordeur moet “die Afrikaanse media … hulle beheptheid met ‘suiwer’ Afrikaans … laat vaar ten einde nasiebou te bevorder” (Ons kom van vêr, WAM Carstens en Michael le Cordeur, reds, Tygervallei: Naledi, 2016, p xix, 376 – voortaan C&L), maw die heil van Afrikaans moet ondergeskik aan ANC-politiek gestel word. As nieu- of skynswarte hou hy daarvan om hom, soos Henry Jeffreys, in ‘n Afrika-hempie uit te dos.

By ‘n vorige geleentheid (Praag 28.06.2015) het ek geskryf: “Le Cordeur se kernprobleem is dat sy ANC-verknogtheid sy siening van Afrikaans dikteer.” Hy het beweer dat die Universiteit Pretoria ‘n “tuiste vir Afrikaans” bied, dat “diegene wat huil oor die dood van Afrikaans in Potch[estroom moet] weet hulle huil by die verkeerde begrafnis” en “Ek verskil dus met diegene wat meen Afrikaans as universiteitsonderrigtaal loop gevaar om uit te sterf.” “Daar is twee here wat ‘n mens nie gelyktydig (in dieselfde mate) kan dien nie, naamlik die ANC en Afrikaans. Le Cordeur het sy siel aan die ANC verkwansel. In sy kern behoort sy gees nie aan Afrikaans nie. Le Cordeur het die ANC gekies. Daarom lyk dit vir my asof hy ‘inklusief’ al die kenmerke van ‘n valse profeet van Afrikaans openbaar.”

Le Cordeur se jongste poging om met sy polities linkse radikaliteit aandag te trek, is ‘n artikel met as hoofopskrif: “Taalmonument kan monument vir demokrasie word” (Die Burger, By, 8.02.2020, p 8). Op Netwerk24 (7.02.2020) is die opskrif: “Taalmonument moet monument vir demokrasie word.” Uit die titel is dit reeds duidelik dat Le Cordeur ‘n voorstander is van die soort demokrasie waarmee ons plaaslik opgeskeep sit, naamlik verswelgende swart meerderheidsregering. Terselfdertyd gee hierdie opskrif uitdrukking aan sy anti-blanke gesindheid. Die newetitel versterk hierdie indruk: “Die Taalmonument is vanjaar 45 jaar oud. Michael le Cordeur skryf hoe dié museum en monument daarin geslaag het om sy beeld te verander van ‘n plek vir slegs wit mense na ‘n inklusiewe ruimte waar almal wat in hul hart en niere Afrikaans is, welkom voel.”

Waaraan is hierdie inklusiwiteit te danke of te wyte? Le Cordeur skryf: “Danksy die harde werk van sy bestuur, werkerskorps en sy raadslede het die Taalmuseum en -monument daarin geslaag om sy beeld van ‘n ‘museum* slegs vir blankes’ te verander na ‘n inklusiewe ruimte.” Dus, blankes word nie eie ruimtes gegun nie. Sulke ruimtes is sleg. Inklusiewe ruimtes, waarin blankes deur nieblankes verswelg word – die norm in die nuwe Suid-Afrika – is volgens Le Cordeur goed.

[* Op ‘n slodige manier verwys Le Cordeur in sy artikel telkens na die museum (wat in die middedorp is) terwyl hy uitsluitlik oor die monument (wat teen die hang van Paarlberg is) skryf.]

Gaan na die ATM se webtuiste. Die ATM is die Afrikaanse Taalmuseum én die Afrikaanse Taalmonument, twee Afrikanerheiligdomme in die Paarl. Die ATM is deesdae ‘n agentskap van die ANC se Departement Kuns en Kultuur en vir 70% van sy inkomste van die staat afhanklik. Die direkteur of uitvoerende hoof is Michael Jonas, ‘n bruin museumkundige. Kyk na die foto van die agt raadslede. Vyf is bruin en net ‘n enkele een, Janis Grobbelaar, ‘n sosioloog en ANC-aktivis, is blank. Kyk na die foto van die anderhalfdosyn personeellede. Dit lyk asof almal bruin is met die uitsondering van twee blankes. Dit is duidelik dat die ATM sedert 1994 (roekeloos) ontblank en deur bruines gekaap en verswelg is. Dit kom neer op onteiening sonder vergoeding van blanke eiendom. Nóg die ATM-raad nóg die ATM-personeel voldoen aan die ANC-dogma dat die demografie (in hierdie geval van Afrikaanssprekendes, waarvan 40+ blank is) weerspieël moet word. Maar met die goedkeuring van die einste ANC-regering geskied aanstellings deesdae klaarblyklik op ‘n rassistiese pro-bruin grondslag. Omdat blankes in hierdie proses doelbewus benadeel word, kraai geen haan egter hieroor nie. Le Cordeur opper uiteraard ook geen beswaar hierteen nie. Hy beweer opsetlik valslik dat die ATM voortreflik inklusief geword het.

Die nie-uitvoerende ATM-raad vervul bloot ‘n oorsigrol. Alle besluite moet deur die ANC se Departement Kuns en Kultuur goedgekeur word, insluitende die aanstelling van die uitvoerende hoof. Wat die ATM as uitvoerende hoof nodig het, is myns insiens nie soseer ‘n museumkundige nie, maar eerder iemand wat by uitstek Standaardafrikaans opreg liefhet en wat ook by gevorderde formele onderrig in Afrikaanse taal- en letterkunde gebaat het. Dit is blankes se inisiatief en geld wat verseker het dat daar sedert 1975 ‘n Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl is. Weens die 1994-ramp het die ANC-regime die ATM sedertdien gekaap.

Wat in die ATM-konteks noodsaaklik is, is ongekwalifiseerde lojaliteit jeens Afrikaans; nie Kaaps nie, wat genadelose geradbraakte “Afrikaans” is. In sy nuwe en huidige gedaante bevorder die ATM by voorkeur Kaaps pleks van Afrikaans, asook nieblanke skrywers en hulle belange pleks van blanke skrywers en hulle belange. Jonas probeer hierdie etniese diskriminasie soos volg regverdig: “Die monument se fokus is tans op die miskende variëteite en geskiedenis van Afrikaans” (Praag 12.08.2018). Le Cordeur is een van diegene wat ‘n voorliefde vir Kaaps pleks van Afrikaans het. Soos die ATM openbaar Le Cordeur sy anti-blanke, veral anti-Afrikaner, gesindheid, onder meer deur in sy artikel slegs erkenning vir mede-bruines te bepleit. Hy noem twee by die naam: David Samaai, “die Paarlse ikoon” en “onderwyslegende” wat glo ‘n “staatsbegrafnis” gehad het, en Adam Small, “nóg ‘n ikoon”, wat glo gehelp het dat Afrikaans wortelskiet.* “Small se bydrae was om ontslae [?] te raak van die stigma wat te lank aan die Kaapse variant van Afrikaans gekleef het.” Le Cordeur verwerdig hom nie om erkenning vir veel groter Afrikanergeeste te bepleit nie. Hy sou ook nie beswaar opper teen die heeltemal skewe pro-bruin voorstelling van die geskiedenis van Afrikaans, saamgeflans deur die Universiteit van Wes-Kaapland en die Genadendal-museum, wat jare lank by die Taalmonument uitgestal is nie.

[* Small het Kaaps laat wortel skiet; nie Afrikaans nie. “Oor Kaaps skryf Rosalie [Adam se tweede vrou]: ‘Dit blý vir Adam nie net maar ‘n ‘variant’ van Afrikaans nie, maar Afrikaans sélf in murg en been'” (C&L 8).]

Dit is ‘n inflame leuen dat die Taalmonument nou “‘n inklusiewe ruimte [is] waar almal wat in hul hart en niere Afrikaans is, welkom voel.” Ek woon naby genoeg aan die Paarl om binne ‘n dag heen en terug te reis. Ek het dikwels ‘n bykans onstilbare begeerte om weer daarheen te gaan. Ek het selfs al die wens uitgespreek dat my as, soos dié van Jan van Wijk (1926-2005), die argitek van die Taalmonument, daar uitgestrooi moet word. Maar die huidige atmosfeer daar en die uitstallings en aanbiedings van die ATM is sodanig dat Afrikaners, lewend of morsdood, glad nie daar tuis voel nie. Tydens my onlangse besoeke het ek nie ‘n enkele blanke personeellid daar gesien nie. Die gidse is glad nie deeglik in Afrikaans onderleg nie en – soos so kenmerkend van die bruin gemeenskap – verkies hulle om Engels in die openbaar te praat.

Soos by talle vorige geleenthede spreek Le Cordeur die wens uit dat Afrikaans van “die taal van die onderdrukker” tot “die taal van bevryding” getransformeer moet word. Dit beteken dat Afrikaans nie deur die blanke politieke bewind vir bv die toepassing van apartheid gebruik moet word nie, maar dat Afrikaans ter bevordering van die ANC-regime misbruik moet word, soos vir ANC-terrorisme. Byvoorbeeld, Basil Kivedo wat as oud-MK-soldaat spog “hoe ek sabotasie in Afrikaans gepleeg het, hoe ek in Afrikaans die kleefmyn gemonteer en gedetoneer het. Hoe ek in Afrikaans as ‘n ‘Terro’ die Boere gejag het” (C&L 485). Le Cordeur hou so baie van Kivedo se terreurdade en uitlatings dat hy voorspel dat die Kivedo-artikel “nog kultusstatus [gaan] bereik” (C&L xx). Le Cordeur vervolg in sy jongste artikel: “Sodoende het Afrikaans ‘n bemagtigingsinstrument [bv ‘n linkse politieke wapen] geword waarmee ons wêrelde kan verskuif,” bv deur die land kommunisties te maak.

In artikel na artikel plaas Le Cordeur hom tussen die onderwerp en die lesers. “In my tyd as raadslid van die Taalmuseum en -monument het die instansie ‘n ver pad gekom om van die stigma van Afrikaans as witmanstaal weg te beweeg.” Le Cordeur skryf laasgenoemde twak keer op keer. Dit maak my die donder in. Op grond waarvan sou daar werklik ‘n stigma aan iets kleef omdat dit met blankes geassosieer word? Vir my lyk dit asof die blankes se gedrag beter is as dié van enige ander rasgroep. Le Cordeur se uitlating getuig van sy onmiskenbare anti-blanke gesindheid. Afrikaans is onbetwisbaar grootliks die skepping van blankes, naamlik Afrikaners. In daardie sin is dit in oorweldigende mate ‘n witmenstaal. Daarmee word geensins beweer dat Afrikaans uitsluitlik die gebruiks- of moedertaal van blankes is nie; dus, Afrikaans is ook die taal van sommige nieblankes, soos konkreet vergestalt in die Taalmonument.

In die voorwoord by Christo van Rensburg se boek, So kry ons Afrikaans (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012), skryf Le Cordeur as voorsitter van die ATR: “Met hierdie werk wil die ATR opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor, omdat ons hier die navorsing aanbied wat bewys dat Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat” (p 10). Volgens Van Rensburg se “navorsing” het Afrikaans in 1495 ontstaan (148). In Van Rensburg se latere boek, Van Afrikaans gepraat (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2018), het Afrikaans ‘n eeu later, in 1595, ontstaan (p 17). Albei datums kan verwerp word.

Van Rensburg se bewering sou Afrikaans uniek maak as die enigste taal waarvan die plek (by Mosselbaai) en datum van ontstaan presies vasgestel kon word. Die leidende rol wat aan nieblankes in die ontstaan van Afrikaans deur Van Rensburg en diesulkes toegeken word, sou Afrikaans ook uniek maak omdat die elite by ander tale die leidende rol in hulle ontstaan gespeel het. By Afrikaans behoort dit dus die blankes te wees. Dit is om polities korrekte redes dat hierdie tweeledige uniekheid sedert 1994 aan Afrikaans toegedig word. Le Cordeur se verwysing na Afrikaans wat glo die “eiendom” van alle Afrikaanssprekendes is, is klakkelose herhaling van ANC-taal. Die ANC maak aanspraak op eiendomsreg van blankes se plase, al het die ANC niks gedoen om die plase te ontwikkel nie. Op ‘n soortgelyke manier maak Le Cordeur en diesulkes aanspraak op eiendomsreg van Afrikaans, al het nieblankes relatief bitter min gedoen om die taal te ontwikkel. Wat die Taalmonument betref is daar geen moontlikheid dat enige etniese groep behalwe die Afrikaners so iets tot stand sou bring nie. In daardie sin het Afrikaners die hoofaanspraak op eiendomsreg van die monument. Dit is feitlik uitsluitlik Afrikaners wat werklik vir Afrikaans omgee. Wat my moerig maak, is dat Le Cordeur blatant ontken dat Afrikaans ‘n witmenstaal is, terwyl hy eerder behoort te sê dat dit nie uitsluitlik ‘n witmenstaal is nie. Let ook op sy doelbewuste opsetlikheid om van ‘n witmanstaal te praat om die feministe aan sy kant te probeer kry.

Hoe kry die nuwe ATM dit reg om glo almal daar tuis te laat voel? “Op kulturele en artistieke gebied het die Taalmuseum met feeste soos die rieldansfees ook die kleurgrens oorgesteek. Dié lekkerkry-fees wat jaarliks meer as 4 000 toeskouers trek, is ‘n bewys dat die Taalmuseum daarin geslaag het om Afrikaans se diverse groep sprekers saam te snoer in ‘n hegte [?] eenheid wat nie net een [?] taal praat nie, maar (letterlik!) stof opskop in die oë van ander Afrikaanse feeste wat steeds sukkel om die inklusiwiteit van ons mooi taal uit te leef.” “By die Taalmonument word Afrikaans ook gesing deur diverse sprekers. Orkeste soos die Rockets is deesdae ‘n bekende gesig.” Hoekom is die rieldansfees vir Le Cordeur ‘n “lekkerkry-fees”? Omdat dit oorwegend ‘n fees vir bruines is (“inklusiwiteit” genoem), gereël en geborg deur die ATKV, ‘n instansie wat eens Afrikaners se belange bevorder het.

Daar kan geredeneer word dat dit die ATKV se nuut gevonde reg of plig is om ‘n fees vir bruines aan te bied. Maar hoekom nie iets soortgelyks vir blankes, wat die oorgrote meerderheid van sy ledetal is, nie? Daar is al telkemale voorgestel dat die ATKV as teenhanger vir die rieldanse jaarliks bv klassieke musiek-, boeremusiek-, volkspele- en jukskeibyeenkomste aanbied, maar die ATKV verseg om selfs net hoflikheidshalwe op sulke voorstelle te reageer, wat nog te sê so iets aan te bied. Soos die ATKV sal die ATM in sy huidige gedaante ook niks doen om laasgenoemde soort byeenkomste te organiseer om hom op hierdie manier vir sy historiese en natuurlike publiek, naamlik die Afrikanerdom, meer aanvaarbaar te maak nie.

In die laaste aanhaling (voorlaaste paragraaf) word Afrikaans deur Le Cordeur as ‘n enkele taal voorgestel. Maar as dit hoe is, erken Le Cordeur die fundamentele verskil tussen enersyds ordentlike of Standaardafrikaans en andersyds Kaaps as ‘n brouseltaal wat hom tussen Afrikaans en Engels geposisioneer het. Hy bepleit erkenning vir Kaaps as ‘n skoolonderrigmedium naas Afrikaans en Engels; dus, Kaaps is die moedertaal van sommige/baie bruines; nie Afrikaans of Engels nie. Dit gee ‘n aanduiding van hoe diep gewortel Le Cordeur se dislojaliteit jeens Afrikaans is. In “hart en niere” is hy eerder ‘n ANC-kornuit en Kaaps- pleks van Afrikaansgesind.

Die deurslaggewende rol wat blankes in die onstaan en ontwikkeling van Afrikaans gespeel het en die behoudende rol wat Afrikaners steeds in hierdie konteks speel, word deur Le Cordeur en diesulkes verswyg of selfs ontken. Die Khoi-Khoin en slawe word voorgestoot as die eintlike skeppers van Afrikaans, al is 80 tot 90% van Afrikaans se woorde van Germaanse (Nederlandse en Duitse) oorsprong. “Ná 45 jaar weet ons ook dat die Taalmuseum en die Paarl nie die enigste plek is waar Afrikaanse wortels begrawe is nie. Ons weet vandag dat Afrikaans se wortels ook in die Bo-Kaap lê.” Dit is ‘n verwysing na die armsalige slawe. In werklikheid is daar in vergelyking met Nederlands bitter min tekens van slawe- en Khoi-Khoin-invloed in Afrikaans.

Wat Le Cordeur en diesulkes doen, is om voor te gee dat die slawe eeue gelede ‘n reusebydrae tot Afrikaans gelewer het. Die ophaal van slawerny in die hede is ook ‘n doelbewuste poging om blankes, veral Afrikaners, skuldig te laat voel; om dit by hulle in te vryf hoe sleg hulle is. Die Slawemuseum in Kaapstad en mense soos Le Cordeur verkies om die Engelse blankes nie vir slawerny te verwyt nie. Daar word eerder met die valse voorstelling gekom dat die goeie Engelse bloot die slawe vrygestel het, soos Marthinus van Bart in sy boek, Kaap van slawe (2012), aantoon. Wat ook verswyg word, is dat die hedendaagse afstammelinge van die slawe, die Moslems van die Bo-Kaap, veral sedert 1994 grootliks verengels het. Omdat die huidige Moslems, in die konteks van Afrikaans, ‘n bedenklike voorbeeld stel, word die aandag daarvan afgelei deur Le Cordeur en diesulkes en word die klem verplaas na ‘n veridealiseerde maar valse beeld van wat eeue gelede in die Bo-Kaap plaasgevind het. In werklikheid het die Moslems eers na die vrystelling van die slawe die Bo-Kaap beset en was hulle eerder lojaal teenoor die Engelse as die Afrikaanse blankes.

Gebou op valse veronderstellings stel Le Cordeur twee vrae: “Het dit nie tyd geword dat die Taalmuseum en die Bo-Kaap-museum gesamentlike aksies vir Afrikaans van stapel stuur nie? Wat byvoorbeeld van ‘n Afrikaanse toer van die Paarl na die Bo-Kaap?” Die toerlede sal seker net so min inklusief soos die toeskouers by die rieldanse wees. Vir Le Cordeur en sy geesgenote sou dit die nuttige doel dien om die (geringe) rol van die Bo-Kaap in Afrikaans te beklemtoon en die invloed wat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), nasionalistiese Afrikaners, vanuit die Paarl uitgeoefen het, af te water. Dit is deel van Le Cordeur se strategie om die ATM verder te ontblank en die heil van Kaaps te bevorder.

Le Cordeur begin sy artikel deur te vertel hoe uitgesluit die bruines by die onthulling van die Taalmonument was. “Die museum en monument was vir ons verbode terrein.” Le Cordeur herinner sy lesers graag dat hy ‘n akademikus is wat navorsing doen, al kom hy oor as ‘n aktivis. “In my navorsing oor Samaai het ek ontdek dat die Bel Canto-koor die eerste en enigste ‘anderskleurige ‘ koor was wat in 1975 by die opening van die Taalmonument opgetree het.” Die onthulling van die monument was dus minder uitsluitend as wat Le Cordeur aan die begin beweer het. Van Wijk noem bv dat ‘n bruin egpaar sonder beswaar by die monument in die huwelik bevestig is (Jan van Wijk, Taalmonument, Tokai: Historical Media, 2014, p 66).

Daar kan myns insiens geen twyfel oor Le Cordeur se dislojaliteit jeens Afrikaans wees nie. Afrikaans verkeer in ‘n benarde situasie, maar hy het nog nooit die ANC se ondermyning van Afrikaans veroordeel nie. Maar dan kla hierdie mens waaragtig oor die bevoordeling van Afrikaans. “Vandag moet ons ook eerlik wees en erken dat Afrikaans die afgelope 95 jaar – sedert hy in 1925 as een van net [! – daar moes seker eerder meer gewees het] twee amptelike tale in ons land aangewys is – bo ons ander inheemse tale bevoordeel is.” Oor die huidige groter bevoordeling van Engels swyg hy. Daar is geen moontlikheid dat Le Cordeur, soos ek, ‘n enkele amptelike taal, naamlik Afrikaans, sal bepleit nie.

Let op die soort logika wat Le Cordeur gebruik om by sy obsene voorstel uit te kom: “Die ringmuur van die Taalmonument met die drie rondings daarop versinnebeeld ironies die invloed van die inheemse tale, veral Khoi, op Afrikaans.” Maar daar is geen teken van “veral Khoi” in die monument nie. Dit is Van Rensburg/Carstens-invloed op Le Cordeur wat hier spreek. Die argitek verwys na die drie koepels bloot as erkenning van die invloed van Khoi-Khoin-, San- en swart kultuur en taal (Van Wijk 15, 39). Van Wijk beklemtoon dat die getal en grootte van die kolomme en koepels [naas die twee suile] nie gekwantifiseer moet word in ‘n spesifieke getal tale of vertolk moet word as aanduidend van die mate van hulle invloed nie. Hy skryf dat hulle “nie noodwendig in volgorde van belangrikheid of persentasiegewys [is] nie” (Van Wijk 76); dit gaan om aanduidende simboliese voorstelling. Ook dat geeneen van hierdie items aan ‘n bepaalde taal toegewys moet word nie [behalwe die hoofsuil wat Afrikaans simboliseer], selfs al sou daar die neiging wees om die grootste kolom (13,5 meter hoog) as verteenwoordigend van Nederlandse invloed te beskou. “Hierdie monument moes nie ‘n biografie wees oor die ontstaan van Afrikaans wat persentasies van invloede van ander tale weerspieël nie” (Van Wijk 23).

Le Cordeur gaan voort: “En die muur op die hooftrappe verteenwoordig die bydrae van die Maleise taal en kultuur op Afrikaans.” Die Taalmonument is ontwerp, opgerig en ingehuldig “toe apartheid op sy felste was.” Maar daar is toe reeds ruim erkenning aan die bydrae van nieblankes tot Afrikaans gegee. Tog hou die gekerm oor nie-erkenning, of onvoldoende erkenning, nie op nie. Engels is ‘n taal wat glad nie in die Taalmonument gesimboliseer word nie. Engels is ‘n groot komponent van Kaaps. Dit is ironies en skandalig dat veel eerder Kaaps as Standaardafrikaans deesdae tydens ATM-byeenkomste verheerlik word. Dat dit ‘n doelbewuste poging is om Afrikaners uit te tart deur hulle alewig met geradbraakte Afrikaans te konfronteer, kan nie uitgesluit word nie.

“Daarom [!] moet die Taalmonument [seker die uitvoerende hoof en die ATM-raadslede] in die toekoms dit sterk oorweeg om ‘n monument vir alle inheemse tale te wees.* Dan kan Afrikaans, die taal van bevryding [!], selfs ‘n stap verder gaan en homself vestig as die Taal van Eenheid en kan die Taalmonument ‘n monument vir demokrasie word.” Die Taalmonument sal dan seker ‘n Engelse of swart naam kry. Dan kan Afrikaans glo “sy ware kleure” ten toon stel. Maar as dit hoe is, vertel Le Cordeur en diesulkes dat Afrikaans die mees diverse taal met die mees diverse sprekers is en dat kleur- of kultuurverskil geen faktor behoort te wees nie. Met ‘n groot inklusiewe ANC-monument teen Paarlberg sou vloeiend uit Le Cordeur se magiese voorstel dalk twee klein monumentjies vir Afrikaans opgerig word – nie dat die ANC dit graag sou doen nie – een in die Bo-Kaap en een by Mosselbaai – twee plekke waar Afrikaans nié ontstaan het nie.

[* Le Cordeur neem hierdie idee oor by Michael Jonas, wat geskryf het dat “die ATM nie net ‘n baken van hoop vir Afrikaans is nie, maar vir álle Afrikatale” (Praag 12.08.2018). Die kernmotief vir die monument, dat dit Afrikaans moet simboliseer, word dus deur twee Michaels – twee mense met Engelse voorname – naamlik Le Cordeur en Jonas, ondergrawe. In dieselfde rubriek het ek geskryf: “Jonas gebruik/misbruik die ATM ter ondersteuning van die ANC-regering. Dit toon baie duidelik Jonas se fundamentele nie-Afrikaans-oriëntasie. Die argitek het die Taalmonument as ‘n simbool van Afrikaans geskep. Jonas transformeer die Taalmonument tot ‘n simbool van politieke elemente soos hoop, nasiebou en samehorigheid. Laasgenoemde drie begrippe openbaar in werklikheid geen noodsaaklike verwantskap met Afrikaans nie.” “Jonas dokumenteer ondubbelsinnig die feit dat die ATM ‘n lakei van die ANC-regering is.” Byvoorbeeld, Afrikadag en Mandeladag word jaarliks deur die ATM gedenk, maar nie Van Riebeeckdag (6 April) toe Hollands as die voorloper van Afrikaans hier gevestig is nie.]

Wannie Carstens en Michael le Cordeur is boesemvriende. Hulle is die samestellers van die boek, Ons kom van vêr, waarna hier bo verwys is. Dit is ‘n boek deurspek met linkse, anti-blanke, veral anti-Afrikaner, politiek en propaganda. Blankes is as artikelskrywers doelbewus grootliks uitgesluit. Dit was ‘n poging om aan bruines ‘n “stem” te gee. Daar was dus nie die sug na inklusiwiteit wat Le Cordeur so voorbeeldig by die Taalmonument probeer bevorder nie. In oriëntasie herinner die boek aan Naspers/Media24 se Suidoosterfees. Daar mag maar boeke en feeste wees wat blankes (grootliks) uitsluit, maar dit is nie toelaatbaar dat die slegte blankes nieblankes uitsluit nie. Daarom word die ATM van weleer verdoem. Hoewel die redigering van die laasgenoemde boek bedenklik was, word die publikasie van nog so ‘n nie-inklusiewe boek deur dieselde tweetal beplan.

Carstens was die eerste en Le Cordeur die tweede voorsitter van die ATR. Le Cordeur het ook ontpop as ‘n ondersteuner van Wim de Villiers se verengelsing van die Universiteit Stellenbosch. Le Cordeur se jongste skuif is sy gemene voorstel dat Afrikaners en Afrikaans van die Taalmonument ontneem moet word; dat dit ‘n inklusiewe monument vir al die inheemse tale moet wees en selfs ook vir die ANC se skandalige vorm van “demokrasie”. Kortom, die Taalmonument moet swart oorheersing – taal-, kultuur- en politiekgewys – simboliseer. Is dit moontlik om Afrikaners groter aanstoot as dit te gee? Carstens, die ATR en die ATKV het hulle nog nooit (openlik) van Le Cordeur gedistansieer of hom selfs ligweg gekritiseer nie. As hulle hulle nou steeds van optrede teen Le Cordeur weerhou, sal hulle nooit sover kom om hom te veroordeel nie. Dan het Le Cordeur ‘n vrypas om voort te gaan om Afrikaans en die blanke- en Afrikanerdom soveel moontlik te benadeel.

Dit behoort duidelik te wees dat die heil van Afrikaans nie aan mense soos Le Cordeur en Jonas toevertrou kan word nie. Desnieteenstaande wil Wannie Carstens en diesulkes die toekoms van Afrikaans in die hande van bruin mense pleks van blankes laat. Slegs op Praag word beswaar hierteen geopper.

Die ATM het ontaard in net nog ‘n plek waar Afrikaners voel dat hulle plek hulle nie meer ken nie. Die twee suile (57 en 26 meter hoog) van die Taalmonument simboliseer al hoe meer ‘n ten hemele geroep na uitkoms vir Afrikaans en die Afrikaners.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.