Leon Lemmer: Denis Worrall: Verligtheid baar die nuwe Suid-Afrika

Deel op

Deesdae mag daar eintlik nie oor ras gepraat word nie. Ons is glo almal net mense. Daar is dus net een ras, die menseras. Almal word as gelyk en wesenlik eenders beskou. Almal is dus bekwaam genoeg om almal se lot te bepaal; vandaar demokrasie. Die meerderheid moet die oppergesag uitoefen anders word ‘n misdaad teen die mensdom gepleeg. In die Suid-Afrika van weleer is vier rasse onderskei: blankes, bruines, Asiate en swartes. Die blankes het die oppergesag uitgeoefen. Onder hulle leiding is die land ontwikkel tot die suksesvolste en voorspoedigste in Afrika. Die blankes het van die veronderstelling uitgegaan dat hulle die land beter as die nie-blankes kan bestuur. Daar was dus ‘n hiërargie van rasse. Deesdae word geredeneer dat sodanige hiërargie op stereotipering berus; dus dat ‘n valse veralgemenende beeld van die kwaliteit (bv kundigheid, bekwaamheid) van daardie vier rasgroepe doelbewus deur die blankes ter eie bevoordeling geskep is.

Binne die tradisionele rasgroepe kan verskillende etnisiteite onderskei word. Wat opval, is dat diegene wat ‘n geskiedenis van (relatiewe) prestasieloosheid het, verkies om die werklikheid van ras- en etniese groepe te ontken. Op hierdie manier deel die nie-presteerders in die prestasies van die presteerders. ‘n Ons/hulle-onderskeid word as uit die bose beskou. Die nie-presteerders ag hulleself gevolglik as die gelyke vennote van die presteerders. As die nie-presteerders in die meerderheid is, verseker ‘n demokratiese opset (een mens, een stem) dat hulle ‘n kwalitatiewe minderheid kan oorskadu; dus dat hulle ‘n polities meerderwaardige posisie inneem; selfs ‘n moreel meerderwaardige posisie deur bv te lieg en die geskiedenis te herskryf.

Naas ‘n blanke, bruin en swart ras word ‘n geel ras soms onderskei. Die Chinese en Japannese het histories gepresteer en doen dit steeds. By hulle is daar dus ras- en etniese trots en geen noemenswaardige beswaar klink daarteen op nie. Daar is net een ras wat deesdae wêreldwyd trots op hulle prestasies misgun word en dit is die blankes. In Suid-Afrika is daar twee etnisiteite wat ‘n land geskep het wat as ideaal en trekpleister vir swartes in Afrika dien, naamlik die Afrikaners en die blanke Engelssprekendes (oftewel Engelse). Die Afrikaners het in veel groter mate lewensruimte aan die Engelse gegun as andersom. Die Engelse (bv Charles Somerset en Alfred Milner) wou die kulturele kern van die Afrikaner, te wete Afrikaans, vernietig. Deesdae poog die ANC-regering om dieselfde te doen. Die tradisionele onderskeiding van vier rasse word tans voortgesit, maar met ‘n ander motivering as voorheen: om swartes soveel moontlik te bevoordeel en blankes soveel moontlik te benadeel. Die veronderstelling dat swartes ‘n land net so doeltreffend soos die blankes kan bestuur, lê reeds meer as twee dekades lank aan skerwe, met bv Eskom as ‘n toonbeeld van swartes se onbekwaamheid en geneigdheid tot roofbou (uitputting/afbreking van ‘n instansie) en korrupsie, oftewel steelsug.

Vanaf 1652 tot omstreeks 1980 is die werklikheid van ras en die noodsaaklike rol wat dit in die voortbestaan van die land moet speel plaaslik algemeen erken. Daarna het vermurwing ingetree. Die kernwaarheid is dat blankes tradisioneel in beheer van die land was. Rasse(onder)skeiding is in blanke geledere algemeen aanvaar as ‘n noodsaaklike voorwaarde vir die voortbestaan nie net van die blankes nie, maar ook vir ‘n voorspoedige land. Rassesegregasie/apartheid/afsonderlike ontwikkeling met (oorwegend) blanke stemgeregtigdes was die meganisme waarmee blanke beheer oor die land verseker is. Die aftakeling van rasse(onder)skeiding sou noodwendig oorheersing deur swartes tot gevolg hê. Denis Worrall (gebore in 1935) skets die rol wat hy in die vernietiging van blanke politieke gesag gespeel het in sy boek, The independent factor: My personal journey through politics and diplomacy (2018, 236p, R275; Amazon Kindle $9,19). Die outeur het die gedrukte uitgawe self gepubliseer.

In die eerste voorwoord maak David Grant, ‘n politieke geesgenoot van Worrall, gewag van “real reform” (Kindle 149) en loof hy Worrall se “massive contribution to the process of democratisation in South Africa” (157). Regter Ian Farlam verwys in die tweede voorwoord na “meaningful change” en Worrall se “enlightened views” (170). Werklike hervorming, demokratisering, betekenisvolle verandering en verligtheid is almal eufemistiese formulerings van wat ons as gevolg daarvan het, naamlik swart politieke oorheersing. In sy eie voorwoord noem Worrall sy boek “a memoir” (206). Hy bedank mense soos “my old friend” (2539), “my good friend” (2648), Max du Preez, en Jannie Momberg (wat ‘n ANC-parlementslid en daarna ambassadeur in Griekeland was) vir hulle ondersteuning (214). Later skryf Worrall oor Donald Woods, wat uit Suid-Afrika verban is en wat voorheen die uiters linkse redakteur van die Oos-Londense koerant, die Daily Dispatch (in die volksmond beter bekend as die Daily Disgrace) was: “I knew and liked Donald very much and I saw quite a lot of him in London” (2568). Dit gee ‘n aanduiding van hoe uiters links Worrall se politiek is.

Worrall het ‘n ma van Ierse afkoms en ‘n Engelssprekende pa gehad. Sy ouers was Sappe wat in 1961 teen republiekwording gekant was. Worrall het later ‘n lid van die Verenigde Party geword. Hy het in Cradock, Wellington en Bellville grootgeword. Veral in Bellville het hy Afrikaans en Afrikanerkultuur goed leer ken. “My upbringing and specifically my schooling in Bellville freed me of that ‘benign superiority towards Afrikaners’ which characterised white English-speakers down the years” (292). “Whereas to English-speaking whites, and a very powerful leader like General Smuts and even Jan Hofmeyr, the discrimination against black people and persons of colour which they introduced and enforced as policy was simply racial in kind. By contrast, the driving force behind the apartheid of Afrikaners was as much nationalism and the natural determination to grow itself as racial consciousness. In the end, the real struggle for control of South Africa would be between two indigenous nationalisms – the Afrikaner and the African” (300). “[Nowadays] there is a new national identity emerging in which white South Africans are likely to be subordinate players” (292).

Die outeur het vroeg met Edmund Burke (1729-1797) en John Stuart Mill (1806-1873) se liberalisme kennis gemaak. Aan die Universiteit Kaapstad het Worrall veral in die filosofie (tot die verwerwing van ‘n magistergraad) en die regte studeer. Hy het later die graad LLB aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voltooi. Hy het ‘n lektor in politieke wetenskap aan Unisa geword. Hy het spoedig ‘n Fulbright-studiebeurs ontvang vir doktorale studie van 1961 af aan Cornell University, Ithaca, New York, waar hy ‘n assistentdosent in die departement politieke wetenskap was. Andrew Murray se onderrig in politieke filosofie aan die Universiteit Kaapstad het blykbaar ‘n deurslaggewend invloed uitgeoefen en hom gemotiveer om sy doktorale studie oor federalisme in Nigerië te onderneem. Hy moes ook die doktorale program suksesvol voltooi. Hy het met bv Allan Bloom (1930-1992) en William Buckley jr (1925-2008) kennis gemaak.

“I familiarised myself with the race relations situation academically and in a practical way by participating in organised study groups to the South – notably Mississippi and Alabama. These trips made two strong inpressions on me. The first was just how ubiquitous segregation was; and, secondly, the arrogance of Northerners towards Southern liberals who were working to change the situation – especially given what was clear, that the problem was not simply a Southern one. Country club discrimination was widespread in the north as was evident in the Rotary clubs I was invited to address and even Ithaca, where Cornell is situated, had its significant African-American suburb” (548). Lyndon Johnson het die Civil Rights Act (1964) en die Voting Rights Act (1965) op die wetboek geplaas. “What should be very evident is that I admired Lyndon Johnson enormously” (598).

“President Kennedy was the first in 1961 to use the term ‘affirmative action’ as a way of redressing the advantages of discrimination that had persisted” (598). Na aanleiding van die swart burgerregtebeweging in die jare sestig stel Worrall hierdie vrae oor die Amerikaanse samelewing: “Was it a society of individuals, as the founding fathers assumed and the Constitution instructed? Or was it a society of communities and individuals?” (598). “The widely accepted view until then was that the US was a country of immigrants, and as new waves of [white] immigrants came, they melted into the existing American nation” (605). Nathan Glazer en Daniel Moynihan het hierdie siening in hulle boek, Beyond the melting pot (1963), bevraagteken. “Their researches had shown that the children and grandchildren of earlier immigrants to New York City had retained their ethnic consciousness and therefore that the phenomenon of persistent ethnic identities over the course of generations would continue” (605).

Die bevolking van ‘n land bestaan uiteraard uit sowel ras-/etniese groepe as individue. Maar blankes is in groter mate as swartes individualisties, wat egter geen regverdiging bied vir die buitensporige bevoorregting van swartes as minderheidsgroep in Amerika en die absolute afwesigheid van groepregte vir die blanke minderheid in Suid-Afrika nie. Die assimilasie van die hoofsaaklik blanke immigrante in Amerika verskil van etniese groep tot etniese groep, met bv die Jode wat meesal moeilik en net deels assimileer. Voor die Tweede Wêreldoorlog was die uitgesproke voorkeur in Amerika vir blanke immigrante, wat vanweë kleiner kulturele verskille veel makliker geassimileer het as die baie nie-blanke immigrante wat sedertdien wettig en onwettig op die land toesak.

Die groot mate waarin die situasie van die blanke Amerikaners versleg het, blyk uit die teenstand wat Donald Trump vir die bou van ‘n muur op die grens met Mexiko ondervind. Daar word openlik kant gekies vir onwettige immigrante, dus vir diegene wat hulle aan ‘n misdaad skuldig (wil) maak. Maar dit is niks in vergelyking met die situasie van die kleiner wordende blanke minderheid in Suid-Afrika nie. Onwettige immigrante kom op groot skaal (miljoengewys, soos by korrupsie) oor die grens maar geen politieke party of ander instansie voer ‘n veldtog daarteen nie omdat hulle nie, al is dit valslik, van vreemdelinge haat en rassisme beskuldig wil word nie.

Daar word nie meer van Amerikaanse swartes verwag om met die blankes te integreer nie. Aan swartes word die keuse gelaat om apart of tussen die blankes te woon; ‘n keuse wat nie in dieselfde mate vryelik deur blankes uitgeoefen mag word nie. In Suid-Afrika is die ANC-regering ingestel op die verswelging van die blanke minderheid deur die swart meerderheid. Gedwonge integrasie geld dus as ‘n opgedringde verpligting op alle terreine, bv woongebiede, skole en universiteite. Die swartes het egter ‘n vrye keuse: hulle kan in tradisioneel swart gebiede woon en aan tradisioneel swart skole en universiteite studeer, of hulle kan hulle tuismaak in tradisioneel blanke woongebiede, skole en universiteite. Dit word geregtigheid genoem.

Worrall skryf oor Amerika: “Yes, desegregation had to happen – social and economic backgrounds caused by centuries of political inequality had to be compensated for by group-based affirmative programmes and actions. These would involve racial preferences and quotas, and when applied in, for example, educational institutions they raised all sorts of questions. How would this affect academic standards? How would it affect university autonomy? And how would quotas affect groups who were possibly overly represented in America’s best universities – for example Jewish Americans?” (614). “We have yet to find answers to the thorny question of how one reconciles a commitment to individual liberty and rights with the rights and interests of groups” (620).

Die agterstand van swartes kan myns insiens nie sonder meer uitsluitlik aan beweerde benadeling deur blankes toegeskryf word nie. In Amerika word sogenaamde regstellende aksies deesdae afgeskaal. Om die bevoordeling van swartes op ‘n rasgebaseerde/rassistiese grondslag asook raskwotas sonder meer volgens die Amerikaanse model op Suid-Afrika van toepassing te maak, is hoogs onbillik; onder meer omdat swartes nie, soos in Amerika, as ‘n minderheid nie, maar sedert 1994 as die oorweldigende meerderheid polities in beheer van die land is. Dit is ook skandalig dat geen keerdatum vir regstellende aksie in Suid-Afrika gestel is nie.

‘n Rektor soos Wim de Villiers verknies hom nie oor die verlaging van akademiese standaarde en die verlies van universitêre outonomie en die inkorting van akademiese vryheid nie. Vir De Villiers is dit ‘n passie om te doen wat polities reg is. Om te handel volgens wat akademies reg is, is klaarblyklik van mindere belang. In Amerika het die stelsel dermate ontaard dat ‘n beperking geplaas word op die getal Jode en Asiate wat tot universitêre studie toegelaat word, dus daardie twee groepe wat akademies die beste presteer. Hierdie irrasionele versteuring word veroorsaak deur die voorkeur wat om nie-akademiese redes aan swart studente gegee word. In Suid-Afrika word daar openlik en doelbewus kwaai gediskrimineer teen die groep wat akademies die bewese voortreflikste akademiese presteerders is, naamlik die blankes, bv by toelating tot studie in die geneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch.

“African independence was followed in the US in the 1960s with immense pride and optimism. The general sentiment, especially among academics and church people was … ‘that the Africans were creating a wonderful new world, a sort of new humanism’ … That this heavy optimism was to end in profound disappointment is not part of my story” (628). Hoekom nie? Worrall het hom deurgaans beywer vir die afskaffing van apartheid en vir swart politieke oorheersing in Suid-Afrika. Ter regverdiging van sy politieke rol behoort hy te erken dat hy drooggemaak het en wenke te gee oor hoe die skade herstel kan word.

Worrall haal die historikus, Arnold Toynbee (1889-1975), aan: “South Africa is important to the whole world – because if it can find answers as to how its different races, languages and religions can live together in peace, nobody in the world can claim to fail” (739). Worrall voeg by: “I believed in this statement of his and must have quoted it in hundreds of speeches and articles I wrote” (739). Maar Toynbee se ydele hoop is tot dooie letters getransformeer. Die nuwe Suid-Afrika is berug as een van die gewelddadigste samelewings in die wêreld. Dié geweld het sy oorsprong feitlik uitsluitlik in swart geledere. Anders as tydens die blanke bewind kan dit nie meer goedsmoeds regeringsgeïnisieerde sistemiese geweld genoem word nie. Het dit nie tyd geword dat groepe en individue verantwoordelikheid vir hulle gedrag aanvaar, verskoning daarvoor vra en daar dan drastiese maatreëls getref word om geweld aan bande te lê nie?

Vir sy doktorale proefskrif het Worrall ‘n jaar lank veldwerk aan die University of Ibadan in Nigerië gedoen. In Nigerië is daar, soos in Suid-Afrika, groot kulturele verskille by die verskillende etniese groepe. Daar is wyslik op ‘n federale regeringstelsel besluit. Dit is iets wat Suid-Afrika reeds sedert 1910 nodig het, maar die magsbehepte ANC het op ‘n gesentraliseerde eenheidstaat aangedring en die ruggraatlose grondwetlike onderhandelaars van die NP het daaraan toegegee. Federalisme is dus iets wat Suid-Afrika by Nigerië kan leer.

‘n Ander opsig waarin Nigerië (en bv Senegal) ‘n navolgenswaardige voorbeeld stel, is dat verkiesings oor naweke plaasvind. In Suid-Afrika het die ongesonde gewoonte posgevat om verkiesings in die middel van die werksweek, dus op Woensdae, te hou, wat verseker dat die ekonomie maksimaal ontwrig word. Verkiesingsdag word tot ‘n openbare vakansiedag verklaar en gevoeg by die buitensporig baie ander openbare vakansiedae. Geen politieke party of ander instansie het die sin om beswaar teen hierdie dwase praktyk te opper nie. Myns insiens moet verkiesings op Saterdae plaasvind. Die dag daarna kan kennis van die uitslae geneem en indien nodig feesgevier word. Voor en ná so ‘n naweek behoort daar soos normaalweg gewerk te word.

Ná ‘n besoek aan sy familie in Kaapstad het Worrall na Amerika teruggekeer. Agtien maande het daarna verloop voordat hy sy proefskrif voltooi het en dit goedgekeur is. In 1964 het hy in Amerika ‘n Romeense vrou, Anita Denise Ianco, ‘n doktorale student in sielkunde, ontmoet. Nadat sy haar geboorteland verlaat het, het sy agtereenvolgens in Israel, Kuba en Kanada gewoon. Worrall hou daarvan om haar as ‘n kosmopolitiese mens voor te hou. In 1964 was Worrall ‘n assistent-professor aan die University of California Los Angeles en van 1965 af vir twee jaar ‘n lektor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Natal in Durban. In 1965 het Worrall met Anita getrou en het sy sielkunde aan dieselfde universiteit in Durban doseer.

“On my return to South Africa I began to identify persons I wanted to meet and from whom I could get a better grasp of where the country was going and what their hopes and concerns were. So it was that, aside from local city and provincial officials, I wrote to several national figures among whom were Prime Minister Dr Hendrik Verwoerd, Minister of Justice John Vorster and Harry Oppenheimer of Anglo American” (781). Al drie het ‘n onderhoud aan hom toegestaan. Verwoerd het hom met sy intelligensie beïndruk. Toe Worrall later ‘n parlementslid was en Vorster die eerste minister “we used to play chess together on a Friday or Saturday evening at his Groote Schuur residence” (818). Oppenheimer “was … responsible for Anglo American funding Anita’s research in South Africa” (796). Sy het haar doktorsgraad eers in 1972 aan Cornell University voltooi.

Worrall se loopbaan het veral twee opvallende kenmerke. Eerstens was dit vir hom ‘n passie om belangrike en invloedryke mense te leer ken; reeds in Amerika en later in Brittanje, maar ook en veral in Suid-Afrika. Byvoorbeeld, “Anita and me being sought after by Embassy people” (1046). By my het dit die indruk van vrypostigheid gewek. Wie hy geken het, het die meetsnoere vir hom in lieflike plekke laat val. Deel van hierdie strategie was om dikwels onthale aan te bied. Byvoorbeeld, “Our modest apartment [in Pretoria] became an intellectual salon to which Anita’s cosmopolitanism added enormously” (1057). Hy verwys ook na “several dinner parties at our home in Linden” (1140). Ek vra my af: Hoeveel leestyd het sy sosiale bedrywighede vir hom gelaat? Tweedens het hy nooit lank in dieselfde pos gebly nie. Dit lyk asof hy in so ‘n mate ‘n trekvoël was dat sodra hy sy werksituasie onder die knie gehad het en werklik ‘n bydrae vir sy werkgewer kon lewer, hy op vertrek na elders gestaan het. Een van die kenmerke van die boek wat ek die hinderlikste vind, is selfverheerliking. Dwarsdeur sy loopbaan het hy blykbaar die gunstige kommentare bewaar wat oor hom gelewer is en hy haal hulle blykbaar sonder skroom oorvloediglik in die boek aan.

Van die mense waarmee Worrall bevriend geraak het, was koerantredakteurs en ander joernaliste wat vir gunstige publisiteit kon sorg. Hy het agtereenvolgens weeklikse rubrieke in die Sunday Tribune, Die Beeld en Rapport behartig, wat hom landswyd bekend gemaak het as “an enlightened English-speaking South African” (912). Dit het vir hom om die daarstelling van ‘n “inclusive society” in Suid-Afrika gegaan (929). Hy het die maandelikse meningstydskrif, New Nation (1967-1974), tot stand gebring. Die koste is deur die intekenaars, kopers en adverteerders gedra. “We brought together the most extraordinary collection of relevant thinking people in South Africa at that time” (960).

Van 1967 af was Worrell vier jaar lank ‘n senior lektor in politieke wetenskap aan Unisa. In 1971 is die volgende boek met hom as redakteur gepubliseer: South Africa: Government and politics; “an introductory textbook and general guide to the institutions of government and the processes of politics in this country” (1066). Toe was Worrall reeds van die begin van daardie jaar af senior lektor in die department internasionale betrekkinge aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Die Worrall-egpaar het ‘n babaseuntjie aangeneem. Later, in 1974 en 1975, het sy vrou geboorte aan twee seuns geskenk. “I developed relations with most [newspaper] editors at the time” (1103). Die Randse Afrikaanse Universiteit “was a major source of connections under the vice-chancellorship of Pieter de Lange. But, to be perfectly frank, I expanded and developed the relations I already had with Potchefstroom [University]” (1132). [Vir Pieter de Lange se bedenklike rol in die politieke magsoorgawe aan swartes: Praag 23.09.2018. Kyk ook hier onder.]

Ná net twee en ‘n half jaar by Wits het Worrall in Julie 1973 die direkteur van die Institute of Social and Economic Research aan die Universiteit Rhodes in Grahamstad geword. Maar reeds in November 1973 het hy, sonder dat hy ‘n lid van die Nasionale Party was, vir John Vorster, die eerste minister, gaan spreek oor die moontlikheid om tot die politiek toe te tree. Dit lyk vir my na opportunisme. Soos deur Vorster aanbeveel, het hy in Desember 1973 ‘n onderhoud met PW Botha, die NP se Kaaplandse leier, gehad. ‘n Algemene verkiesing is in April 1974 gehou en op 30 Mei 1974 is Worrall met Vorster se goedkeuring, eerder as dié van Botha, as ‘n NP-senator aangestel. Hy het ‘n huis in Oranjezicht, Kaapstad, gekoop.

“As a member of the National Party caucus and having declared my interest in foreign affairs and all aspects of race relations, I joined those committees and spoke in those debates” (1298). “I made some pretty advanced public pronouncements obviously of a highly verligte nature (in the political idiom of the time), which I could do because I was an appointed Senator and, secondly, because everybody knew that I only became a member of the National Party after my appointment as a Senator. I devoted my maiden speech to promoting the interests of the coloured community. I opposed censorship and book bannings. I made the case for English-speakers to play a mediating role in South Africa. I backed and praised Brian Bamford for a speech calling for the government to let races mix freely … I positioned myself very clearly on the left wing of the National Party” (1305).

“In a debate at the University of Cape Town … I said I was committed to the creation of a political system in which citizenship would be realised for all South Africans” (1313). “I also adopted a strong liberal position relating to private schools and their freedom to choose their pupils” (1321). Deesdae word nóg private nóg openbare skole toegelaat om hulle leerlinge vryelik, dus sonder regeringsinmenging, te kies. Het Worrall al beswaar daarteen aangeteken? Ek dink nie so nie.

Teen die einde van 1975 was Worrall die NP-kandidaat vir ‘n tussenverkiesing in Durban-Noord maar die kandidaat van die Progressiewe Party het gewen. In 1977 was hy die NP-kandidaat vir die algemene verkiesing in Kaapstad-Tuine. Worrall het met ‘n meerderheid van 1 761 stemme gewen. “Three years later the NP would lose the constituency with Dr Dawie de Villiers, a candidate with the highest Afrikaner pedigree” [?] (1395). Een van die redes wat Worrall vir sy sukses in Tuine aanvoer, is: “I had a cosmopolitan and photogenic wife who was known to speak five languages and who did her share of canvassing” (1405). Waarna Worrall gestreef het, was “increasingly expanding the inclusiveness of the South African social and political system” (1440).

PW Botha het hom aangestel as die voorsitter van die Konstitusionele Komitee. “The Prime Minister’s appointment of me, probably the most verligte member on government benches, to the position therefore came as an unpleasant surprise to right wingers” (1448). Hy noem Pik Botha “the most enlightened member of the Cabinet in terms of domestic policy” (1648). Ná PW Botha se rubicon-toespraak in 1985 het Pik glo gevra: “What can I do to get this old bastard to change?” (2053). Worrall skryf: “PW Botha fell into the Rubicon he had promised to cross” (2083). Hy noem PW se toespraak “visceral xenophobia” (2083) terwyl PW in werklikheid getoon het dat hy die ruggraat het om nie, soos sy opvolger daarna gedoen het, eerloos aan swart mag oor te gee nie.

Aan die begin van1983 het Worrall diens as Suid-Afrika se ambassadeur in Australië aanvaar. “A very general view was that I was being shipped out to Australia because of a conflict with Chris Heunis, the Minister of Constitutional Development and my direct superior. Closely connected to this was the opinion that views I had expressed about the essential inclusion of black South Africans in any constitutional framework exceeded the bounds of government policy at the time” (1483). Hy verwys na “the presence in Australia of a growing number of South African emigrés. In my time as Ambassador it would have numbered around 100 000 but today [2018] it is probably closer to 200 000” (1532). “One thing we assiduously avoided in all public statements was any reference to Australia’s race relations problem” (1570). “Australia is probably the most successful melting pot in the world – more so even than the United States. It has an intellectual culture, which includes brilliant art, literature, music and architecture, and it has exceptional facilities to experience all this” (1627). Dit kon ook van die Suid-Afrika van weleer gesê word. In albei gevalle danksy ‘n blanke regering.

In Augustus 1984 het Worrall in Londen aangekom as die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die Verenigde Koninkryk. “Prime Minister [Margaret] Thatcher met President PW Botha once and was not impressed” (1652). Sy het glo min ondersteuning vir haar anti-sanksies-standpunt betreffende Suid-Afrika van die Amerikaanse president, Ronald Reagan, gekry. Worrall “supported her fundamental assumptions about South Africa and what South Africa needed to do” (1734), naamlik “internal liberalisation” (1756), bv die afskaffing van apartheid, die vrylating van Nelson Mandela en oorgawe aan ‘n swart politieke bewind. Thatcher hoef immers nie daagliks self, soos ons die afgelope kwarteeu, in so ‘n opset te probeer lewe nie. Desnieteenstaande skryf Worrall: “Thatcher was South Africa’s best friend internationally” (2024). “She needed to see progress in South Africa to a more racially inclusive society” (2024).

Worrall verwys glad nie na Robin Renwick, die Britse ambassadeur in Suid-Afrika (1987-1991), nie, omdat Renwick ná Worrall se vertrek uit Londen hier begin funksioneer het. Maar Renwick het beklemtoon dat Thatcher teen apartheid was en dat die mate wat sy die NP-regering met haar anti-sanksie-standpunt ondersteun het met ernstige voorbehoude gepaard gegaan en dus op losse skroewe gestaan het. Eintlik het sy ook maar die ondergang van die plaaslike blanke politieke mag begeer en aangehelp (Praag 28.10.2017).

Destyds het die linkse Dene Smuts na ‘n besoek aan Londen geskryf: “Worrall’s notable views included the creation of multiracial local councils and a clear statement of intent about the inclusion of black South Africans” (2032). Die eufemismes wat vir Thatcher en Worrall se standpunt gebruik is, is “move forward” (1756, 2360) en “sufficient movement” (2310); dus, stuur Suid-Afrika oor die afgrond van swart mag. Daardie verlangde vooruitgang/”progress” het sedert 1994 geblyk agteruitgang te wees. Charles Powell, “Thatcher’s foreign affairs private secretary” (1734), het gesê: “I used the reformist Worrall, who had political ambitions of his own, almost as my spy within South African officialdom” (1741). Dit lyk vir my na ‘n disfunksionele en onetiese ambassadeur wat met ‘n buitelandse regering saamspan terwyl hy veronderstel is en betaal word om die Suid-Afrikaanse regering te dien. Geoffrey Howe, die Britse minister van buitelandse sake het Suid-Afrika in 1986 besoek. “Somebody who impressed him very much was Professor JP de Lange, who at the time was die head of the Afrikaner Broederbond organisation” (2331).

Oor sy tyd as ambassadeur in Londen skryf Worrall: “While I knew I could handle the situation politically, intellectually and emotionally, after four years I had a strong sense of having been let down by my own side” (2506), verwysende na die NP-regering wat nie vinnig genoeg “vorentoe beweeg” nie; al het dit later geblyk agteruitgang te wees. “I understood that the ANC was and would be an essential part of a peaceful [!] solution to the South African situation” (2576). Die ANC het egter nooit sy voorliefde vir geweld afgesweer nie. Tydens die grondwetlike onderhandelinge en sedertdien kan Suid-Afrika nie as ‘n vreedsame land gekarakteriseer word nie. Ná skaars twee jaar as ambassadeur in Londen het hy Suid-Afrika in die laaste vier maande van 1986 vier keer besoek. “Between September 1986 and early Januarie 1987 I told a handful of people of my planned resignation and my intention to run in the May election as an independent candidate” (2591). Johann Rupert en Harry Oppenheimer het hom hierin finansieel ondersteun.

Worrall het as ambassadeur bedank en in Februarie 1987 in Suid-Afrika aangekom; “the great white hope of South African politics” (2719; ook 2961). Die NP het sy nuttigheidswaarde vir Worrall verloor. Hy het besluit om as ‘n onafhanklike kandidaat die stryd teen Chris Heunis as die sittende NP-parlementslid in die Helderberg-kiesdafdeling, Somerset-Wes, aan te knoop. Maar Worrall se verkiesingswerkers was, soos dit ‘n linkse politikus betaam, hoofsaaklik lede van die Progressiewe Party. “My colleagues and I promoted an end to all discrimination, the scrapping of the Group Areas Act, the unbanning of political parties, the release of political prisoners and open-ended negotiations towards a new democratic constitution for all South Africans” (2799). Dit het vir Worrall om “radical change” gegaan (2815); dus dat blanke oorheersing plek vir swart oorheersing moet maak. Het daar toe in 1994 ‘n einde aan rassediskriminasie gekom? Is dit maar goed en reg dat daar sedertdien suiwer rassisties en toenemend blatant teen blankes gediskrimineer word?

Daar was buitelandse inmenging in die algemene verkiesing in Helderberg in Mei 1987, bv eerste minister Margaret Thatcher se “indirect but highly publicised association with my campaign” (2855). Uit ‘n totaal van meer as 18 000 stemme het Worrall met 39 stemme teen Heunis verloor. Daarmee het hy bewys dat sy politieke beleid lewensvatbaar kan wees. In Maart 1988 is die Onafhanklike Party gestig, met Worrall, Wynand Malan en Esther Lategan as die leidende politici, “dedicated to achieving open-ended negotiations aimed at creating a peaceful South Africa with equal rights for all” (3007). In April 1989 is die Onafhanklike Party ontbind in die Demokratiese Party (DP, wat later die Demokratiese Alliansie, DA, geword het) met ‘n driemanskap, Worrall, Malan en Zach de Beer, as leiers. Nie een van die drie se ego was klein genoeg om vir die ander terug te staan nie.

In die algemene verkiesing in September 1989 was die DP se ideaal “the creation of a single harmonious nation” (3331). Deesdae is daar steeds geen Suid-Afrikaanse nasie nie en is daar nog minder sprake van harmonie. ‘n Federale konstitusionele opset is deur die DP in die vooruitsig gestel. As ‘n aanhanger van globalisme was Worrall blykbaar meer begaan oor wat buitelanders dink as oor die fatale gevolge van die DP se beleid vir blanke Suid-Afrikaners. Hy het die blanke kiesers gevra “to send a message to the international community … the days of apartheid are over” (3406). Dit word “normalisation” genoem (3456). Worrall was die DP-kandidaat in Durban-Berea en is met ‘n meerderheid van 4 279 stemme tot parlementslid verkies. Sowat 30% van die Afrikaanssprekende blankes het in daardie algemene verkiesing vir die DP gestem. Die NP het minder as die helfte van die blanke kiesers se stemme getrek, met die Konserwatiewe Party wat groot winste behaal en die amptelike opposisieparty geword het.

Die kiesers het hulle rug al hoe meer op die NP gedraai. In hierdie onbenydenswaardige situasie het FW de Klerk sy fatale parlementêre openingstoespraak op 2 Februarie 1990 gelewer waarin hy die DP se beleid in groot mate onderskryf het. “I must confess to having shared every bit of the excitement and admiration for De Klerk’s performance” (3483). “The real issue facing us is not reform of our society but its transformation” (3512), dus oorgawe aan meerderheidsregering en swart mag, spesifiek oorgawe aan die gewelddadige, kommunistiese ANC. Dit blyk dat Worrall reeds die vorige Kersfees op sy opportunistiese manier ‘n kaartjie met goeie wense aan “Madiba” gestuur het (3519). Nelson Mandela verkies dat die troetelnaampie “Madiba” gebruik word wanneer hy aangespreek word (3526). “Everybody who had met him had come away impressed” (3526). “It also struck me that he was a natural conservative” [!] (3533). Mandela het hom mos teen die oorheersing van enige rasgroep oor ‘n ander uitgespreek maar hy het in werklikheid sy lewe gewy aan sy ideaal dat swartes die land moet regeer; maak nie saak hoe onbeholpe, korrup, ondoeltreffend en onsuksesvol nie.

Worrall het blykbaar ervaar dat die grondwetlike onderhandelinge in die “regte” rigting beweeg. Oor die lot van die blankes het hy hom nie bekommer nie. “The main advantage of participation in the negotiations was the individuals I met” [!] (3583). Hy was “particularly impressed by … Roelf Meyer … [he] has an uncluttered mind” [!] (3583). In 1993 is die Oorgangsgrondwet aanvaar en op 27 April 1994 is die “eerste demokratiese algemene verkiesing” in Suid-Afrika gehou. Die ANC het 62.6% van die stemme gekry en die DP 1.7%. Volgens Worrall het die land nou “a viable alternative political system” gehad (3660). “To the extent that I, with my support base, contributed to this momentum and signalled the end of ‘white only’ politics, I have a sense of achievement and of making a difference” (3685). Verandering is egter nie noodwendig verbetering nie. “As in the 1980s, most South Africans [not: most whites] recognise the need for change, reform, redress and redistribution” (3692).

Tony Leon het in Mei 1994 die leier van die DP geword. En Worrall? Soos Leon Wessels het Worrall nie kans gesien om ‘n parlementslid te wees in die nuwe politieke opset waarvoor hy en Wessels hulle beywer het nie. Vergete was sy stelling: “I always regarded myself as a politician of vocation” (2531). Hy het hom van 1994 af eerder met ander dinge besig gehou, bv “as a consultant to international investors and foreign business companies” (191), dus globalisme; nie blankes se belange en sekerlik nie Afrikanerbelange nie.

Die enigste resensie van die boek wat ek gelees het, is dié van Jannie Gagiano (Eikestadnuus, 7.02.2019, p 10). Dit raak nóg kant nóg wal omdat die aard van die boek duister bly. Warroll het op sy kenmerkende manier op dié resensie gereageer deur die Stellenbossers “I got to know well” te lys en ander besonderhede oor homself te publiseer (Eikestadnuus, 28.02.2019, p 7). Naas publisiteit vir homself was hy op soek na lesers vir en veral kopers van sy boek. Die boek is op 2 Maart in Stellenbosch bekend gestel, nadat hierdie kosmopoliet dit reeds in November in Londen gedoen het. Wat buitelanders van hom en Suid-Afrika dink, is vir hom skynbaar steeds belangriker as hoe die plaaslike blankes teen wil en dank daagliks die nuwe Suid-Afrika ervaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.