Leon Lemmer: Afrikaner-Broederbond/Afrikanerbond: Leiding of misleiding?

Lede van die huidige Afrikanerbond wat vanjaar met Cyril Ramaphosa van die ANC vergader het

Dit is nie ‘n maklike taak om na verloop van ‘n eeu oor die Afrikaner-Broederbond (gestig in 1918) – sedert 1994 bekend as die Afrikanerbond – te skryf nie. Die afkorting AB word gebruik om na een van hulle of albei te verwys. In 1918 was ‘n instansie soos die AB absoluut nodig. Na die Anglo-Boere-oorlog (ABO, 1899-1902) en die Rebellie (1914) was die Afrikaner in ellende gedompel en op moedverloor se vlakte. Vandag, ‘n eeu later, kan kwalik beweer word dat die Afrikaner en Suid-Afrika in ‘n beter situasie is. Materieel gaan dit skynbaar voorspoediger met die meeste Afrikaners. Maar kultureel, indien nie ook fisiek nie, verkeer hulle voortbestaan in gevaar. Die magte wat tans dreig om die Afrikaner te verswelg, is kultuur- en beskawingsgewys selfs meer toksies as oorheersing deur die Britte, wat darem in ‘n mate Europees en ten minste Westers was en is.

In hierdie sin was en is die AB nodig. Maar ek skryf dit met huiwering. ‘n Mens kan redeneer dat die AB mede-verantwoordelik is vir die situasie waarin die Afrikaner hom tans bevind; dat die aanvanklike pro-Afrikanerleiding wat daar van die AB uitgegaan het, mettertyd in misleiding ter bevoordeling van swart mag ontaard het. Ek was nooit ‘n lid van die AB nie. Ek wou nie by die AB aansluit nie, onder meer omdat ek nie ‘n groepsmens is nie. Dit is een van die (moontlike) verskille tussen Afrikane, wat (tradisioneel) stam- of groepsmense is, en Afrikaners, wat as (of soos) Europeërs in groter mate tot die uitlewing van hulle individualiteit geneig is. My lewe lank kon ek vryelik ‘n liefde/haat-verhouding met die AB koester. My bespreking van die AB geskied met verwysing na twee boeke; een wat ‘n dekade gelede verskyn het en een wat onlangs gepubliseer is.

Nico Smith

Op die verso van die titelbladsy van sy boek, Die Afrikaner-Broederbond (Pretoria: Lapa, 2009, 262p), beskryf die teoloog, Nico Smith (1929-2010), die inhoud soos volg: “Belewinge van die binnekant van die Afrikaner-Broederbond oor ‘n tydperk van tien jaar – van my toetrede [1963] tot my uittrede [1973] as lid van die organisasie.” Daar is ‘n afdeling, geskryf deur Keith Clarkson, waarin ‘n oorsig van die AB se geskiedenis gegee word (p 19-33). Daaruit blyk bv die AB se voorkeur vir moedertaalonderrig in skole (25). Op universiteit het Smith kennis met MSB Kritzinger se standpunt gemaak: “Taal is ‘n sielsuiting wat inhoud aan jou menswees verleen” (50). Smith verwys na regter Kowie Marais wat voorbeelde van foutiewe Afrikaans tydens AB-vergaderings uitgewys het (121). In sy jeug het Smith Afrikaans-Nederlands as hoofvak vir sy BA-graad gekies omdat sy Afrikaansonderwyser “by my ‘n liefde vir die Afrikaanse letterkunde laat ontwaak het” (47). Nêrens elders in Smith se boek skemer daar egter voortgesette liefde vir of besorgdheid oor Afrikaans deur nie. Myns insiens dui dit op die mate waarin Smith hom in sy latere lewe van Afrikaners gedistansieer het.

Smith beskryf die milieu van Afrikaner-nasionalisme waarin hy opgegroei het en hoe hy mettertyd sy weg tot in die Ruiterwag, Rapportryers en AB gevind het. Hy is onder die indruk gebring dat die AB ‘n kultuurorganisasie is, maar dit het geblyk glad nie vry van partypolitiek te wees nie, Die Nasionale Party (NP), AB en die Afrikaanse Protestantse Kerke (veral die NG Kerk – p 181) het in groot mate ‘n drie-eenheid gevorm (127). Die AB was die dinkskrum van die NP-regering (93, 146). “Geen party, hoe goed georganiseerd ook al, sou ooit daarin kon slaag om so ‘n uitgebreide gratis netwerk van propaganda en politieke manipulering op te bou soos wat die NP in die AB gehad het nie” (134).

“Ek het besef dat nasionalisme in wese ten doel het om mag te verkry en sodoende die belange van die eie groep te bevorder … dat mag groot verantwoordelikheid in die gebruik daarvan vereis. Ek het besef dat mag en regverdigheid geen goeie bedmaats is nie” (95). Smith kom tot hierdie gevolgtrekking oor die NP-regering, maar dit geld onveranderd of heel moontlik in groter mate vir die huidige politieke bedeling. In die (akademiese) praktyk het Smith die AB ervaar op ‘n manier soortgelyk aan hoe ek dit leer ken het: “Daar was altyd ‘n soort onafgesproke verstandhouding tussen die Broers om mekaar in hulle voorstelle in die [universiteits-]senaatsvergaderings te steun” (160). Dit was nie ‘n uitvloeisel van ‘n AB-opdrag nie, maar van die AB-klimaat (133); die “konformerende mag van AB-denke” (146). Hieraan skryf Smith sy eie aanstelling as dosent aan die Universiteit Stellenbosch toe (108, 200). Ek hou van sy beskeidenheid oor sy vermoëns (211, 213) en sy verwysing na homself as “‘n mindere lig” (164).

Smith verwys na die gevoel by Afrikaners dat hulle na die ABO “tweedeklasburgers in hulle eie land was” (20). Sedert 1994 is dit weer die geval. Die NP-regering is destyds van politieke aanstellings (24) en nepotisme (25) in bv die staatsdiens beskuldig. Tans is dit weer en dalk in groter mate die geval met ANC-kamerade wat in poste ontplooi en dikwels sonder sigbare prestasie (en selfs met sigbare wanprestasie) tot in hoë poste vorder. Smith noem dat “lede van die AB mekaar identifiseer deur die hand stewig na regs te draai wanneer jy iemand groet” (82) – gelukkig nie na links nie. Smith is in sy skik met die standpunte wat hy geformuleer het in ‘n konsepbrief (236-241) wat hy in 1981 opgestel het, bv dat afsonderlike ontwikkeling verwerp word, aan almal ‘n menswaardige bestaan gegun moet word, kerklidmaatskap oop vir enigeen moet wees en geregtigheid bo selfbehoud gestel moet word. “Alleen op dié wyse sal al die inwoners van die land in geregtigheid kan voortbestaan en sal almal ‘n rustige lewe kan lei” (241). Ervaar Afrikaners sedert 1994 geregtigheid by bv die vulling van poste en onteiening sonder vergoeding en het rustigheid op die land neergedaal, of is Suid-Afrika een van die moord- en gewelddadigste lande in die wêreld? Maar dan is dit Smith wat skryf dat hy “‘n permanente weersin in enige vorm van geweld” gehad het (42).

Smith en Beyers Naudé (1915-2004) was ‘n kort tyd mede-leraars van dieselfde gemeente en albei het mettertyd kant vir die sogenaamde bevrydingsbewegings gekies. Soos die ander bevrydingsteoloë word God se aandag by voorkeur ingeperk tot bystand aan nie-wit verdruktes en veronregtes. Maar ek het nog nie uit daardie oord iemand hoor sê dat Afrikaners deesdae vir bonatuurlike voorkeur-aandag kwalifiseer nie. Teen die einde van sy lewe het Naudé die bestaansreg van die AB erken, terwyl Smith ‘n radikaler standpunt gehuldig het, naamlik dat ‘n organisasie soos die AB nie moet bestaan nie (191, 193, 195). Dit toon in watter uiterste mate hy in ‘n verloopte Afrikaner ontaard het. Smith noem dit sy “reis van Europeër tot Euro-Afrikaan” (8). As die AB wel voortbestaan, moet die lede “hulleself vir die Suid-Afrikaanse bevolking in die geheel kan nuttig maak” (255). Dit moet vir die Afrikaners en die AB nie om selfbestaan gaan nie, maar om saambestaan (259). “Dit sal teweegbring dat hulle gewillig sal wees om hulle met die grootste lojaliteit in diens van Suid-Afrika in die geheel te stel” (255). Dit is presies wat die AB sedert 1994 probeer doen, maar dit het hierdie instansie terselfdertyd grootliks rigtingloos, invloedloos en opsioneel laat word.

OJO Ferreira

In 1935 het JBM Hertzog aangevoer dat AB-lede nie beter Afrikaners as die res van die volk is nie (Smith 24; Ferreira 127); iets wat veral ná 1994 baie duidelik geblyk het. Soos by sommige ander volke en instansies het die AB-leiding veral van die elite uitgegaan, maar vooraanstaande Afrikaners word sowel binne as buite die AB aangetref. Dit blyk ook duidelik uit die kultuurhistorikus, OJO Ferreira, se boek, Broederskap: Eeufeesgeskiedenis van die Afrikaner-Broederbond en die Afrikanerbond, 1918-2018 (Randburg: Die Afrikanerbond, 2018, 457p, R380). Daarin staan: “Geleidelik het die AB ‘n Afrikaner elite-organisasie geword” (p 37; ook 61, 78), maar baie vooraanstaande Afrikaners was nooit lid daarvan nie. Ferreira was tot 1986 elf jaar lank lid van die AB (9). Hy is waarskynlik as navorser vir hierdie studie aangestel omdat hy die outeur van die volgende publikasie is: FAK-75: Geskiedenis van die derde kwarteeu in die bestaan van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, 1979-2004 (Pretoria: FAK, 2004) (431). Die FAK is as “‘n belangrike openbare arm van die AB beskou” (64). Ferreira noem die Afrikanerbond die “omvormde [oftewel getransformeerde] opvolger” van die Afrikaner-Broederbond (10). Hy verwys na Smith se boek, wat nie gunstig in AB-geledere ontvang is nie (266).

In die voorwoord skryf Jaco Schoeman, die voorsitter van die AB, dat dit vir die AB gaan om die Afrikanersaak te dien (1). Die AB was betrokke by “vertroulike vergaderings … waar die einde van apartheid in diepte bespreek en bevorder is” (2). Volgens FW de Klerk het “die AB gehelp om die weg te baan vir ‘n onderhandelde oplossing; ‘n oplossing wat die regte en vryhede van alle [!] Suid-Afrikaners kan beskerm” (4) – “kan beskerm” maar in die praktyk gebeur dit nie. Die AB moet dus medeverantwoordelikheid aanvaar vir die onbekwaamheid en ondoeltreffendheid van die regering wat sedert 1994 aan die bewind is en vir die chaotiese en gewelddadige toestande wat sedertdien heers. Schoeman erken darem: “Vandag vervang ons mislukkings [bv apartheid] met nog groter mislukkings. Suid-Afrika en sy mense verdien beter” (5). By die AB is daar “die vaste verbintenis met die Suid-Afrikaanse grondwet” (3). Die AB “wil Afrikaners nie isoleer van Suid-Afrika nie” (4) – op die gevaar af dat Afrikaners as identifiseerbare groep/volk asook Afrikanerkultuur verswelg word en mettertyd verdwyn. Schoeman sluit soos volg af: “Broers, ons kan ons koppe hoog hou … Met ‘n duur gekoopte vryheid leef ons liefde, ons bedink innoverende oplossings en strewe na uitnemendheid” (7). Watter soort vryheid? Vryheid in onderdanigheid? Watter soort liefde? Is daar sprake van algemene wedersydse ons/hulle liefde?

Die boek bestaan uit drie dele. Die eerste deel handel oor die Afrikaner-Broederbond (1918-1994) en is feitlik uitsluitlik op ELP Stals se eintlik ongepubliseerde teks, “Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond, 1918-1994” (1998), gebaseer (13), wat in opdrag van die AB nagevors en geskryf is (105, 432, 263 – 763 bladsye!). In die tweede deel van die boek vind Ferreira se eie navorsing neerslag. Dit handel oor die Afrikanerbond (1994-2018). Die derde deel het as titel: “Nawoord, ‘n kritiese waardering,” met Piérre Theron as die samesteller. Daar is onder meer interessante weergawes van onderhoude wat die historikus, Jan-Ad Stemmet, in 2013 en 2014 met 13 “vooraanstaande Suid-Afrikaners gevoer [het] om hulle menings oor en gevoelens jeens die Afrikaner-Broederbond, die Afrikanerbond en die Afrikaner vas te stel” (352).

“Uit die dringende nood van ‘n volk is die Afrikaner-Broederbond gebore” (16). Dit was in 1918 ongetwyfeld die geval. “Volgens die [AB-]grondwet sou Afrikanereenheid nagestreef word en sou die Afrikaner ontwikkel word en liefde vir sy taal, geskiedenis, tradisies, land en volk by hom ingeskerp word … Bo alles sou die handhawing en uitbouing van Christelike beginsels egter die grondslag wees waarop die Bond berus … Dit is feitlik onmoontlik om die doelstellings van die AB in woorde uit te druk en daarom is ook na die AB as die ‘gewete van die Afrikaner’ verwys” (19). In die jare tagtig en negentig het die AB myns insiens die spoor byster geraak en as’t ware gewetenloos anti-Afrikaner-uitkomste bevorder. Wat die AB toe gedoen het, is teenstrydig met wat in sy 1983-grondwet staan: Die AB beywer hom vir “die bewerkstelliging van ‘n gesonde en vooruitstrewende eensgesindheid onder alle Afrikaners wat die welsyn van die Afrikanervolk nastreef, die opwekking van ‘n nasionale selfbewussyn by die Afrikaner en die inboeseming van liefde vir sy taal, godsdiens, tradisies, land en volk; die bevordering van alle belange van die Afrikanervolk” (20).

Die AB het sy seile mettertyd na die politieke wind gespan: “Dit is interessant dat lidmaatskap van die AB in sommige gevalle in die sestigerjare weens liberale standpunte beëindig is, terwyl dit in die sewentigerjare op grond van regse standpunte geskied het” (39). In 1988 is daar bv nie net oor Afrikanerskap besin nie, maar ook oor Suid-Afrikanerskap, wat op ‘n klemverskuiwing (kan) dui (43). In hierdie vermurwing het die opvoedkundige, Pieter de Lange, die AB-voorsitter (1983-1993), ‘n leidende rol gespeel. De Lange het in 1985 “die vraag geopper of daar nie aan direkte skakeling met die ANC en ‘n deegliker oorweging van die Freedom Charter van 1955 gedink moes word nie” (118). Met die ondersteuning van veral Johan Heyns (1928-1994) het De Lange die AB entoesiasties op die noodlottige dwaalspoor van oorgawe aan swart mag gelei. Die AB het “‘n klimaat vir verandering” bevorder (138).

FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 het “oorweldigende positiewe kommentaar [in AB-geledere] uitgelok, maar daar was ook afdelings wat die dokument [wat aan die AB-lede hieroor gesirkuleer is] as idealisties en onprakties beskou het en dat die verlies van Afrikaneridentiteit en -selfbeskikking daarvolgens ‘n voldonge feit was” (139). In 1990 het die AB tydens ‘n onderhoud met De Klerk sy “steun aan sy denkrigting verklaar” (107). De Lange het in 1992 by AB-lede aanbeveel dat hulle “Ja” in die blanke kiesers se referendum oor onderhandelde magsdeling moet stem (140). Die daaropvolgende magsoorgawe weerspreek wat in die AB se lied staan: “Want Broer alleen is hy wat moedig stry” (46).

Reeds voor die mandaatlose 1994-magsoorgawe het die AB oor omvorming begin besin. De Lange het hom aangematig om die AB te bestempel as “‘n organisasie wat mank gaan aan gebrekkige taakingesteldheid, onder benutting van sy openbare arms en dooie hout onder sy lede. Volgens hom het die AB hom met ‘skyngevare’ besig gehou en het afdelings nog nie die werklikheid van verandering begryp nie” (142). Die nuwe AB-missie wat in 1992 geformuleer is, lui: “Die AB, uitgaande van sy Bybelse grondslag aanvaar vrywilig die verantwoordelikheid om alle belange van die Afrikaner tot voordeel van die land en sy mense te bevorder” (143). “Die woord ‘Bybelse’ is later na ‘Protestantse’ verander. Dit is opvallend dat die Afrikaner se deelgenootskap aan ‘n groter geheel duidelik na vore gekom het. In 1993, in seker sy laaste AB-toespraak, het De Lange “verklaar dat die Afrikaner dinamies aan sy toekoms moes werk en nie lam moes word nie” (147-148). Op 27 November 1993 het De Lange as AB-voorsitter uitgetree (149). Hy het die sinkende AB-skip dus betyds verlaat, dus kort voordat die swart politieke bewind die mag oorgeneem het.

Die strategiese doelstelling van die omvormde AB het onder meer klem gelê op die versterking van geestelike waardes, uitbouing van die Afrikaner se kultuur, eensgesindheid en hulpverlening en uitreiking na diegene wat dieselfde waardes gedeel het. Verder moes ‘n wyse gevind word om die Bond vry te maak van die beeld van geheimhouding sonder om lede se name bekend te maak” (143). Johan Heyns het in hierdie konteks geredeneer dat die begrip “‘Afrikaner’ nie net wit Afrikaanssprekendes insluit nie, maar ook bruin en selfs swart persone wat die tradisionele wit Afrikaner se taal, geloof en geskiedenis met hom gedeel het” (143-144). Die woord “blanke” moes uit die AB-grondwet weggelaat word. Elkeen wat hom met Afrikanerskap wou vereenselwig sou as ‘n Afrikaner beskou moes word (144). Deur die begrip “ras” met “waardes” te vervang, het die AB al hoe meer sy karakter en koers verloën en verloor. Dit was onder meer die gevolg van FW de Klerk se versoek in 1992 “dat die Bond lidmaatskap moes oopstel en die begrip ‘Afrikaner’ weer gedefinieer moes word” (145). “Die oopstel van die Afrikaner-Broederbond in 1994 was teen die wil en wens van 97% van sy lede” (203). Die AB se omvorming was uit pas met die oorgrote meerderheid van sy lede; soortgelyk aan die klein De Klerk-groepie in die NP wat mandaatloos aan die ANC oorgegee het.

Die AB se rol in die tweede helfte van die 20ste eeu het dus ontaard in politieke besinning en (mis)leiding, terwyl die AB die klem aanvanklik op kulturele sake geplaas het (51). “Artikel 88 van die reglement van die AB het bepaal dat die Bond hom nie met ‘n bepaalde politieke party sou vereenselwig nie” (130). Die AB se “ideaal om polities neutraal te staan” (129) het mettertyd egter vergete geraak. Veral die republikeinse gedagte het die AB van 1951 af by politieke en staatkundige sake betrokke laat raak (130). Die doel was om “politieke verdeeldheid onder Afrikaners te besweer” (130). “Op praktiese vlak het die AB [voor republiekwording in 1961] gepoog om uiterlike tekens van Suid-Afrika se Britse verbintenis ongedaan te maak … maar sonder om die Engelssprekende landgenote te vervreem, omdat hulle steun nodig was om ‘n meerderheidstem ten gunste van republiekwording te verkry” (130-131). Namate “die AB se belangstelling in rasseverhoudinge en polities-staatkundige aangeleenthede toegeneem het, het die betrokkenheid by kultuur en kulturele aktiwiteite afgeneem en feitlik ‘n roetine of selfs bysaak geword” (53). Ná die 1994-ramp het die AB probeer om weer aandag aan kultuursake te skenk maar met weinig sukses, onder meer omdat talle ander Afrikaans-instansies op daardie terrein bedrywig is.

“Omdat die Afrikaanse taal die draer van die Afrikaanse gedagte is, het die AB altyd in die handhawing en uitbouing van die Afrikaanse taal belanggestel. Die suiwere gebruik van Afrikaans is aangemoedig, die bevordering as handelstaal is beklemtoon en die bevordering van die Afrikaanse boek en lied het spesiale aandag geniet … [Daar was] waardige maar ferme handhawing van Afrikaans” (51). Sedert 1990, dus tydens die grondwetlike onderhandelinge en daarna, het feitlik niks hiervan meer tereg gekom nie. Tans lewe ons in ‘n era waarin nie ‘n enkele Afrikaansinstansie op suiwer(der) Afrikaans aandring nie. Taaloorwegings word om politieke redes versaak ten einde bruin Afrikaanssprekendes, spesifiek Kaapssprekers, nie aanstoot te gee nie. Die tragiese gevolg is dat nie net bruines nie maar toenemend ook blankes sonder daadwerklike teenkanting geradbraakte Afrikaans praat en selfs skryf.

Wat nie algemeen besef word nie, is die mate waarin John Vorster se bewind (1966-1978) die Afrikaner en die land se toekoms beduiwel het. In 1974 het Vorster “aangedui dat die inwoners van Suidwes-Afrika toegelaat sou word om self oor hulle toekoms te besluit” (122). Vorster het daarna Ian Smith se blanke bewind in Rhodesië vir die wolwe gegooi, wat in 1980 in sowel Zimbabwe as Namibië tot swart meerderheidsregering gelei het. Die AB het hierdie gebeure as die “pynlike werklikheid aanvaar” (122). Daar was bitter verwyte oor Suid-Afrika se “verraad” (123), maar veel groter verraad sou in 1990/94 volg. Reeds 1973 het Vorster selfs Van Riebeeck-dag (6 April) as openbare vakansiedag afgeskaf (54). Suid-Afrika het in 1961 tydens Hendrik Verwoerd se bewind ‘n republiek geword (76). “‘n Week voor sy dood in 1966, het dr HF Verwoerd aan die AB-voorsitter, dr PJ Meyer, verlof gegee om met ‘n veldtog vir ‘n nuwe Republikeinse vlag te begin, maar weens politieke oorwegings het die Vorster-regering later van die voorneme afgesien” (57). In 1967 het Vorster aangekondig “dat Suid-Afrika nie aan ander lande sou voorskryf wie hulle in [sport]spanne kon insluit nie” (98). Eers tien jaar later het die AB hom “van die Nasionale Party se sportbeleid gedistansieer” (98).

Die historikus, HB (Quintus) Thom (1905-1983), die rektor van die Universiteit Stellenbosch (1954-1969), was van 1952 tot 1960 die voorsitter van die AB. Toe het die AB min aandag aan universitêre aangeleenthede gegee omdat Thom die gesonde standpunt gehuldig het dat “universiteite outonome instellings was in wie se sake nie ingemeng moes word nie” (89). Dit is ‘n standpunt wat deesdae deur geen plaaslike universiteit uitgeleef word nie; almal transformeer ooreenkomstig die wense van die ANC. In die geval van die Universiteit Stellenbosch is die getal regeringsverteenwoordigers in sy raad vermeerder ten einde te verseker dat die regering die universiteit in selfs groter mate as voorheen kon beïnvloed. Onlangs is aangekondig dat die naam van die US se HB Thom-teater na Adam Small-teater verander word. Ek wonder wat die Wim de Villiers-US nog gaan doen in sy veldtog teen Afrikaners en Afrikaans. Deel van De Villiers se aksie spruit moontlik uit die studie wat Thom in 1950 oor die stigtingskenker van die US, Jan Marais, voltooi het. Marais het die voorwaarde gestel dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie; ‘n voorwaarde wat De Villiers op ‘n hoogs onetiese manier ignoreer.

In 1994 is die Afrikaner-Broederbond omvorm tot die Afrikanerbond. Die weglating van “broeder” uit die benaming, het die weg vir “susters” se lidmaatskap gebaan, soortgelyk aan vroue wat deesdae as kerkraadslede kan dien omdat die mans in die poel te min geword het. Ná 1990 het baie lede uit die AB bedank omdat “die organisasie met die ou bedeling vereenselwig word” (147). Dit is hoogs onwaarskynlik dat die meeste wat hulle AB-lidmaatskap opgesê het, dit gedoen het vanweë ‘n Damaskus-ervaring. Daar was heel moontlik baie opportuniste wat by die AB aangesluit het in die hoop op selfbevoordeling. Sedert 1994 kan AB-lidmaatskap, anders as voorheen, selfbenadeling wees. In hierdie nuwe era word daar nie meer na (blanke) Afrikaners verwys nie, maar na Afrikaanssprekendes, selfs Afrikaanses. Die AB het “‘n radikale koersverandering” ondervind (152). Min het behoue gebly van die AB-ideaal: “Die selfstandige en volwaardige voortbestaan van die Afrikaner” (155).

“Die Afrikanerbond beskou homself as deel van die gematigde groep Suid-Afrikaners wat die pre-1994-onderhandelinge en grondwet onvoorwaardelik [!] gesteun het” (289). Deesdae besef die AB “dat die Grondwet soms ondergeskik staan aan die ANC se beleid” (296). “Dat die Grondwet vir president Zuma ‘n struikelblok is en dat ‘die ANC belangriker as die Grondwet’ is, het hy reeds in November 1996 in Durban gesê” (303), “Die groot fout wat die ANC maak, is, aldus die Afrikanerbond, om aan te neem dat die inhoud en vertolking van die Grondwet die alleenreg van die ANC is” (315). “Die Suid-Afrikaanse Grondwet is nie ondergeskik aan die Vryheidsmanifes nie en kan ook nie in samehang daarmee gelees word nie” (322). “Die verwagting dat die beginsels waarop die nuwe [1996-]Grondwet gebaseer is vir Afrikaners sekuriteit sou bied, veral ten opsigte van taal- en kultuurregte, is helaas nie bewaarheid nie” (344).

Ontnugtering met die ANC het ná 1994 spoedig in AB-geledere ingetree, bv weens die “onbevoegdheid en onbekwaamheid” van die ANC-bewind (156). “Die gebrekkige dienslewering, die verval van infrastruktuur, verswakking in onderwysstandaarde, korrupsie, onvermoë om misdaad vas te vat, xenofobie, kragonderbrekings en vele meer is die direkte gevolg van regeringsbeleid wat swak uitgevoer word as gevolg van onbevoegdheid en grootskaalse verlies aan kundigheid. Daar kan nie van ‘n inklusiewe Suid-Afrika gepraat word indien ‘n rasgebaseerde beleid die samelewing nog steeds verdeel nie” (279). Die AB het besluit dat sy aktiwiteite op drie areas sou fokus: “Afrikanerbelange, staatkundige belange en minderheidsbelange” met as onderliggende motivering om “‘n positiewe en konstruktiewe bydrae [te] lewer tot Suid-Afrika en al sy mense” (156).

“Die skerp fokus op die bedreigde belange van die Afrikaner [het] versag. In die huidige [AB-]Grondwet gaan dit onder meer oor die mobilisering van talent en leierskap wat veronderstel word te bestaan. Verder gaan dit oor die beskerming van die Afrikaanse [nie net Afrikaner- nie] gemeenskap se belange en om dit oor die algemeen te help bevorder. Die onuitgesproke veronderstelling wat uit die bewoording van die Grondwet afgelei kan word, is eerder instandhouding van die Afrikaner se belange as die vestiging daarvan” (157). Die net word so wyd gespan dat die koers vervaag: “Die strewe van die Afrikanerbond, uitgaande van sy Bybelse grondslag, is om diensbaar te wees aan en by te dra tot die ontwikkeling van die Afrikaanse [!] gemeenskap tot uitnemendheid op elke terrein van die lewe, ook in belang van alle Suid-Afrikaners” (157-158). Die AB het, soos vroeër, weer “a-polities” geword (159). “In 2002 is ooreengekom dat die Vryheidsfront Afrikanerbelange op die politieke terrein sal dien, terwyl die Afrikanerbond die belange van die Afrikaner op die nie-politieke terrein sal behartig” (275-276).

Daar is “‘n behoefte aan duidelikheid oor presies wat die Afrikanerbond se rol en werkswyse is” (179). “In 2005 is berig dat die byeenkomste van die Afrikanerbond al swakker bygewoon word” (197). “In 2007 het kommer oor die funksionering van die grondvlakstrukture van die Afrikanerbond geheers. Daar was ‘n gebrek aan omgee, gemeenskapsdiens en gemeenskapsbetrokkenheid” (193). In 2007 en 2008 “is gemeld dat die tendens van ‘n kwynende lidmaatskap van die Afrikanerbond verder mag toeneem … hoofsaaklik omdat die organisasie sy invloed verloor het” (198). “Lede [het] hulle belangstelling in die Afrikanerbond verloor” (199). “Die oorgang na die nuwe bedeling het ‘n groot onrustigheid by lede ingeskerp en tot ‘n konstante stroom bedankings gelei” (200). In 1991 was daar 19 709 lede (35). “In 2017 was die ledetal ongeveer 3 400 ere- en aktiewe lede” (199). Die finansiële vermoë van die AB het as gevolg van die krimpende ledetal drasties verswak.

Die AB dobber voort. In 1998 wou die AB hoop bring “vir uitsiglose Afrikaners” (163). Die Vlamprogram van 2002 wou Afrikaners moreel versterk (172). In 2008 is die volgende AB-visie aanvaar: “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms vir die Afrikaner” (161) of “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika” (339). In 2015 was die AB-missie onder meer om “die Afrikaner se toekoms te verseker … om Afrikaner-belange te handhaaf en uit te bou” (161). Die AB wil “‘n aktiewe en dinamiese rol in die gemeenskap speel … [en] ‘n sterk gesagsliggaam vir die Afrikaner” wees (220). Hy het hom tereg vir “die rasionalisering van “Afrikaanse kultuurorganisasies” beywer (220), maar dalk op die gevaar af dat die AB oorbodig verklaar kon word.

Soms is daar wrywing tussen Afrikaansinstansies waar ‘n mens nie wrywing verwag nie: “In 2001 wou die Afrikanerbond ‘n bedrag van R20 000 bydra tot die fonds waaruit die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns jaarliks die Hertzogprys toeken. Die Akademie het die Afrikanerbond se skenking vir die Hertzogprys afgewys” (264). Hierdie Akademie het polities erg links geneig toe Jacques van der Elst die uitvoerende hoof was. Ek het gehoop dit sou beter gaan nadat Dioné Prinsloo (Piet Meyer van SAUK-faam se dogter) hom opgevolg het. Johannes Comestor het sy teks getiteld, “Twee Afrikaansinstansies ondermyn Afrikaans” (Praag 24.08.2018), aan sowel Prinsloo as Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad gestuur, maar nie eens die beleefdheid van ‘n ontvangserkenning uit een van hierdie twee oorde ontvang nie. Albei instansies gee voor dat hulle Afrikaans bevorder.

In die boek staan: “Die verhouding tussen die Afrikanerbond en AgriSA was ietwat stram” (312), wat verstaanbaar is omdat AgriSA, anders as streekslandbou-instansies soos die Transvaalse Landbou Unie (TLU), glad te geneig is om die ANC te vertrou, soortgelyk aan die vertroue wat FW de Klerk en sy groepie onderhandelaars in ANC-integriteit gestel het. Dan Kriek, die president van AgriSA, het by geleentheid ‘n “striemende aanval op die Afrikanerbond geloods” (320). In 2011 het ‘n Ad hoc-groep, insluitende die AB en die TLU, misdaad en landelike veiligheid bespreek. “AgriSA, die grootste landbouorganisasie, het hulself van die Ad hoc-groep gedistansieer omdat die Afrikanerbond daarby betrokke was” (315). Die ANC het die “‘skeefgetrekte’ geskiedenisbeskouing dat alle witmense grond onregmatig bekom het en dat dit histories aan swart mense behoort het” (316). Die AB wil eerder van “grondverdeling” as “grondhervorming” praat (318). Eiendomsreg is vir die AB “ononderhandelbaar” (318). Die AB het dit heeltemal tereg teen “onverantwoordelike uitsprake soos ‘gesteelde grond’ en ‘ons land'” (322) wat deur ANC-kornuite en hulle meelopers gemaak word.

Daar word verkeerdelik genoem dat Michael le Cordeur in 2008 die eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) was (223-224). Wannie Carstens was die eerste en Le Cordeur die tweede ATR-voorsitter. Dit was vir my verblydend dat die AB die ATR om dieselfde fundamentele redes as ek gekritiseer het: Kommer is “uitgespreek oor die feit dat die Afrikaanse Taalraad nie altyd die voorvegter vir Afrikaans is nie … dat van die standpunte soms polities korrek is, sonder dat die belang van Afrikaans bevorder word” (224). Die AB is “besonder besorgd … oor die voortgesette verlies aan status van Afrikaans” (224). In 2017 het die AB R50 000 aan #GelykeKanse geskenk vir sy hofstryd ter behoud van Afrikaans aan die US.

Oor die Afrikaners se volkslied is die AB veels te versigtig of huiwerig: “Die Afrikanerbond is van mening dat daar in die huidige tydsgewrig met groot omsigtigheid gehandel moet word in die aanwending en gebruik van Die Stem van Suid-Afrika (225). “Die Afrikanerbond se standpunt was dat [Steve] Hofmeyr en die 45 000 mense wat [in 2014] saam Die Stem gesing het, die grondwetlike reg gehad het om die lied te sing en daardie reg moet gerespekteer word. Die Stem propageer nie geweld of verkondig nie haat wat op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens gebaseer is nie, maar spoor in werklikheid lojaliteit en patriotisme aan” (226).

Oor plek- en ander naamsveranderinge word tereg gesê dat daar soms “‘n uitdagende moedswilligheid” te bespeur is (229); “dat veral Afrikaanse name gestoomroller word en dat name eensydig verander word” (230). “Afrikaanssprekendes [word] met ondeurdagte naamsveranderinge, afskaling van Afrikaans en vandalisme van hulle monumente gekonfronteer” (233), bv die “doelbewuste vernietiging van die Groot Trek-gedenksteen in Standerton” (238). “Die geskiedenis kan nie deur die vernietiging van beelde uitgewis word nie … almal se geskiedenis [moet] gerespekteer” word (241). Oor Menseregtedag is die AB se gesonde standpunt “dat Suid-Afrika niks het om te vier op dié dag nie omdat basiese menseregte na die demokratiese oorgang nog steeds vertrap word. Die ongelukkige waarheid is dat minderhede aan die ontvangkant van omgekeerde rassisme is” (235). Die reg op lewe, ook vir Afrikaner-boere, is immers die voorveronderstelling vir die benutting en genieting van al die ander menseregte. Oor Jacob Zuma word gesê: “Om in ‘n toespraak Jan van Riebeeck se aankoms op 6 April 1652 aan die Kaap as die begin van Suid-Afrika se moeilikheid te beskryf, is om die Afrikaners se geskiedenis te demoniseer” (236).

In 2007 het die AB die onvergeefbare flater begaan om vir Jonathan Jansen as lid van die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding te nomineer (245). In dieselfde jaar het Jansen “verklaar dat Afrikaans altyd een van die ankertale van die Vrystaatse universiteit sal bly. Later het dit geblyk leë woorde te wees, want in 2013 lui van sy standpunte, soos in Beeld vervat, soos volg: ‘Eksklusief Afrikaanse wit skole en universiteite hou ‘n ernstige gevaar in vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika. Engels, eerder as Afrikaans, sal die taal van versoening in hierdie land moet wees'” (247). Die AB het Jansen as ‘n “speler vir die groot paviljoen opgesom” (247). Oor die US word tereg gesê daar is “‘n oneerlike poging deur die Universiteitsbestuur, en veral prof [Russel] Botman, om die verengelsing van die Universiteit te verdoesel” (248).

Wanneer ek as leser van hierdie boek ‘n mate van piëteit of simpatie vir die AB begin voel, word ek daarna egtger teleurgestel met dinge soos die volgende. Ná PW se dood in 2006 het die AB verklaar dat Botha “‘n onontbeerlike bydrae gemaak het om Suid-Afrika op ‘n koers te plaas wat ‘n beter lewe vir al [!] sy mense moontlik kan maak” (259). “Die Afrikanerbond onderskryf nie meer apartheid nie” (269). “Met leidende figure in die ANC is reeds vroeg geskakel,” bv ‘n AB-afvaardiging het met Nelson Mandela gesprek gevoer (274). Op sy negentigste verjaardag het die AB nie net erkenning aan Mandela as ‘n ikoon van versoening gegee nie maar selfs aanbeveel dat sy waardes bevorder moet word (342). Myns insiens is die geweldskultuur wat Suid-Afrika steeds kenmerk ongetwyfeld deel van Mandela se nalatenskap. In 2015 is FW de Klerk deur die AB “as Afrikaner en staatsman vereer vir sy buitengewone bydrae tot die daarstelling en bevordering van demokrasie in Suid-Afrika” (342), asof demokrasie in die sin van algemene, gelyke stemreg in ‘n eenheidstaat ‘n geskikte staatsvorm vir Suid-Afrika is met sy groot groep ongeletterde, oningeligte en maklik intimideerbare kiesers.

“Die Afrikanerbond het die wettigheid van die WVK aanvaar, maar die leemtes in die funksionering daarvan raakgesien” (275). Die Menseregtekommissie het ook “‘n politieke instrument geword” (282). Die sogenaamde Onafhanklike Verkiesingskommissie gebruik uitsluitlik Engels as taal (286). “Hoewel die Afrikanerbond nie die noodsaak vir regverdige en gebalanseerde regstellende aksie ontken nie, is die toepassing daarvan gebaseer op blatante diskriminasie en strydig met artikel 9 van die Grondwet van 1996. Regstellende aksie as beleid weerhou talentvolle jongmense, ongeag hulle kwalifikasies of ervaring, om ‘n bydrae te lewer. Meriete wat ‘n [dié] maatstaf moet wees, is vervang met ras as die allesoorheersende kriteria [kriterium] vir aanstelling in die openbare sowel as die private sektor” (280).

Hoe benard die Afrikaners se situasie in die nuwe Suid-Afrika is en hoe ver van onafhanklik die regspraak deesdae is (iets wat Hermann Giliomee beklemtoon) het in 2016 uit die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die verandering van 25 straatname in Pretoria geblyk. In die meerderheidsuitspraak van hoofregter Mogoeng Mogoeng “is die insinuasie dat Afrikaners nie aanspraak kan maak op grondwetlike regte vir die uitlewing van hulle kultuur nie aangesien dit deur onderdrukking [dwars]deur die geskiedenis beslag gekry het” (309). Dít is die gevolgtrekking waartoe twee blanke regters in hulle minderheidsuitspraak oor die meerderheidsuitspraak gekom het. “In ‘n tweede minderheidsuitspraak van regter J Jafta kritiseer hy die twee [blanke] regters se siening en bevestig dan dat Afrikaners in werklikheid geen aanspraak op enige grondwetlike regte het nie” (309).

Die enigste verwysing in die boek na Praag (wat nie eens in die indeks gelys word nie) is: “Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) het in 2002 die deelname van die Afrikanerbond aan ‘n Afrikanerreferendum versoek, maar die Bond het geoordeel dat so ‘n referendum weer die ou debat sal oopkloof oor wie die Afrikaner is. Dit kon tot nuwe twis en tweedrag onder Afrikaners lei. In plaas van konfrontasie is die Afrikanerbond se styl eerder dié van kommunikasie” (336). Tydens kommunikasie moet daar iets gekommunikeer word. Die AB is klaarblyklik lugtig om sy standpunt dat die Afrikanerdom nie-blankes insluit, te regverdig.

Ten slotte kom ek by die 13 onderhoude in die derde en laaste afdeling in die boek. Volgens Niël Barnard, voorheen die hoof van Nasionale Intelligensie, word “die rol van die AB in die skikkingsproses heeltemal oorskat … Dit is ‘n ding wat Pieter de Lange homself omgehang het” (354). Daar was “voor en tydens die onderhandelinge baie kortbroekknape … mense vir wie dit meer oor die eie belang gegaan het as om die saak waarvoor hulle daar was” (356). Ook: “ek nie ‘n ‘groot fan’ van De Klerk was nie” (357).

Pieter Bingle, ‘n predikant van die Gereformeerde kerk, verwys na ‘n toespraak van FW de Klerk waarin “hy vertel het dat die AB die terrein vir verandering, wat moes kom, voorberei het. Dit was nie die koukus van die Nasionale Party gewees nie, maar … die AB [wat] die NP-koukus voor was” (359). Dit lyk asof Bingle graag De Klerk se doppertunisme onderskryf.

André P Brink vertel dat sy pa ‘n AB-lid was (363) en dat sy oupa die ABO eerstehands ervaar het (364). Brink was “nooit ‘n baie groot aanhanger van De Klerk nie” (366). “Die huidige Afrikaner voel nog verward en selfs minderwaardig in die nuwe bedeling – uitgestoot en met ‘n wrewelrige gevoel! Hy weet nie mooi waarheen hy moet gaan nie en weet ook nie mooi hoe om dit te hanteer nie, en selfs die wat dit skynbaar hanteer, dink en doen dit op ‘n baie teleurstellende manier” (367). Brink dink nie Afrikaners sou vandag weer ‘n organisasie soos die AB stig nie: “Die verbrokkeling binne die volk, in die mate wat ‘n mens nog daarvan kan praat, het te ver gegaan. Dit is al so ver, dat die indruk of selfs die behoefte daaraan om eenheid te skep, nie meer sterk genoeg is nie” (367).

Mangosuthu Buthelezi beskou “die storie van die Afrikaner [as] een van die mees inspirerende verhale” (368). Oor die AB sê hy: “My perception was that it was an exclusive club of Afrikaners, that it was a self-upliftment instrument only” (369).

Tom de Beer, die voorsitter van die AB (1993-2000), sê die stelling dat Pieter de Lange “soms dominerend kon wees, het ‘n element van waarheid, maar ek sal eerder sê dat hy meer oortuig was as [dat?] hy reg was” (374) – ‘n karaktertrek wat ook by Johan Heyns opgeval het. “Ek [het] in FW geglo … Die gevoel het selfs by mense bestaan dat hy te lig in die broek was … Ek het hom egter vorentoe baie positief ervaar en instemming gehad dat hy die pad goed geloop het” (375). “Die Afrikanerbond was in den brede tevrede met die uitkomste wat die onderhandelinge daargestel het” (376).

Willie Esterhuyse beweer daar is “geen verskil tussen broerskap en ‘comradeship’ nie” (381). Oor Nico Smith se boek sê hy: “My ervarings van die AB was totaal anders as syne” (382).

Tony Leon karakteriseer die AB as “‘n soort van ‘n dinkskrum of ‘n ondersteuningsgroepering vir die Nasionale Party-regering” (385). “My indruk was dat die Afrikanerbond in ‘n sekere sin die amptelike regeringsbeleid van daardie tyd ver vooruit was en tog sekere invloede daarop gehad het” (386). “Baie van die Afrikaanssprekende ondersteuners [van die DA] was om begryplike redes lid van die Afrikanerbond en het onskatbare waarde tot die DA toegevoeg” (386). “Die Bond [het] ook maar ‘n gemarginaliseerde organisasie geword” (387). “Ek sien dit [die AB] meer as ‘n organisasie wat na sy eie mense omgesien het” (387). “De Klerk … het ‘n hele nuwe paradigma geopen wat hy gehoop het om te kontroleer [beheer], maar baie gou het dié skepping sy skepper begin kontroleer [oorheers]” (388). De Klerk het glo “by geslote geleenthede … gesê … dat hy die verkiesing kon wen, [maar dit] is ‘wishful thinking and faulty analysis'” (388). “Ek sal nie verbaas wees as Pik Botha die narratief gevoed het nie” (389). “Ek het persoonlik waargeneem hoedat die Nasionale Party sy houvas tydens die onderhandelinge verloor het deur hulle kaarte verkeerd te speel en omdat hulle nie ‘n strategie gehad het nie, of ‘n verkeerde strategie gevolg het. Verder was daar sekere persoonlike faktore. Cyril Ramaphosa was ‘n beter onderhandelaar as Roelf Meyer … Roelf … was ‘n baie aangename persoon, maar ek het nie geweet wat sy agenda anders was as om mag oor te gee nie” (389). “Ek dink nie dat die Broederbond vandag nog enige noemenswaardige rol speel nie” (390).

Georg Meiring, ‘n vorige hoof van die Weermag, kom oor as ‘n Afrikaner met ruggraat.* “Ek dink dat daar ‘n gebrek aan leierskap in Afrikanerorganisasies op talle vlakke was omdat niemand die pad ná ’94 kon visualiseer nie” (392-393). “FW de Klerk het nie sterk op die kundigheid van die Weermag ag geslaan nie” (393). “Ek is ernstig daaroor as ek vir jou sê dat FW nie ten volle op die hoogte was van wat by Kodesa aangegaan het nie. Hy het een keer of elke tweede week daar aangekom en met Roelf Meyer gepraat. Roelf het gedink hy kan vir Ramaphosa ore aansit, maar die teendeel is uitgewys. Madiba, Ramaphosa en andere het gereeld ingekom, by mekaar gesit en gekoukus oor wat nodig is … Die swakste regering wat ons ooit gehad het, was die Nasionale Party-regering net voor 1994 … Die verhaal van die chaos waarin die land in die tydperk tussen 1991 en 1994 was, is nog nooit in sy volle werklikheid vertel nie, maar ek sê vir jou as dit nie vir die Weermag was nie, het ons nie in 1994 by die oorgangsfase uitgekom nie” (394). “Ek [is] van mening dat Mandela te gou uit die tronk vrygelaat is. Ek dink die ontbanning – veral van die Kommunisteparty – is te vinnig gedoen … Ons kon ‘n beter skikking by Kodesa gekry het as die onderhandelaars/regering meer eerlik was … daar was besliste wanvoorstellings en [of] noem dit ondervoorstellings. Ek dink dat De Klerk en sy groep sekere feite teruggehou het … Daar was ‘n groot oorskatting van hulle eie mag … Ek dink nie die Regering by die onderhandelingstafel het die vermoë waaroor die land beskik het, kostedoeltreffend en effektief aangewend om die onderhandelinge suksesvol te doen nie” (395). Roelf Meyer was “‘n ‘kindjie’ wat nie geweet het hoe om dinge te hanteer nie – hy het nie regtig die vermoë gehad nie” (396).

[* Volgens my kennis het FW de Klerk bitter min steun in eie geledere gehad toe hy op 2 Februarie 1990 sy toespraak gelewer en daarna die grondwetlike onderhandelinge deurgevoer het. De Klerk beweer die teenoorgestelde. In ‘n toespraak in 2000 naby Hermanus het De Klerk gesê: “Eerstens het ek seker gemaak dat my party, my mense en die staat agter my staan. Toe het ek seker gemaak dat die meerderheid van die wit mense agter my staan. En toe kon ek Mandela vrylaat en die risiko van onderhandelinge aandurf” (Frederik van Zyl Slabbert, Duskant die geskiedenis, Kaapstad: Tafelberg, 2006, p 22). Georg Meiring se reaksie was: “Hel, hy vat ‘n bietjie kortpad met die waarheid” (22). By ‘n ander geleentheid het De Klerk aan Meiring gesê: “Ons hoef regtig nie so maklik in te gegee het nie” (36). Meiring het soos volg gereageer: “Maar jy het nooit jou sterk basis gebruik om vanuit mag te onderhandel nie, jy het nooit die militêre magte gebruik as ‘n magsbasis wat jy tot jou beskikking gehad het nie, jy wou dit nooit gebruik nie” (36).]

Roelf Meyer was agtereenvolgend president van die Afrikaanse Studentebond, voorsitter van die Junior Rapportryers, president van die Ruiterwag en lid van die AB. “As dinge gebly het soos dit was … sou ek waarskynlik president van die land geword het” (398). Tussen die AB en die NP was “daar ‘n sekere verweefdheid” (399). “Die Nasionale Party [het] die Broederbond gebruik … om standpunte te toets” (399). “Pieter de Lange en Johan Heyns [was] die Nasionale Party … voor in hulle denke en dade … die AB vinniger wou beweeg” (399). Hy verwys na “die invloedryke rol wat die Broederbond onder die leiding van Pieter de Lange gespeel het om die klimaat voor te berei vir verandering” (399-400). Johan Heyns en andere ]het] ‘n baie groot invloed uitgeoefen … op die verandering van begrip by mense” (400). “Was daar ‘n meesterplan toe die Regering ná Februarie 1990 tot die onderhandelinge toegetree het? ‘Nee, ons het nie ‘n plan gehad nie. Ons het vir twee en ‘n half jaar voortgeploeter met dieselfde paradigma van hoe jy groepsregte en minderheidsregte in Suid-Afrika kan beskerm'” (400). “In die tydperk wat die Referendum in 1992 voorafgegaan het, kan ek met redelike sekerheid sê dat die Afrikaner-Broederbond ‘n groot rol gespeel het om mense rustig te maak oor die vraag waarom daar verandering moet kom … Nadat die KP’s en ander regsgesindes uit die AB is, het mense soos Pieter de Lange, maar selfs ouens op grondvlak … ‘n positiewe rol gespeel” (401). Die NP-kabinet was nie eensgesind oor die 1992-referendum nie – dit was De Klerk se “kampanje” en sy besluit (401).

Francois Retief, ‘n vorige rektor van Medunsa, sê: “Toe die AB aan die begin van die negentigerjare besluit het om geheimhouding af te skaf, het ek gedink dat dit ‘n fout is, omdat ons toe ‘n tydperk ingegaan het waar dit juis nodig was” (404). Pieter de Lange “wou van die AB-las om sy nek ontslae raak … terwyl ek gedink het ons moet ons skuiwe so maak dat ons met die AB deur moeilike tye kon loop” (405). “Ek is oortuig daarvan dat dinge vir die Afrikaner in ‘n verkeerde rigting loop” (405). Die AB “het hom grootliks op [in] die semi-politieke sfeer laat geld” (405). Iemand het van Roelf Meyer gesê: “Jy moet sien dat daardie mannetjie gaan klim vir ‘n belangrike pos, maar hy is nie ‘n groot gees nie!” (406). Dít het in Retief se “agterkop bly hamer en veral deur die onderhandelinge en die uitkoms daarvan gestalte gekry” (406).

Johann Rupert se onderhoud is vir my teleurstellend. Hy was nooit ‘n AB-lid nie en was glo altyd teen apartheid gekant. “Die HNP (Herstigte Nasionale Party), dr [Albert] Hertzog en Jaap Marais was nie mense met wie ek enigsins iets gemeen gehad het nie … Ek is baie nader aan Russel Botman wat Afrikaans praat en ‘n bruin man is. Nou, is hy ‘n Afrikaner of nie? Nie volgens die logika van die Broederbond en regsgesindes, glad nie. Ek is baie nader aan die Kaapse Kleurling as aan mense wat in Beeld en Rapport uitkom vir hulle kranksinnige regse gesindhede … Ons sou nie meer vandag voortbestaan het as dit nie vir die drastiese stappe in 1990 was nie” (407). “Apartheid was ‘n tragedie vir die Afrikaner … Ek is bly dat dit ‘n Afrikaner (FW) was wat daarvan ontslae geraak het … FW het ons gered … Daar is egter flaters begaan, waaronder die toegif tot ‘n verkiesingsdatum nog voordat die onderhandelinge of die Grondwet gefinaliseer is … Die Nasionale Party was goedgelowig en naïef tydens die onderhandelinge – hulle het kinders by die onderhandelinge gehad” (408). “As die Afrikaners vandag almal loop, val hierdie land in sy maai” (409).

Chris Stals, ‘n vorige president van die Reserwe Bank, openbaar ‘n mislike distansiëring van Afrikaners. “Ek was … nie ‘n lid van die AB omdat ek ‘n Afrikaner is, of omdat die AB Afrikaners was nie. Ek was lid van die AB omdat ek ‘n ekonoom is” (410). “Ek het ‘n sakebenadering tot die AB gehad … Dit het by my glad nie gegaan oor Afrikanerskap of Afrikanerwees of enigiets van daardie aard nie … Ek is baie meer ‘n kosmopolitiese mens en ek is baie meer internasionaal en so aan, as om te voel dat ek streng by ‘n klein groepie mense betrokke is wat hulself Afrikaners noem” (411). Stals is blykbaar iemand wat in die waan verkeer dat hy ‘n te groot vis vir die klein dammetjie van die Afrikanerdom is. “Ek het respek vir verskeidenheid – en daaroor het ek nie ‘n vreeslike sterk gevoel oor Afrikanerwees nie … Ek wil hê ons moet almal deel wees van ‘n groter gemeenskap en so aan” (412). “Ek vereenselwig my nie [met Afrikaneridentiteit] nie … ek dink dis onvolwassenheid … ek nie meer daardie eng gevoel kan hê nie – ek leef nie daarmee saam nie … na hulle grootwordjare het hulle nie die moeite gedoen of die wil gehad om daarvan weg te breek nie. Nie die studies gedoen en die intellektuele selfondersoek gedoen om weg te breek van daardie eng, bekrompe, afgebakende, klein definisie van wie en wat ek is nie. Ek is deel van die kosmopolitiese bestaan” (412) – ‘n ekonoom en wêreldburger wat klaarblyklik in sy skik met sy kulturele identiteitloosheid is. Daar is ‘n enkele toegewing: “Ek wil egter deel wees van Afrikanerskap, deur deel te wees van Afrikaans, ek wil Afrikaans praat, ek wil dit bevorder, maar ek wil dit nie in ‘n groepie definieer nie” (413). Soos te wagte, het Stals net lof vir Pieter de Lange (413-414).

DFM (Danie) Strauss was ‘n filosofie-dosent aan die Universiteit Vrystaat. Hy is positief oor die transformasie van Suid-Afrika ondergaan het en die rol wat die AB daarin gespeel het. Hy is een van diegene wat in die nuwe politieke bedeling uit die AB getree het. “Dit was die kulturele bedreiging van die Afrikaner se lewensruimte wat hulle laat soek het na ‘n uitlewing van die eie” (418). By Kodesa het die ANC “baie meer gekry … as waarvoor hulle gehoop het … Dat die wit onderhandelaars in dié konteks ore aangesit is, is te wyte aan hulle onervarenheid” (421). “Die AB het sy relevansie grootliks verloor, terwyl hy homself nie voldoende krediet gegee het dat hy die mees sinvolle en konstruktiewe staatkundige uitkoms help bemiddel het nie” (421; ook 426).

Slot: Eintlik praat feitlik niemand daaroor nie maar Afrikaners het sedert 1994 in groot mate uit die kerk geëmigreer, hoewel glad nie in dieselfde mate uit hulle geloof nie. Gemeentes het gekrimp met hoofsaaklik bejaardes wat nog daarin ‘n tuiste vind. Ouetehuise is nou dikwels die hoofwartiere van evangeliebediening. Die kerkklokke het stil geword. Op ‘n soortgelyke manier het die AB deurlopend agteruit geboer. Die AB het onmiskenbaar ‘n “broederskap van bejaardes” geword (94); “‘n handvol hoofsaaklik wit bejaarde mans” (267) wat te oud is om kinders te kry wat gewillig is om die AB aan die gang te hou. Die sterwensuur van die AB kruip al hoe nader. Weens ‘n gebrek aan aanvraag, behou die AB grootliks sy eksklusiwiteit. Die lede kan terugkyk op baie goeie én minder goeie dinge wat die AB oor ‘n eeu heen vermag het. Terwyl dit in die vorige politieke bedeling vir my dikwels moeilik was om met die doen en late van die AB te vereenselwig, het ek deesdae groter waardering vir diegene wat steeds met die AB assosieer en hulle openlik vir die belange van veral die Afrikaner beywer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.