Leon Lemmer: Jonathan Jansen se akademiese mistastings

Jonathan Jansen

Ek het reeds oor hoofsaaklik nie-akademiese aspekte van Jonathan Jansen se jongste boek, As by fire: The end of the South African university (Cape Town: Tafelberg, 2017, xxiii, 287p, R280; Amazon Kindle $23,34), geskryf (Praag 15 Julie). In hierdie rubriek gaan dit oor die akademiese kern van die boek. Charles van Onselen noem Jansen “easily the country’s leading expert on education at all levels” (p i). Don Pinnock verwys na Jansen as “a brilliant insider” (p i).

Na aanleiding van die plaaslike studente-onrus in die vorige twee jaar het Jansen onderhoude met 11 rektore van Suid-Afrikaanse universiteite gevoer. In die geval van die tradisioneel blanke Engelse universiteite ontbreek die Universiteit Natal. Wat betref tradisioneel blanke Afrikaanse universiteite ontbreek die Universiteit Stellenbosch. Aan die begin van die boek word statistiek oor die 2014-studente-getalle aan die betrokke 11 universiteite plus dié van Jansen se Universiteit Vrystaat (UV) verskaf (xviii). Opvallend is dat die eertydse Randse Afrikaanse universiteit, tans die Universiteit Johannesburg, slegs 10,8% blanke studente het. Swartes het hierdie universiteit verswelg en verengels.

Selfs meer skandalig is dat 42,9% van die Universiteit Pretoria se studente blank is, maar dat daar desnieteenstaande besluit is om Afrikaans as onderrigmedium af te skaf. Johann van der Westhuizen spog oor sy medepligtigheid aan hierdie ernstige vergryp (Netwerk24, 15 Julie). Aan die Universiteit Stellenbosch is ‘n minderheid studente swart, gevolglik word geredeneer dat hierdie universiteit moet verengels. Aan die Universiteit Pretoria is ‘n minderheid studente blank, gevolglik word geredeneer dat hierdie universiteit moet verengels. Swartheid bepaal wat moet wees. Blankheid bepaal wat nie moet wees nie.

Die kern van die saak is dat omdat die nuwe Suid-Afrika myns insiens ‘n gemors is, die universiteite nie anders is nie. “What is happening in our higher education system reflects what is happening in our society more broadly” (84, 225). Ek sou graag wou hê dat universiteite beter as die res van die land moet wees; vaandeldraers van (Westerse/Europese) beskawing met kampusse waar wet en orde gehandhaaf word; veral in die geval van die eens blanke universiteite. Jansen beskryf die ideale universiteitsopset as “to provide a high-quality education in a secure environment” (238). Die uitgelese etiekkolos, Anton van Niekerk, redeneer dat ‘n universiteit nie ‘n (blanke of Afrikaner-) enklave in die nuwe Suid-Afrika mag wees nie. Suid-Afrikaners voel egter veral saans onveilig en daardie onveiligheid heers deesdae ook op die kampusse. Universiteite kan glad nie meer normaal funksioneer met klasse, eksamens, biblioteekbesoeke en byeenkomste saans soos in die goeie ou dae nie. In ‘n groot mate is die wantoestand die gevolg van transformasie, dus verandering, wat dikwels nie verbetering is nie.

Die enigste resensie van Jansen se boek wat ek onder oë gehad het, is dié van die Mandela-aanbidder, Herman Wasserman (Rapport, Weekliks, 9 Julie, p 12-13). Soos dit sy uiterste linksheid betaam, verwys hy na die Reitz-gebeure as “walglike dade” en “rassistiese bullebakkery.” Wasserman beskou die Jansen-boek as eensydig omdat die gesprekke uitsluitlik met rektore gevoer is en nie ook met linkse akademici en die opstandige studente nie. Wasserman se invalshoek is dat die studente hulle tot opstand, ontwrigting en vernietiging wend omdat hulle “onderrig so belangrik ag.” Hy dink dat die studente-onrus as ‘n “positiewe ontwikkeling” beskou kan word; dat hierdie studente dalk “‘n moeilike maar belangrike stryd om fundamentele grondwetlike regte” stry. By implikasie praat hy die Afrika-benadering goed waarvolgens verandering en vernuwing deur afbreking en vernietiging bewerkstellig word; al gee hy sagkens voor dat hy bekommerd oor die gewelddadige taktiek is.

Jansen is die ANC goedgesind. Tog is die kern van sy redenasie dat die ANC-regering die subsidiëring van universiteite in reële terme drasties ingekort het, gevolglik was daar ‘n skerp styging in klasgeld (2). Dit het aanleiding tot studente-onrus en -protes gegee, waarby ander sake ingesleep is, soos die inkontraktering van werkers, dekolonisering en die afskaffing van Afrikaans. “The roots of the campus crises lie outside the university … the government had failed to deliver on the promises of the liberation struggle and on the values of the Constitution. The students did not feel the benefits of democracy, equality, and dignity in their daily lives. Further, they endured continuous experiences of struggle from home to school and community to campus, and it affected them deeply. Their lives were a constant struggle just to survive economically, to be recognised culturally, and to be respected racially. They had had enough, and they were now very, very angry” (84-85). Daar is heelwat retoriese twak in hierdie laaste aanhaling, wat in elk geval glad nie R1 miljard skade aan universiteitseiendom (80, 237) regverdig nie. Maar hierdie misdadigers redeneer dat hulle nie opgehel moet word nie: “You can’t replace human beings but you can replace buildings” (86). ‘n Herwaardering van die waarde van geboue kan wenslik wees, want hulle is veronderstel om langer as mense te bestaan.

Die geykte strategie van die oproerige studente is soos volg: “The students would march; the march would turn violent, with attacks on property, threats to staff, and disruptions of classes; the management would then bring on additional security or call in the police to protect lives and property; and the students would then claim that it was the security and police that caused the violence in the first place. This claim was illogical and untrue, but it was the narrative reported on every campus to the outside world” (86-87). Wat Jansen as ANC-kornuit nie sê nie, is dat hierdie drogredenasie soos dié van die ANC is: dat apartheid die oorsaak was van die gewelddadigheid wat die ANC dekades lank met soveel oorgawe gepleeg het; “it’s the violence of the system” (87). ‘n Student het gesê: “Our fight is with the state and the state funding of higher education, and the police represent that” (87). Daar was ‘n “constant creation of incidents and episodes in order to mobilise students” (96-97). “The creation of lies would form part of what has been called catastrophising, which turns ‘commonplace negative events into nightmarish monsters'” (97). “Catastrophise” beteken “grossly exaggerate events or possibilities as unbearable ‘realities'” (165). Ook dit is eie aan die ANC se “bevrydingstrategie”, bv die Boipatong-slagting in 1992, wat gekenmerk is deur die ANC se “bogus claims and outright falsehoods” (96).

Daar word soms beweer dat die nuwe Suid-Afrika vreedsaam tot stand gekom het, wat ‘n inflame leuen is. Ander kere roem die ANC op sy gewelddadige geskiedenis, sy ikoniese “struggle”. Om hierdie rede is dit uiters moeilik om wet en orde in die nuwe Suid-Afrika te handhaaf. Die skandalige voorbeeld wat die ANC met geweld gestel het, word steeds deur die massa nageboots. As ‘n rektor genoodsaak voel om die polisie op die kampus te kry, moet hy deesdae eers ‘n hofinterdik verkry (88). ‘n Mens sou dink die polisie is veronderstel om teen misdaad op te tree waar dit ook al gebeur, maar dit is glad nie meer so nie; ‘n hof moet hulle eers magtig. Teen daardie tyd is (groot) skade reeds aangerig. “The police chiefs had made it very clear that they did not take orders from the university management” (95).

Wat glad nie prominent in Jansen se boek is nie, is die ruime mate waarin universiteite skuldig aan geldvermorsing is. Omdat die ANC-regering ‘n slegte voorbeeld stel met buitensporige vergoeding vir die bekleërs van topposte, doen universiteite dieselfde. Byvoorbeeld, daar is in werklikheid geen afdoende regverdiging vir die vergoeding van miljoene rande per jaar aan ‘n rektor nie. Jansen verwys na die rektor as “this most valuable and often well-paid resource” (xv). ‘n Rektor behoort myns insiens hoogstens dubbel die salaris (en verkieslik slegs die helfte meer) as ‘n professor te ontvang. Daar sal steeds akademies uitstekende applikante vir so ‘n pos wees; dikwels beter as sommige van die huidige bekleërs wat om veral nie-akademiese redes aangestel is.

Jacob Zuma is berug vir sy spandabelheid, maar hy het net een adjunk. Aan universiteite is daar ritse viserektore. Die rektor hoef nie ‘n ampswoning te hê nie. Hy ontvang (eerder as verdien) genoeg geld om self ‘n huis te bekostig. Hy en sy talle viserektore hoef nie eie ampsmotors te hê nie. Die universiteit kan volgens werklike behoefte ampsmotors aanskaf, maar dit hoef nie luukse motors te wees nie; eerder bloot doelmatige vervoermiddels. Die universiteitshoës behoort net wanneer werklik nodig te vlieg en dan ekonomiese klas en wanneer hulle op reis is ekonomiese (bv drie- pleks van vyfster-) huisvesting te gebruik. In die nie-akademiese sektor van die universiteit is groot geldvermorsing aan die orde van die dag. ‘n Universiteit is veronderstel om op onderrig en navorsing te konsentreer. Gimnasium/oefen-, sport- en woongeriewe in bv koshuise, asook spyseniering, skoonmaakdienste, ens, kan aan private inisiatief oorgelaat word. Administrasie is bloot ‘n noodsaaklike euwel. Desnieteenstaande is die administratiewe sektor toenemend veel groter as die akademiese sektor. In sommige gevalle is daar ritse registrateurs en talle direkteure wat beter as professore vergoed word.

Jansen is die opruiende swart studente simpatiek gesind oor beweerde “cultural alienation” (xiii). Hy hou daarvan dat ‘n UV-koshuis nou die naam Beyers Naudé dra en nie meer dié van JBM Hertzog nie (x). So ‘n naamsverandering bevorder seker ‘n gevoel van insluiting by swartes maar dit vervreem die oorgrote meerderheid blankes. Aan die eens blanke universiteite is daar deesdae alewig die swartes se geweeklaag oor “not feeling at home” (66). Hulle kan maklik meer tuis voel deur eerder ‘n tradisioneel swart universiteit by te woon. Blanke studente het nie sodanige keuse nie. Aan die tradisioneel swart universiteite sal blankes kultureel hoogs ontuis voel. Aan die tradisioneel blanke universiteite, waar hulle histories hoort, word blankes weens transformasie doelbewus al hoe meer ontheem. ‘n Universiteit is in elk geval nie veronderstel om ‘n alternatiewe tuiste, dus soos ‘n ouerhuis, te wees nie. “A university is, after all, a place of exploration and growth – hence of turmoil and dislocation – rather than a place in which to feel ‘at home'” (69).

Jansen is polities links, pro-swart gesind en uiteraard so polities byderwets soos kan kom. “Some things were changed instantly when I started working there [as rector of Free State University] in 2009, such as the symbols in the university coat of arms, which represented the Boer Republic that birthed the University of the Orange Free State” (52-53). Watter reg het Jansen om hom aan te matig om die geskiedenis van die UV te misken? Hy het net so min reg daartoe as die misdadige studente wat Cecil Rhodes se rol aan die Universiteit Kaapstad misken.

Van die 12 rektore wie se menings in die boek weergegee word, is net twee blank. Oor die onderverteenwoordiging (merietegewys) van blanke rektore kla Jansen nie. Net een vrou is onder daardie 12 rektore en daaroor skryf Jansen ooreenkomstig die ANC se beleid: “There are too few women leaders of South African universities” (xvii).

Van die ontstellendste aspekte van die studente-onrus is die mate waarin nie net sommige dosente nie (141, 208) maar ook die universiteitsbestuur, insluitende die rektore (en ook die hoofstroominligtingsmedia) hulle polities byderwets aan die kant van die opruiende studente geskaar het, bv deur “legal and other material support” aan te bied (10). Dit kom neer op die beskerming van misdadigers en die aanmoediging van verdere oproer, wat sekerlik nie in die belang van universiteite is nie. Aan die Universiteit Pretoria “we gave them bottles of water and all of that” (61).

Wat die rektore deurgaans beklemtoon, is dat dit ‘n klein groepie studente is wat amok gemaak en skade aangerig het. Hulle is deur nie-studente ondersteun. Streng optrede deur die universiteitsbesture pleks van simpatie met die belhamels kon die orde baie gou herstel het. Soos van Jansen verwag kon word, beweer hy “right-wing whites from outside the university joined the fray” (11). In werklikheid het regse studente en ander regses geen groot rol in die onrus gespeel nie. In soverre hulle wel iets gedoen het, was dit om wet en orde te bepleit en die universiteite weer op dreef te probeer kry. Regses, anders as linkses, het ‘n positiewe bydrae gelewer en geen skade aangerig nie.

Swartes maak aanspraak op allerhande regte. Een daarvan is voltyse universiteitstudie. Die ANC-regering moedig hierdie dwaalleer aan deur daarop aan te dring dat die residensiële universiteite jaarliks eksponensieel meer studente moet toelaat. “University enrolments increased from 493 342 in 1994 to nearly 1 million (969 154) in 2014, with a targeted 1,6 million enrolments by 2030” (34). Die gevolg is dat al hoe meer studente druip teen groot koste vir die universiteit en die staat. “Almost half of the young people who enrol at our public higher education institutions leave the system without a qualification” (38-39). Strenger akademies gefundeerde keuring sal kostebesparings meebring en sodoende meer geld aan akademies verdienstelike studente beskikbaar maak.

Wat noodsaaklik is, is om met ‘n program van ingrypende skoolhervorming te begin om die akademiese gehalte van skoliere te verbeter. Dit moet oor dekades strek. Hoër toelatingsvereistes vir universitêre studie moet in elk geval ingestel word. Universiteite behoort slegs die akademies beste afgestudeerde skoliere toe te laat. Veel meer van hulle behoort verdere opleiding aan ander naskoolse inrigtings te ondergaan. Baie skoliere wat graad 12 geslaag het, is glad nie geskikte materiaal vir naskoolse onderrig nie; veral nie universitêre onderrig nie.

Daar moet nie impulsief volgens die begeertes van swartes gehandel word nie. Hulle maak verkeerdelik op “the right to be dominant” aanspraak (58, 64). Jansen skryf, “students … prefer universities” (36), maar daardie voorkeur behoort geïgnoreer te word. Wat in landsbelang is, moet eerder nagejaag word. In die Suid-Afrika van weleer was daar talle studente wat geskikte universiteitsmateriaal was maar dit nie kon bekostig om voltyds te studeer nie. In die vorige eeu het die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) aan hulle die geleentheid vir (deeltydse) afstandstudie tuis, dus in hulle woonplekke, aangebied. Toe was Unisa se opleiding van hoë akademiese gehalte en die studiegeld was hoogs bekostigbaar. Dit was so omdat die tradisionele Unisa-student op homself vir akademiese prestasie aangewese was. Hy het gedrukte lesings ontvang, moes voorgeskrewe boeke aankoop en kon aanvullende inligting van die universiteitsbiblioteek bestel. Mettertyd het Unisa se afstandsonderrig al hoe meer kontakonderrig geword omdat akademies swak studente toegelaat is en hulle, soos aan residensiële universiteite, nie die mas kon opkom nie

Aanvanklik was Unisa uitsluitlik in Pretoria gesetel. Die enigste mondelinge lesings wat aangebied is, was ‘n winterskool wat teen geen of min ekstra onkoste vir die universiteit in Pretoria beskikbaar was. Later is streekkantore gestig, lesings is in verskeie sentra aangebied en Unisa is al hoe meer geresidensialiseer. Byvoorbeeld, studente eis deesdae dat studieruimte op die hoofkampus en by die streekkantore aan hulle voorsien word. Akademies hulpbehoewende studente, dus diegene wat nooit tot universitêre studie toegelaat moes gewees het, het al hoe meer deurslaggewend die aard van Unisa bepaal. Dit het studie aan Unisa vir baie onbetaalbaar duur gemaak; ook omdat finansiële dissipline sedert 1994 verslap is. Transformasie het tot gevolg dat die akademiese gehalte van die onderrig en dus die akademiese aansien van die universiteit ernstig gekwyn het, bv Unisa “allowed students to write their examinations at home and without monitoring” (37). Administratiewe ondoeltreffendheid, die vrug van transformasie, bemoeilik ook studie aan Unisa. Kortom, Unisa-studente betaal deesdae baie meer vir akademies swakker kwalifikasies.

Twee dinge wat glad nie in Jansen se boek beklemtoon word nie, is die verbetering van skoolonderrig en die noodsaaklikheid van die hertransformasie van Unisa. Unisa moet weer ‘n egte nie-residensiële afstandsonderriguniversiteit word waar studentetoelating en -deurlating en die aanstelling en bevordering van dosente suiwer op grond van akademiese verdienste geskied. Tegnologiese uitvindings maak dit vir Unisa deesdae moontlik om baie makliker en goedkoper die afstand tussen dosent en student te oorbrug. Unisa se residensialisering is akademies (grootliks) ongewens en sekerlik koste-ondoeltreffend. Juis om sulke redes wend tradisioneel residensiële universiteite hulle toenemend tot afstandsonderrig. Op ‘n dwase manier het Unisa in die teenoorgestelde rigting ontwikkel.

‘n Mens staan verbaas oor die dom besluite wat soms aan universiteite geneem word wat die hele aard en aansien van so ‘n universiteit nadelig beïnvloed. Dink aan die besluit van die Afrikaanse Universiteit Stellenbosch om met klasse in Engels te begin, wat uitgeloop het op die onverkwiklike verengelsing van daardie universiteit. Insgelyks kon Unisa ‘n internasionaal gerekende akademiese sieraad gebly het as hy voortgegaan het om ‘n suiwere afstandsuniversiteit te bly. Destyds kon (feitlik) geen student beweer dat die voorreg van universitêre studie hom ontsê is nie. Dit was en is ‘n onvergeefbare fout om akademies gestremdes tot universitêre studie toe te laat, maar dit geskied in toenemende mate op aandrang van die ANC-regering. Dit is ‘n feit dat ‘n student te onnosel vir universitêre studie kan wees. Desnieteenstaande word toelating tot ‘n universiteit in die praktyk al hoe meer tot die status van ‘n onvervreembare mensereg verhef.

Let op hierdie eienaardige stelling van Jansen: “In the former white universities, independence and autonomy from external politics are fundamental commitments” (17). Dit is louter twak. In die ou Suid-Afrika het die Afrikaanse blanke universiteite hulle grootliks by die NP-regering geskaar. Die Engelse blanke universiteite was setels van weerstand teen die NP-regering en apartheid. In die nuwe Suid-Afrika is al die universiteite vloermatte of skoothondjies van die ANC-regering. Jansen spog met die verpligte 101-kursus in Jansenisme wat hy aan die UV ingestel het (43), maar dit is juis aanduidend van gedwonge ideologiese indoktrinasie, wat die teenoorgestelde van akademiese vryheid is. Op amptelike vlak word geen (noemenswaardige) weerstand teen toenemende regeringsinmenging in universitêre sake geopper nie, selfs nie toe Jacob Zuma wederegtelik aangekondig het dat klasgeld dieselfde vir 2016 sou bly en Blade Nzimande die verhoging vir 2017 tot 6% of 8% beperk het nie (xi, 46, 92).

Aan geen plaaslike universiteit word universitêre outonomie en akademiese vryheid daadwerklik gekoester nie. Dit is bv waarom die Universiteit Stellenbosch betreklik onlangs ingestem het dat regeringsverteenwoordigers in die US-raad van drie tot vyf vermeerder kon word. Kort daarna is die verengelsingsprogram van Wim de Villiers deur daardie Nzimande-gelaaide raad goedgekeur. Daarmee wil De Villiers die ANC verseker dat die US nie ‘n Afrikaanse universiteit is nie; dat dit ‘n polities byderwetse, bv Engelse, universiteit is. Die absurditeit is dat die staat persentasiegewys die universiteitsbegroting al hoe minder subsidieer terwyl die ANC nie net al hoe groter beheer oor universiteite wil uitoefen nie, maar die ANC oogluikend toegelaat word om dit te doen. In 1993/4, dus by die aanvang van die nuwe Suid-Afrika, het die staat 70% van Wits se uitgawes betaal. Teen 2013/4 is dit gehalveer tot 30% of 35% (29). Onderriggeld moes noodwendig skerp verhoog word. ‘n Mens kan redeneer dat die regering in die universiteitsraad teenwoordiging moet hê sodat hy bewus kan wees van hoe die owerheidsubsidie aangewend word. Maar dit beteken nie die regering moet stemgeregtigde verteenwoordigers daar hê nie; ‘n waarnemer of twee, sonder stemreg, is vir hierdie doel voldoende.

“The [black] students do not want to pay a fee increase; in fact, they want no fees at all” (23). Dit is wat gebeur as lede van ‘n bevolkingsgroep op alles geregtig voel. Die universiteite kan tans nie die toestroming van voornemende studente hanteer nie. Hoe chaoties sou dit nie wees as wat aangebied word gratis is nie? “Fee-free education … would have disastrous implications” (42). ‘n Rektor vra tereg: “Why would we want free university education [overall] when school education is not free?” (228). Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is “massively funded” maar “poorly administered” (22). In minstens een geval het ‘n universiteit NSFAS- (National Student Financial Aid Scheme) fondse misbruik om sy personeel se salarisse te betaal (23, 179). “In 1991 the NSFAS funded 7 240 students to the tune of R21,4 million; by 2014 the scheme funded 409 475 students at a cost of R9 billion” (41).

Die rektore is dermate polities byderwets dat hulle met gemak sowel anti-blank as anti-Afrikaans en selfs openlik pro-ANC is. Prins Nevhutalu, die rektor van die Cape Peninsula University of Technology, het simpatie met ‘n mate van onderrig in Afrikaans op die Wellington-kampus: “Not for the Afrikaners, but for the very large coloured majority in the Western Cape who do not speak English … I’ve been a very fierce defender of Afrikaans at Wellington because we’re servicing the coloured community … I don’t like Afrikaans per se … I took a whole day to go and talk to SASCO [South African Students Congress], tried to tell them why these programmes are important. Not for Afrikaans’ sake, but for this country and for the ANC that cares about everybody [including whites?], not only about black Africans. We must also care for coloured people” (70-71). Oor die moontlike erkenning van die belange van blankes en veral Afrikaners swyg Nevhutalu.

Jansen is openlik pro-swart. “Strini Moodley was one of the heroes of my youth. A co-founder of the Black Consciousness Movement, alongside the legendary activist and intellectual Steve Biko, Moodley captured the mood of my generation when we were channelled as so-called coloured students towards our very own ethnic institution, the University of the Western Cape [UWC/UWK]” (78). Let op die byvoeglike naamwoorde waarmee Biko beskryf word. Wat Jansen hier kwytraak, is by nabaat. Toe hy in die jare sewentig ‘n UWK-student geword het, was hy sekerlik deeglik bewus van die verskil in etnisiteit en kultuur by bruines en swartes. Dit is eers later (bv in Amerika) dat Jansen, ‘n “so-called coloured,” weens wensdenkery en in ‘n poging tot selfbevoordeling sogenaamd swart geword het.

Vir my was seker die ontstellendste aspek van Jansen se boek die mate waarin die plaaslike universiteite nie-universiteite in die sin van welsynsinrigtings geword het. Dit is die soort ding wat te wagte is in ‘n land wat met ‘n sosialistiese regering sit wat hom in sommige opsigte ‘n haarbreedte van kommunisme bevind. Jansen verwys na “the growing welfarisation of the South African university” (172). Charles van Onselen het gewaarsku dat “government is in danger of confusing its welfare and educational responsibilities to the detriment of both” (172). Om hierdie rede is dit belangrik dat universiteite so onafhanklik moontlik van die ANC-regering moet funksioneer. Maar daar is geen beduidende teken dat enige plaaslike universiteit sy outonomie koester en hom daadwerklik teen die ANC se magsmisbruik en toenemende inmenging verset nie.

As rektor is Jansen uiters skuldig aan gedienstige kruipery by die ANC. Hy verskaf ‘n ellelange lys van die welsynspligte wat die UV vir sy studente verrig (180-181). Die meeste daarvan is nie-akademiese barmhartigheidsitems wat ‘n sterk basis kan vorm vir ‘n mosie van wantroue in enige rektor. Geen wonder dat universiteitsuitgawes eksponensieel styg nie. Maar dit bly selfs nie by barmhartigheidsdiens slegs aan studente nie. “Now disadvantaged communities are coming onto campus demanding services” (189). Welsynsprojekte, dus staatsverantwoordelikhede, tap die finansiële hulpbronne van universiteite leeg. Dit ry die bestaansrede van die universiteit in die wiele. Dit gaan by universiteite al hoe minder om die akademie (onderrig en navorsing) en al hoe meer om die “nutritional well-being” (193) van die studente, asook van hulle uitgebreide familie en selfs wyer as dit. “Welfarisation narrows the scope of the university’s ambitions for its academic project” (191). “The university’s ability to maintain a respectable academic standing is in jeopardy” (192).

Een van die sake wat feitlik nooit pertinent genoem word nie, is swart studente se verbondenheid aan hulle uitgebreide familie (173) wat hulle as studente kniehalter. Enersyds kom van hierdie studente as beliggaamde entiteite op die kampus aan en dan word daar van die universiteit verwag om in al hulle behoeftes te voorsien. Andersyds word wat sulke studente ontvang (bv geld) aan die uitgebreide familie gestuur om ellende tuis te verlig. Terselfdertyd word die akademiese funksionering van die student (bv om handboeke te koop) aan bande gelê. “It is not simply that students received bursaries and loans to enable them to study at university. It is no secret that some portion of this funding would be expatriated to the domestic economy to enable students’ family members to survive hardship at home” (190).

Suid-Afrika gaan gebuk onder ‘n “generous social welfare regime” (174) waarin daar toenemend baie meer ontvangers van staatstoelaes en stemgeregtigde kiesers as werkers en inkomstebelastingbetalers is. Hierdie “children of welfare families” beland op universiteitskampusse “expecting education [and] also a whole lot more” (174). Reeds op skool het hulle gewoond geword aan “being fed by the state [as] part and parcel of what those public institutions did” (175). “The ANC is regarded as the caring parent” (175). Die ANC hou hiervan want hy wil hierdie kiesers se steun behou en aan die politieke mag met sy buitensporige persoonlike voordele vir ANC-hoës vasklou. Let op watter bedenklike vertolking Jansen aan hierdie wantoestand gee: “Given the inequities resulting from the country’s racially segregated past, it is especially important to understand welfare as a matter of political rights [!] rather than acts of charity” (176). Met ander woorde, die blankes kry die skuld vir hierdie wantoestand. As Jansen werklik ‘n akademikus was, sou hy onderskei tussen spys- en drank- (SD-) studente en insig- en kennis- (IK-) studente. SD-studente hoort nie op universiteit nie. Hulle is by uitstek die molesmakers wat verhoed dat IK-studente ongesteurd kan studeer. Weens politieke byderwetsheid, oftewel ANC-kruipery, kry SD-studente in al hoe meer gevalle toelating bo IK-studente. Eufemisties word dit transformasie genoem.

Die ironie is dat sommige swart studente ‘n terugkeer na rassesegregasie verlang. “Residences were now under pressure to become exclusively black, thereby losing one of the most important [Jansenistic] functions of a residential education: bringing diverse students into the learning commons that a residence provides” (185). Aan die UV het Jansen met groot gedruis daarop geroem dat hy die koshuise vir blankes gedwing het om 50% swart te word. Daar is egter beweer dat hy nie rasse-integrasie aan twee swart koshuise opgedring het nie. Jansen regverdig soos volg sy gedienstige medewerking aan die transformasie van die universiteit as welsynsinrigting: “In the current climate, a demand of any kind that is not responded to could cue yet another potentially violent protest and continued campus shutdowns” (177). Dus, net soos die ANC met geweld en dreigemente van geweld sy sin gekry het deur die politieke mag te bekom, doen opruiende studente dieselfde om hulle wil op universiteite af te dwing.

“Why are students protesting, despite the hefty increase in social benefits and student aid?” (178). “It is not that funded students paid the fee increases themselves” (41). Studente se opgehoopte skuld wat miljoene rande bedra, word van tyd tot tyd summier deur die universiteite afgeskryf (111). Dit volg dikwels nadat eers uitstel en daarna afslag van skuld toegestaan is (118). Dit kom neer op diefstal. Die staat, dus die belastingbetalers, word ook op hierdie manier besteel: “The NSFAS has, in effect, given up on the crucial function of collecting loans made over the years, with the result that graduating students in general have simply stopped paying back the money” (179). Dit geskied in ‘n atmosfeer waarin by uitstek swartes hulle op alles geregtig voel; die vernietigende kultuur van “entitlement”. Pleks van betaal, het sulke studente onderrig en dalk ook huisvesting verniet gekry, terwyl dit van eerlike studente verwag word om meer op te dok om vir die versuim van hierdie misdadige studente te betaal.

“The university protests were often led by middle-class and fully funded students presuming to lead on behalf of their poorer classmates” (41). Dit was”an essentially black struggle” (61). Dit was “fundamentally a critique of post 1994 society” (45); dus nie uitsluitlik ontevredenheid met universiteite as sodanig nie. Daar is deurlopend met ontevrede studente onderhandel maar die resultaat was: “Reason is displaced by chaos” (127). “The protest movement had now entered a season of unreason” (127). “There was no intention to accept anything as a solution” (114). As daar ‘n kuur vir die studente se ontevredenheid sou wees, lê dit buite die rasionaliteit wat eie aan die Westerse of Europese tradisie is.

Moenie dink linkse elemente kan die probleme oplos nie. Xolela Mangcu en Christi van der Westhuizen, “two activist-intellectuals” (129), wil nie deur die protesteerders aangehoor word nie. Mangcu word daarvan beskuldig dat hy hom aan blankes uitverkoop het en aan Van der Westhuizen word gesê: “White people should be silent” (128). Volgens die uiters linkse Samantha Vice van Rhodes University moet die blankes nie net stil wees nie, hulle “should withdraw from the political space” (131). Dit lyk asof blankes daarvolgens glad nie aan die sentrale, provinsiale en plaaslike regering mag deelneem nie. Wat blankes glo in plaas daarvan moet doen, is “cultivate [their] guilt and shame” (131). Sizwe Mabizela, die rektor van Rhodes University, sê darem tereg stilte is “antithetical to what it means to be a university” (131).

Hoedanig is Jansen se “oplossing”? Hy bied dit in sy laaste hoofstuk aan. Daar is al gesê: Die kuns van regering is om van diegene wat het, te neem en dit te gee aan diegene wat nie het nie. Hierdie soort ubuntu is wat Jansen aanbied ter beëindiging van die studente-onrus. Diegene wat kan betaal, moet vir universitêre studie betaal en diegene wat nie kan betaal nie, hoef nie te betaal nie. Eintlik kom dit neer op ‘n voortsetting van die huidige onverkwiklike toestand. Dit is Jansen se soort leierskap (wat hyself so graag besing) in volle swang. Hy klou ook fanaties aan sy oortuiging dat die (swart) studente nie die skuld vir hulle skandelige gedrag moet kry nie. Ook nie die universiteite nie. Eintlik ook nie die ANC of ANC-regering nie. Die skuld moet in laaste instansie gepak word op waar dit deesdae meesal tot rus kom: apartheid en dus die blankes, veral die Afrikaners. “The great irony of this misguided violence is that the blame for the enduring and systemic effects of apartheid has been laid at the doors of the very institutions [the universities] that could have been harnessed to overcome them” (249).

In sy wysheid sonder Jansen eerder twee regte as twee verpligtinge uit: “The right to free higher education for the poor, and the right to education for everyone” (251). Ek sou eerder sê: Onderrig van hoë gehalte tot op die vlak van elkeen se vermoë. Die besonderhede van Jansen se voorgestelde befondsing is soos volg: “Government can and should instantly [!] provide fully funded education through grants for poor, first-degree, first generation students without any obligation to pay so that these graduates can contribute to lifting their families out of poverty without the burden of debt. It might be necessary even to enact laws that force the state to meet the standard of adequacy in such provision for all poor students. The rest of the financial arrangements for students should combine grants and loans for second-generation and second-degree students so that they do pay back a portion of their earnings to ensure a sustainable cycle of funding for successive generations of students in need of support. And the middle classes and wealthy must pay so as to relieve the burden on government coffers and enable the cross-subsidisation of students with financial need” (251-252).

Wat Jansen aanbied, is nog ‘n Afrika-“oplossing” vir ‘n Afrika-probleem. In werklikheid lê die kernoplossing nie in aangepaste subsidiëring nie. Die vereistes waaraan universiteite moet voldoen, is onderrig en navorsing van hoë gehalte. Daarvoor is studente en dosente van voortreflike akademiese gehalte nodig. Sodanige gehalte moet sonder inagname van ras en geslag bepaal word. Jansen hou hom blind vir al die -ismes wat die ANC beliggaam, bv kommunisme, sosialisme, rassisme en feminisme. Veral laasgenoemde twee vind uitdrukking in polities regverdigbare maar akademies onregverdigbare teikens en kwotas.

Naskrif: Die ego het geland. Jansen is terug in Suid-Afrika om die verkope van sy boek ‘n hupstoot te probeer gee. Leopold Scholtz skryf: “Jansen het hom al as ‘n ongeleide missiel met ‘n haat teen Afrikaans bewys. Ek was al by ‘n toespraak van hom waar hy iemand in die gehoor van die podium gevloek het toe dié op Afrikaans aangedring het. Ek dink nie hy hoef ernstig opgeneem te word nie” (Die Burger, 20 Julie, p 14). Wat ek nie begryp nie, is dat Scholtz redeneer dat daar ‘n veldtog teen Afrikaans gevoer word omdat daar so ‘n sterk gevoel teen rassediskriminasie is. Maar rassediskriminasie is skering en inslag van sowel plaaslike politieke byderwetsheid as die ANC se beleid. Jansen en sy mede-ANC-kornuite hou daarvan om teen blankes, veral Afrikaners, en Afrikaans te diskrimineer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Suidpunt

    Daar is ook deesdae elektroniese hulp (in die vorm van mense) beskikbaar aan studente, sodat die dosente hulle op vaktydskrifartikelskrywery, referate en akademiese boeke kan fokus (“publish or perish”). Teoreties behoort die dosente meer tyd beskikbaar te hê, maar word toegegooi met admin. Die studente het persoonlike kontak, die werkopdragte kan selfs vooraf deurgegaan en kantaantekeninge gemaak word indien die student daarvoor sou vra. Soos by normale universiteite. Kortom: die studente het regtig deesdae nie rede om te dop nie.

    My vraag is nou net: soos die blankes demografies al hoe minder word aan universiteite (en swartes soos Jansen sy eie kinders na oorsese universiteite stuur), gaan daar net minder mense wees wat vir Suid-Afrikaanse universiteite kan betaal. Dit gebeur elke keer wanneer die goue gansie gedood word. Ek voorsien hoe die staatsinstellings al hoe meer op die belastingbetaler gaan begin druk. Doen Europese universiteite dit nie reeds nie?

    • Pieter

      Baie dankie. Baie goeie analise

      • sussie se vissie

        Anaalise?
        ( Net n vermoede )

        • Suidpunt

          Regtig jammer om te hoor. Met die korrekte musiek sou drie mense daardie dag nie hul *g@t* gesien het nie (jammer as dit nou onsensitief klink – maar raai wie het met *anaalise* begin…). Hier is Die Vos Broers met die Swartomlynde Brief uit tere meegevoel…

          • Betzie van Rensburg

            Lag met ‘n traan.

  • sussie se vissie

    Sug.
    Nou ja…hoe sê Tom Jones?
    ‘What’s new pussycat’?
    PS.
    Ten minste kan mens sy 7x single afhaal.
    Wat my weereens by die vraag bring:
    Wie in hemelsnaam stel belang in die totnot se uitsprake tot selfroem?

  • Na mening steur ons, ons miskien te veel aan wie en wat ons reeds weet lakeie, marionette en pionne is vir ander breinspoel-agendas en fokus te min op ons praktiese teenvoeters?

  • G

    Pragtige foto waarin die regstellende aanstelling wys na die lugleegte waar sy brein moes gewees het.

    • Charles

      Hehehehehe LMGA!!LMGA!!