Leon Lemmer: Dirk Mudge oor die onafhanklikwording van Namibië

Deel op

Dit is algemeen bekend dat Dirk Mudge (gebore in 1928) ‘n leidende rol in die onafhanklikwording van Suidwes-Afrika (SWA, nou bekend as Namibië) gespeel het. Die blanke bewind in Rhodesië (nou bekend as Zimbabwe) het in 1980 tot ‘n val gekom. Hiervoor moet John Vorster en Pik Botha ‘n mate van verantwoordelikheid aanvaar. In 1990 het dieselfde lot SWA getref. Hierdie magsoorgawe het plaasgevind met Vorster en daarna PW Botha as die Suid-Afrikaanse staatshoof, met Pik Botha deurgaans as die minister van buitelandse sake (1977-1994). Ek onthou hoe Vorster vertel het dat dieselfde lot as Rhodesië ons nie sal tref nie omdat Suid-Afrika ‘n “soewereine, onafhanklike staat” is. Oor SWA was die profesie dieselfde: “Dat wat in Suidwes-Afrika gebeur nooit in Suid-Afrika sou gebeur nie” (bron hier onder, p 374). Suid-Afrika se “bevryding” van blanke bewind in 1994 weerspieël egter in baie opsigte wat in hierdie twee buurlande (en veral in Namibië) gebeur het.

Mudge stel Vorster gunstig en PW Botha ongunstig voor. “My verhouding met PW Botha was so anders as dié wat ek met John Vorster – vir my altyd oom John – gehad het” (p 260). PW Botha was lus om Mudge te “donner” (p 259). Dit is moeiliker om Pik Botha, wat “‘n formidabele onderhandelaar was” (p 326), te karakteriseer. Mudge het gesê “dat Pik graag die bruidegom op elke bruilof en die lyk op elke begrafnis wou wees” (p 261, 400). Max du Preez noem Pik ‘n “cowboy-diplomaat” (p 16).

Sedert die onafhanklikwording van Zimbabwe en Namibië het die Suid-Afrikaanse nuusmedia in opvallende mate belangstelling in hulle verloor. Dit is nie polities korrek om oor die wanprestasies van ‘n swart bewind te berig nie. Omdat wat in SWA gebeur het nie altyd in detail bekend was nie, moet die publikasie van Mudge se outobiografie verwelkom word: Enduit vir ‘n onafhanklike Namibië (Pretoria: Protea Boekhuis, 2015, 551p, R350). Mudge skryf in merkwaardige besonderhede oor sy politieke loopbaan, vanaf die begin daarvan in 1961 tot in 1983 (tot by Hoofstuk 11). “Ek wou sover moontlik alles wat ek gedurende my lang en dikwels opdraande politieke lewe ervaar het op rekord plaas” (p 29). Hoofstuk 12, oor die gebeure van 1984 tot 1989, is egter sketsmatig, asook wat daarna gebeur het. Dit is asof die outeur moeg geword het om alles in dieselfde voortreflike mate as voorheen te vertel. Hoofstuk 13, oor die totstandskoming van die grondwet, is egter skitterend omdat ‘n potensieel saai onderwerp baie interessant aangebied word.

In die geheel beskou het Willie Breytenbach reg as hy hierdie boek “‘n monument vir gryskrag” noem (Netwerk 24, 6 deser). In sy resensie vra Breytenbach egter hierdie onvanpaste vraag: “Waarheen gaan hierdie dagboeke en dokumentasie eendag?” Mudge het uitdruklik geskryf: “Baie van die inligting wat ek in hierdie boek verstrek, kom uit dokumente, briewe, verklarings en toesprake wat ek jare lank tot my beskikking gehad het, maar intussen aan die Universiteit van Suid-Afrika geskenk het” (p 29).

Al was albei sy oupas Sappe (p 39) en sy pa ook (p 59) tot 1950 (p 74) was Mudge in sy jeug ‘n Afrikaner, bv lid van die Voortrekkers (p 56), die Nasionale Party (NP), die Rapportryers en die Broederbond (p 72). Hy is steeds ‘n lidmaat van die NG Kerk (p 72). In die politiek is hy tot groter verligtheid gebrei. Hy het tot die besef gekom dat buitelandse en internasionale faktore deesdae ‘n groot rol in die binnelandse politiek speel. Hy het apartheid afgesweer, in 1977 van die NP weggebreek en die Republikeinse Party (RP) gestig. Daarna het die veelrassige Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA), met die PR as deel daarvan, tot stand gekom. Die DTA was nodig om ‘n mate van verenigde weerstand teen die terroristiese South West Africa People’s Organisation (SWAPO) te bied. Dié DTA-weerstand was deurgaans vreedsaam. Die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte (weermag en polisie) het SWAPO militêr bestry. Interne politieke partye, soos die NP-SWA en RP, het nie inspraak in militêre besluite gehad nie.

Die teks is ‘n inskerping van, of skoling in, politieke verligtheid. Dit is reeds aan die begin duidelik. In die aanhef is daar ‘n aanhaling van die manteldraaier Abraham Lincoln en dan volg ‘n voorwoord deur die skynbaar onvermybare Max du Preez. Mudge word deur Du Preez in die konteks van “die mees uitmuntende Afrikaner-leiersfiguur” geplaas; iemand wat “nie in die eerste plek of eksklusief ‘n leier van Afrikaners” is nie, maar “ook ‘n volbloed Afrikaan” is (p 13). “Die eerste leier uit die hoofstroom Afrikaner-establishment wat besef het dat hy ook Afrikaan is, dat sy lot volledig [!] met dié van swart Afrikane verbind is en dit boonop sy politieke platform gemaak het, was Dirk Mudge … Mudge se ommeswaai van ‘n stoere Afrikaner-nasionalis en ondersteuner van apartheid tot ‘n bevryde Namibiese patriot wat teen rassediskriminasie veg, het oor ‘n paar jaar plaasgevind” (p 14). Let op die oordrywing wat so kenmerkend van Du Preez se joernalistiek is: volbloed, volledig, ommeswaai, stoere, bevryde Namibiese patriot. In werklikheid was Mudge se politieke ommeswaai nie so volledig soos Du Preez beweer nie en sy politieke “bevryding” het hom nie naasteby van sy Afrikanerkultuur laat afsien nie, soos hier onder blyk. In ruil vir Du Preez se voorwoord gee Mudge die volgende komplimentjie: “As dit nie vir Max du Preez en sommige media was nie, sou min mense in Suid-Afrika geweet het wat hier by ons in die politieke arena gebeur het” (p 422).

Een van Mudge se hoofargumente teen apartheid is dat blankes ‘n rasse- of kleurgroep is wat in Namibië verskillende etnisiteite, nasies, volks- of kultuurgroepe, soos Afrikaners, blanke Engelssprekendes en blanke Duitssprekendes, insluit. Deur nie-blankes saam te groepeer en van hulle te verwag om geriewe te deel, word ras of kleur eweneens as norm gebruik en verskillende etnisiteite saam gegroepeer, bv Basters, Boesmans, Capriviane, Damaras, Herero’s, Kavango’s, Kleurlinge en Namas (p 30, 56, 142, 213, 257, 290, 334, 371). Mudge aanvaar “dat differensiasie tussen mense op grond van hul bevolkingsgroep vir die grootste deel van die bevolking aanvaarbaar is, maar dat differensiasie op grond van kleur of ras vernederend is en nie verdedig kan word nie. Ek wil dit by wyse van ‘n eenvoudige voorbeeld illustreer. Elf verskillende skole vir die verskillende bevolkingsgroepe maak sin, maar slegs drie verskillende skole vir swart, wit en bruin mense is vir hulle [die swartes] nie verantwoordbaar nie, omdat dit slegs op kleur gebaseer is en nie met die taal- en kultuurverskille tussen verskillende swart groepe rekening hou nie. Dit het die indruk geskep dat dit slegs om die beskerming van die blanke groep gaan. Eweneens kan dit nie verdedig word nie dat sommige openbare geriewe slegs vir blankes gereserveer was, terwyl al die ander groepe geriewe wat vir ‘nieblankes’ afgesonder was, moes deel” (p 200).

As daar gebiedskeiding was, sou aparte geriewe vir die elf etniese groepe die ideale oplossing gewees het en dus ook die skepping van elf nasiestate, moontlik as lede van ‘n oorkoepelende federasie. Omdat al die etniese groepe se woon- en gebruiksgebiede nie sinvol sonder groot bevolkingverskuiwings geskei kan word nie, is almal sonder etniese onderskeid met onafhanklikheid saamgegooi. Myns insiens word die swartes hierdeur bevoordeel en die wittes (en in mindere mate die bruines) hierdeur benadeel en groot opofferings word van veral die blankes geverg. Dit is by uitstek een kleurgroep, naamlik die swartes, wat bevoordeel en ‘n ander kleurgroep, naamlik die blankes, wat in die nuwe opset benadeel word. Ontwikkelde Europese beskawing word nie op hierdie manier bevorder nie. Maar dan word beweer dat Westerse beskawing nie tot die norm verhef mag word nie, want dit sou minderwaardigheid by veral swart etniese groepe impliseer, wat taboe is.

Uiteindelik word die blankes tot in hierdie hoek gedryf: Dat bv “skoolintegrasie onafwendbaar is ten spyte van taal- en kultuurverskille” (p 370), al “was dit die DTA se beleid dat daar kultuurgebonde én ook oop skole moes wees” (p 382). In die praktyk word dit later: “Dat skole in die land toeganklik sal wees vir enige voornemende skolier” (p 417). Mudge wou hê dat die belangrikheid van “moedertaalonderrig in die een of ander vorm” erken word (p 446), maar daardie “een of ander vorm” toon reeds dat daar nie sterk hierop as ‘n onvervreembare reg aangedring is nie.

Wat hier gebeur het, is soortgelyk aan die erkenning in Suid-Afrika, nie van elf etniese groepe nie, maar van elf amptelike tale. Nege tale baat deurdat hulle amptelike status kry; iets wat hulle voorheen nie gehad het nie. Engels baat buitensporig omdat dit in die praktyk as feitlik die enigste amptelike taal funksioneer. Afrikaans, wat ‘n sterk funksionerende amptelike taal was, boet die meeste aan status in. ‘n Belangrike verskil met wat in die vorige paragrawe staan, is dat dit juis die koloniale en imperiale hooftaal, Engels, is wat sonder wroeging as die amptelike hooftaal in die Suid-Afrikaanse praktyk ingeburger is. In Namibië is Engels die enigste amptelike taal (kyk hieronder). Die skepping van elf etniese tuislande in Namibië is onprakties, maar elf amptelike tale word in Suid-Afrika die sotlike werklikheid al is dit eweneens heeltemal onprakties en natuurlik onekonomies.

Mudge vestig deurgaans die aandag op die verskil tussen “people” (die hele bevolking) en “peoples” (etniese groepe) (bv p 131). Hy verkies dat daar na “people”, die bevolking in sy geheel, verwys word en nie na “peoples”, dus bevolkingsgroepe, nie omdat dit aan afsonderlike ontwikkeling, oftewel ‘n vorm van apartheid, herinner. Tog sou afsonderlike gebiede vir al die etniese groepe (teoreties, maar nie prakties nie) die ideale oplossing gewees het.

‘n Ander kenmerk van Mudge se boek is die klem wat hy op medemenslikheid/menswaardigheid plaas. Hy wou hê dat blankes hulle “selfsugtige voorregte” moet prysgegee (p 175, 333). Daar moet ‘n gesindheidsverandering intree (p 199). Daar was ‘n verhoudingsprobleem (p 216). Soos in Suid-Afrika duik die gewilde frase van “hande vat” kort-kort op. Mudge fundeer sy standpunt op sy christelike oortuigings en ook op Hendrik Verwoerd se uitspraak dat “hy vir die swart inwoners van die land alles sou doen wat hy vir homself gun” (p 26, 152). In die jare sestig was Mudge nie blind vir kultuur- of ontwikkelingsverskille tussen wit en nie-wit nie: “Ons moet met ons hoër ontwikkelings- en beskawingspeil ‘n voorbeeld van wedersydse respekbetoning vir die nieblankes stel” (p 105). “Ek staan vandag nog daarby dat jy nie etniese, godsdienstige en selfs beskawingsverskille kan ignoreer wanneer na vreedsame oplossings gesoek word nie” (p 146). “My standpunt was dat ek my taal en my geloof beskerm wil hê” (p 447).

Voogdyskap word nie geïmpliseer nie. “Om die verskeidenheid van die skepping as argument te gebruik om teen mense wat eenders [?] geskape is te diskrimineer en hulle menswaardigheid te misken, het my gepla … Hoewel niemand die ryke verskeidenheid van die skepping ontken nie (dit selfs bewonder), kan niemand [?] op Christelike gronde aanvaar dat God minderwaardige wesens geskep het nie. As daar beskawings- en ervaringsverskille ontstaan het, moet die Skepper nie vir alles verantwoordelik gehou word nie” (p. 152-153). Mudge kon met hierdie soort redenasie ook ontken dat gestremdes in ‘n benadeelde posisie verkeer. Natuurlike/aangebore verskille word hiermee ontken. Alle verskille word oor die boeg van empiriese faktore, soos ervaring en opvoeding, gegooi, op die gevaar af dat as mense in die praktyk nie gelyk of eenders is nie, blankes vir die agterstande van nie-blankes verantwoordelik gehou kan word.

Dan word “gelyke geleenthede” die pleidooi (p 153); iets wat in die praktyk kwalik bygebring kan word. Vryheid om geleenthede te benut, moet eerder die wagwoord wees. “Geen politieke reëling in hierdie land wat vrede en voorspoed tot gevolg kan hê, kan plaasvind en kan ‘n sukses wees as ons nie die nieblankes se goedkeuring daarvoor kan kry nie” (p 147). Myns insiens is die probleem dat die nie-wit meerderheid hiermee ‘n vetoreg verkry wat nie aan die blanke minderheid gegun word nie. Naas kwantiteit/getalle moet kwaliteit/gehalte/meriete ook verreken word.

Die eerste SWAPO-vegters is in 1962 in Egipte opgelei en die eerste terreurdade is in 1965 in SWA gepleeg (p 122-123). Die amptelike beginjaar van die militêre stryd is egter 1966, met 26 Augustus wat deesdae ‘n openbare vakansiedag, Heroes’ Day, is (p 124-125). ‘n Positiewe klank is dat Mudge met verwysing na SWAPO by voorkeur van terroriste praat en selde van vryheidsvegters. Hy aanvaar ook dat die Suid-Afrikaanse weermag die militêre stryd teen SWAPO gewen het (p 24, 422). SWAPO kon nooit eens ‘n enkele militêree basis in SWA vestig nie. Die Verenigde Nasies (VN) het SWAPO egter as “die enigste ware en outentieke verteenwoordigers van die mense van Suidwes-Afrika erken” (p 159, 284).

In 1969 het die VN besluit om die gebied se naam na Namibië te verander. Hieroor was Mudge “baie ongelukkig en soos baie ander van my landgenote, het ek geweier om die nuwe naam te aanvaar” (p 134). Reeds in 1974 gebruik Mudge egter die naam Namibië in ‘n toespraak in die Wetgewende Vergadering (p 181). Soms kom Mudge se historiese DNS tog na vore, bv: “Dit het my gegrief dat sommiges die Afrikaners, die Boere, vir alles wat sleg was in die land verantwoordelik gehou het” (p 364). Ook: “Individue wat die minste of geen belasting betaal nie, baat dikwels die meeste uit belastinginkomste” (p 411) en hy sou dit nooit eens oorweeg om in ‘n SWAPO-kabinet te dien nie (p 522).

Daar was aanvanklik sprake van die verdeling van die land; dat die suide van SWA aansluiting by Suid-Afrika sou soek om oorheersing deur die swart meerderheid, die Owambo’s in die noorde, te voorkom (p 162). Owambo’s maak meer as die helfte van die land se bevolking uit. Daar was ook ‘n afskeidingsbeweging in die Caprivi, dus in die noord-ooste (p 509). Soos in die geval van Suid-Afrika het die koloniale grense egter behoue gebly en het die terroriste, soos in Suid-Afrika, politieke beheer oor die land in sy geheel verkry, hoewel SWAPO, soos die ANC, militêr glad nie die oorwinning behaal het nie. In albei lande het swart mag dus die oorhand gekry. Die koloniale grense is selfs uitgebrei deurdat ‘n ANC-gedienstige NP-regering op 28 Februarie 1994 die Walvisbaai-enklawe (1 124 km²) sonder slag of stoot gratis aan Namibië verkwansel het. Die VN het sedert 1978 hierop aangedring (p 286). Walvisbaai was al van 1878 af deel van die Kaapkolonie, maar volgens die VN se Veiligheidsraad “Walvis Bay must be reintegrated [!] into South-West Africa” (p 343).

Soos in Suid-Afrika was daar aanvanklik sprake van ‘n federale politieke bestel; iets wat baie nodig is in enige land met ‘n heterogene bevolkingsamestelling, dus vanweë verskille in bv etnisiteit, kultuur, taal en tradisie. Soos in Suid-Afrika is ‘n gesentraliseerde eenheidstaat, waarin die meerderheid op grond van een mens, een stem, die politieke mag inpalm, aan die hele gebied opgedring. In albei lande is die ydele hoop gekoester dat “geen minderheidsgroep deur meerderheidsgroepe oorheers sal word nie” (p 177). In ‘n poging om swart oorheersing te verdoesel, word groepregte deesdae in albei lande ontken. Pleks daarvan word net indiwiduele regte erken (p 188, 335, 432, 457). Op hierdie manier verkry net die meerderheid, die swartes, effektief groepregte, naamlik die reg om ander groepe te oorheers en alles wat daaruit volg, bv (teoreties) vrywillige assosiasie (p 335) maar in die praktyk gedwonge rasse-integrasie en proporsionele parlementêre verteenwoordiging vir die politieke partye pleks van die kiesafdelingstelsel (p 338). Sodanige resultate word “geregtigheid” genoem. In Namibië is daar blykbaar afgesien van die voorstel van ‘n proporsionele ten gunste van die kiesafdelingstelsel (p 508), maar in Suid-Afrika sit ons steeds met uitsluitlik proporsionele verteenwoordiging.

Soos Suid-Afrika het Namibië na bewering ‘n modelgrondwet (p 436, 440). Enigiets waarmee blankes se gesag ondergeploeg word, moet blykbaar goed wees. Volgens die aanhalings in die boek het die verrigtinge tydens die skryf van die grondwet (veral) in Engels geskied; die taal waarop SWAPO aangedring het. SWAPO se konsepgrondwet het as besprekingsdokument gefunksioneer (p 439). Dit is deur ‘n Suid-Afrikaanse regter, Ismail Mohamed (1931-2000), opgestel (p 439, 490). Dele is uit die Indiese grondwet oorgeskryf (p 490). Mohamed, met ‘n LLB-graad, is in 1996 deur Nelson Mandela as hoofregter bo ‘n blanke kandidaat, wat meer ondervinding en ‘n doktorsgraad gehad het, aangestel. Mohamed was bekend vir sy linkse politiek; vandaar retoriek soos die volgende: “Whereas these rights have for so long been denied the people of Namibia by colonialism, racism and apartheid; Whereas we, the people of Namibia, have finally emerged victorious in our struggle against colonialism, racism and apartheid” (p 441-442). In die Suid-Afrikaanse grondwet is daar ‘n soortgelyke klank: “We, the people of South Africa, Recognise the injustices of the past; Honour those who suffered for justice and freedom in our land.” Daar word dus weggespring uit die perspektief van die ANC en swartes. Eers daarna is daar ‘n kniebuiging na veral die blankes: “Respect those who have worked to build and develop our country.” Drie linkse Suid-Afrikaanse regsgeleerdes was by die formulering van sowel die Namibiese as die Suid-Afrikaanse grondwet betrokke: Arthur Chaskalson [(1931-2012, van Rivonia-faam en die eerste hoof van die Grondwethof], Marinus Wiechers [wat as rektor Unisa aktief verswart het] en Gerhard Erasmus [‘n Dakar-ganger] (p 458).

In die grondwetlike besprekings in Windhoek was daar dinge waarvan met vrug kennisgeneem kan word:

  • Gedagtig aan die Zuma-kabinet: “A proliferation of ministries would not serve us well” (p 453, 528). Die praktyk lyk egter soos in Suid-Afrika, want Mudge maak melding van “‘n onrealisties groot uitvoerende gesag” (p 528).
  • Mudge het tereg geoordeel “dat regstellende aksie op die fundamentele beginsel van gelykheid en vryheid van diskriminasie inbreuk sou maak” (p 497). Tog was sy DTA in beginsel ten gunste van regstellende aksie, maar dit het, soos in Suid-Afrika, ontaard in omgekeerde rassediskriminasie (p 456). Aanvanklik is voorgestel dat regstellende aksie na 25 jaar uitgefaseer moet word, maar Chaskalson was beswaard daaroor. Die keerdatum is geskrap omdat ‘n periode van 25 jaar deur die Grondwetkomitee as te lank beskou is (p 528). “Ek dink dit [die skraping] was ‘n oordeelsfout, want 25 jaar ná onafhanklikheid word regstellende aksie nog steeds op diskriminerende wyse toegepas” (p 470). Mudge meen sodanige regstelling “kan nie onbepaald voortgaan nie” (p 528). Dieselfde oordeelsfout is in Suid-Afrika gemaak; eintlik ‘n onvergeefbare onnoselheid. Dit is onwaarskynlik dat ‘n swart meerderheidsregering ooit van hierdie soort rassistiese bevoordeling van swartes en benadeling van blankes sal afsien. Die speelveld word doelbewus ongelyk gehou omdat die swartes nie sonder bevoordeling suksesvol met die blankes kan meeding nie.
  • Mudge het nie daarvan gehou dat Afrikaans ondergeskik aan Engels gestel word nie, maar pleks van op Afrikaans aan te dring, is SWAPO se wens glad te geredelik aanvaar, te wete die sotlikheid van Engels as die enigste amptelike taal in ‘n land waar Afrikaans dwarsoor die hele gebied, met die moontlike uitsondering van Caprivi, die eintlike openbare spreektaal is (p 464). “Die meeste van die nuwe amptenary kan Afrikaans praat” (p 527), is ‘n skrale troos, maar tog heelwat beter as die situasie in Suid-Afrika waar die oorgrote meerderheid werkers in die openbare sektor nie Afrikaans kan of wil praat nie. In sowel Namibië as Suid-Afrika is daar glad nie hard genoeg en met oortuiging om eerbare amptelike status vir Afrikaans geveg nie.

Ten spyte van ernstige tekortkominge roem Mudge daarop dat hy en sy DTA saam met SWAPO “vorm en inhoud aan die Grondwet van die onafhanklike Namibië gegee” het. “Die eindresultaat is ‘n Grondwet wat ‘n veelpartydemokrasie gevestig het wat die fundamentele regte en vryhede van elke persoon in Namibië beskerm en wat ‘n missie bevat om die welsyn van die land se mense, met spesiale klem op die minderbevoorregtes en benadeeldes, te bevorder” (p 520). Daardie “spesiale klem” herinner aan die propaganda van bevrydingsteoloë en dui daarop dat die belange of heil van al die inwoners nie in dieselfde mate nagestreef word nie. Soos in die Suid-Afrikaanse grondwet is daar oordrewe klem op regte wat nie met verpligtinge gebalanseer word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.