Gauteng-onderwysdepartement gaan 124 Afrikaanse skole verengels

Die Gautengse departement van onderwys het vandag ‘n verklaring uitgereik waarin hy dit onomwonde stel dat enkelmedium-Afrikaanse onderwys summier beëindig word. In die plek daarvan sal skole voortaan parallelmedium Afrikaans en Engels wees met die verwagting dat daar stelselmatig na Engels oorgeskakel sal word. Volgens beskikbare navorsing neem dit ongeveer vyf jaar vir ‘n Afrikaanse skool om volledig na Engels oor te skakel.

Vir die anderhalf miljoen Afrikaners in Gauteng is dit ‘n nagmerrie wat bewaarheid word. Meer as ‘n eeu van Afrikaanse onderwys wat moeisaam oor geslagte heen tot stand gekom het, word hiermee revolusionêr beëindig. Beroemde Afrikaanse hoërskole soos Afrikaans Hoër, Waterkloof, Randburg en Linden, om net van hoërskole te praat, gaan daarmee sneuwel.

Die verklaring deur Panyaza Lesufi stel die totale Afrikanergemeenskap in kille terme voor die besluit wat eensydig en sonder raadpleging deur die ANC-beheerde onderwysdepartement geneem is. Daar word ook gesuggereer dat Afrikaners “demografies gaan wegkwyn” en dat hul skole dus sonder meer oorgeneem kan word. Die tersaaklike gedeelte van die verklaring lui soos volg:

“Weens die toenemende vraag na ruimte in ons skole en die toevloei van leerlinge vanuit ander provinsies na Gauteng, het die departement die besluit geneem om beskikbare ruimte te gebruik om dié leerlinge toe te laat. Daarom noop dit ons om die maksimumgebruik van alle beskikbaar ruimte in te stel, wat deur ons grondwetlike verpligting genoodsaak word om alle leerlinge wat toelating nodig het in ons skole te plaas. In die lig hiervan, het die departement ‘n strategie ontwikkel om 124 enkelmediumskole na parallelmediumskole om te skakel as ‘n manier om die oorbevolking in die meeste van ons skole te hanteer.

Dié redenasie word deur die volgende ondersteun:

  • Die bestaan van hoëgehalte-infrastruktuur wat tans onderbenut word in gemeenskappe waarvan die demografiese profiel oor die jare verander het;
  • Skole behoort die behoeftes van die gemeenskappe waarin hulle bestaan, te dien en die veranderende demografie van daardie gemeenskappe te weerspieël;
  • Die GOD (Gautengse Onderwysdepartement) het ‘n morele verpligting en gesag om toegang tot onderrig te verskaf waar ruimte bestaan soos wat deur die Suid-Afrikaanse skolewet nr. 84 van 1996 vereis word.

Die hele proses sal binne die wetlike vereistes geskied. Die departement sal binnekort ‘n raadplegingsproses met die skole wat hierdeur geraak word, begin. Die raadplegingsproses sal al die skoolhoofde, vakbonde en skoolbeheerliggame betrek wat hierdeur geraak word en sal hulle deur die proses voer, waaronder die beoogde winste en om potensiële vrese en uitdagings te hanteer.”

Dit is bekend dat mev. Barbara Creecy, die vorige LUR vir onderwys in Gauteng, van plan was om ‘n grootskaalse offensief teen Afrikaanse skole te begin. Dit wil voorkom asof sy egter gewag het totdat ‘n swartman by haar oorneem ten einde die rassekaart teen blanke Afrikaanse skole te kan speel.

Benewens die verengelsings van skole, gaan model C-skole ook gedwing word om gesamentlike beheerliggame met lokasieskole in te stel, sodat daardie skole die hulpbronne van veral die Afrikaanse skole kan oorneem.

Dr. Dan Roodt van PRAAG sê: “Dit lyk na ‘n soort proletariese nasionalisering van onderwys. ‘n Mens herken hierdie metodes uit die geskiedenis van voormalige kommunistiese lande. Nie net word Afrikaanse skole summier verengels nie, maar hulle gaan ook na die vlak van die meeste swart skole toe afgetrek word. Tot dusver was voortreflike onderwys nog al wat die blanke minderheid in staat gestel het om rassistiese regstellingswette te trotseer. Maar ook dít word nou kennelik van ons en van ons kinders af weggeneem.”

Lees ook: Verengelsing: Name van geteikende Afrikaanse skole bekend

en teken die petisie: Los ons Afrikaanse skole uit!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.