Niël Barnard se outobiografie ontbloot NP-rugstekery

Die spioenbaas, Niël Barnard, se outobiografie Geheime Rewolusie – memoires van ‘n spioenbaas, wat pas by Tafelberg verskyn het, is ‘n teleurstellende boek en sal slegs aanklank vind by diegene wat nie toegang tot die internet of ander eietydse nuusbronne het nie. Dit is veral gerig op ‘n bejaarde gehoor wat slegs Naspersnuus moet verteer. Die boek laat meer vrae as wat dit antwoorde verskaf en verteenwoordig die jongste vergoeiliking van die eerlose oorgawe waarmee Afrikaners vandag worstel.

Behalwe ‘n kort sin oor Edward Snowden se “verraad” teenoor die VSA, lyk dit nie of die afgelope 20 jaar by NI se vorige hoof geregistreer het om gebeure van vroeër in te kleur of perspektief te gee nie.

Outeur: Niël Barnard, soos vertel aan Tobie Wiese
Titel: Geheime revolusie – memoires van ‘n spioenbaas
Uitgewer: Tafelberg, 2015
ISBN 978-0-624-06614-9
Prys: R257

Barnard het sy eie betrokkenheid by die magsoorgawe van 1994 aan die joernalis Tobie Wiese oorvertel. Alhoewel daar met Wiese se besonder keurige Afrikaans nie fout te vinde is nie, word dit algaande in sy outobiografiese vertelling duidelik dat Barnard, uit hoofde van sy voorkeurposisie, namens Nelson Mandela met Afrikaners onderhandel het en nie andersom nie!

In sy voorwoord prys Hermann Giliomee die ordelikheid waarmee die revolusie gevoer is, as ‘n pluimpie vir PW Botha se greep op die veiligheidsmagte en vergelyk dit met die onverkwiklike toedrag van sake in byvoorbeeld hedendaagse Sirië, waar chaos heers. Sonder ‘n “stabiele politieke platform” sou die “skikking haas onmoontlik gewees het”, meen Giliomee.

In dié opsig is Johan van der Merwe se insigte oor dieselfde tydperk in sy outobiografie Trou tot die dood toe, van veel groter waarde, aangesien dit juis is wat Van der Merwe heelwat vroeër reeds in fyn besonderhede toegelig het. Van der Merwe ly ook gelukkig nie aan dieselfde verwaandheid as Barnard nie.

Steurend veral is die spioenbaas se selfingenome klem op sy meerdere insigte en oordeel, terwyl daar nie eintlik genoeg voorbeelde daarvan in die boek en in die werklikheid gelewer word nie.

Op bladsy 245 sê Barnard selfs dat “Madiba” sy uitnemende eienskappe waarna hyself gestreef het, raakgesien het: Dié van ‘n patriot wat agter die skerms die grondslag vir die nuwe Suid-Afrika gelê het. Beskeie is Barnard beslis nie.

By die voormalige NI-baas self is daar feitlik geen toeligting van hoe veiligheidshefbome by die magsoorgawe uitgeskakel is nie. Terwyl hy vertel dat sy grootste uitdaging was om die veiligheidsmagte te ondermyn sodat die “geheime revolusie” kon plaasvind, soos dit by die eerste vergadering in Simonstad met verteenwoordigers van militêre inligting en die polisie geblyk het, bly hy liewer by ad-hominem-opmerkings soos “Vuil Uil” wat geen verdere lig op die proses werp nie.

En van “proses” gepraat. Dit is bekend dat die ANC by die onderhandelinge die gesprekke doelbewus van inhoud na proses gestuur het sodat die NP-onderhandelaars mislei kon word. Barnard gee geen blyke dat hy kennis dra hiervan nie.

Mandela moes as ‘n geloofwaardige leier by swartes voorgehou word en daarom kon die ou gevangene glo nie sonder meer geweld afsweer nie, aldus Barnard. Ons weet intussen dat geweld en misdaad onrusbarend toegeneem het ná Mandela se vrylating, asook die vrylating van sogenaamde “politieke” gevangenes.

Die mees verstommende van die outobiografie en ‘n verklaarde intieme vriendskap met PW Botha, is dat Barnard steeds nie weet dat PW Botha vergiftig is nie. Volgens hom het die president ‘n beroerte-aanval gehad wat allesbehalwe “lig” was. Barnard het glo homself “doelbewus weggehou” van die stryd om ‘n nuwe leier aan te wys.

Enkele paragrawe later erken Barnard egter skalks dat FW de Klerk, die opvolger, daarna nie ingelig is oor NI se besluit om met Thabo Mbeki in Londen te gaan beraadslaag nie. Dié besluit is eensydig deur die Staatsveiligheidsraad geneem, sonder FW se medewete. Barnard se adjunk en oud-Sap, Mike Louw, was glo daarvoor verantwoordelik.

Barnard spog ook dat hy die “gesiene filosoof”, Boerehater Willie Esterhuyse vir “Operasie Flair” ontplooi het om Mbeki te nader oor “ernstige” Afrikaner-oorgawe. Dit is sekerlik nie ‘n besondere kuns om so-iets te vermag nie.

Dit is die beste aanduiding nog dat Barnard eerder namens sekere duistere belange onderhandel het om Afrikanermag die nekslag toe te dien. Of hy dit self besef, is nie duidelik nie, want hy lê deurentyd gemoedelike klem op sy Afrikanerskap.

Dit laat die vermoede verder toeneem dat NI die revolusie as ‘n openbare advertensieveldtog bedryf het en dat die “geheime revolusie” ‘n oorgawe aan ‘n paar oligarge was wat die land intussen na hartelus geplunder het, maw ‘n soort bestel waarin selfs swart kiesers min invloed uitoefen ten spyte van “demokrasie” en waarin Afrikaners absoluut geen seggenskap meer het of op soewereiniteit kan aanspraak maak nie.

Terwyl die spioenbaas voorgee dat hy as “patriot” in landsbelang opgetree het, raak dit uit die boek duidelik dat landsbelang nie noodwendig met Afrikanerbelang ooreenstem nie en kennelik vandag nie eers naastenby oorvleuel nie. Dit weerhou Barnard nie van ‘n onkritiese beskouing van sy aandeel daarin nie, ten spyte van sy gewaande Afrikanerskap.

En dit is juis hierdie soort gemeenplase oor “vrede” en “Madiba” wat kwelvrae oor die dawerende stiltes in die boek laat.

Steurend ook is die verwysings na “regses”, dws gewone kritiese Afrikaners, en ‘n snobistiese afkeer van Paul Kruger omdat sy maniere nie aan Britse standaarde voldoen het nie. Tussen die reëls is Barnard immer besig om sy eie ontoereikendheid te besweer. ‘n Skroomvallige spioen?

‘n Resensie kan die outeur se analitiese integriteit op ’n lagwekkende wyse aan die kaak stel, soos dit blyk uit Piet Kopdoek se probeerslag “Geheime revolusie: ‘Spioenbaas’ se kampvuurstories“, waarin hy sy “indrukke” – eintlik vooroordele in krampagtige Afrikaans – oor die boek weergee. Maar dit kan ook verder as ‘n blik op oorgawe dien.

Die Kopdoek, resensent Piet Croucamp, is danksy die spioenbaas se oorgawe in die kalklig, maar soos die Engelse spreekwoord lui: “Never a good deed shall go unpunished.” Ten spyte daarvan dat die Doek vandag salig in die walms van die ANC baai, wat as’t ware ‘n produk van Niël Barnard se ywer is, snobeer die Doek die spioenbaas!

Die “staatsamptenaar” se “vervlakking” wat nie “komplekse nuanses” toelaat nie, soos die Doek hom toesnou, het ten minste oorgenoeg ruimte gelaat vir Kopdoek-preke waarin die resensent so oorhoops raak oor sy meerderwaardigheid, dat hy nie veel oor die boek self sê nie, maar by Barnard se menslike gebreke bly.

Dit is klaarblyklik ‘n kwaal van oorgawe: Barnard se dankbaarheid teenoor PW Botha wat hom as 30-jarige in ‘n sleutelpos aangestel het, is beloon met ‘n dolk in PW se rug. Kopdoek se houding teenoor Barnard spreek van dieselfde stank vir dank.

19 thoughts on “Niël Barnard se outobiografie ontbloot NP-rugstekery”

  1. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke (‭II KORINTHIËRS‬ ‭11‬:‭14-15‬ AFR53)

  2. Sover ek weet, is die korrekte Afrikaanse spelling “rewolusie” en nie “revolusie” nie. Hoe dit ookal sy, vir my is dit duidelik dat Niël Barnard se rol was om die oorgang na swart regering te bespoedig en niks anders nie. Sy aktiwititeite as “spioenbaas” was om die doen en late uit te snuffel van Afrikaners wat teen die oorgawe gekant was en wat in die awe-linkse jargon van die Nasionale Party as “regses” bekendstaan. Die sleutelsin in die stuk hierbo is sekerlik die een wat lui dat “landsbelang nie noodwendig met Afrikanerbelang ooreenstem nie en kennelik vandag nie eers naastenby oorvleuel nie”. Die “landsbelang” waarvoor die Nasionale Party hom beywer het en waarvoor Niël Barnard as nuttige idioot gedien het, was en is nie ons belang nie.

    1. Afrikaners het sedert 1948 ‘n stelsel waar hulle kruipers en ja-broers bevorder. Die wat bo uitkom kan rugby speel met ‘n bruin nek. Dom help, so die breinbeserings van rugby het grootliks bygedra om Broeder klipkoppe te kweek. Slim mense is gou uitgewerk, tensy hulle stilgebly het en wiskunde gedoen het. Barnard was ‘n aap, en wêreldvreemd. Die Britte het hom gou ore aangesit. Hy het hierdie prul geskryf sodat sy Rooinek base vir hom ‘n Noddy badge moet oorhandig. Sjym. Hulle het seker al lankal van hom vergeet.

  3. Twee goed het my opgeval:
    “raak dit uit die boek duidelik dat landsbelang nie noodwendig met Afrikanerbelang ooreenstem nie” – Hierdie dui weereens op die verdeling tussen blankes. Daar is Afrikaners en die ander – wie hulle is weet ek nie aldag nie. Van hulle maak asof hulle Afrikaans/Afrikaners is en bevoeter die res van ons wat glo ons is ‘n volk – selfs ‘n volk beskerm deur God (Weereens die Gelofte argument) Hierdie groep tree openlik pro-brits, pro-malligheid-wat-in-die-wêreld-aan-die-gang-is. Die standaard argument teen die res van ons is dat ons “verkramp”, “agterlik” ens is. So is en word veral die jonger geslagte verlei.

    “as ‘n pluimpie vir PW Botha se greep op die veiligheidsmagte”
    Ek het dit al in die verlede so gestel en dit lyk my al meer dat my gedagtes hieroor korrek is – die hele bosoorlog met die verpligte diensplig het ‘n ander effek gehad – die eerste ding wat geleer word in basiese opleiding is “absolute gehoorsaamheid” – JY MAG NIE VIR JOUSELF DINK NIE. JY MAG NIKS DOEN SONDER ‘N BEVEL NIE. Hierdie het deurgespoel (op ‘n diep sielkundige manier) tot die hele samelewing. Amper drie geslagte se mans (wat baie kla het geen durf meer nie) wag vir “bevele” – En toe is die “oorgawe” gepleeg, baie min het die denke gehad (natuurlik ook oor die groot klomp propaganda vir ja wat daar was) om oor die gevolge van ‘n ja stem te dink – hulle vertrou mos wat die regering doen? Die mense het nie toe reeds besef dat die lang geregeer is deur die afrikaansprekende Afrikaner vyande nie.

    Hierdie goed het al begin gebeur onder Vorster. In my opinie was PW ook reeds deel van die oorgawe. BAIE van die strooi het onder sy waak begin.

    1. Absoluut korrek Rooikop – krygswet en diensplig is alles vir bevolkings beheer en intimidasie.
      Toe lei die bosoorlog tot die kweek van anti-sosiale psigopate en hulle word letterlik herontplooi teen hulle eie mense met dieselfde doel – om volkome beheer oor die bevolking te handhaaf en getuies stil te maak!!
      Niemand is gerehabiliteer na die grusaamste operasionele dade nie. Ek weet van een ou wat 10 Kubane uit sy tenk met die 9mm pistool doodgeskiet het. Hy was daarna ‘n patetiese disfunksionele wrak.
      Militêre disinformasie intimidasie en massa sielkunde is op die publiek ontplooi.

      Die regering sedert die moord op ons enigste hoop naamlik veelvolkige Christelike demokrasie
      was pragmaties ramp gedrewe met geen prognose nie slegs vir selfsugtige eiebelang – niks anders nie.
      Want dis laaaaankal ‘n ou triek om Die Staat te beveilig moet dit ‘n vyand hê daarom maak ons toe sommer ons eie vyande pleks van vriende.

    2. Ons is van kindsbeen groot gemaak om na die “Baas” te luister. Geen teëpratery was die “ou” mense se verweer teen debat met hulle kinders. En dan word jy verjaag uit die geselskap met die woorde: Tel julle tande? gaan speel buite. In die Kerk was dit ook goed toegepas. Ons moes gereeld hoor dat ons gestraf gaan word vir die geringste oortreding.
      Op skool was hierdie “dissipline” in die oortreffende trap in ons ingepomp.
      Daarna het die “Army” ons in ‘n soort Robot verander. En dan eendag begin jy vir ‘n baas werk. In meeste gevalle êrens in die staatsdiens. Daar het dit nie anders gewerk nie.
      Op die einde van die dag kon ons nie vir ons self dink nie, en het gewag vir ‘n opdrag van “bo”af.
      En tot hierdie heden vandag nog, gehoorsaam ons bevele. Of dit van die Ouderling kom, of die ANC. Nou dat ons onder ons eie mense se Baaskap bevry is, weet ons nie herwaarts of derwaarts nie, en kan hierdie Vryheid nie verwerk nie.
      Die gedurige holruggeryde rympie van: “Ons het nie ‘n Leier nie” is bewys daarvan.
      Ons is ‘n oor-gehoorsame ou Volkie.

      1. Arnie – ek stem saam – dit is in ons ingehamer met “Eer jou vader en jou moeder…” Oor een ding is ek baie dankbaar – al het my ouers my ook geleer van gehoorsaamheid het dit nie gekom ten koste van jou eie denke en verstaan nie. Ek is geleer JY staan by jou besluit – goed of sleg en moet die gevolge dra. Ek het baie beskermd grootegeword maar kon tog myself so uitleef van ‘n jong ouderdom af – ek het op laerskool natuurlik bitter swaar gekry met die lawwe onderwysers en onderwyseresse – ek was te “cheeky” – en my wange het natuurlik baie gereeld gebrand as gevolg daarvan.
        Ek verstaan nie die robotmentaliteit nie. Ek is ook nie bang om die ouderling/dominee aan te vat as ek reken hulle is die spoor byster nie.

        1. Hehe, net so Rooikop. Ek was nog in die daë van ‘nege maande Militêre diens’ opgeroep. Die Korporaal, eintlik meeste van hulle, was met die Duiwel besete.
          Nou deesdaë vat ons die “Priesters” aan. In my tyd was jy onmiddelik onder “Sensuur” geplaas as jy durf jou bek rek.. “cheeky” soos jy sê.
          Weereens daardie “straf” wat op jou toegepas word.

  4. In kort opgesom: “Neil, jy lieg!!”

    Ons het n ander naam vir skuim soos jy: “Veraaier”

    Vertel vir die res van die wereld hoe jy miljoene maak deur ryk lewenstyle aan Afrikane te verkoop, o.a. Mbeki, Zuma ens.
    Die snert wat jy kwyt raak oor poging tot moord op PW is maar net nog n sif, lieg storie, soos net julle NIA honde kan kook, want dit is hoe julle, julle pensioene en bevorderings kan bewerkstellig. Vertel ons bietjie van die okkultiste en Kriptograwe wat in julle diens is. Dit lyk asof jy so n bietjie van n “gewetens aanval” hier op gedoen het, spoeg die res uit asb. Was julle sulke groot poep@lle, of was FW regtig so stupid dat n eks polisieman, aka Kakbeen Meyer die wol oor sy oe kon trek. Daar is baie fotots en bewyse van jou betrokkenheid met die mags oorgawe olv van die Poms en Yanks, Judas geld, Neil, Judas geld,

    Mag jou gewete jou ry tot in die afgrond in.

    1. Witbeer ek het maar liewer n wag voor my mond gesig voor ek
      nog meer as jy kwytgeraak het. Ek word so verwoedend as hierdie agterlikke spul
      ons behandel asof ons nogsteeds oningelig en eintlik onnosel is. Laat ek maar
      volstaan met wat ek nou hier gesê het.

      1. More Riempies, ek word so die duiwel in vir die sg. “slim mense” wat dink almal is onder klippe uitgebroei.
        So dan en wan kry die klomp liegbekke n slapelose nag en wil dan alles propbeer regstel met n voetwas of n halwe, waarheid, boek. ALLES WAT HULLE GEDOEN HET WAS VIR EIEWIN.

        1. Witbeer – jy moet my nie aanstig nie – Hierdie mense wat multimiljoeners
          uitgestap het uit ons verraad – wat is hulle bydrae vir ons verarmende
          Afrikaners in plakkerskampe wat honger gaan slaap en honger opstaan omdat hulle
          uit hulle werk geskop is en uit hulle huise geskop is wat die ons blanke regering vir
          hulle gebou het en dan wil ek nie eens oor die arme weeskinders praat nie wat
          verlore is vir ons volk in die deurmekaar gebroeiery in 3de wereld weeshuise. Nee wat Wit Beer
          hierdie skepsels onder die aanvoering van FW de Klerk en sy veraderlike kader
          moet liewer net hulle monde hou – hulle is nie waardig om met ons te praat oor
          hulle ervarings nie – hulle moet liewer net stilbly dat n mens nie bloeddruk
          probleme ontwikkel nie.

  5. Goeie krit. Jammer dat dieselfde nie gese kan word van die meeste kommentaar hieronder nie.

    Ek dink nie ek stel eens belang om die boek te lees nie. Dit bevat wel erkennings van die kant van Barnard oor onbehoorlike politieke optredes agter die skerms, maar in ‘n sekere opsig het ons dit lankal geweet of vermoed.

    Maar in die lig van sy erkennings, ontstaan die vraag: Wat moet ons met mense soos Barnard – en sy trawante – doen? Is dit aanvaarbaar dat hulle in die self-verheerlikte glorie van hulle dade voortgaan – waarskynlik om steeds Afrikanerbelange te ondermyn?

    Dis nie vir my aanvaarbaar nie – maar die vraag is dan weer wat kan ek – en andere – daaraan doen?

Maak 'n opvolg-bydrae