Suid-Afrikaanse maatskappye bestee slegs 2% van hul reklamebegrotings aan digitale media, terwyl dié syfer in die VSA reeds op 35% staan. Die meeste advertensiegeld word op radio en TV uitgegee, wat 63% van die koek ontvang en 30% op gedrukte media.
Volgens die digitale bemarkingsmaatskappy Amorphous is die syfer in SA geweldig laag. Sy uitvoerende beampte, Grant Shippey, sê: “Selfs al beskik ‘n kleiner gedeelte van Suid-Afrika oor internettoegang vergeleke met die VSA, is die toewysing aan digitaal steeds oogluikend laag.
“Plaaslike maatskappye plaas te veel klem op tradisionele bemarking sonder dat daar enige tasbare opbrengs op hul belegging is. Dis ook waar van die reklamebedryf wat uit ‘n omgewing kom waar daar min tot geen prestasiemaatstawwe bestaan nie.
“Gevolglik erken die bedryf steeds ‘n geslaagde veldtog aan pryse of toekennings, eerder as resultate. Toekennings bly ‘n sleutelmaatstaf waarmee agentskappe beoordeel word.”
Volgens Shippey neig data om twyfelagtig te wees deur van fokusgroepe of straatopnames gebruik te maak. “Daar is ‘n persepsie van skaarsheid maar ons het oorgenoeg data, veral in die digitale sfeer. Deur sodanige data te gebruik, kan maatskappye ‘n beter begrip verkry van hoe bemarking hulle kan bystaan in die opstel van sakestrategieë.”