As ’n mens LitNet se rubrieke oor Bok van Blerk se “De la Rey” lees, wonder ’n mens wat hierdie skrywers motiveer om so honend op te tree teen Van Blerk se treffer. Dit is in elk geval weereens ’n bewys in hoeverre mate alle vorme van kulturele ekspressie vanuit Afrikanergeledere ’n politieke lading moet kry. ’n Afrikaner kan deesdae niks sê, dink of doen om by sy eie mense ’n gevoel van hoop of trots in te boesem nie of die polities-korrektes begin met hul verdagmakery; ’n soort paranoïa wat ’n mens laat dink aan die Jodevervolging in Duitsland in die dertigerjare. Dit is duidelik dat Afrikanereenheid ’n bedreiging vir die ANC en hul sikofante vorm.
Lees verder: Jason Lloyd se galbraak oor ‘De la Rey’ en Afrikaners

Verlede week braak twee Huisgenoot-joernaliste gal oor Bok van Blerk en die mense wat gaande oor sy De la Rey-liedjie is. Die Euromasochis Hannelie Booyens wat iewers jammer is dat sy nie een van Amy Biehl se ouers kon wees wat haar dogter se moordenaars uit Gugulethu eers kon vergewe en toe in diens kon neem nie, kry koue rillings as sy ‘n stillerige jong ondersteuner by Bok se konsert raaksien.