As Suid-Afrika nie in staat was om die Wêreldbeker in 2010 aan te bied nie, sou die land Fifa nie in hierdie verband genader het nie, aldus Tim Modise van die Plaaslike Organiseringskomitee. Modise het vroeër vandag by die Suid-Afrika 2010 Wêreldbekerseminaar, wat deur die Franse ambassade aangebied is, opgetree.
Volgens hom is daar mense, veral in die media, wat skepties is oor Suid-Afrika se vermoë om as gasheer op te tree. “Die Wêreldbeker het nie vanself gebeur nie. Suid-Afrika het van die groot kanonne gebruik gemaak om Fifa te nader,” het Modise verder gesê. Suid-Afrika beplan volgens hom om die “beste” en “mees winsgewende” Wêreldbekertoernooi ooit aan te bied. “Ons sal ’n platform aan die res van die vasteland bied om Afrika ten toon te stel.”
