Volgens kommentaar wat Maandag in The Star geplaas is, het ANC-president Jacob Zuma gesê dat hy geen bedoeling het om die regte wat in die grondwet vervat is te "erodeer" nie.
"Saam met my kamerade in die ANC het ek lank en hard baklei vir die grondwet en die regte wat daarin beskerm is. Ek het geen bedoeling om nou of in die toekoms enige van die regte te erodeer nie."
Hy het geskryf oor misdaad en maniere om dit te verminder en het gesê daar is "heelwat plek" in die grondwet om wetgewing teen misdaad taaier te maak. Hy het gevra dat die howe lang en voldoende vonnisse moet uitspreek.
"Sentraal by die bekamping van misdaad, is die daarstelling van 'n effektiewe en getransformeerde strafregstelsel, wat met gemeenskappe saamwerk om misdaad te beveg."
Dit was die regering se plig om met gemeenskappe hande te neem in polisiëring en misdaadvoorkoming.
"Kriminele kan nie bestaan as hulle nie gemeenskappe het waarbinne hulle kan lewe, wegkruip en aangaan om hulle bose dade te pleeg nie."
Gemeenskapsgebaseerde polisiëring, wat belangrik was in die stryd teen misdaad ná 1994, moet weer op die been gebring word.
Zuma het gesê die strafregstelsel se transformasie moet verbind word daaraan om Suid-Afrikaners te mobiliseer en straatkomitees te stig wat met die polisie kan saamwerk.
Die doel is om ernstige- en geweldsmisdade met tussen 7% en 10% per jaar te laat daal.
