Rice het die belang van die Dohasamesprekinge beklemtoon en gesê Suid-Afrika sal daarby baat. Sy het die hoop uitgespreek dat 'n handelsooreenkoms dalk bereik mag word voordat president Bush uittree.
Beleggers is bekommerd dat 'n Zuma-presidentskap mag lei tot ekonomiese onstabiliteit vanweë druk van vakbonde. Dié vrese het toegeneem nadat die ANC, Cosatu en die SAKP oor die naweek 'n bloudruk onthul het wat armoede gaan aanspreek. Die plan vra vir groter regeringsinmenging in die sakesektor.
In 'n toespraak wat voor die Council on Foreign Relations in Washington gehou is, het Zuma herhaaldelik benadruk dat die ANC 'n demokratiese organisasie is wat kollektief besluit en 'n beduidende rol speel om die stabiliteit van die land se instellings te verseker.
Hy het sy gehoor verseker dat daar geen rede tot paniek is nie. Hy het bygevoeg dat hy nie beleid eiehandig kan verander nie omdat hy nie die gesag het om dit te doen nie. Dit is in die hande van die ANC, het hy gesê.
Zuma het sy kommer uitgespreek oor die stand van die wêreldekonomie en die VSA gevra om meer in Suid-Afrika te belê.
