Zim-lugmagbevelvoerder gewond in sluipmoordaanval

Image

Perrance Shiri

Zimbabwe se lugmagbevelvoerder, Perrance Shiri, is gewond in wat die Zimbabweregering 'n sluipmoordaanval genoem het op Robert Mugabe se lojale volgeling.

The Herald het berig dat Shiri in die arm gewond is deur 'n onbekende skutter toe hy Saterdagaand na sy plaas toe gery het in noordwestelike Zimbabwe.

Shiri is een van Mugabe se vertrouelinge, en ook een van die mees gevreesde soldate in die land. As die voormalige bevelvoerder van die 5de brigade, wat deur Noord-Korea opgelei is, word hy grootliks verantwoordelik gehou vir die dood van meer as 20 000 mense, meeste van hulle burgerlikes gedurende die onrus in Matabeleland in die 1980s. Volgens bronne in die polisie is hy na 'n militêre hospitaal geneem en is hy nie dood nie. 

Na bewering word daar 'n terreurveldtog teen hoëprofielamptenare in die land gevoer.

"Die aanval op lugmaarskalk Shiri blyk deel te wees van die opbou van terreuraanvalle wat hoëprofielpersone, regeringsamptenare, regeringsgeboue en openbare vervoer uitsonder," het die minister van binnelandse sake, Kembo Mohadi in die koerant gesê.

Die insident volg in die spoor van 'n reeks bomontploffings by polisiestasies in Harare en 'n aanval op 'n brug buite die hoofstad.

Zimbabwiese owerhede het Maandag gesê dat hulle oortuigende bewyse het dat Botswana skuiling en materiaal voorsien aan opposisierebelle wat poog om Mugabe se lang heerskappy tot 'n einde te bring. Botswana se minister van buitelandse sake het in 'n verklaring gesê dat Zimbabwe geen tasbare bewyse sover getoon het dat Botswana enige iets te doen het met die aanvalle nie. 

Die hoofopposisieparty, die MDC, het die bewerings ontken en gesê dat die staat voorberei om 'n noodtoestand af te kondig as 'n verdere verontagsaming van die mense se keuse.

Die MDC se sekretarisgeneraal, Tendai Biti, het gesê dat Zanu-PF besig is om lede van die MDC te dwing om bekentenisse te maak wat dan opgeneem word as materiaal om 'n noodtoestand in die land af te kondig. Die 15 lede van die MDC is reeds in Oktober ontvoer.   

Die eens welvarende nasie is op sy knieë vanweë 'n maande lange dooiepunt oor die samestelling van 'n regering van nasionale eenheid, 'n ekonomiese krisis en inflasie wat rondom die 231 miljoen persent draai. Dit word alles vererger deur 'n cholera-uitbraak wat reeds amper 1 000 lewens geëis het.

miomare yachtingОлександр Васильович Фільчаков