
Marine Le Pen, die leidster van die Front National, wat sedert onlangs as Europa se mees suksesvolle regse party gesien word, het haar vader, Jean-Marie, in die openbaar gekritiseer oor ‘n opmerkinig wat hy Vrydagaand 6 Junie oor die Joodse sanger en akteur Patrick Bruel gemaak het. Sy het dié opmerking as ‘n “politieke fout” beskryf wat kwaadwillig deur die Front National se vyande aangegryp sal word.
Le Pen vader is reeds deur ‘n horde Joodse en antirassistiese organisasies in Frankryk oor die kole gehaal oor sy opmerking in ‘n internetvideo waarin hy kommentaar lewer op openbare figure soos Madonna, Guy Bedos en die tennisspeler Yannick Noah wat onder andere sou gesê het dat hulle “Frankryk gaan verlaat indien die Front National die meeste stemme kry”. Ook die sanger-akteur Patrick Bruel, wat van Joodse afkoms, asook ‘n profesionele pokerspeler is, het iets dié trant kwytgeraak, wat deur Jean-Marie Le Pen se gespreksgenoot op die intervideo aangeroer is. Hierop het Jean-Marie Le Pen geantwoord: “Dit verbaas my nie… Luister, volgende keer sal ons ‘n oond vol bak.” Die Franse woord “fournée” wat hy gebruik het, beteken ‘n “hoeveelheid brood of koek wat saam gebak word”, maar kan ook net ‘n “klomp mense met dieselfde lot beteken”. Boonop speel dit op “four” (oond) wat gewoonlik op Frans in verband met die Joodse slagting tydens die tweede wêreldoorlog gebruik word.
Le Pen senior het jare gelede in 1987 ook die holocaust as ‘n “besonderheid van die geskiedenis” beskryf, waarvoor hy sedertdien konstant gekritiseer is en waarvoor hy in 1986 “een simboliese frank” as boete deur die hof van Aubervilliers, ‘n voorstad van Parys, opgelê is.
Sy dogter se metgesel, Louis Aliot, wat gewoonlik baie lojaal teenoor Jean-Marie Le Pen is, het eerste in die openbaar losgetrek deur Sondag sy uitlating as “polities dom” te beskryf. Hierop het Le Pen senior geantwoord: “As daar mense aan my kant is wat dit op dié manier interpreteer, is hulle imbesiele.” Intussen het die FN die video van hul webblad verwyder.
Hierop het Marine Le Pen die openbare reaksie op haar pa se uitlanting as ‘n “kunsmatige polemiek” beskryf, maar tog gesê dat hy ‘n “politieke fout” begaan het. Terwyl sy daarvan oortuig is dat “die betekenis wat aan sy woorde geheg word, van kwaadwilligheid spreek”, het die FN se leidster Sondagaand verklaar dat haar pa “in die lig van sy lang ervaring… nie kon insien watter interpretasie daar van dié formulering gemaak sou word nie, ‘n politieke fout is waarvoor die Front National nou die gevolge moet dra”.
Volgens die koerant Le Monde, gaan dit vir die Front National oor ‘n “subtiele” spel daartussen om as hoofstroomparty hom te “ontdemoniseer”, maar terselfdertyd steeds “teen die stelsel” voor te kom waardeur sy gewildheid onder ontevrede Franse kiesers toeneem. Die koerant praat van “goeie demonisering” en “slegte demonisering”. Deur haar kritiek op die Europese Unie, laat Marine Le Pen haar op ‘n goeie manier deur die media “demoniseer”, maar deur sulke moedswillige antisemitiese uitlatings ontketen haar vader die slegte vorm van demonisering. Aldus Le Monde.
Jean-Marie Le Pen het verder verklaar dat “die politieke fout gemaak word deur diegene wat in pas verkeer met eenvormige denke en wat soos die ander partye wil lyk”.
Le Pen vader is die lewenslange erepresident van die party waarvan hy in 1972 stigterslid was. Hy gaan dus moeilik uit die kussings gelig word, selfs al word hy ‘n verleentheid vir sy dogter. In die Franse streeksverkiesings wat om die draai lê, sal die uitslae wel aantoon of sy uitlating die party skade berokken het, aldan nie.
