Die gestreeptes het drie goeie oorwinnings – teen die Haaie, Bulle en Leeus – agter die rug, en kommentators is net so vol vertroue soos die Kapenaars dat die WP môre die vierde groot kopvel bo hulle kaggel gaan hang. In die Vrystaat is die manne egter dikwels agter die tyd en Naka Drotské se vakleerlinge weet waarskynlik nie hoe bewoes die WP is nie.
Die krisis om teen die Blikore te speel, is dat hulle, wanneer alles reg werk, enige span onder die blaker kan skop. En as daar ‘n span is wat reg is vir ‘n groot wedstryd, is dit die Vrystaat. Hulle seisoen het in die afvoersloot begin met ‘n nederlaag teen hulle plaasnefies, die Griekwas. Asof hulle aan bomskok gely het, het hulle die seisoen ingestrompel. Nou is daar wel tekens dat die span oor die ergste trauma is. Hulle het soete wraak teen die Griekwas geneem en die Leeus afgeransel. Die Vrystaat is kwalik die onstuitbare John Deere wat hulle twee jaar of wat gelede was. Maar dis ‘n span met ten minste een Groot Wedstryd in hulle.
Die aanskoue van ‘n Vrystaatspan op volle vaart, oorkokend van die suiwere vreugde van voetbol op ‘n harde veld, is altyd ‘n plesier. Wanneer hulle in daardie bui is, doen hulle alles net beter, harder en vinniger. Dis vroeglente in die Vrystaat en lente manifesteer op min plekke so heerlik as in die aspoesterprovinsie. Vandag gaan hulle vir die lekkerte speel en die ambisieuse WP gaan die slagoffers van die lewensvreugde wees.
Die Vrystaat is op hierdie stadium van ‘n onderpresterende jaar, ‘n meer gevestigde span, met goeie hardwerkende voorspelers wat kan skrum en wat moeilik is in die lynstane. As die ou Noord-Transvaal almelewe die slotfabriek was, is die Vrystaat nog altyd die losvoorspelerkweekhuis. Die huidige oes is so knoetserig soos doringtakke en avontuurlustig soos seerowers. In Jacques-Louis Potgieter het hulle die soort soliede, akkurate losskakel gekry wat hulle na gesmag het na die vertrek van Willem de Waal en daar is genoeg spoed en fokus in die agterlyn om altyd gevaarlik te wees.
Die WP daarenteen is gevaarlik maar fyngestel. Enige ritmeversteuring kan die hele span van die spoor af laat loop. As daar nou een ding is wat ‘n span se harmonie in kakofonie kan verander, is dit ‘n lewenslustige Vrystaatspan op die harde veld van Bloemfontein onder ‘n vroeglenteson.
