As ongewildheid ‘n maatstaf vir presidente is om hul bedankings te oorweeg, moes verskeie Europese presidente al die handdoek ingegooi het. Francois Hollande van Frankryk se steun is af na 10%.
Volgens berigte het slegs sowat seweduisend mense, die meeste wit en Engelssprekend, landwyd die optogte bygewoon om druk op president Jacob Zuma uit te oefen om te bedank.
‘n ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa het tereg opgemerk dat die getal mense wat aan vandag se optogte deelgeneem het, daarop dui dat die meerderheid Suid-Afrikaners nie met die ZumaMustFall-veldtog saamstem nie.
Zuma se steun onder die swart meerderheid is steeds hoog, veral onder Zoeloes.
Volgens die EFF-leier Julius Malema is slegs “wit kapitaliste” teen die president gekant.
“Ek het geweier om die petisie te teken #ZumaMustFall want dit is geïnisieer deur wit kapitaal wat #Marikana werkers misdadigers genoem het,” het Malema getwiet.
Hy het gesê ware revolusie teen die ANC en Zuma sal swart wees en fokus op wit monopolie-kapitaal en die oordrag van grond.
Malema het verklaar dat Zuma teen volgende jaar deur swartes uit sy pos verwyder sal word.
Die voormalige hoofsekretaris van Cosatu, Zwelenzima Vavi het intussen sonder ironie gewaarsku dat Suid-Afrika die volgende Zimbabwe kan word indien Zuma nie gekeer word nie.
Vavi het by die Nelson Mandela-brug in Johannesburg gepraat by ‘n optog as deel van die ZumaMustFall-veldtog.
Vavi het die ANC se leierskap, sowel as die President gekritiseer. Hy sê al wat hulle kan doen, is om die land se hulpbronne te plunder.
