Wie is die ‘vredeliewendes’?

Sed quis custodiet ipsos Custodes?

Wie sal waghou oor die wagte?

In vandag se Rapport is daar weer een van die gewone stuiptrekkende hoofartikels. SA was nie aan die kant van die vryheidsliewende demokrate by die VN nie! kla die hoofartikelskrywer. Dat sommige lede van die sogenaamde "vryheidsliewendes" nie aan Afrikaners se kant is nie, skeel hulle min. Trouens, as Naspers se slimkoppe weet wie die "demokrate" is, moet hulle tog die VN laat weet, want dit lyk of die organisasie met die konsep sukkel.

Is dit almal op die Veiligheidsraad, China en Rusland ingesluit? Is dit die DRK ( Die D staan vir Demokratiese ) waar daar geen opposisie meer bestaan nie, na net vier maande van demokrasie en vrye en regverdige verkiesings? Is dit die VSA wat nie net in Abu Ghraib nie, maar ook nou in Afghanistan mense in die geheim aanhou en martel? Dalk Zimbabwe waar Mugabe mbv demokrasie net soos in SA kon seëvier? Dalk Duitsland wie se chemiese bedryf Saddam van alles en nog wat voorsien het om die Koerde van kant te maak? Is die selfverklaarde vryheidsliewende Amerikaner Ralph Peters wat vol bravade in die Armed Forces Journal die bloedstollende woorde "ethnic cleansing works" skryf aan ons kant?

Dat Naspers ons tydig en ontydig daaraan moet herinner dat ons ‘n vasalstaat geword het wat dinge presies moet uitleef soos dit mense duisende kilometer van hier sal behaag, is erg genoeg. Anne-Marie Mischke se grensend-aan-die-vertraagde kommentaar in dié verband sal ‘n mens terloops tot raserny dryf. Ons het intussen bewus geword van die voordele daarvan, naamlik uitwissing. Maar dat hulle die media verteenwoordig, dié waghond oor Afrikanervryheid, is onvergeeflik.

Hulle blêr – of is dit nou blair? – saam in die koor oor Mugabe maar die man wat Mugabe in die tuig hou, omhels, uitnooi en prys sit in die Uniegebou. Geen klagtes van Naspers daar nie. Geen striemende kommentare nie. Hulle bly immer "opbouend". Is opbouende kritiek teenoor Zimbabwe, dws aanprysing van anti-wit rassisme, nie juis die oorsaak van die fiasko nie?

Nietemin, noudat almal weet dat die ou diktator noord met sy een voet in die graf staan en self nie eintlik meer enige gevaar inhou vir iemand nie, het histerie om sy totalitêre persoon losgebars. Toe hy egter fluks besig was met sy etniese suiweringsveldtog, het vryheidsliewende Brittanje en die VSA nie ‘n snars daarvoor omgegee nie, geen sprook gesprak nie en die swart inkarnasie van ‘n gentleman in alles ondersteun.

Die probleem kom egter by ‘n kwessie wat op die oog af nie direk met die geveinsde verontwaardiging van Naspers verband hou nie. In hul ywer om Mugabe deesdae by te kom – die man is al dertig jaar met sy "vryheidstryd" besig danksy die openlike bemoeienis van Brittanje – is ‘n ander beweegrede te vinde wat nog minder aptytlik is: De Beers. Die diamantreus is kennelik besig om konflik te gebruik om sy handel in Afrika-edelstene te bestendig.

Deur die Kimberley Process Certification Scheme probeer die maatskappy die handel in alle diamante te beheer deur nie sertifikate uit te reik vir stene uit oorlogsgeteisterde gebiede nie. Zimbabwe is natuurlik nie ‘n oorlogsgeteisterde gebied nie, maar dit wil voorkom asof De Beers graag mbv die MDC die land in so ‘n gebied wil verander om sodoende die handel in die land oor te neem.

Pas het die Veiligheidraad aangekondig dat Liberië toegelaat sal word om deel te neem aan die KPCS. Die land is ‘n puinhoop van armoede en agterlikheid ten spyte van langdurige Westerse inmenging. Ná demokratiese verkiesings is dit egter nie moontlik vir UNMIL, die VN se vredesmag, om te onttrek uit die land nie want spanninge bly so plofbaar. Dit het die Britse ambassadeur Emyr Jones Parry egter nie verhoed om Liberiërs te loof vir hul wonderlike vryheidsin nie. Geen oorgeërfde skuld en verwysings na die nare – en dit was naar, sónder apartheid – verlede hier nie.

Dit is ‘n bekende feit dat wit MDC-lede nou al lankal vrywilligers in SA soek om ‘n gewapende veldtog teen Zimbabwe van stapel te stuur. Daarvan sal ons helaas nie in Naspers lees nie. Ons het dus nie meer ‘n mediagroep wat ‘n waghond vir sy lesers se belange is nie, maar ‘n mediagroep wat byvoorbeeld meer bekommerd is oor De Beers se belange.

Die feit dat ons regering die grense tussen ons en ons buurman oophou en die hordes ekonomiese vlugtelinge deurlaat, is ‘n bewys van die wil om die situasie te laat verkanker. Miskien is Naspers nie so naïef in hul kommentare en daardie versekering op elke voorblad van "ons praat jou taal" as wat hierdie skrywer glo nie. Is ‘n burgeroorlog in Zimbabwe die volgende stap waarna hulle uitsien?

пластыри диагональныеtopcargo кидалы