Popela kry grond na eis slaag

landclaimDie Popela-gemeenskap buite Modjadjiskloof in Limpopo gaan uiteindelik hulle grond terugkry, sewe jaar nadat die Grondwethof beslis het dat swart individue die regmatige eienaars is.

Die streek se grondkommissaris, Tele Maphoto het bevestig dat die eis binnekort afgehandel sal wees, nadat ‘n ooreenkoms tussen die huidige eienaars en die Kommissie vir Grondeise bereik is.

Die gemeenskap het die Hof tien jaar gelede genader nadat laer howe beslis het dat hulle nooit op die grond gewoon het en dus nie die regmatige eienaars is nie.

Regter Dikgang Moseneke het toe bevind dat Popela nie bestaan het as ‘n gemeenskap ten tye van die onteiening nie, maar as individuele huurarbeiders en dat hulle as individue oor dieselfde regte as gemeenskappe beskik.

Die uitspraak het ‘n beroering veroorsaak omdat die betrokke gemeenskap as individue die eis teen ‘n boer Augustus Altenroxel, van Limpopo, geloods het.

Altenroxel het volgehou dat hy destyds nooit geweet het van apartheidswette soos die Naturelle Wet oor Grondbesit, die Naturelle Trust en Grondbesitwet, die Bantoe Wysigingswet op en die regeringskennisgewing van 1970 oor swart huurarbeid nie.

Die bestuur van die Wesfalia-plase het sedertdien geweier om ‘n stuk grond vry te stel sodat die gemeenskap toegang tot water kan hê.

Die Popela-gemeenskap het in Julie na Westfaliaplase by Mooketsi opgeruk om hul grond terug te eis van die huidige eienaars ná die Grondwethof se beslissing van agt jaar gelede oor ‘n aantal plase in die Mooketsi-gebied.

Die grondkommissaris het toe gesê dat hulle die onteieningsroete sal volg as die eienaars nie gehoor gee aan die beslissing nie.

Die Popela-gemeenskap se woordvoerder Ally Maake het toe gesê hulle sal die grond met geweld vat indien die huidige eienaars voortgaan om te weier om dit te oorhandig wat ook die toegang tot water insluit.