Hittegolf oor groot dele duur voort

Die heersende hittegolf gaan na alle waarskynlikheid tot môre oor groot dele van Suid-Afrika voortduur.

Die Bloemfonteinse weerkantoor se Phemelo Zonke het aan OFM gesê in die westelike dele van die land word geen reën voorspel nie.

Sy sê sekere dele van sentraal-Suid-Afrika kan wel verspreide donderbuie te wagte wees.

In Bloemfontein gaan die kwik waarskynlik môre tot 34 grade styg, terwyl Vryburg gaan braai met ‘n temperatuur van 38 grade. Upingtonners kan 42 grade verwag.

Mense word weereens gemaan om uiters versigtig met vuur om te gaan, aangesien die toestand vir wegholveldbrande baie gunstig is.

Bloedige hitte vir dié week voorspel

Die Suid Afrikanse Weerdiens het gewaarsku dat toestande bevorderlik vir die onstaan van wegholveldbrande verwag kan word in dele van die land.

Die verre westelike dele van Noordwes, die sentrale dele van die Noord-Kaap, en die wes en suidelike dele van die Vrystaat kan bloedige hittetoestande te wagte wees.

Dit sal na verwagting vir die volgende sewe dae bloedig warm wees, met die moontlikheid dat ‘n hittegolf aangekondig sal word.