Die groot vraag is: wat beteken die skeuring vir die Afrikaner en ander minderheidsgroepe in die land? Waarskynlik gaan die DA daarby baat, hoewel sommige opposisiekiesers dalk vir die nuwe wegbreekparty gaan stem. Trouens, waarskynlik gaan daar min te kies wees in beleid tussen die nuwe swart party en die DA aangesien albei hulself as multikulturele opposisiepartye gaan posisioneer.
Afrikanerkwessies, wat danksy die ywer van die Afrikaanse media en Afrikaanse organisasies oor die afgelope paar jaar na vore gestoot is, gaan te midde van die nuwe swart magstryd waarskynlik nie meer op die voorgrond wees nie.
Die meeste Afrikaners stem ook steeds vir die DA, 'n party met 'n liberale agtergrond en wat deur Engelssprekendes oorheers word. Die party erken nie werklik die bestaan van die Afrikaner as volk en as kultuurgroep nie en gaan na dese nog verder transformeer as 'n tweede ANC.
Die treurigheid van die hele aangeleentheid is die huidige swakheid van die Vryheidsfront Plus. Dié party beskik oor die potensiaal om as nasionale en internasionale drukgroep vir die Afrikaner te funksioneer, maar het tot dusver nog nie die kieserspubliek se verbeelding gaande gemaak nie.
Die optrede van die Jong Turke in die party wat besig is om sowel die ANC as die DA in die Pretoriase stadsraad aan te vat, gee egter hoop dat die Afrikaner in eie reg 'n groter politieke rol kan begin speel en dat ons volk op die duur weer in een politieke beweging saamgesnoer kan word.
