'n Hotel wat beskou was as 'n nes van prostitusie en dwelmhandel in Bloemfontein is Donderdag in 'n klopjag deursoek en toegemaak, het die Vrystaatse polisie gesê.
Kaptein Magda Muller het gesê die sluiting van die Maitlandhotel het gekom nadat die minister van veiligheid en sekuriteit, Nathi Mthethwa, Bloemfontein Donderdag besoek het en deel uitgemaak het van die klopjag op die gebou.
Polisie het Donderdagmiddag terug gekeer en die gebou deursoek. Die gebou se ingang is met lemmetjiesdraad afgesper nadat al die inwoners na buite gebring is.
Muller het gesê omtrent 30 meisies, meeste van hulle minderjarig en 28 mans is ingeneem vir ondervraging om vas te stel of hulle betrokke is by prostitusie, dwelmhandel of verwante misdade.
Die hele blok om die hotel is tydens die operasie afgesper. Mense en kamers is deursoek.
Twee onwettige immigrante is gearresteer en dwelms, insluitend kokaïne en dagga, is gekonfiskeer.
'n Pistool is ook in die gebou gevind.
