Rus gaande oor Afrikaans

‘n Rus, Ewgeny Artemof is so gaande oor Afrikaans dat hy aan ‘n Russiese-Afrikaanse woordeboek werk.

Artemof woon in Stoepino, naby Moskou. Hy luister graag na RSG, skryf kortverhale vir Litnet en is tans besig om ‘n Russiese-Afrikaanse woordeboek op te stel, het Beeld berig.

Artemof doen dit vir die liefde van die saak en omdat hy graag die Afrikaanse woorde wat hy leer wil onthou.

Die praat sukkel maar, skerts Artemof, wat ‘n taalpraktisyn en vryskut-regsvertaler van beroep is.

Na die val van die Sowjet-unie in Desember 1991 was die ekonomiese situasie in Rusland haglik en Artemof het emigrasie oorweeg.

Op ‘n Suid-Afrikaanse immigrasievorm wat hy per toeval gekry het, was die vraag: “Beheers u Engels en/of Afrikaans en, indien wel, hoe goed?”

Artemof is wel Engels magtig, maar het gemeen kennis van Afrikaans sal sy kanse verbeter om as immigrant in Suid-Afrika aanvaar te word.

Hy en sy werkgewer het twee handboeke om Afrikaans te leer geleen gekry en oorgetik.

“Teen die tyd toe ons die eerste boek deurgesukkel het, kry ons albei opeens goeie werk by die Moskouse kantoor van ‘n internasionale regsfirma, dus sit ons ons studies in die yskas. Maar ons aangetrokkenheid tot die taal het gebly.

“In 2005 huur my baas ‘n Suid-Afrikaanse vennoot wat Afrikaans praat. Ons fassinasie was skielik terug.”

Artemof kan Afrikaans lees en skryf, maar kan dit nog nie vlot praat nie.