Zanu-PF-oorwinning: Wit en swart reaksies

zanuPolisielede, toegerus met outomatiese gewere, het in Zimbabwe bykomende padblokkades in Harare opgerig en beman te midde van onsekerheid oor die opposisie MDC se aanklag dat die pasafgelope verkiesing ‘n klug is en dat Zanu-PF die verkiesing gesteel het.

Dié stap volg ook na ‘n oproep van geestelike leiers dat mense vir vrede moet bid na die oorweldigende oorwinning van president Robert Mugabe en Zanu PF in die land se nasionale verkiesing.

Verskeie kerke waaronder die Rooms Katolieke kerk het hulle lidmate gevra om selfbeheersing en geduld aan die dag te lê.

Die MDC-leier, Morgan Tsvangirai, het die uitslag van die verkiesing wat aan Zanu PF ‘n tweederde meerderheid in die parlement gegee het, verwerp en gesê hy sal dit betwis.

Mugabe het 62% van die stemme in die presidensiële verkiesing op hom verenig.

Die 61-jarige Tsvangirai, leier van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC) het nou die derde keer onsuksesvol probeer om Mugabe te ontsetel.

Westerse magte, wat verbied is om volle waarnemerspanne in Zimbabwe te ontplooi, het hul ernstige bedenkinge oor die stemmery uitgespreek ná kommer oor ongerymdhede.

Sondag, het Duitsland gesê die verkiesing “gooi ‘n groot skaduwee oor die politieke en ekonomiese toekoms van Zimbabwe“, terwyl Australië om nuwe verkiesings gevra het.

“Gegewe ons twyfel oor die resultate, doen Australië ‘n beroep vir ‘n herverkiesing wat gebaseer is op ‘n geverifieerde en aanvaarbare kieserslys,” het die minister van buitelandse sake Bob Carr in ‘n verklaring gesê.

Die Amerikaanse minister van buitelandse John Kerry het Saterdag die verkiesing as “diep gebrekkig” beskryf en gesê Washington “glo nie dat die resultate … vandag ‘n geloofwaardige uitdrukking van die wil van die mense van Zimbabwe verteenwoordig nie“.

Die Britse minister van buitelandse sake William Hague het sy “ernstige kommer” oor die stemmery in die voormalige kolonie uitgespreek.

Die verkiesing is egter meestal met blydskap op die Afrika-kontinent begroet. President Jacob Zuma het sy gelukwensinge aan Mugabe Sondag oorgedra.

In Harare se oudste lokasie Mbare het honderde Mugabe-ondersteuners Sondag ‘n wit kis gedrapeer in ‘n MDC-vlag gedra, met die opskrif “RIP Morgan“.

“Mense is opgewonde,” het een van die optoggangers, Tatenda Savanhu, 26, ‘n ekonoom, gesê.

“Dit is regtig ‘n oomblik van vreugde dat die GNU [koalisie-regering] nou verby is dat ons‘n era van Zanu-PF binnegaan“.