“‘n Plan om ‘n belonging te betaal aan mense wat inligting oor beplande misdaad in die Stad Kaapstad aan die polisie verskaf, is positief en kan lei tot pro-aktiewe optrede om misdaad te bekamp,” sê mnr. André Fourie, Vryheidsfront Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.
Hy sê dit was lankal nodig aangesien Suid Afrika se publiek begin om vertroue in die land se veiligheidsmagte te verloor en almal gebuk gaan onder die uiters gevaarlike misdaad-situasie in die land.
Volgens mnr. Fourie skep daaglikse beriggewing oor misdaad die indruk dat mense nêrens meer veilig voel nie, nie eens in die hul eie wonings nie.
“Inbrake, aanrandings, verkragting en moord raak selfs in sogenaamde veilige woongebiede ‘n alledaagse. Voorvalle van klipgooi en die oprigting van padversperrings op openbare roetes kom gereeld voor en paaie, selfs hooftoevoerroetes soos die N2, word meer as ooit om hierdie rede gesluit en herinner byna aan ‘n ‘oorlogsituasie’.
“Die optrede van ontevredenes het selfs al gelei dat ontlasting voor regeringsgeboue en in die Kaapstad Internasionale Lughawe uitgegooi is en brandende motorbande is ‘n gereelde verskynsel.
“Dit voel asof misdadigers ons gyselaar in ons eie land hou.
“Nie eens die stad se burgemeester kon ‘n bevredigende antwoord verskaf oor probleme wat oproermakers op die N2 veroorsaak nie. Dit blyk dat daar bloot nie die mannekrag is om die pad heeltyds te patrolleer nie,” sê mnr. Fourie.
Volgens hom is ’n oplossing hiervoor ‘n inligtingsintelligensie-eenheid wat inligting kan inwin oor probleempunte sodat daar pro-aktief opgetree kan word. Hy sê as die kwaaddoeners drie-uur soggens opstaan, moet die veiligheidsmagte reeds inligting daaroor hê en hulle inwag.
“Maar dit gebeur nie. In baie gevalle word oortreders net verjaag en nie eens aangekeer nie. Die plan on ‘n belonging uit te reik vir inligting oor misdaad kan hier van groot nut wees en kan bydra om weer ordelikheid in Kaapstad te bewerkstellig,” sê mnr. Fourie.
