Oproermakers stroom Kaapstad binne

cbdctSmouse en informele handelaars in die Kaapse middestad is deur die polisie gewaarsku om hul goed op te pak voor ‘n onwettige optog.

Die polisie vrees dat die oproermakers weer op ‘n plundertog sal gaan.

Aktiviste het beloof om in die middestad te betoog ten spyte daarvan dat toestemming nie deur die owerhede verleen is nie.

Betogers het opgeruk om te kla oor behoorlike behuising en sanitasie in arm gebiede.

Waalstraat in die middestad is tans heeltemal afgesper. Daar is ‘n hoë polisie-teenwoordigheid rondom die Wes-Kaap Provinsiale Wetgewer wat ‘n kordon om die gebou gevorm het.

Verskeie SAPD-Njala’s en voertuie patrolleer die gebied tans.

Paniekbevange verkopers in St George ‘s Mall het reeds hul goedjies begin wegpak, terwyl ander sê hulle sal plunderaars trotseer.

Oproermakers is besig om die middestad binne te kom, met baie wat langs Eastern Boulevard te voet inbeweeg.

Verlede Oktober was tonele van chaos wat uitgebreek het in die middestad op die voorblaaie, toe oproeriges winkels en stalletjies begin plunder het.

Polisie skiet op klipgooiers in Bekkersdal

burningtyresDie situasie in Bekkersdal aan Gauteng se Wes-Rand is gespanne nadat die polisie van rubberkoeëls gebruik moes maak om meer as ‘n duisend klipgooiers uiteen te jaag.

Die oproermakers wou ‘n griefskrif met eise vir beter dienslewering aan Westonaria se munisipaliteit oorhandig. Hulle eis dat die raadslede bedank.

Die skare mense het aanvanklik uiteen gegaan, maar daarna weer vergader om na die munisipale kantore te loop.

‘n Polisievoertuig is onder meer met klippe bestook en gemeenskapleiers vergader met die polisie om ‘n ooreenkoms te bereik om toe te laat dat die optog na die munisipale kantore voortgaan.

Oproermakers is vroeër in hegtenis geneem nadat geweld Dinsdagnag in die gebied uitgebreek het.

Agttien mense is gearresteer toe sommige inwoners ander gedwing het om aan te sluit by die oproer, het konst Evelyn Matabane gesê.

Elf is in hegtenis geneem vir openbare geweld en sewe vir buitelanders se winkels wat hulle geplunder het.  – Sapa

Beloon misdaadinligting

n2“‘n Plan om ‘n belonging te betaal aan mense wat inligting oor beplande misdaad in die Stad Kaapstad aan die polisie verskaf, is positief en kan lei tot pro-aktiewe optrede om misdaad te bekamp,” sê mnr. André Fourie, Vryheidsfront Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

Hy sê dit was lankal nodig aangesien Suid Afrika se publiek begin om vertroue in die land se veiligheidsmagte te verloor en almal gebuk gaan onder die uiters gevaarlike misdaad-situasie in die land.

Volgens mnr. Fourie skep daaglikse beriggewing oor misdaad die indruk dat mense nêrens meer veilig voel nie, nie eens in die hul eie wonings nie.

“Inbrake, aanrandings, verkragting en moord raak selfs in sogenaamde veilige woongebiede ‘n alledaagse. Voorvalle van klipgooi en die oprigting van padversperrings op openbare roetes kom gereeld voor en paaie, selfs hooftoevoerroetes soos die N2, word meer as ooit om hierdie rede gesluit en herinner byna aan ‘n ‘oorlogsituasie’.

“Die optrede van ontevredenes het selfs al gelei dat ontlasting voor regeringsgeboue en in die Kaapstad Internasionale Lughawe uitgegooi is en brandende motorbande is ‘n gereelde verskynsel.

“Dit voel asof misdadigers ons gyselaar in ons eie land hou.

“Nie eens die stad se burgemeester kon ‘n bevredigende antwoord verskaf oor probleme wat oproermakers op die N2 veroorsaak nie. Dit blyk dat daar bloot nie die mannekrag is om die pad heeltyds te patrolleer nie,” sê mnr. Fourie.

Volgens hom is ’n oplossing hiervoor  ‘n inligtingsintelligensie-eenheid wat inligting kan inwin oor probleempunte sodat daar pro-aktief opgetree kan word. Hy sê as die kwaaddoeners drie-uur soggens opstaan, moet die veiligheidsmagte reeds inligting daaroor hê en hulle inwag.

“Maar dit gebeur nie. In baie gevalle word oortreders net verjaag en nie eens aangekeer nie. Die plan on ‘n belonging uit te reik vir inligting oor misdaad kan hier van groot nut wees en kan bydra om weer ordelikheid in Kaapstad te bewerkstellig,” sê mnr. Fourie.