Onluspolisie en Natalse studente bots

Traangasdampe hang steeds in die lug op die Howard-kampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal nadat onluspolisie se Dinsdagmiddag gebots het met betogers.

Polisie het traangas en rubberkoeëls afgevuur op studente wat gevlug na veiligheid. Betogers het ‘n spoor van verwoesting op die kampus gelaat.

Een vrou is geskiet in die linkerknie en gerugte het daarna die ronde gedoen dat die polisie skerppuntammunisie gebruik. Maar die polisie op die toneel, het ontken dat hulle op studente geskiet het.

Studente is uit die Pius Langa-koshuis uitgeboender en daar is op hulle geskiet nadat hulle uit die koshuisvensters gehang het en die polisie getart het om hulle te kom kry.

Studente pleeg glo onluste oor ‘n voorgestelde 8% verhoging in fooie.

Die studenteleierskap was nie op die kampus nie. Hulle het glo borgtog gaan betaal vir 13 studente wat Maandag in hegtenis geneem is in verband met vorige oproer op die kampus.

Die senaatgebou en ses voertuie buite die Westville-kampus is aan die brand gesteek omstreeks middernag.

‘n Universiteitwoordvoerder, Lesiba Seshoka het gesê studente is in hegtenis geneem ná die brand.

“Die skade loop in ‘n hele paar miljoen rand.”

Studente-oproer het gewelddadig geraak by die Howard-kampus asook Pietermaritzburg-kampus met klipgooiery, saakbeskadiging en versperring van paaie.

Die brandstigting en onrus kom presies ‘n jaar nadat oproer in September verlede jaar uitgebreek het, wat ‘n geraamde R80 miljoen se skade veroorsaak het.

Onluste ontsier Chinese Nuwejaar in Hong Kong

Beijing se verteenwoordigers in Hong Kong het radikale onafhanklikheidsvoorstanders die skuld gegee vir onluste wat uitgebreek het in die voormalige Britse kolonie byna ‘n week gelede.

Dit is die ergste geweld sedert anti-Chinese betogings dele van die Asiatiese finansiële sentrum in 2014 verlam het.

Meer as sestig mense is in hegtenis geneem in verband met die geweld, waartydens betogers die polisie met klippe bestook het en vullisdromme in Mong Kok aan die brand gesteek het.

Dit is ‘n rowwe, werkersklaswoonbuurt net oorkant die hawe van die finansiële distrik.

Die polisie het waarskuwingskote geskiet tydens die oproerigheid wat uitgebreek het toe die owerheid probeer het om onwettige straatsmouse te verwyder vir die viering van die Chinese Nuwejaar.

Oproeriges het bakstene uit die plaveisel losgemaak en na die polisie gegooi en ander het straatborde gevandaliseer.

Sowat 90 mense is beseer en 61 betogers is in hegtenis geneem, het Lo Wai-chung, polisiekommissaris, gesê.

Die polisie het gesê waarskuwing­skote is afgevuur en pepersproei is gebruik.

Die media het beeldmateriaal van bebloede oproermakers en beseerde polisielede op televisie vertoon.

“Ons het ’n verandering in die publiek waargeneem. Hulle is geneig om geweld te gebruik om hul mening uit te druk,” het Lo gesê.

Die optrede van die “radikale onafhanklikheidsvoorstanders neig in die rigting van terrorisme”, het die South China Morning Post berig.

Eiendomspryse in Hong Kong is besig om drasties te daal en een van die grootste banke, HSBC, het aangekondig dat hulle hul hoofkantoor sal verskuif na Londen.

Die polisie moes traangas gebruik het tydens die Mong Kok-oproer en indien nodig betogers doodgeskiet het, sê ‘n Chinese regsgeleerde en distriksraadslid Junius Ho Kwan-Yiu gesê.

Ho het gesê wetstoepassers was “te besadig” toe hulle gekonfronteer is met ‘n straatbendes.

“Die polisie het haelgewere gebruik [gedurende die 1967-onluste] … om die openbare orde te handhaaf, en vir selfbeskerming [vir polisiebeamptes] moet die nodige stappe geneem word,” sê Ho.

Toe Ho gevra is deur ‘n ander deelnemer van die debat, Oscar Lai Man-LOK van studentegroep Scholarism, of hy glo dat moord geregverdig kan word op die stad se inwoners, het Ho geantwoord: “Dit beteken nie die doodmaak van Hongkongers nie. Dit beteken die doodmaak van oproeriges.”

NVG ingeroep na traangasaanval by skool

Die Hoërskool Pescodia in Kimberley in die Noord-Kaap is van voorneme om die onderwysdepartement se voorgeskrewe dissiplinêre prosedure te volg om op te tree teen twee leerlinge wat Woensdag ‘n onderwyseres met traangas in ‘n klaskamer aangeval het.

Amanda Loots het haar bewussyn verloor na die aanval.

Adjunkhoof, Hendrik Phillies, sê hoewel die skool sy eie dissiplinêre beleid het vir leerlinge wat die skoolreëls oortree sal die skool die department se prosedure volg omdat dit betrekking het op meer ernstige oortredings.

Phillies sê die skool het reeds begin met ‘n interne ondersoek en wou nie uitwy oor die voorval nie. Volgens hom is die twee leerlinge nie by die skool nie. Hulle gaan saam met hul ouers die skool besoek om sake te bespreek.

Phillies wou nie die twee hoërskoolleerlinge se ouderdom bekendmaak nie. Niemand is in die voorval beseer nie. Volgens hom is die betrokke klaskamer dadelik na die voorval ontruim.

Die polisie ondersoek ‘n klag van aanranding. Die minderjariges is onder hul ouers se toesig geplaas. Die nasionale vervolgingsgesag sal besluit of die leerlinge vervolg sal word.