Cosatu vaar uit teen ‘wit rugbymafia’

Die vakbondfederasie, Cosatu het uitgevaar teen die Bokafrigter, Heineke Meyer se spankeuse vir Saterdag se wedstryd teen die All Blacks.

Die provinsiale sekretaris van Cosatu in die Wes-Kaap, Tony Ehrenreich sê swart spelers wat in kontak met Cosatu is, sê gekontrakteerde spelers is hoofsaaklik wit en verdien groot bedrae geld, terwyl swart spelers nie vir die span oorweeg word nie.

Hy het na hulle verwys as die “wit rugbymafia” en uitgewys dat Australië die spankeuse gekritiseer het.

“Dit is nie ‘n nasionale span nie, net een of ander Transvaal Jukseispan wat gevul kan word met ‘n wit spelers wat steeds apartheid regstellende aksie in rugby geniet.”

Hy sê Meyer keer terug na ‘n hoofsaaklik wit span waarin heelwat ou spelers is wat gereeld weens beserings nie kan speel nie en volgens hom miljoene verdien, het RSG berig.

Ehrenreich het gevra dat die minister van sport ingryp. Vier gekleurde en swart spelers is in die begin vyftiental van Saterdag se kragmeting.