Afrikaans veroorsaak ‘asemnood’ by swart US-studente

Sowat 30 studente, waaronder ook wittes, het Maandagoggend ‘n derdejaarslesing in politieke wetenskap by die Universiteit van Stellenbosch ontwrig toe ’n dosent na Afrikaans oorgeskakel het.

Een van die swart studente het opgespring en gesê hy “kan nie asemhaal nie”. Toe die dosent, Ubenicia Adams-Jack, hom vra wat fout is, het hy gesê onderrig in ‘n Afrikaanse omgewing veroorsaak asemnood by hom.

Daarna het ‘n aantal meelopers, waaronder wittes, opgespring met plakkate waarop “I can’t breathe” staan en dit begin uitskree in wat duidelik ‘n georkestreerde poging teen Afrikaans was.

“Die Universiteit Stellenbosch (US) se tweetalige tolkingopsie ontwrig ons onderrig en dit is onregverdig,” het Thato Phatlane, ’n lid van die studentebeweging Open Stellenbosch (OS) en eerstejaarstudent, gesê.

Phatlane het gesê “die stelsel werk teen hom” omdat dit in Afrikaans is.

Daar is twee ander Engelstalige universiteite binne bereik van die beswaardes in Kaapstad, maar OS wil hul eentaligheid kennelik met voortdurende intimidasie probeer vestig.

Volgens Phatlane het ‘n aantal studente uitgestap en OS-lede met hul asemnoodplakkate het daarna die administratiewe gebou beset.

‘n Ander swart eerstejaarstudent in politiek, filosofie en ekonomie, het ook gesê swartes het ‘n groot agterstand as gevolg van die T-opsie by US.

Open Stellenbosch het einde Maart ’n memorandum aan die US-bestuur oorhandig waarin hulle onder meer eis dat alle klasse teen volgende jaar in Engels moet wees en dat tolke en tolkdienste in klasse afgeskaf word.