'n 29-jarige swartman is Woensdag gearresteer in Johannesburg vir die beweerde verkragting van 'n 16-jarige meisie, het polisie gesê.
Kaptein John Maluleka het gesê die man het na bewering die meisie Dinsdag verkrag by die Manhattan-woonstelle op die hoek van Plein- en King Georgestrate omstreeks elfuur die oggend.
"Volgens die meisie het die man haar om verskoning gevra nadat hy haar verkrag het, en aan haar gesê het dat hy 'n kondoom aangehad het. Hy het haar R30,00-omkoopgeld aangebied om stil te bly. Ons het die kondoom gevind en dit gestuur vir forensiese toetse," het Maluleka gesê.
Die man wat van verkragting aangekla gaan word behoort na verwagting Vrydag in die Johannesburgse landdroshof te verskyn.
