'n Rasherrie is Dinsdag ontketen toe Valley Swim Club in Huntington Valley, Pennsylvanië, 'n privaatklub, wat swart kinders verlede maand weggewys het, in 'n verklaring gesê het die rede vir die wegwysing was dat hulle nie die kleur van die swemklub of die atmosfeer wou bederf nie.
Die 65 oorwegend swart kinders het in die buurt gekamp en toestemming van die klub ontvang om die swembad te gebruik nadat hulle betaal het.
Creative Steps Day Camp het meer as $1 900 betaal vir die voorreg, maar die bedrag is dadelik na die eerste dag aan die kampbestuur terugbetaal en hulle is gevra om nie weer terug te kom nie.
Verskeie kinders het glo gehoor hoe die lede van die klub neerhalende rassistiese aanmerkings maak. Die wit lede van die swemklub het blykbaar dadelik uit die swembad geklim toe die swartes inklim.
'n Swart kind het een van die vroulike lede hoor vra "Hoekom is hier so baie swartes?" Sy was glo bang dat haar kind iets sal oorkom.
Klublede het die besluit ven die klub om die swart kampeerders te weier, verdedig. "Dit het niks met ras te make nie, sê Lori Slowinski. "Ek het vir 'n privaatswemklub betaal… as hulle wil kampe hou, wil ek my geld terughê."
Jim Flynn, ook 'n lid, het direk na die bestuur gegaan toe die swartes in die swembad klim. "Die swembad was oorvol," het hy gesê.
Die klub het 'n tweede verklaring uitgereik waarin hulle rassisme ten sterkste afkeur.
Die insident het wyer uitgekring en geniet nasionale aandag in die VSA waar Demokratiese kongresverteenwoordigers hulle opnuut verbind het tot die stryd teen rassime.
