‘n Kort video op Facebook van n bebloede swarte wat na bewering Saterdagaand in Klein Windhoek aangerand is, het n vurige rassedebat ontketen en ‘n haatfees teen wittes in Namibië.
Ene Natangwe John Pereira het die 20 sekonde lange video Saterdagaand op die Facebook-blad van die Swapo Jeugliga geplaas. “Hierdie broer is nou net deur wit ouens in Klein Windhoek aangerand, het hy by sy plasing geskryf.
Vriende op die blad wou dadelik weet wat gebeur het, waarna ene Joel Ivers Mzanima se kommentaar was: “Vertel vir ons waarom het die wittes hom geslaan? . . . Want ons sal die Mbazuka, hammers ens, vat en beslag lê op die grond wat hulle besit en hulle uit Namibië jaag.
Ene Mouna Festus se reaksie was: “Sê vir ons wat gebeur het. Die ras wie dit gedoen het, is van geen belang nie.
Met sommige vriende wat in die meer as 200 kommentare op die plasing die haatkrane vol oopgedraai het met plasing soos “’n goeie boer is ’n dooie boer”, het talle ander die debat tot redelikheid probeer dwing deur daarop te wys dat voorvalle soos hierdie deur die polisie ondersoek moet word en die oortreders ingevolge wetgewing vervolg moet word.
Adj.komm. Edwin Kanguatjivi, hoof van openbare skakeling by die polisie, was by navraag onbewus van die voorval.
Hy het later laat weet dit is duidelik die video is by die nuwe polisiekantoor in Klein Windhoek geneem. Die voorval is egter nie in die klagteregister opgeteken nie.
“Die bevelvoerder sal vasstel wat gebeur het en terugvoering gee, hy Kanguatjivi gesê.
Net so was dr. Elijah Ngurare, hoof van die Swapo Jeugliga, gister onbewus van die voorval óf die daaropvolgende haatspraak.
Hy het egter benadruk wittes het ook n plek in onafhanklike Namibië en “niemand het die reg om enigiemand tot geweld aan te spoor op grond van stamgebondenheid of ras nie.
“My siening was nog altyd dat daar harmonie tussen die jong mense van Namibië moet wees, ongeag of hulle wit of swart is. Ons moet nie die saad van rasseverdeling saai nie.
Ngurare sê as witmense die nedersetting waarvandaan hy kom wil besoek, moet hulle nie soos tweedeklas burgers voel nie.
“Ek is werklik, werklik jammer as mense hierdeur (die haatspraak) te na gekom is. Ons moet nie toelaat dat die krag van die duisternis die krag van die lig uitdoof nie, het hy gesê.
Bron: Die Republikein
